Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 7/15 bl. 27-31
  • Volg die allesoortreffende weg van die liefde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg die allesoortreffende weg van die liefde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sonder die liefde is ons niks
  • Liefdelose opoffering strek ons nie tot voordeel nie
  • Party maniere waarop liefde ons sal laat optree
  • Nie onwelvoeglik, selfsugtig, haatdraend nie
  • Geneig tot geregtigheid en waarheid
  • Hoe die liefde in alle dinge optree
  • Dinge wat verby sou gaan
  • Die grootste eienskap bly oor
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Die weg van die liefde faal nooit nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Liefde (Agape)—Wat dit nie is nie en wat dit wel is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 7/15 bl. 27-31

Volg die allesoortreffende weg van die liefde

JEHOVAH GOD is die verpersoonliking van liefde (1 Johannes 4:8). Sy Seun, Jesus Christus, het gesê dat ons God en ons naaste moet liefhê (Mattheüs 22:37-40). God beheer immers die ganse heelal op grond van dié eienskap! As ons dus die ewige lewe wil hê, ongeag waar dit ook al sal wees, moet ons die weg van liefde volg.

God het aan die nasie Israel liefde betoon, maar later het hy daardie organisasie weens ontrouheid verwerp. Hy het toe die gemeente van Jesus se dissipels as Sy nuwe organisasie identifiseer. Hoe? Deur spesiale openbaarwordinge van die heilige gees wat hulle in staat gestel het om in tale te praat en te profeteer. Op Pinkster 33 G.J. het 3 000 Jode en bekeerlinge dus gelowiges geword, die ou organisasie verlaat en hulle by God se nuwe organisasie geskaar (Handelinge 2:1-41). Aangesien die gawes van die gees daarna deur middel van Jesus se apostels oorgedra is, het sulke openbaarwordinge by hulle dood opgehou (Handelinge 8:5-18; 19:1-6). Maar teen daardie tyd het die gawes al bewys dat God se guns op geestelike Israel was.—Galasiërs 6:16.

Wonderwerke wat voortgespruit het uit gawes van die gees, was voordelig. Maar dit is belangriker om liefde vir of onselfsugtige besorgdheid oor ander aan die dag te lê as om die gawes van die gees te hê. Die apostel Paulus het dit in sy eerste brief aan die Korinthiërs (ca. 55 G.J.) getoon. Daarin het hy liefde “’n allesoortreffende weg” genoem (1 Korinthiërs 12:31, NW). Daardie weg word in 1 Korinthiërs hoofstuk 13 bespreek.

Sonder die liefde is ons niks

Paulus het geredeneer: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword” (1 Korinthiërs 13:1). Sonder die liefde sou dit niks beteken om deur die gees in ’n menslike taal of in ’n hemelse engeletaal te praat nie. Paulus het verkies om vyf opbouende woorde te spreek in plaas van tienduisend in ’n taal wat mense nie verstaan het nie (1 Korinthiërs 14:19). ’n Liefdelose persoon sou soos “’n klinkende metaal”—’n lawaaierige, irriterende ghong—of ’n wanklinkende “luidende simbaal” wees. Liefdelose talespraak was nie ’n gerusstellende, geestelik opbouende manier om God te verheerlik en sy volk te help nie. Vandag betoon ons liefde deur verstaanbare taal in die Christelike bediening te gebruik.

Die apostel het vervolgens gesê: “Al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse [“heilige geheime”, “NW”] weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie” (1 Korinthiërs 13:2). Ander persone kan dalk deur gawes van wonderdadige profesie, ’n buitengewone begrip van heilige geheime en kennis wat deur die gees meegedeel is, bevoordeel word, maar diegene wat sulke gawes besit, sal nie daardeur bevoordeel word as hulle liefdeloos is nie. Paulus het sy buitengewone begrip van heilige geheime gebruik om ander te help, en ’n gawe van kennis het hom in staat gestel om te voorspel dat skipbreukelinge behoue sou bly (Handelinge 27:20-44; 1 Korinthiërs 4:1, 2). As hy egter ‘al die kennis en al die geloof’ gehad het, maar liefdeloos was, sou hy in Jehovah se oë niks gewees het nie.

Vandag help Jehovah se gees sy Getuies om Bybelprofesieë en heilige geheime te verstaan, en dit lei hulle wanneer hulle sulke kennis aan ander bekend maak (Joël 2:28, 29). Die gees bring ook geloof voort wat nodig is om bergagtige struikelblokke te oorkom (Mattheüs 17:20). Aangesien die gees hierdie dinge doen, is dit verkeerd om ons eie eer daardeur te soek. Ons beteken niks tensy ons dinge tot eer van God en uit liefde vir hom en ons medemens doen nie.—Galasiërs 5:6.

Liefdelose opoffering strek ons nie tot voordeel nie

Paulus het gesê: “Al sou ek al my goed uitdeel [om ander te voed], en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie” (1 Korinthiërs 13:3, vgl. “NW”). Paulus sou nie bevoordeel word as hy sonder die liefde al sy besittings uitgedeel het om ander te voed nie. God beloon ons vir die liefde wat maak dat ons geskenke gee, nie vir hulle materiële waarde of omdat ons, soos die leuenagtige Ananias en Saffira, roem as gewers wil hê nie (Handelinge 5:1-11). Paulus het ’n goeie voorbeeld gestel deur liefdevol van homself te gee in verband met die noodlenigingsbediening vir gelowiges in Judea.—1 Korinthiërs 16:1-4; 2 Korinthiërs 8:1-24; 9:7.

Selfs liefdelose martelaarskap as ’n getuienis vir die waarheid beteken niks vir God nie (Spreuke 25:27, NW). Jesus het van sy offerande gepraat, maar het nie daarop geroem nie. In plaas van te spog het hy homself gewillig uit liefde gegee (Markus 10:45; Efesiërs 5:2; Hebreërs 10:5-10). Sy geestelike broers ‘bied hulle liggaam as ’n lewende offer’ in die diens van God aan, nie in selfverheerlikende martelaarskap nie, maar in onopvallende maniere wat Jehovah verheerlik en hulle liefde vir hom toon.—Romeine 12:1, 2.

Party maniere waarop liefde ons sal laat optree

Paulus het geskryf: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik [“goedhartig”, “NW”]” (1 Korinthiërs 13:4a). Sedert Adam in sonde verval het, het God se lankmoedigheid beteken dat baie mense berou getoon het wat tot redding lei (2 Petrus 3:9, 15). As ons die liefde het, sal ons die waarheid geduldig aan ander leer. Ons sal emosionele uitbarstings vermy en tegemoetkomend en vergewensgesind wees (Mattheüs 18:21, 22). Die liefde is ook goedhartig, en ons voel weens God se goedhartigheid tot hom aangetrokke. Sy gees se vrug van goedhartigheid voorkom dat ons meer van ander verwag as wat hy van ons verwag (Efesiërs 4:32). Die liefde laat ons selfs teenoor ondankbare mense goedhartig optree.—Lukas 6:35.

Paulus het bygevoeg: “Die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie” (1 Korinthiërs 13:4b). Jaloesie is ’n werk van die vlees wat ’n mens uit God se Koninkryk sal uitsluit (Galasiërs 5:19-21). Die liefde verhoed dat ons jaloers raak oor iemand anders se besittings of gunstige omstandighede. As hy ’n diensvoorreg ontvang wat ons wou hê, sal die liefde ons beweeg om saam met hom bly te wees, hom te ondersteun en God te dank dat hy tot voordeel van die gemeente gebruik kan word.

Aangesien die liefde ‘nie grootpraat nie’, laat dit ons nie spog oor wat God ons toelaat om in sy diens te doen nie. Party Korinthiërs het gespog asof die gawes van die gees van hulle afkomstig was, maar dit was van God afkomstig, net soos voorregte in sy hedendaagse organisasie. Laat ons dan, pleks van te spog oor ons posisie in God se organisasie, oppas dat ons nie val nie (1 Korinthiërs 1:31; 4:7; 10:12). Die liefde “is nie opgeblase nie”, maar verwaandheid kan ’n liefdelose mens opgeblase laat word. Liefdevolle mense dink nie dat hulle bo ander verhewe is nie.—1 Korinthiërs 4:18, 19; Galasiërs 6:3.

Nie onwelvoeglik, selfsugtig, haatdraend nie

Die liefde “handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd [“ergerlik”, “NW”] nie” (1 Korinthiërs 13:5a). Dit bevorder goeie maniere, godvrugtige optrede, eerbied vir gesag en betaamlike gedrag by Christenvergaderinge. (Efesiërs 5:3-5; 1 Korinthiërs 11:17-34; 14:40; vergelyk Judas 4, 8-10.) Aangesien liefde almal laat voel dat hulle, soos al die dele van ’n mens se liggaam, nodig is, is ’n liefdevolle gemeente ’n plek van vrede en skuiling (1 Korinthiërs 12:22-25). Pleks dat liefde selfsugtig ‘sy eie belang soek’, laat dit ons partymaal ons regte opoffer en belangstelling in ander en in hulle welsyn toon (Filippense 2:1-4). Die liefde laat ons ‘vir alle soorte mense alles word, om tog enkeles te red’ deur ons bediening.—1 Korinthiërs 9:22, 23, NW.

Die liefde “word nie ergerlik nie”. Vlae van toorn is werke van die sondige vlees, maar die liefde maak ons “stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19; Galasiërs 5:19, 20, NW). Al word ons met reg kwaad, laat die liefde ons nie ergerlik bly, sodat ons sodoende plek maak vir die Duiwel nie (Efesiërs 4:26, 27). Veral ouere manne moet toorn vermy as medegelowiges versuim om raad toe te pas.

Paulus het ook van die liefde gesê: “[Dit] reken die kwaad nie toe nie” (1 Korinthiërs 13:5b). Die liefde hou nie ’n lys van onregte, soos inskrywings in ’n grootboek nie. Dit sien die goeie in mede-gelowiges raak en betaal nie met gelyke munt terug vir werklike of verbeelde onregte nie (Spreuke 20:22; 24:29; 25:21, 22). Die liefde help ons om die dinge ‘wat tot vrede dien na te jaag’ (Romeine 14:19). Paulus en Barnabas het ’n geskil gehad en het afsonderlike weë in God se diens ingeslaan, maar die liefde het die breuk geheel en het voorkom dat hulle ’n wrok koester.—Levitikus 19:17, 18; Handelinge 15:36-41.

Geneig tot geregtigheid en waarheid

Paulus het vervolgens van die liefde gesê: “[Dit] is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid” (1 Korinthiërs 13:6). Party mense skep soveel behae in ongeregtigheid dat ‘hulle nie kan slaap as hulle geen kwaad doen nie’ (Spreuke 4:16). Maar in God se organisasie wedywer ons nie of verheug ons ons nie as iemand deur die sonde verstrik word nie (Spreuke 17:5; 24:17, 18). As daar genoeg liefde vir God en geregtigheid in die gemeente in Korinthe was, sou hulle nie onsedelikheid geduld het nie (1 Korinthiërs 5:1-13). Liefde vir geregtigheid help ons onder andere om nie voorstellings van ongeregtigheid op die televisie, in rolprente en toneelstukke te geniet nie.

Die liefde “is bly saam met die waarheid”. Hier word die waarheid teenoor ongeregtigheid gestel. Dit beteken klaarblyklik dat die liefde ons beweeg om ons te verheug oor die invloed tot geregtigheid wat die waarheid op mense uitoefen. Ons put vreugde uit dinge wat mense opbou en wat vrede en geregtigheid bevorder. Die liefde verhoed dat ons leuens vertel, verskaf ons vreugde wanneer opregtes onskuldig bewys word en laat ons ons verheug wanneer God se waarheid triomfeer.—Psalm 45:5.

Hoe die liefde in alle dinge optree

Paulus gaan voort met sy definisie van die liefde: “Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (1 Korinthiërs 13:7). Deur ‘alles te bedek’, hou die liefde gegriefdheid uit soos ’n goeie dak die reën uithou. As iemand ons aanstoot gee maar dan vergifnis vra, dwing die liefde ons om die onreg te bedek en die oortreder te vergewe in plaas van daaroor te skinder. Ons probeer om in liefde ons ‘broeder te win’.—Mattheüs 18:15-17; Kolossense 3:13.

Die liefde “glo alles” in God se Woord en maak ons dankbaar vir geestelike voedsel wat deur die “getroue en verstandige dienskneg” voorsien word (Mattheüs 24:45-47). Hoewel ons nie liggelowig is nie, maak die liefde dat ons nie ’n ongelowige hart het en slegte motiewe aan medegelowiges toeskryf nie (Prediker 7:21, 22). Die liefde “hoop alles” wat in die Skrif opgeteken is, soos die waarhede aangaande God se Koninkryk. Omdat ons deur liefde aangespoor word, hoop en bid ons vir die beste uitkoms in moeilike omstandighede. Die liefde spoor ons ook aan om ander van die hoop wat in ons is te vertel (1 Petrus 3:15). Daarbenewens ‘verdra die liefde alles’, ook wanneer ander teen ons sondig (Spreuke 10:12). Liefde vir God help ons ook om vervolging en ander toetse te verduur.

Paulus het bygevoeg: “Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Korinthiërs 13:8a). Dit kan ewemin as Jehovah tot ’n einde kom of vergaan. Aangesien ons ewige God die verpersoonliking van liefde is, sal hierdie eienskap nooit tot ’n einde kom nie (1 Timotheüs 1:17; 1 Johannes 4:16). Die heelal sal altyd deur liefde beheers word. Laat ons dus bid dat God ons sal help om selfsugtige eienskappe te oorkom en hierdie onfeilbare vrug van sy gees te openbaar.—Lukas 11:13.

Dinge wat verby sou gaan

Paulus het voorspel: “Maar profesieë [“gawes van profesie”, “NW”]—hulle sal tot niet gaan; of tale—dit sal tot niet gaan” (1 Korinthiërs 13:8b). ‘Gawes van profesie’ het dié wat dit besit het in staat gestel om nuwe profesieë te uiter. Hoewel sulke gawes verbygegaan het nadat die Christengemeente as God se organisasie gevestig is, gaan God se vermoë om te profeteer nooit verby nie, en sy Woord bevat al die profesieë wat ons nou nodig het. Die vermoë om in tale te praat wat deur die gees verleen is, het ook tot ’n einde gekom, en besondere kennis het, soos voorspel is, ‘tot niet gegaan’. Maar Jehovah se volledige Woord voorsien ons van alles wat ons moet weet om gered te word (Romeine 10:8-10). God se volk is boonop met sy gees gevul en bring die vrug daarvan voort.

Paulus het voortgegaan: “Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan” (1 Korinthiërs 13:9, 10). Die gawes van kennis en profesie was onvolledig. Blykbaar het sulke profesieë nie op besonderhede ingegaan nie, en elke profeet het die toekoms net gedeeltelik geopenbaar omdat hy volmaakte kennis kortgekom het oor wat hy voorspel het. Die begrip van profesieë word nou egter geleidelik volledig. Feite wat Bybelprofesieë vervul, bevestig byvoorbeeld dat Jesus in 1914 koninklike gesag oor die mensdom ontvang het. Sedertdien is ons in “die tyd van die einde” en geniet ons voortdurende groei in geestelike kennis en begrip van Bybelprofesieë (Daniël 12:4). Ons nader dus volmaakte kennis en “die volmaakte” moet ophande wees.

Die grootste eienskap bly oor

Paulus het, sinspelend op die gemeente se vooruitgang, geskryf: “Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind; maar nou dat ek ’n man is, het ek die dinge van ’n kind afgelê” (1 Korinthiërs 13:11). Aangesien ’n kind op grond van beperkte kennis en fisiese ontwikkeling handel, kan hy na die een kant toe of na die ander kant toe beïnvloed word, asof hy in ’n wiegie gewieg word. ’n Man is egter fisies baie meer ontwikkeld, het groter kennis en word gewoonlik nie maklik beïnvloed nie. Hy het die gedagtes, gesindhede en maniere van sy kinderjare afgeskaf. Op dieselfde manier het God, nadat sy aardse organisasie sy kinderjare ontgroei het, besluit dat dit nie die gees se gawes van profesie, tale en kennis nodig gehad het nie. Hoewel hedendaagse lede van die gemeente, wat nou in sy oudag is, ook geen behoefte aan sulke gawes het nie, is hulle bly om God onder die leiding van sy gees te dien.

Paulus het bygevoeg: “Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel [“vae omtrekke”, “NW”] maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is” (1 Korinthiërs 13:12). Gedurende die gemeente se kinderjare was dit nie God se tyd om sekere dinge te openbaar nie. Daarom is hulle in vae omtrekke gesien, asof Christene in ’n metaalspieël gekyk het wat nie ’n goeie weerkaatsoppervlak het nie (Handelinge 1:6, 7). Maar ons sien nie meer ’n vae beeld nie. Tipes en profesieë staan nou op die punt om vervul te word omdat dit nou God se tyd van openbaring is (Psalm 97:11; Daniël 2:28). Hoewel Paulus self God geken het, sou die hoogtepunt van kennis van Jehovah en die intiemste verhouding met Hom kom wanneer die apostel tot hemelse lewe opgewek word en die volle beloning vir sy Christenloopbaan ontvang het.

Paulus het sy opsomming van die liefde afgesluit: “En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Korinthiërs 13:13). Ondanks die afwesigheid van die wonderdadige gawes van die gees het die gemeente nou vollediger kennis en rede tot groter geloof, hoop en liefde. Dit glo dat al God se beloftes so goed as vervul is (Hebreërs 11:1). Fasette van geloof sal eindig wanneer die dinge verwesenlik word wat in God se woord voorspel is. Aspekte van hoop sal tot ’n einde kom wanneer ons die dinge sien waarop ons hoop. Maar die liefde sal vir ewig bly. Laat al Jehovah se Getuies derhalwe voortgaan om die allesoortreffende weg van die liefde te volg.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel