Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 9/1 bl. 26-30
  • Jehovah sorg nog altyd goed vir my

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah sorg nog altyd goed vir my
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jeugjare
  • Getuienis aan familielede
  • Seëninge ondanks teenkanting
  • Nog bewyse van Jehovah se sorg
  • ’n Toewysing in die buiteland
  • Meer diensvoorregte—en ’n toets
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Kaptein James Cook—Onverskrokke ontdekkingsreisiger van die Stille Oseaan
    Ontwaak!—1995
  • Hoe ek my vurige ambisie oorwin het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Koninkrykseenheid duidelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 9/1 bl. 26-30

Jehovah sorg nog altyd goed vir my

EK HET Jehovah op ’n buitengewone manier begin dien, om dit maar saggies te stel. Ek het grootgeword in ’n pragtige plattelandse omgewing in die verre noorde van Nieu-Seeland, wat hoofsaaklik deur Maori’s soos ek bewoon word. Terwyl ek eendag te perd êrens heen op pad was, het my neef Ben my in die pad genader. Dit was die herfs (Suidelike Halfrond, lente in die Noordelike Halfrond) van 1942. Ek was 27 en destyds ’n aktiewe lid van die Anglikaanse Kerk.

Ben het jare lank die boeke gelees van regter Rutherford, wat toe die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap was, en nou het hy ’n brief van die Wagtoringgenootskap se kantoor in Nieu-Seeland in sy hand gehad waarin hy gevra is om plaaslike mense na ’n plek te nooi waar hulle die Gedenkmaal saam kon vier. Ben moes ook reël dat iemand die diens waarneem. Hy het na my opgekyk en gesê: “Jy is daardie persoon.” Omdat ek geëerd gevoel het dat hy my bekwaam geag het—en omdat ek ’n Nagmaalganger was—het ek ingestem.

Omtrent 40 mense het op die betrokke aand in Ben se huis byeengekom vir die herdenking van ons Here se dood, en nie een van hulle was ’n Getuie van Jehovah nie. Toe ek daar aankom, het my neef my die toespraakskets gegee. Ek het die voorgestelde lied oorgeslaan en Ben se swaer gevra om met gebed te open. Daarna het ek die inligting in die skets aangebied, wat bestaan het uit ’n reeks vrae tesame met antwoorde wat op die Bybel gebaseer is. ’n Plaaslike predikant wat teenwoordig was, het my met besware in die rede geval, maar dié is beantwoord deur die teksverwysings in die skets te lees.

Ek onthou dat een van die vrae in die skets gehandel het oor watter dag die geleentheid herdenk moes word. Hoe gerusstellend was dit tog nie toe die teenwoordiges by die venster uitgekyk en die volmaan gesien het nie. Dit was duidelik dat dit 14 Nisan was.

Wat ’n aand was dit tog! Ons viering het vier uur geduur! Baie vrae is gevra en is deur middel van die tekste in die Genootskap se skets beantwoord. As ek terugkyk, weet ek dat ek dit nooit sonder Jehovah se liefdevolle hulp kon gedoen het nie—al was ek destyds nie een van sy toegewyde Getuies nie. Maar ek het daardie aand van die Gedenkmaal in 1942 my doel in die lewe gevind.

Jeugjare

Ek is in 1914 gebore. My pa is vier maande voor my geboorte oorlede, en ek onthou hoe ek as jong kind ander kinders beny het wat pa’s gehad het wat hulle liefhet. Ek het dit baie gemis. Die lewe sonder ’n man was vir my ma ’n moeilike stryd, wat deur die verreikende gevolge van die Eerste Wêreldoorlog nog moeiliker gemaak is.

As jong man is ek met ’n jong dame, Agnes Cope, getroud, en sy is al meer as 58 jaar my lewensmaat. Ons het in die begin saam gesukkel om sukses in die lewe te behaal. Ek het weens groot droogte as boer gefaal. Ek het ’n mate van ontvlugting in sport gevind, maar tot daardie ondervinding tydens die Gedenkmaal in 1942 het ek nie ’n wesenlike doel in die lewe gehad nie.

Getuienis aan familielede

Ná daardie Gedenkmaal het ek die Bybel in alle erns bestudeer en die Bybellektuur wat deur die Wagtoringgenootskap gepubliseer is met party van my neefs en niggies bespreek. In September 1943 het ’n paar Getuies van Jehovah van ’n ander omgewing ons afgesonderde gemeenskap kom besoek. Ons het ’n druk gesprek van vier uur gevoer. Toe ek hoor dat hulle die volgende oggend vertrek, het ek gevra: “Wat verhinder my om nou gedoop te word?” Ek en ’n neef en ’n niggie van my is halftwee die oggend gedoop.

Daarna het ek baie gereis om vir my familielede te getuig. Party het geluister, en ek het my besprekings met hulle op Mattheüs hoofstuk 24 gebaseer. Ander het nie geluister nie, en in hulle geval het ek Jesus se woorde aan die Fariseërs, wat in Mattheüs hoofstuk 23 opgeteken is, gebruik. Ek het egter mettertyd geleer om, in navolging van ons goedhartige en liefdevolle hemelse Vader, meer taktvol te wees.—Mattheüs 5:43-45.

My vrou het aanvanklik my begeerte om Jehovah te dien, teëgestaan. Maar sy het haar weldra by my aangesluit, en in Desember 1943 het sy ’n toegewyde, gedoopte lewensgesellin geword. Vyf ander mense van ons dorp Waima is daardie gedenkwaardige dag saam met haar gedoop, en dit het beteken dat daar toe altesaam nege Koninkryksverkondigers in daardie gebied was.

Seëninge ondanks teenkanting

Gedurende 1944 is ons weer deur broers van elders besoek, en dié keer het hulle die nodige opleiding in die formele huis-tot-huisbediening voorsien. Namate ons teenwoordigheid in die gemeenskap duideliker geword het, het die teenkanting van die Christendom se verteenwoordigers toegeneem (Johannes 15:20). Daar was herhaalde konfrontasies met plaaslike geestelikes, wat tot lang gesprekke oor leerstellings gelei het. Maar Jehovah het die oorwinning gegee, en ander lede van die gemeenskap, my suster inkluis, het onder Jehovah se liefdevolle sorg gekom.

’n Gemeente is in Junie 1944 in Waima gestig. Godsdienstige vervolging en haat het toegeneem. Jehovah se Getuies kon nie in die plaaslike begraafplaas begrawe word nie. Die teenkanting het met tye gewelddadig geword. Daar was fisieke konfrontasies. My motor en die motorhuis waarin dit gestaan het, is heeltemal afgebrand. Maar met Jehovah se seën kon ons binne minder as drie maande ’n vragmotor koop. En ek het ’n perdewa gebruik om my groeiende gesin na die vergaderinge te neem.

As gevolg van die toenemende aantal nuwelinge het daar ’n dringende behoefte aan ’n groter vergaderplek ontstaan; ons het dus besluit om ’n Koninkryksaal in Waima te bou. Dit was die eerste Koninkryksaal wat in Nieu-Seeland gebou is. Vier maande nadat die eerste bome op 1 Desember 1949 afgekap is, is ’n gekombineerde byeenkoms en toewyding in die nuwe saal met 260 sitplekke gehou. Destyds was dit ’n groot prestasie, en dit is met Jehovah se hulp behaal.

Nog bewyse van Jehovah se sorg

Aangesien die aantal Koninkryksverkondigers in die verre noorde van Nieu-Seeland aanhou toeneem het, het reisende opsieners wat ons besoek het ons aangemoedig om te dien waar daar meer hulp nodig is. Ek en my gesin het hieraan gehoor gegee en in 1956 na Pukekohe, net suid van Auckland, getrek. Ons het 13 jaar lank daar gedien.—Vergelyk Handelinge 16:9.

Daar is twee voorbeelde van Jehovah se sorg gedurende dié tyd wat ek besonder goed onthou. Terwyl ek by die distriksraad as vragmotorbestuurder en masjienbediener gewerk het, is ek na ’n vier week lange kursus van die Koninkryksbedieningskool by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Auckland genooi. Ek het vier weke verlof daarvoor gevra en die hoofingenieur het gesê: “Alte seker. Ek wens dat meer mense soos jy was. Wanneer jy terugkom, moet jy ’n draai in my kantoor kom maak.” Toe ek hom later gaan spreek het, het ek my salaris ontvang vir die vier weke wat ek weg was. Daar is dus in my gesin se materiële behoeftes voorsien.—Mattheüs 6:33.

Dit was die eerste voorbeeld. Die tweede het plaasgevind nadat ek en my vrou in 1968 gewone pioniers geword het. Weer eens het ons op Jehovah vertrou om ons te help, en hy het ons beloon. My vrou het een oggend ná ontbyt die yskas oopgemaak en niks behalwe 250 gram botter daarin gevind nie. “Sarn, ons het niks oor om te eet nie”, het sy gesê. “Gaan ons nog vandag uit in die velddiens?” My antwoord? “Ja!”

By ons eerste besoek het die huisbewoner die lektuur wat ons aangebied het, geneem en goedgunstig vir ons ’n paar dosyn eiers as ’n bydrae gegee. Die tweede persoon by wie ons besoek afgelê het, het vir ons groente—kumaras (patats), blomkool en wortels—gegee. Ons het daardie dag ook met vleis en botter huis toe gegaan. Hoe waar was Jesus se woorde tog in ons geval: “Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”—Mattheüs 6:26.

’n Toewysing in die buiteland

Rarotonga in die Cook-eilande! Dit was in 1970 ons toewysing as spesiale pioniers. Die volgende vier jaar was dit ons tuiste. Hier was die eerste uitdaging om ’n nuwe taal aan te leer. Maar weens ooreenkomste tussen Nieu-Seelandse Maori en die Maori van die Cook-eilande kon ek vyf weke na ons aankoms my eerste openbare toespraak hou.

Daar was min Koninkryksverkondigers in die Cook-eilande, en ons het geen vergaderplek gehad nie. Weer het Jehovah, in antwoord op ons gebede, in ons behoeftes voorsien. ’n Terloopse gesprek met ’n winkelier het daartoe gelei dat ons geskikte grond gehuur het, en binne ’n jaar het ons ’n huisie en ’n Koninkryksaal met sitplek vir 140 mense gehad. Van toe af het ons seën op seën ontvang, tot Jehovah se eer.

Ons het veral die gasvryheid van die eilanders waardeer. Ons is dikwels ’n drankie aangebied terwyl ons in die bediening was—iets wat baie welkom was in die warm, vogtige klimaat. Baie maal het ons by die huis aangekom en piesangs, papajas, mango’s en lemoene op ons drumpel gevind sonder dat ons geweet het van wie dit kom.

In 1971 het ek en my vrou, vergesel van drie ander verkondigers van Rarotonga, na die eiland Aitutaki gereis, wat beroemd is vir sy pragtige strandmeer. Ons het liefhebbers van God se Woord onder die gasvrye eilanders gevind en het vier tuisbybelstudies met hulle begin, wat ons per brief voortgesit het nadat ons na Rarotonga teruggekeer het. Mettertyd is daardie studente op Aitutaki gedoop, en ’n gemeente is gestig. In 1978 is die tweede Koninkryksaal in die Cook-eilande daar gebou. Jehovah het aangehou om dinge te laat groei na aanleiding van ons plant- en natmaakwerk.—1 Korinthiërs 3:6, 7.

Ek was bevoorreg om tien eilande in die Cook-eilandgroep te besoek, baie maal onder moeilike omstandighede. Een bootreis na Atiu, 180 kilometer ver, het meer as ses dae geduur as gevolg van stormwinde en ’n onstuimige see. (Vergelyk 2 Korinthiërs 11:26.) Al was voedsel beperk en baie mense om my seesiek, was ek dankbaar vir Jehovah se sorg wat daartoe gelei het dat ek veilig by my bestemming aangekom het.

In 1974 het die owerheid geweier om ’n permit aan ons toe te staan om in die Cook-eilande aan te bly, en ons moes dus na Nieu-Seeland terugkeer. Teen daardie tyd was daar drie gemeentes op die eilande.

Meer diensvoorregte—en ’n toets

Terug in Nieu-Seeland het nuwe deure oopgegaan, dit wil sê nuwe geleenthede het ontstaan (1 Korinthiërs 16:9). Die Genootskap het iemand nodig gehad wat Die Wagtoring en ander Bybellektuur in die Maori van die Cook-eilande kon vertaal. Ek het die voorreg ontvang, en dit is vandag nog myne. Ek het ook die voorreg gehad om gereeld weer my broers in die Cook-eilande te besoek, eers as kringopsiener, toe as waarnemende streekopsiener.

Op een van daardie besoeke het broer Alex Napa, ’n spesiale pionier van Rarotonga, my op ’n seereis van 23 dae vergesel wat ons na Manahiki, Rakahanga en Penrhyn—eilande in die noordelike Cook-eilande—geneem het. Op elke eiland het Jehovah gasvrye eilanders se harte beweeg om ons huisvesting te gee en baie Bybellektuur te neem. (Vergelyk Handelinge 16:15.) Op hierdie eilande is daar volop pêreloesters, en mense het dikwels pêrels as ’n bydrae tot die wêreldwye predikingswerk gegee. Terwyl ons dan geestelike pêrels gegee het, het ons etlike letterlike pêrels ontvang.—Vergelyk Mattheüs 13:45, 46.

Hoe pragtig is daardie afgesonderde deel van die wêreld tog! Stel jou groot haaie voor wat vreedsaam saam met kinders in ’n strandmeer swem! Wat ’n manjifieke gesig is die naghemel tog! Die psalmis se woorde is inderdaad waar: “Die een dag stort vir die ander ’n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan.”—Psalm 19:3.

Toe, nege jaar gelede, het ’n groot toets van onkreukbaarheid ontstaan. My vrou is met bloeding op die brein in die hospitaal opgeneem. ’n Operasie was nodig, maar die dokter het geweier om dit sonder bloed te doen. Ek en my vrou kon nie met ’n skoon gewete instem tot ’n prosedure wat God se Wet sou skend nie. Maar die chirurg se gewete het voorgeskryf dat alle middele, bloed inkluis, aangewend moes word om lewe te red.

My vrou se gesondheid het agteruitgegaan en sy is in ’n waaksaal geplaas waar besoeke beperk is. Sy het gehoorverlies ondervind weens drukking op die trommelvliese. Die toestand het kritiek geword. Ná ’n besoek het ’n dokter my na my motor toe gevolg en nadruklik gesê dat my vrou se enigste kans ’n operasie met bloed was, en hy het my gesmeek om daartoe in te stem. Maar ek en my vrou het op Jehovah vertrou—al sou gehoorsaamheid aan sy wet tot die verlies van ’n paar jaar van hierdie lewe lei.

Skielik was daar ’n duidelike verbetering in my vrou se toestand. Toe ek eendag daar aankom, het sy regop in die bed gesit en lees. Op daaropvolgende dae het sy aan pasiënte en die verpleegpersoneel begin getuig. Toe het die chirurg my na sy kantoor laat kom. Hy het gesê: “Mnr. Wharerau, jy is inderdaad ’n gelukkige man! Ons meen dat jou vrou se kwaal genees is.” Haar bloeddruk het onverwags gestabiliseer. Ek en my vrou het Jehovah saam gedank en ons opnuut voorgeneem om ons bes in Jehovah se diens te doen.

Ek het weer ’n toewysing na die Cook-eilande ontvang en dien weer eens in Rarotonga. Wat ’n geseënde voorreg is dit tog! As ek en my vrou terugkyk, is ons dankbaar vir Jehovah se sorg oor bykans vyf dekades in sy diens. Materieel was ons nog nooit sonder die lewensmiddele nie. In ’n geestelike sin is die seëninge te veel om te tel. ’n Vername seën is dat soveel van my familielede die waarheid aangeneem het. Ek kan meer as 200 tel, waaronder 65 nakomelinge, wat tans gedoopte Getuies van Jehovah is. Een kleinseun is ’n lid van die Nieu-Seelandse Bethelgesin terwyl ’n dogter saam met haar man en twee seuns met konstruksiewerk by takke help.—3 Johannes 4.

As ek vorentoe kyk, koester ek die vooruitsig om in ’n paradys te lewe waar die natuur selfs mooier sal wees as dié van die mooi, groen vallei waar ek gebore is. Wat ’n voorreg sal dit tog wees om my ma en pa in die opstanding terug te verwelkom en hulle te vertel van die losprys, die Koninkryk en al die ander bewyse van Jehovah se sorg.

My voorneme, wat versterk word deur die wete dat God vir my sorg, is dieselfde as dié van die psalmis in Psalm 104:33: “Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.”—Soos vertel deur Sarn Wharerau.

[Prent op bladsy 28]

Die eerste Koninkryksaal wat in Nieu-Seeland gebou is, 1950

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel