Lewe volgens die wet van die Christus
“Hou aan om mekaar se laste te dra, en vervul só die wet van die Christus.”—GALASIËRS 6:2.
1. Waarom kan daar gesê word dat die wet van die Christus vandag ’n geweldige krag ten goede is?
IN Rwanda het Hutu- en Tutsi-Getuies van Jehovah hulle lewe in gevaar gestel om mekaar teen die etniese slagting te beskerm wat onlangs daardie land geteister het. Jehovah se Getuies in Kobe, Japan, wat familielede in die vernietigende aardbewing verloor het, is deur hulle verlies verpletter. Tog het hulle vinnig opgetree om ander slagoffers te red. Ja, hartverblydende voorbeelde uit alle dele van die wêreld toon dat die wet van die Christus vandag aan die werk is. Dit is ’n geweldige krag ten goede.
2. Hoe het die Christendom die kern van die wet van die Christus misgekyk, en hoe vervul ons daardie wet?
2 Terselfdertyd word ’n Bybelprofesie oor hierdie kritieke “laaste dae” vervul. Baie het “’n vorm van godvrugtige toegewydheid” maar ‘verloën die krag daarvan’ (2 Timoteus 3:1, 5). Veral in die Christendom is godsdiens dikwels ’n formaliteit, nie iets wat uit die hart kom nie. Is dit omdat dit te moeilik is om volgens die wet van die Christus te lewe? Nee. Jesus sou ons nie ’n wet gee wat nie gevolg kan word nie. Die Christendom het bloot die kern van daardie wet misgekyk. Hulle het versuim om op hierdie geïnspireerde woorde ag te slaan: “Hou aan om mekaar se laste te dra, en vervul só die wet van die Christus” (Galasiërs 6:2). Ons ‘vervul die wet van die Christus’ deur mekaar se laste te dra, nie deur die Fariseërs na te volg en op onregverdige wyse ons broers se pak swaarder te maak nie.
3. (a) Wat is sommige van die bevele wat in die wet van die Christus ingesluit word? (b) Waarom sou dit verkeerd wees om te dink dat die Christengemeente geen reëls moet hê buiten dié wat regstreeks deur Christus gegee is nie?
3 Die wet van die Christus sluit al Christus Jesus se bevele in—hetsy dit is om die predikings- en onderrigtingswerk te doen, om die oog rein en eenvoudig te hou, om vrede met ons naaste te probeer bewaar of om onreinheid uit die gemeente te verwyder (Matteus 5:27-30; 18:15-17; 28:19, 20; Openbaring 2:14-16). Trouens, Christene is verplig om alle bevele in die Bybel na te kom wat aan volgelinge van Christus gegee is. En dit is nie al nie. Jehovah se organisasie, sowel as individuele gemeentes, moet nodige reëls en prosedures instel sodat goeie orde gehandhaaf kan word (1 Korintiërs 14:33, 40). Trouens, Christene sou nie eers saam kon vergader as hulle nie reëls gehad het oor wanneer, waar en hoe om sulke vergaderinge te hou nie! (Hebreërs 10:24, 25). Ons onderdanigheid aan redelike riglyne wat neergelê is deur diegene aan wie gesag binne die organisasie gegee is, is ook deel daarvan om die wet van die Christus te vervul.—Hebreërs 13:17.
4. Wat is die dryfkrag agter rein aanbidding?
4 Ware Christene laat nietemin nie toe dat hulle aanbidding ’n sinlose samestelling van wette word nie. Hulle dien Jehovah nie bloot omdat die een of ander persoon of organisasie vir hulle sê om dit te doen nie. Die dryfkrag agter hulle aanbidding is eerder liefde. Paulus het geskryf: “Die liefde van die Christus dring ons” (2 Korintiërs 5:14, voetnoot in naslaanuitgawe). Jesus het sy volgelinge beveel om mekaar lief te hê (Johannes 15:12, 13). Selfopofferende liefde is die grondslag van die wet van die Christus, en oral dring of motiveer dit ware Christene, in die gesin sowel as in die gemeente. Kom ons kyk hoe.
In die gesin
5. (a) Hoe kan ouers die wet van die Christus tuis vervul? (b) Wat het kinders van hulle ouers nodig, en watter hindernisse moet party ouers oorkom om dit te gee?
5 Die apostel Paulus het geskryf: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). Wanneer ’n man Christus navolg en sy vrou met liefde en begrip behandel, vervul hy ’n belangrike aspek van die wet van die Christus. Wat meer is, Jesus het openlik liefde teenoor kindertjies betoon en hulle in sy arms geneem, hulle die hande opgelê en geseën (Markus 10:16). Ouers wat die wet van die Christus vervul, betoon ook liefde teenoor hulle kinders. Dit is egter so dat daar ouers is vir wie dit ’n uitdaging is om Jesus in hierdie opsig na te volg. Party openbaar nie van nature hulle gevoelens nie. Ouers, moenie toelaat dat dit julle daarvan weerhou om aan julle kinders die liefde te betoon wat julle vir hulle voel nie! Dit is nie genoeg vir julle om te weet dat julle julle kinders liefhet nie. Hulle moet dit ook weet. En hulle sal dit nie weet tensy julle maniere vind om julle liefde te betoon nie.—Vergelyk Markus 1:11.
6. (a) Het kinders ouerlike reëls nodig, en waarom sê jy so? (b) Watter onderliggende rede vir huisreëls moet kinders verstaan? (c) Watter gevare word vermy wanneer die wet van die Christus in die huis heers?
6 Kinders het terselfdertyd riglyne nodig, wat beteken dat hulle ouers reëls moet maak en soms hierdie reëls deur dissipline moet toepas (Hebreërs 12:7, 9, 11). Selfs dan moet kinders progressief gehelp word om die onderliggende rede vir hierdie reëls te sien: hulle ouers het hulle lief. En hulle moet leer dat liefde die beste rede is vir hulle om gehoorsaam aan hulle ouers te wees (Efesiërs 6:1; Kolossense 3:20; 1 Johannes 5:3). ’n Ouer met onderskeidingsvermoë se doel is om sy kinders te leer om hulle “denkvermoë” te gebruik sodat hulle uiteindelik op hulle eie goeie besluite sal neem. (Romeine 12:1; vergelyk 1 Korintiërs 13:11.) Aan die ander kant moet daar nie te veel reëls wees nie en moet dissipline nie te kwaai wees nie. Paulus sê: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21; Efesiërs 6:4). Wanneer die wet van die Christus in die huis heers, is daar geen plek vir dissipline wat met onbeheerste woede toegepas word of vir kwetsende sarkasme nie. In so ’n huis voel kinders veilig en verkwik, nie belas of verpletter nie.—Vergelyk Psalm 36:8.
7. In watter opsigte kan Bethelhuise as voorbeeld dien van hoe reëls in die huis gemaak moet word?
7 Sommige wat al Bethelhuise oor die wêreld besoek het, sê dat dit goeie voorbeelde van balans is wat reëls vir ’n gesin betref. Hoewel dit uit volwassenes bestaan, funksioneer sulke instellings baie soos gesinne.a Die werking van Bethelhuise is ingewikkeld en vereis ’n aansienlike getal reëls—beslis meer as in die geval van die gemiddelde gesin. Die ouer manne wat in Bethelhuise, -kantore en -fabrieke die leiding neem, probeer nietemin om die wet van die Christus toe te pas. Hulle beskou dit as hulle toewysing om nie net die werk te organiseer nie, maar ook om geestelike vooruitgang en “die vreugde van Jehovah” onder hulle medewerkers te bevorder (Nehemia 8:10, NW). Derhalwe probeer hulle om dinge op ’n positiewe en bemoedigende wyse te doen en om redelik te wees (Efesiërs 4:31, 32). Geen wonder Bethelgesinne is bekend vir hulle vreugdevolle gees nie!
In die gemeente
8. (a) Wat moet altyd ons doel in die gemeente wees? (b) Onder watter omstandighede het party vir beslissings gevra of reëls probeer maak?
8 In die gemeente is dit eweneens ons doel om mekaar in die gees van liefde op te bou (1 Tessalonisense 5:11). Alle Christene moet dus versigtig wees om nie tot ander se laste by te dra deur dit op hulleself te neem om hulle eie idees op ander af te dwing oor sake wat ’n persoonlike keuse behels nie. Soms skryf party aan die Wagtoringgenootskap en vra beslissings oor sake soos watter beskouing hulle oor spesifieke rolprente, boeke en selfs speelgoed moet hê. Maar die Genootskap is nie gemagtig om sulke dinge te ondersoek en uitspraak daaroor te lewer nie. In die meeste gevalle is dit sake waaroor elke individu of gesinshoof moet besluit, op grond van sy liefde vir Bybelbeginsels. Ander is geneig om reëls van die Genootskap se wenke en riglyne te maak. In Die Wagtoring van 15 Maart 1996 was daar byvoorbeeld ’n goeie artikel wat ouer manne aangespoor het om gereeld herdersbesoeke op gemeentelede te doen. Was die doel daarvan om reëls neer te lê? Nee. Hoewel diegene wat die wenke kan toepas baie daarby baat vind, is sommige ouer manne nie in staat om dit te doen nie. So ook het die artikel “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 April 1995 daarteen gewaarsku om afbreuk te doen aan die waardigheid van die doopgeleentheid deur tot uiterstes te gaan, soos om wilde partytjies of oorwinningsparades te hou. Sommige het hierdie volwasse raad tot uiterstes toe geneem en selfs ’n reël gemaak dat dit verkeerd sal wees om ’n bemoedigende kaartjie by hierdie geleentheid te stuur!
9. Waarom is dit belangrik dat ons nie te krities en veroordelend teenoor mekaar is nie?
9 Dink ook hieraan: as ons wil hê dat “die volmaakte wet . . . wat tot vryheid behoort” in ons midde moet heers, moet ons aanvaar dat nie alle Christelike gewetes identies is nie (Jakobus 1:25). Moet ons ’n geskilpunt daarvan maak as mense persoonlike keuses kan maak wat nie skriftuurlike beginsels skend nie? Nee. As ons dit doen, veroorsaak ons onenigheid (1 Korintiërs 1:10). Toe Paulus ons daarteen gewaarsku het om mede-Christene te oordeel, het hy gesê: “Hy staan of val ten opsigte van sy eie heer. Trouens, hy sal staande gehou word, want Jehovah kan hom staande hou” (Romeine 14:4). Ons loop die gevaar om God te mishaag as ons teen mekaar praat oor sake wat aan die individu se gewete oorgelaat moet word.—Jakobus 4:10-12.
10. Wie is toegewys om oor die gemeente te waak, en hoe moet ons hulle ondersteun?
10 Laat ons ook onthou dat die ouer manne toegewys is om oor die kudde van God te waak (Handelinge 20:28). Hulle is daar om te help. Ons moet die vrymoedigheid hê om na hulle toe te gaan vir raad, want hulle is studente van die Bybel en is vertroud met wat al in die lektuur van die Wagtoringgenootskap bespreek is. Wanneer die ouer manne gedrag sien wat waarskynlik daartoe sal lei dat skriftuurlike beginsels oortree word, gee hulle onbevrees die nodige raad (Galasiërs 6:1). Gemeentelede volg die wet van die Christus deur hulle samewerking aan hierdie liefdevolle herders te gee wat die leiding onder hulle neem.—Hebreërs 13:7.
Ouer manne pas die wet van die Christus toe
11. Hoe pas ouer manne die wet van die Christus in die gemeente toe?
11 Ouer manne is gretig om die wet van die Christus in die gemeente te vervul. Hulle neem die leiding in die verkondiging van die goeie nuus, hulle onderrig uit die Bybel om sodoende harte te bereik en hulle praat, as liefdevolle, sagmoedige herders, met “terneergedrukte siele” (1 Tessalonisense 5:14). Hulle vermy die onchristelike gesindhede wat in soveel van die Christendom se godsdienste bestaan. Hierdie wêreld gaan weliswaar vinnig agteruit, en soos Paulus, is ouer manne dalk baie besorg oor die kudde; maar hulle bly gebalanseerd terwyl hulle aan hierdie bekommernisse aandag skenk.—2 Korintiërs 11:28.
12. Hoe kan ’n ouer man reageer wanneer ’n Christen hom om hulp nader?
12 Byvoorbeeld, ’n Christen wil ’n ouer man dalk oor ’n belangrike saak raadpleeg wat nie deur ’n regstreekse skriftuurlike verwysing beantwoord word nie of wat vereis dat verskillende Christelike beginsels in oorweging geneem word. Moontlik is hy bevordering by die werk aangebied wat ’n hoër salaris maar groter verantwoordelikheid beteken. Of die ongelowige vader van ’n jong Christen stel dalk eise aan sy seun wat sy bediening kan beïnvloed. In sulke situasies gee die ouer man nie ’n persoonlike mening nie. In plaas daarvan sal hy waarskynlik die Bybel oopmaak en die persoon help om oor die toepaslike beginsels te redeneer. Hy gebruik dalk die Watch Tower Publications Index, as dit beskikbaar is, om uit te vind wat “die getroue en verstandige slaaf” in Die Wagtoring en ander publikasies oor die onderwerp gesê het (Matteus 24:45). Gestel die Christen neem dan ’n besluit wat nie na die ouer man se mening verstandig is nie? As die besluit nie Bybelbeginsels of -wette regstreeks skend nie, sal die Christen vind dat die ouer man die individu se reg erken om so ’n besluit te neem, met die wete dat ‘elkeen sy eie vrag sal dra’. Die Christen moet egter onthou dat “wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai”.—Galasiërs 6:5, 7.
13. Waarom help ouer manne ander eerder om oor sake te redeneer as om direkte antwoorde op vrae te gee of hulle eie opinies te lug?
13 Waarom tree die ervare ouer man so op? Daar is ten minste twee redes. Eerstens, Paulus het vir een gemeente gesê dat hy nie ‘die meester oor hulle geloof is nie’ (2 Korintiërs 1:24). Die ouer man volg Paulus se gesindheid na wanneer hy sy broer help om oor die Skrif te redeneer en sy eie ingeligte besluit te neem. Hy erken dat sy gesag perke het, net soos Jesus erken het dat sy gesag perke gehad het (Lukas 12:13, 14; Judas 9). Terselfdertyd gee ouer manne graag nuttige, selfs ferm, skriftuurlike raad waar nodig. Tweedens, hy is besig om sy mede-Christen op te lei. Die apostel Paulus het gesê: “Vaste voedsel behoort by volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). As ons tot volwassenheid wil groei, moet ons dus ons eie waarnemingsvermoëns gebruik en nie altyd op iemand anders staatmaak om ons die antwoorde te gee nie. Deurdat die ouer man sy mede-Christen wys hoe om oor die Skrif te redeneer, help hy hom sodoende om vooruitgang te maak.
14. Hoe kan ervare persone toon dat hulle op Jehovah vertrou?
14 Ons kan geloof daarin stel dat Jehovah God deur middel van sy heilige gees die harte van ware aanbidders sal beïnvloed. Ervare Christene probeer dus die harte van hulle broers bereik en versoek hulle dringend, soos die apostel Paulus gedoen het (2 Korintiërs 8:8; 10:1; Filemon 8, 9). Paulus het geweet dat dit nie die regverdiges is nie, maar hoofsaaklik die onregverdiges is wat uitvoerige wette nodig het om op die regte pad te bly (1 Timoteus 1:9). Hy het, nie agterdog of wantroue nie, maar vertroue in sy broers uitgespreek. Aan een gemeente het hy geskryf: “Ons het vertroue in die Here aangaande julle” (2 Tessalonisense 3:4). Paulus se geloof en vertroue het ongetwyfeld baie daartoe bygedra om daardie Christene te motiveer. Vandag het ouer manne en reisende opsieners soortgelyke oogmerke. Hoe verkwikkend is hierdie getroue manne tog terwyl hulle as herders liefdevol toesig hou oor die kudde van God!—Jesaja 32:1, 2; 1 Petrus 5:1-3.
Lewe volgens die wet van die Christus
15. Watter vrae kan ons ons afvra om te sien of ons die wet van die Christus in ons verhouding met ons broers toepas?
15 Ons almal moet onsself gereeld ondersoek om te sien of ons volgens die wet van die Christus lewe en dit bevorder (2 Korintiërs 13:5). Ons almal kan in werklikheid daarby baat vind deur te vra: ‘Is ek opbouend of krities? Is ek gebalanseerd of geneig tot uiterstes? Neem ek ander in ag of dring ek op my eie regte aan?’ ’n Christen probeer nie vir sy broer voorskryf wat hy moet of nie moet doen in aangeleenthede wat nie spesifiek in die Bybel gedek word nie.—Romeine 12:1; 1 Korintiërs 4:6.
16. Hoe kan ons diegene help wat ’n negatiewe beskouing van hulleself het en sodoende ’n belangrike aspek van die wet van die Christus vervul?
16 In hierdie kritieke tye is dit belangrik vir ons om na maniere te soek om mekaar aan te moedig. (Hebreërs 10:24, 25; vergelyk Matteus 7:1-5.) Wanneer ons na ons broers en susters kyk, beteken hulle goeie eienskappe nie vir ons baie meer as hulle swakhede nie? Vir Jehovah is elkeen kosbaar. Ongelukkig voel nie almal nie so nie, nie eers oor hulleself nie. Baie is geneig om net hulle eie persoonlike gebreke en tekortkominge te sien. Kan ons, in ’n poging om sulke persone—en ander—aan te moedig, probeer om met een of twee persone by elke vergadering te praat en vir hulle te sê waarom ons hulle teenwoordigheid en die belangrike bydrae wat hulle in die gemeente lewer op prys stel? Watter vreugde is dit tog om hulle las op hierdie manier te verlig en daardeur die wet van die Christus te vervul!—Galasiërs 6:2.
Die wet van die Christus is aan die werk!
17. Op watter verskillende maniere sien jy die wet van die Christus aan die werk in julle gemeente?
17 Die wet van die Christus is aan die werk in die Christengemeente. Ons sien dit daagliks—wanneer mede-Getuies die goeie nuus ywerig verkondig, wanneer hulle mekaar vertroos en aanmoedig, wanneer hulle ondanks die moeilikste probleme hard probeer om Jehovah te dien, wanneer ouers hulle kinders probeer grootmaak sodat hulle Jehovah met vreugdevolle harte liefhet, wanneer opsieners God se Woord met liefde en hartlikheid aan ander leer en die kudde aanspoor om ’n vurige ywer te hê om Jehovah vir ewig te dien (Matteus 28:19, 20; 1 Tessalonisense 5:11, 14). Hoe verbly ons tog nie Jehovah se hart wanneer ons as individue die wet van die Christus in ons eie lewe openbaar nie! (Spreuke 23:15). Hy wil hê dat almal wat sy volmaakte wet liefhet vir ewig moet lewe. In die komende Paradys sal ons ’n tyd beleef wanneer die mensdom volmaak is, ’n tyd sonder wetsoortreders, ’n tyd wanneer elke neiging van ons hart onder beheer sal wees. Wat ’n wonderlike beloning tog omdat ons volgens die wet van die Christus gelewe het!
[Voetnoot]
a Sulke huise is nie soos die Christendom se kloosters nie. Daar is geen “abte”, oftewel “vaders”, in daardie sin nie (Matteus 23:9). Verantwoordelike broers word met respek behandel, maar hulle diens word deur dieselfde beginsels gerig as dié wat vir alle ouer manne geld.
Wat dink jy?
◻ Waarom het die Christendom die kern van die wet van die Christus misgekyk?
◻ Hoe kan ons die wet van die Christus in die gesin toepas?
◻ Wat moet ons vermy en wat moet ons doen om die wet van die Christus in die gemeente toe te pas?
◻ Hoe kan ouer manne die wet van die Christus in hulle handelinge met die gemeente gehoorsaam?
[Prent op bladsy 23]
Jou kind het ’n groot behoefte aan liefde
[Prent op bladsy 24]
Hoe verkwikkend is ons liefdevolle ouer manne tog!