Die weg van die liefde faal nooit nie
“Beywer julle voortdurend om die groter gawes te verkry. En tog toon ek julle ’n allesoortreffende weg.”—1 KORINTIËRS 12:31.
1-3. (a) Om liefde te leer betoon, is in watter opsigte baie soos om ’n nuwe taal aan te leer? (b) Watter faktore kan dit moeilik maak om te leer hoe om liefde te betoon?
HET jy al ooit ’n nuwe taal probeer aanleer? Dit is alles behalwe maklik! ’n Jong kind kan natuurlik ’n taal aanleer deur eenvoudig daaraan blootgestel te word. Sy brein absorbeer as ’t ware die klanke en betekenisse van woorde soos ’n spons en dis nie lank nie of die kleinding kan homself heel goed uitdruk, miskien sonder ophou. Met volwassenes is dit anders. Ons raadpleeg herhaaldelik ’n woordeboek om net ’n paar basiese frases in ’n vreemde taal te bemeester. Maar met verloop van tyd en met genoeg blootstelling begin ons in die nuwe taal dink en begin dit makliker word om die taal te praat.
2 Om liefde te leer betoon, is baie soos om ’n nuwe taal aan te leer. Mense word weliswaar met ’n mate van hierdie goddelike eienskap gebore. (Genesis 1:27; vergelyk 1 Johannes 4:8.) Maar dit verg nogtans uitsonderlike inspanning om te leer hoe om liefde te betoon—veral vandag, aangesien daar so ’n gebrek aan natuurlike geneentheid is (2 Timoteus 3:1-5). Dit is soms tot in die gesin die geval. Ja, baie mense word in ’n omgewing groot wat gekenmerk word deur hardvogtigheid en waar liefdevolle woorde selde of nooit gehoor word (Efesiërs 4:29-31; 6:4). Hoe kan ons dus leer om liefde te betoon—selfs as dit selde aan ons betoon is?
3 Die Bybel kan ons help. In 1 Korintiërs 13:4-8 voorsien Paulus nie ’n oppervlakkige definisie van wat die liefde is nie, maar ’n aanskoulike beskrywing van hoe hierdie hoogste vorm van liefde optree. ’n Bespreking van hierdie verse sal ons help om te verstaan wat hierdie goddelike eienskap behels en ons beter toerus om dit te betoon. Kom ons kyk na sekere aspekte van die liefde soos Paulus hulle beskryf. Ons sal hulle hoofsaaklik in drie kategorieë indeel: ons gedrag oor die algemeen; dan meer spesifiek, ons verhouding met ander en laastens ons volharding.
Liefde help ons om trotsheid te oorkom
4. Wat leer die Bybel ons oor jaloesie?
4 Ná Paulus se openingskommentare oor liefde het hy aan die Korintiërs geskryf: “Die liefde is nie jaloers nie” (1 Korintiërs 13:4). Jaloesie kan sy kop uitsteek in die vorm van afgunstige misnoeë oor die welvaart of prestasies van ander. Sulke jaloesie is verwoestend—fisies, emosioneel en geestelik.—Spreuke 14:30, NW; Romeine 13:13; Jakobus 3:14-16.
5. Hoe kan liefde ons help om jaloesie te oorkom wanneer dit lyk of ons vir die een of ander teokratiese voorreg oor die hoof gesien word?
5 Vra jou dan nou af: ‘Word ek jaloers wanneer dit lyk of ek vir die een of ander teokratiese voorreg oor die hoof gesien word?’ As jou antwoord ja is, moet jy nie moed verloor nie. Die Bybelskrywer Jakobus herinner ons daaraan dat alle onvolmaakte mense “’n neiging tot afguns” het (Jakobus 4:5). Liefde vir jou broer kan jou help om jou ewewig te herwin. Dit kan jou in staat stel om jou te verheug met diegene wat hulle verheug en nie gekrenk te voel wanneer iemand anders ’n seëning of ’n kompliment ontvang nie.—Vergelyk 1 Samuel 18:7-9.
6. Watter ernstige situasie het in die eerste-eeuse Korintiese gemeente ontstaan?
6 Paulus voeg by dat die liefde ‘nie grootpraat nie, nie opgeblase raak nie’ (1 Korintiërs 13:4). As ons die een of ander talent of vermoë het, hoef ons nie daarmee te spog nie. Dit was blykbaar ’n probleem met sommige ambisieuse manne wat in die eertydse Korintiese gemeente ingeglip het. Hulle het dalk uitgeblink in hulle vermoë om idees uiteen te sit of het ’n doeltreffender manier gehad om dinge te doen. Die feit dat hulle die aandag op hulleself gevestig het, het moontlik tot die verdeeldheid in die gemeente bygedra (1 Korintiërs 3:3, 4; 2 Korintiërs 12:20). Die situasie het so ernstig geword dat Paulus die Korintiërs later moes berispe omdat hulle ‘onredelikes verdra’ het, wat Paulus as “uitnemende apostels” veroordeel het.—2 Korintiërs 11:5, 19, 20.
7, 8. Toon uit die Bybel hoe ons enige aangebore talente kan gebruik om eenheid te bevorder.
7 ’n Soortgelyke situasie kan vandag ontstaan. Sommige is dalk geneig om oor hulle sukses in die bediening of hulle voorregte in God se organisasie te spog. Selfs al het ons ’n sekere vaardigheid of vermoë wat ander in die gemeente nie het nie, gee dit ons tog nie rede om opgeblase te raak nie, nie waar nie? Ons moet enige aangebore talent per slot van rekening gebruik om eenheid te bevorder—nie om die aandag op onsself te vestig nie.—Matteus 23:12; 1 Petrus 5:6.
8 Al het ’n gemeente baie lede, het “God die liggaam saamgestel”, het Paulus geskryf (1 Korintiërs 12:19-26). Die Griekse woord wat met “saamgestel” vertaal word, dui op harmonieuse samesmelting, soos wanneer kleure gemeng word. Niemand in die gemeente moet dus opgeblase oor sy vermoëns voel en ander probeer oorheers nie. Daar is geen plek vir trots en ambisie in God se organisasie nie.—Spreuke 16:19; 1 Korintiërs 14:12; 1 Petrus 5:2, 3.
9. Watter waarskuwende voorbeelde voorsien die Bybel van persone wat hulle eie belange probeer bevorder het?
9 Die liefde “soek nie sy eie belang nie” (1 Korintiërs 13:5). ’n Liefdevolle persoon manipuleer nie ander om sy sin te kry nie. Die Bybel bevat waarskuwende voorbeelde in hierdie verband. Ter toeligting: Ons lees van Delila, Isebel en Atalia—vroue wat ander gemanipuleer het om hulle eie selfsugtige belange te bevorder (Rigters 16:16; 1 Konings 21:25; 2 Kronieke 22:10-12). Daar was ook koning Dawid se seun Absalom. Hy het diegene genader wat vir regspraak na Jerusalem gekom het en op slinkse wyse geïnsinueer dat die koning se hof nie werklik in hulle probleme belangstel nie. Daarna het hy reguit gesê dat die hof eintlik ’n goedhartige man soos hy nodig het! (2 Samuel 15:2-4). Absalom het natuurlik net in homself belanggestel en nie in die onderdruktes nie. As selfbenoemde koning het hy die steun van baie gewen. Maar Absalom het later ’n verpletterende nederlaag gely. Toe hy gesterf het, is hy nie eers ’n behoorlike begrafnis waardig geag nie.—2 Samuel 18:6-17.
10. Hoe kan ons toon dat ons ’n oog op ander se belange hou?
10 Dit dien as ’n waarskuwing vir Christene vandag. Hetsy ons ’n man of vrou is, ons het miskien van nature oorredingskrag. Dit is dalk maklik vir ons om as ’t ware ons sin te kry deur ’n gesprek te oorheers of deur diegene wat ’n ander beskouing het uit te put weens ons ontoegeeflikheid. Maar as ons werklik liefdevol is, sal ons ’n oog op ander se belange hou (Filippense 2:2-4). Ons sal nie misbruik maak van ander of twyfelagtige idees bevorder weens ons ondervinding of ons posisie in God se organisasie nie, so asof ons beskouings die enigstes is wat gewig dra. Ons sal eerder die Bybelspreuk onthou: “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.”—Spreuke 16:18.
Liefde bevorder vreedsame verhoudings
11. (a) Hoe kan ons liefde betoon wat goedhartig sowel as welvoeglik is? (b) Hoe kan ons toon dat ons ons nie oor onregverdigheid verheug nie?
11 Paulus het ook geskryf dat die liefde “goedhartig” is en ‘hom nie onwelvoeglik gedra nie’ (1 Korintiërs 13:4, 5). Ja, die liefde sal ons nie toelaat om onbeskof, vulgêr of oneerbiedig te wees nie. Ons sal eerder ander se gevoelens in ag neem. ’n Liefdevolle persoon sal byvoorbeeld nie dinge doen wat ander se gewete sal pla nie. (Vergelyk 1 Korintiërs 8:13.) Die liefde “verheug hom nie oor onregverdigheid nie, maar verheug hom met die waarheid” (1 Korintiërs 13:6). As ons Jehovah se wet liefhet, sal ons nie onsedelikheid deur die vingers sien of vermaak word deur dinge wat God haat nie (Psalm 119:97). Liefde sal ons help om eerder vreugde te put uit dinge wat opbou as uit dinge wat afbreek.—Romeine 15:2; 1 Korintiërs 10:23, 24; 14:26.
12, 13. (a) Hoe moet ons reageer wanneer iemand ons te na kom? (b) Noem Bybelse voorbeelde om te toon dat selfs geregverdigde woede ons onverstandig kan laat optree.
12 Paulus skryf dat die liefde ‘nie ergerlik raak nie’ (‘nie liggeraak is nie’, NAV) (1 Korintiërs 13:5). Dit is weliswaar net normaal vir ons as onvolmaakte mense om ontsteld of selfs kwaad te raak wanneer iemand ons te na kom. Maar dit sal verkeerd wees om ’n langdurige wrok te koester of in ’n ergerlike gemoedstemming te bly (Psalm 4:5, NAV; Efesiërs 4:26). As ons dit nie beheers nie, kan selfs geregverdigde woede ons onverstandig laat optree, en Jehovah kan ons hiervoor aanspreeklik hou.—Genesis 34:1-31; 49:5-7; Numeri 12:3; 20:10-12; Psalm 106:32, 33.
13 Party het al toegelaat dat die tekortkominge van ander hulle laat besluit om van Christelike vergaderinge weg te bly of om nie aan die veldbediening deel te neem nie. Baie van hulle het in die verlede hard gestry vir die geloof en het miskien familieteenstand, bespotting van werksmaats en ander dinge verduur. Hulle het sulke struikelblokke verduur omdat hulle dit tereg as toetse van onkreukbaarheid beskou het. Maar wat gebeur wanneer ’n mede-Christen iets liefdeloos sê of doen? Is dit nie ook ’n toets van onkreukbaarheid nie? Dit is beslis, want as ons in ’n ergerlike gemoedstemming bly, kan ons “plek toelaat vir die Duiwel”.—Efesiërs 4:27.
14, 15. (a) Wat beteken dit om ‘van die kwaad boek te hou’? (b) Hoe kan ons soos Jehovah vergewensgesind wees?
14 Paulus voeg met reg by dat die liefde ‘nie boekhou van die kwaad nie’ (1 Korintiërs 13:5). Hier gebruik hy ’n boekhouterm om blykbaar te sinspeel op die inskrywing van ’n oortreding in ’n grootboek, sodat dit nie vergeet sal word nie. Is dit liefdevol om ’n permanente rekord van die krenkende woord of daad in ons geheue in te skryf, asof ons een of ander tyd in die toekoms weer daarna sal moet verwys? Hoe bly kan ons tog wees dat Jehovah ons nie op so ’n onbarmhartige wyse ondersoek nie! (Psalm 130:3). Ja, wanneer ons berouvol is, wis hy ons foute uit.—Handelinge 3:19.
15 Ons kan Jehovah in hierdie opsig navolg. Ons moenie fyngevoelig wees wanneer dit lyk of iemand ons te na kom nie. As ons gou aanstoot neem, doen ons onsself miskien meer leed aan as wat die persoon wat ons aanstoot gegee het ooit kan doen (Prediker 7:9, 22, NW). Ons moet eerder onthou dat die liefde ‘alles glo’ (1 Korintiërs 13:7). Nie een van ons wil natuurlik liggelowig wees nie, maar ons moet ook nie sonder rede agterdogtig oor ons broers se motiewe wees nie. Waar dit ook al moontlik is, moet ons mekaar die voordeel van die twyfel gee.—Kolossense 3:13.
Liefde help ons om te volhard
16. Onder watter omstandighede kan liefde ons help om lankmoedig te wees?
16 Paulus sê dan vir ons dat ‘die liefde lankmoedig is’ (1 Korintiërs 13:4). Dit stel ons in staat om beproewende omstandighede, miskien oor ’n lang tyd, te verduur. Baie Christene het byvoorbeeld jare lank in ’n godsdienstig verdeelde huis gewoon. Ander is ongetroud, nie omdat hulle dit so verkies nie, maar omdat hulle nie ’n geskikte huweliksmaat “in die Here” kan vind nie (1 Korintiërs 7:39; 2 Korintiërs 6:14). Dan is daar diegene wat deur slepende gesondheidsprobleme geteister word (Galasiërs 4:13, 14; Filippense 2:25-30). In hierdie onvolmaakte stelsel is daar werklik niemand wat nie met ’n situasie in die lewe te kampe het wat die een of ander vorm van volharding vereis nie.—Matteus 10:22; Jakobus 1:12.
17. Wat sal ons help om alle dinge te verduur?
17 Paulus verseker ons dat die liefde ‘alles verdra, alles hoop, alles verduur’ (1 Korintiërs 13:7). Liefde vir Jehovah sal ons in staat stel om enige situasie ter wille van regverdigheid te verduur (Matteus 16:24; 1 Korintiërs 10:13). Ons wil nie martelaars wees nie. Inteendeel, ons doel is om vreedsame, rustige lewens te lei (Romeine 12:18; 1 Tessalonisense 4:11, 12). Maar wanneer ons wel voor toetse van ons geloof te staan kom, verduur ons dit vreugdevol as deel van die koste van Christendissipelskap (Lukas 14:28-33). Terwyl ons toetse verduur, probeer ons ’n positiewe uitkyk behou en hoop ons dat alles goed sal afloop ten spyte van beproewende omstandighede.
18. Hoe is volharding selfs in gunstige tye nodig?
18 Dit is nie net wanneer ons verdruk word dat ons moet volhard nie. Soms beteken dit bloot dat ons moet uithou, dat ons op ’n bepaalde weg moet voortgaan, hetsy ons met beproewende omstandighede te kampe het of nie. Volharding sluit ook in dat ons by ’n goeie geestelike roetine bly. Het jy byvoorbeeld ’n betekenisvolle aandeel aan die bediening in ooreenstemming met jou omstandighede? Lees en bepeins jy God se Woord, en kommunikeer jy met jou hemelse Vader in gebed? Woon jy gemeentelike vergaderinge gereeld by, en vind jy baat by ’n uitwisseling van aanmoediging met jou medegelowiges? Dan beteken dit dat jy besig is om te volhard, hetsy jy gunstige tye of moeilike tye ondervind. Moenie moed opgee nie, “want op die regte tyd sal ons maai indien ons nie moeg word nie”.—Galasiërs 6:9.
Die liefde—“’n alles-oortreffende weg”
19. Hoe is die liefde “’n alles-oortreffende weg”?
19 Paulus het beklemtoon hoe belangrik dit is om liefde te betoon deur hierdie goddelike eienskap “’n alles-oortreffende weg” te noem (1 Korintiërs 12:31). In watter sin is dit “alles-oortreffend”? Wel, Paulus het toe net die gawes van die gees opgenoem, wat iets algemeens onder eerste-eeuse Christene was. Party kon profeteer, ander het die mag gehad om siektes te genees, baie is die vermoë gegee om in tale te praat. Dit was inderdaad verstommende gawes! Tog het Paulus vir die Korintiërs gesê: “As ek in die tale van mense en van engele praat, maar nie liefde het nie, het ek ’n klinkende stuk geelkoper of ’n galmende simbaal geword. En as ek die gawe van profesie het en met al die heilige geheime en alle kennis vertroud is, en as ek al die geloof het sodat ek berge kan versit, maar nie liefde het nie, is ek niks” (1 Korintiërs 13:1, 2). Ja, selfs dade wat andersins waarde het, word “dooie werke” as hulle nie uit liefde vir God en ons naaste gedoen word nie.—Hebreërs 6:1.
20. Waarom is volgehoue inspanning nodig om liefde aan te kweek?
20 Jesus gee ons nog ’n rede waarom ons die goddelike eienskap liefde moet aankweek. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is,” het hy gesê, “as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Die woord “as” laat dit aan elke Christen oor of hy of sy sal leer om liefde te betoon. Die blote feit dat ons in ’n vreemde land woon, sal ons tog nie op sigself dwing om die landstaal te leer praat nie. Ons sal ook nie outomaties leer om liefde te betoon deur bloot vergaderinge by ’n Koninkryksaal by te woon of met mede-Christene om te gaan nie. Dit verg volgehoue inspanning om hierdie “taal” aan te leer.
21, 22. (a) Hoe moet ons reageer as ons die een of ander aspek van liefde wat Paulus bespreek het nie in ons lewe toepas nie? (b) In watter sin kan daar gesê word dat ‘die liefde nooit faal nie’?
21 Soms sal jy nie die een of ander aspek van liefde wat Paulus bespreek het in jou lewe toepas nie. Maar moenie mismoedig raak nie. Lê jou geduldig daarop toe. Gaan voort om die Bybel te raadpleeg en die beginsels daarin toe te pas in jou handelinge met ander. Moet nooit die voorbeeld vergeet wat Jehovah self vir ons stel nie. Paulus het die Efesiërs vermaan: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.”—Efesiërs 4:32.
22 Net soos dit uiteindelik makliker word om te leer om jou in ’n nuwe taal uit te druk, sal jy waarskynlik mettertyd vind dat dit makliker word om liefde te betoon. Paulus verseker ons dat ‘die liefde nooit faal nie’ (1 Korintiërs 13:8). In teenstelling met die wonderdadige gawes van die gees sal liefde altyd bestaan. Gaan dus voort om te leer om hierdie goddelike eienskap te betoon. Dit is, soos Paulus dit noem, “’n alles-oortreffende weg”.
Kan jy verduidelik?
◻ Hoe kan die liefde ons help om trotsheid te oorkom?
◻ Op watter maniere kan die liefde ons help om vrede in die gemeente te bevorder?
◻ Hoe kan die liefde ons help om te volhard?
◻ Hoe is die liefde “’n alles-oortreffende weg”?
[Prent op bladsy 19]
Liefde sal ons help om die foute van ons medegelowiges oor te sien
[Prente op bladsy 23]
Volharding beteken dat ons by ons teokratiese roetine bly