Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 8/15 bl. 10-15
  • Hou aan om mekaar op te bou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou aan om mekaar op te bou
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vermy vuil taal
  • Doen jou bes om ander op te bou
  • Bou ander op godvrugtige wyse op
  • Ouere manne wat ander opbou
  • Lewe volgens die wet van die Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Gebruik woorde “wat goed is vir opbouing”
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Jou kleredrag en persoonsversorging—Is dit vir God van belang?
    Ontwaak!—1998
  • Verheerlik jy God deur jou kleredrag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 8/15 bl. 10-15

Hou aan om mekaar op te bou

“Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is.”—EFESIËRS 4:29, NAV.

1, 2. (a) Waarom kan daar met reg gesê word dat spraak iets wonderliks is? (b) Waarom moet ons tereg versigtig wees hoe ons ons tong gebruik?

“SPRAAK is die towerdraad wat vriende, families en gemeenskappe saambind . . . Uit die menseverstand en die gekoördineerde sametrekkings van [die tong se] spierstelsels bring ons geluide voort wat tot liefde, jaloesie, respek—trouens, enige menslike emosie—aanleiding gee.”—Hearing, Taste and Smell.

2 Ons tong is baie meer as net ’n orgaan waarmee ons sluk of proe; dit is ’n deel van ons vermoë om wat ons dink en voel aan ander oor te dra. ‘Die tong is ’n klein lid’, het Jakobus geskryf. “Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is” (Jakobus 3:5, 9). Ja, ons kan ons tong op goeie maniere gebruik, soos om Jehovah te loof. Maar omdat ons onvolmaak is, kan ons ons tong maklik gebruik om kwetsende of negatiewe dinge te sê. Jakobus het geskryf: “Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.”—Jakobus 3:10.

3. Aan watter twee aspekte van ons spraak moet ons aandag skenk?

3 Hoewel geen mens sy tong volkome in toom kan hou nie, moet ons beslis daarna strewe om te verbeter. Die apostel Paulus gee ons die volgende raad: “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom” (Efesiërs 4:29, NAV). Let op dat hierdie opdrag twee aspekte het: dit wat ons moet probeer vermy en dit wat ons moet probeer doen. Kom ons beskou albei aspekte.

Vermy vuil taal

4, 5. (a) Watter stryd het Christene ten opsigte van vuil taal? (b) Watter beskrywing kan by die uitdrukking “vuil taal” pas?

4 Efesiërs 4:29 spoor ons ten eerste aan: “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie.” Dit is dalk nie maklik nie. Een rede is dat vloekery so algemeen in die wêreld om ons is. Talle jong Christene hoor elke dag vloekwoorde, want skoolmaats dink moontlik dat vloekwoorde beklemtoon wat hulle sê of hulle sterker laat lyk. Ons sal dit seker nie heeltemal kan vermy om vuil woorde te hoor nie, maar ons kan en moet ’n doelbewuste poging aanwend om dit nie aan te leer nie. Dit hoort nie in ons verstand of mond nie.

5 In sy waarskuwing gebruik Paulus ’n Griekse woord wat ook verrotte vis of bedorwe vrugte kan beskryf. Stel jou die volgende voor: Jy sien ’n man wat ongeduldig en dan woedend raak. Uiteindelik ontplof hy, en jy sien hoe daar ’n vrot vis by sy mond uitkom. Dan sien jy hoe daar stink, bedorwe vrugte uitval wat op almal in die omtrek spat. Wie is hy? Hoe vreeslik sou dit tog wees as hy een van ons was! Tog sal so ’n beskrywing ons pas as ons toelaat dat daar ‘vuil taal uit ons mond kom’.

6. Hoe hou Efesiërs 4:29 verband met kritiese, negatiewe spraak?

6 Nog ’n manier waarop ons Efesiërs 4:29 kan toepas, is om nie gedurig krities te wees nie. Ons het weliswaar almal ons opinies en smaak oor dinge waarvan ons nie hou of wat ons nie aanvaar nie, maar was jy al in die geselskap van iemand wat ’n aanmerking (of baie aanmerkings) het oor elke persoon, plek of ding waarvan daar gepraat word? (Vergelyk Romeine 12:9; Hebreërs 1:9.) Sy spraak is afbrekend, neerdrukkend of vernietigend (Psalm 10:7; 64:3-5; Spreuke 16:27; Jakobus 4:11, 12). Hy besef moontlik nie hoe baie hy ooreenkom met die kritiese mense wat deur Maleagi beskryf is nie (Maleagi 3:13-15). Hoe geskok sou hy tog nie wees as ’n omstander vir hom sou sê dat daar ’n vrot vis of verrotte vrugte by sy mond uitkom nie!

7. Watter selfondersoek moet elkeen van ons doen?

7 Hoewel dit maklik is om te sien wanneer iemand anders gedurig negatiewe of kritiese opmerkings maak, moet jy jou afvra: ‘Is ek geneig om so te wees? Ja, is ek?’ Dit sal verstandig wees as ons van tyd tot tyd oor die gees van ons woorde nadink. Is ons woorde hoofsaaklik negatief, krities? Klink ons soos Job se drie valse vertroosters? (Job 2:11; 13:4, 5; 16:2; 19:2). Waarom dink ons nie liewer aan iets positiefs om te sê nie? As ’n gesprek hoofsaaklik krities is, kan ons gerus oor opbouende sake begin praat.

8. Watter les gee Maleagi 3:16 oor spraak, en hoe kan ons toon dat ons die les toepas?

8 Maleagi het hierdie kontras gestel: “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer” (Maleagi 3:16). Het jy opgemerk hoe God op opbouende spraak gereageer het? Wat sou die uitwerking van sulke gesprekke waarskynlik op metgeselle gewees het? Ons kan persoonlik ’n les leer wat ons daaglikse spraak betref. Hoeveel beter sal dit tog nie vir ons en vir ander wees as ons alledaagse gesprekke ons ‘lofoffer aan God’ weerspieël nie.—Hebreërs 13:15.

Doen jou bes om ander op te bou

9. Waarom is Christelike vergaderinge goeie geleenthede om ander op te bou?

9 Gemeentelike vergaderinge is uitstekende geleenthede om te “praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom” (Efesiërs 4:29, NAV). Ons kan dit doen wanneer ons ’n toespraak oor inligting in die Bybel hou, aan ’n demonstrasie deelneem of kommentaar lewer tydens dele wat deur vrae en antwoorde gedek word. Ons bevestig sodoende die woorde in Spreuke 20:15: “’n Kosbare sieraad is die lippe van kennis.” En wie weet hoeveel harte ons raak of opbou?

10. Watter aanpassing kan ons gerus maak as ons daaroor nadink met wie ons gewoonlik gesels? (2 Korinthiërs 6:12, 13).

10 Die tyd vóór en ná vergaderinge is gerieflik om ander op te bou met gesprekke wat heilsaam is vir die hoorders. Dit sal maklik wees om hierdie tye deur te bring in gemoedelike gesprekke met familielede en ’n paar vriende by wie ons op ons gemak voel (Johannes 13:23; 19:26). Maar ons kan gerus in ooreenstemming met Efesiërs 4:29 ook met ander mense gesprekke aanknoop. (Vergelyk Lukas 14:12-14.) Ons kan voor die tyd besluit dat ons meer gaan doen as om sekere nuwelinge, bejaardes of jongmense net formeel of in die verbygaan te groet, en ons kan selfs gaan sit wanneer ons met kinders praat sodat ons meer op hulle vlak is. Ons opregte belangstelling en opbouende gesprekke sal ander selfs beter in staat stel om Dawid se woorde in Psalm 122:1 hulle eie te maak.

11. (a) Watter gewoonte het baie met betrekking tot sitplekke aangekweek? (b) Waarom sit sommige doelbewus op verskillende plekke?

11 Nog iets wat opbouende gesprekke kan bevorder, is om nie altyd tydens vergaderinge op dieselfde plek te sit nie. Moeders met babas sal moontlik naby die ruskamer moet sit of ’n siek persoon sal dalk langs die paadjie moet sit, maar wat van ons ander? Blote gewoonte maak dalk dat ons altyd op dieselfde plek of in dieselfde omgewing gaan sit; selfs ’n voël keer instinktief na sy nes terug (Jesaja 1:3; Mattheüs 8:20). Om die waarheid te sê, aangesien ons op enige plek kan sit, kan ons gerus op verskillende plekke sit—aan die regterkant, aan die linkerkant, voor, ensovoorts—en sodoende ander beter leer ken. Al is dit nie ’n reël nie het ouere manne en ander ryp broers wat op verskillende plekke sit, gevind dat dit hulle help om met talle, pleks van net met ’n paar goeie vriende, dít te praat wat hulle hoorders ten goede kan kom.

Bou ander op godvrugtige wyse op

12. Watter ongewenste neiging word al deur die hele geskiedenis heen geopenbaar?

12 ’n Christen se begeerte om ander op te bou, moet hom beweeg om God in hierdie opsig na te volg pleks van die menslike neiging te volg om ’n groot klomp reëls voor te skryf.a Onvolmaakte mense het al lank die neiging om oor diegene om hulle te heers, en selfs sommige van God se knegte het voor hierdie neiging geswig (Genesis 3:16; Prediker 8:9). In Jesus se dag het Joodse leiers ‘swaar pakke saamgebind en op ander gesit, maar self wou hulle dit nie verroer nie’ (Mattheüs 23:4). Hulle het onskadelike gebruike in verpligte tradisies verander. In hulle beheptheid met menslike reëls het hulle die dinge geïgnoreer wat God as van groter belang beskou het. Niemand is deur hulle talle onskriftuurlike reëls opgebou nie; die manier waarop hulle dinge gedoen het, was eenvoudig nie God se manier nie.—Mattheüs 23:23, 24; Markus 7:1-13.

13. Waarom is dit nie gepas om talryke reëls vir mede-Christene voor te skryf nie?

13 Christene wil hulle werklik aan goddelike wette onderwerp. Maar selfs ons kan voor die neiging swig om talryke, drukkende reëls voor te skryf. Waarom? Om maar een ding te noem, smaak of voorkeur verskil, en sommige meen dalk dat iets aanvaarbaar is terwyl ander nie daarvan hou nie en dink dat dit verbied moet word. Christene verskil ook wat hulle vooruitgang tot geestelike rypheid betref. Maar is die voorskryf van reëls die goddelike manier om mekaar te help om tot rypheid te groei? (Filippense 3:15, NW; 1 Timotheüs 1:19; Hebreërs 5:14). Is ’n reël die beste oplossing, selfs as dit lyk of iemand ’n ekstremistiese of lewensgevaarlike weg volg? God se oplossing is dat bekwame persone moet probeer om ’n sondaar reg te help deur vriendelik met hom te redeneer.—Galasiërs 6:1.

14. Aan watter doel het die wette beantwoord wat God vir Israel gegee het?

14 God het weliswaar honderde wette oor tempelaanbidding, offerandes en selfs sanitasie uiteengesit terwyl hy Israel as sy volk gebruik het. Dit was gepas vir ’n afgeskeie nasie, en baie van die wette was van profetiese belang en het gehelp om die Jode na die Messias toe te lei. Paulus het geskryf: “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie” (Galasiërs 3:19, 23-25). Nadat die Wet deur middel van die folterpaal opgehef is, het God nie vir Christene ’n omvattende lys reëls oor die meeste aspekte van die lewe gegee, asof dit die wyse was waarop hulle sterk sou bly in die geloof nie.

15. Watter leiding het God vir Christenaanbidders voorsien?

15 Ons is natuurlik nie sonder wette nie. God beveel ons om ons te onthou van afgodery, hoerery en die misbruik van bloed. Hy verbied spesifiek moord, leuens, spiritisme en verskeie ander sondes (Handelinge 15:28, 29; 1 Korinthiërs 6:9, 10; Openbaring 21:8). En hy gee duidelike raad oor baie sake in sy Woord. Maar ons is op ’n baie groter skaal as die Israeliete daarvoor verantwoordelik om Bybelbeginsels te leer en toe te pas. Ouere manne kan ander opbou deur hulle te help om hierdie beginsels te vind en daaroor te dink pleks van net na reëls te soek of reëls voor te skryf.

Ouere manne wat ander opbou

16, 17. Watter goeie voorbeeld het die apostels gestel wat die voorskryf van reëls vir medeaanbidders betref?

16 Paulus het geskryf: “Wat ons reeds bereik het—laat ons volgens dieselfde reël wandel” (Filippense 3:16). In ooreenstemming met daardie goddelike beskouing het die apostel ander behandel op ’n manier wat tot hulle opbouing gestrek het. Daar het byvoorbeeld ’n vraag ontstaan oor die eet van vleis wat moontlik van ’n afgodstempel gekom het. Het hierdie ouere man, moontlik ter wille van eenvormigheid of om dinge makliker te maak, die een of ander reël vir almal in die vroeë gemeentes voorgeskryf? Nee. Hy het erken dat Christene se keuse bepaal sou word deur die mate waarin hulle vooruitgang gemaak het wat hulle kennis en geestelike volwassenheid betref. Maar hy was vasbeslote om ’n goeie voorbeeld te stel.—Romeine 14:1-4; 1 Korinthiërs 8:4-13.

17 Die Christelike Griekse Geskrifte toon dat die apostels wel nuttige raad oor party persoonlike sake gegee het, soos raad oor klere en persoonsversorging, maar hulle het nie vaste reëls voorgeskryf nie. Dit is ’n goeie voorbeeld vir hedendaagse Christenopsieners wat daarin belangstel om die kudde op te bou. En dit is in werklikheid ’n voortsetting van ’n basiese benadering wat God selfs ten opsigte van eertydse Israel gevolg het.

18. Watter reëls het Jehovah vir Israel ten opsigte van klere voorgeskryf?

18 God het nie vir die Israeliete omslagtige wette oor kleredrag gegee nie. Mans en vroue het blykbaar soortgelyke mantels, of boklere, gedra, hoewel ’n vrou s’n soms geborduur of kleurryker was. Albei geslagte het ook ’n sa·dhinʹ, of onderkleed, gedra (Rigters 14:12; Spreuke 31:24; Jesaja 3:23). Watter wette het God oor klere gegee? Nie mans of vroue mag klere gedra het wat hulle, klaarblyklik met homoseksuele bedoelings, met die ander geslag geïdentifiseer het nie (Deuteronomium 22:5). Die Israeliete moes klossies aan hulle klere dra met ’n blou toutjie bokant die klossies, en moontlik klossies aan die hoeke van die mantels, om te toon dat hulle afgeskeie was van die nasies om hulle (Numeri 15:38-41, NAV). Dit is basies die enigste riglyne wat die Wet oor klerestyle gegee het.

19, 20. (a) Watter riglyne gee die Bybel vir Christene oor kleredrag en persoonsversorging? (b) Wat moet die ouere manne se beskouing wees oor die voorskryf van reëls wat persoonlike voorkoms betref?

19 Het Christene, hoewel hulle nie onder die Wet is nie, ander uitvoerige reëls oor kleredrag of versiering wat vir ons in die Bybel uiteengesit word? Nie werklik nie. God het gebalanseerde beginsels gegee wat ons kan toepas. Paulus het geskryf: “So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie” (1 Timotheüs 2:9). Petrus het Christenvroue aangespoor om hulle eerder toe te lê op “die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees” as op fisiese versiering (1 Petrus 3:3, 4). Die feit dat sulke raad opgeteken is, toon dat sommige van die eerste-eeuse Christenvroue miskien meer beskeie en ingetoë moes wees wat hulle kleredrag en persoonsversorging betref het. Maar die apostels het pleks van sekere style voor te skryf—of te verbied—bloot opbouende advies gegee.

20 Jehovah se Getuies behoort vir hulle beskeie voorkoms gerespekteer te word, en dit is oor die algemeen ook die geval. Style verskil nietemin van land tot land en selfs in ’n gebied of ’n gemeente. ’n Ouere man wat streng opvattings of ’n sekere smaak het wat klere en persoonsversorging betref, kan natuurlik daarvolgens vir homself en sy gesin besluite neem. Maar wat die kudde betref, moet hy Paulus se woorde in gedagte hou: “Nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas” (2 Korinthiërs 1:24). Ja, as die ouere manne enige impuls onderdruk om reëls vir die gemeente voor te skryf, sal hulle die geloof van ander opbou.

21. Hoe kan ouere manne opbouende hulp verleen as iemand tot uiterstes gaan wat hulle kleredrag betref?

21 Soos in die eerste eeu kan ’n nuweling of iemand wat geestelik swak is ’n twyfelagtige of onverstandige weg volg wat kleredrag of die gebruik van grimering of juwele betref. Wat dan? Galasiërs 6:1 gee weer eens raad vir Christen- ouere manne wat graag wil help. Voordat ’n ouere man besluit om raad te gee, sal dit verstandig wees om eers ’n mede- ouere man te raadpleeg, verkieslik nie ’n ouere man wat hy weet dieselfde smaak of siening as hy het nie. As dit lyk of ’n wêreldse neiging ten opsigte van kleredrag of persoonsversorging talle in ’n gemeente beïnvloed, moet die liggaam van ouere manne bespreek wat die beste manier is waarop hulle kan help, soos deur ’n vriendelike, opbouende deel by ’n vergadering of deur individuele hulp (Spreuke 24:6; 27:17). Dit moet hulle doel wees om die sienswyse in 2 Korinthiërs 6:3 by die broers aan te beveel: “Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie.”

22. (a) Waarom moet dit ons nie ontstel as daar klein verskille is wat sienswyse betref nie? (b) Watter goeie voorbeeld het Paulus gestel?

22 Christen- ouere manne wat ‘toesig hou oor die kudde wat onder hulle is’, moet doen wat Petrus gesê het, dit wil sê, hulle moenie ‘heersers oor God se erfdeel wees nie’ (1 Petrus 5:2, 3). Tydens hulle liefdevolle werk kan daar vrae ontstaan oor sake waaroor daar verskillende voorkeure kan wees. Miskien is dit ’n plaaslike gebruik om te staan wanneer die paragrawe gedurende die Wagtoring-studie gelees word. Groepreëlings vir velddiens en baie ander prosedure in verband met die bediening kan op ’n gebruiklike manier gedoen word. Maar sou dit ’n ramp wees as iemand dit net ’n bietjie anders doen? Liefdevolle opsieners wil graag hê dat “dinge welvoeglik en ordelik toegaan”, ’n uitdrukking wat Paulus ten opsigte van die wonderdadige gawes gebruik het. Maar die konteks toon dat Paulus hoofsaaklik daarin belanggestel het om ‘die gemeente op te bou’ (1 Korinthiërs 14:12, 40, vgl. NAV). Hy het nie die neiging getoon om ’n eindelose klomp reëls voor te skryf nie, asof absolute eenvormigheid of volkome doeltreffendheid sy hoofdoel was nie. Hy het geskryf: ‘Die Here gee ons die gesag om julle op te bou en nie neer te werp nie.’—2 Korinthiërs 10:8.

23. Wat is party maniere waarop ons Paulus se voorbeeld kan navolg om ander op te bou?

23 Paulus het ongetwyfeld hard gewerk om ander op te bou deur positiewe en aanmoedigende spraak. Pleks van met net ’n klein groepie vriende om te gaan, het hy uit sy pad gegaan om baie broers en susters te besoek, dié wat geestelik sterk was sowel as dié wat opgebou moes word. En hy het liefde beklemtoon—nie reëls nie—want “liefde bou op”.—1 Korinthiërs 8:1, NAV.

[Voetnoot]

a In ’n gesin kan ’n verskeidenheid reëls raadsaam wees, na gelang van omstandighede. Die Bybel gee ouers die reg om besluite namens hulle minderjarige kinders te neem.—Exodus 20:12; Spreuke 6:20; Efesiërs 6:1-3.

Gedagtes vir hersiening

◻ Waarom is dit nodig dat ons verander as ons geneig is tot negatiewe of kritiese spraak?

◻ Wat kan ons doen om meer opbouend in die gemeente te wees?

◻ Wat is die Goddelike voorbeeld wat die maak van baie reëls vir ander betref?

◻ Wat sal ouere manne help om nie menslike reëls vir die kudde voor te skryf nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel