Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 10/15 bl. 28-29
  • ’n Hebreeuse Bybelmanuskrip wat die standaard gestel het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Hebreeuse Bybelmanuskrip wat die standaard gestel het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die “Kroon”
  • Die werk van ’n meester
  • Wat is die Masoretiese teks?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Studie nommer 5—Die Hebreeuse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “Die lied van die see”—’n Manuskrip wat ’n gaping oorbrug
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • A3 Hoe die Bybel tot in ons tyd bewaar is
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 10/15 bl. 28-29

’n Hebreeuse Bybelmanuskrip wat die standaard gestel het

VOOR die ontdekking van die Dooie See-rolle in 1947 het die oudste bekende Hebreeuse Bybelmanuskripte—buiten ’n paar fragmente—uit die laat 9de tot die 11de eeu G.J. gedateer. Dit is skaars ’n duisend jaar gelede. Beteken dit dat die Hebreeuse teks van die Bybel voor 1947 twyfelagtig was? En waarom was daar so min antieke Hebreeuse manuskripte?

Kom ons beskou daardie laaste vraag eerste. Onder die ortodokse Joodse stelsel is enige Hebreeuse Bybelmanuskrip wat te gedaan geag is vir verdere gebruik, weggesluit in ’n geniza, ’n pakkamer in die sinagoge. Later is al die onbruikbare manuskripte wat vergader is, weggeneem en begrawe. Die Jode het dit gedoen om te voorkom dat hulle Geskrifte ontheilig of misbruik word. Waarom? Omdat dit die Tetragrammaton bevat het, die Hebreeuse letters wat die heilige naam van God voorstel, wat gewoonlik in Afrikaans as “Jehovah” weergegee word.

Die “Kroon”

Die antieke Hebreeuse teks is van die vroegste tye af merendeels getrou oorgedra. Daar was byvoorbeeld ’n belangrike Hebreeuse manuskrip wat die Keter, die “Kroon”, genoem is en wat oorspronklik al die Hebreeuse Geskrifte, of die “Ou Testament”, bevat het. Dit is bewaar in die oudste sinagoge van ’n antieke, klein gemeenskap Jode wat in Aleppo, Sirië, ’n oorwegend Moslemdorp, gewoon het. Hierdie manuskrip is vroeër aan die Karaïetiese Jode in Jerusalem toevertrou, maar dit is in 1099 deur die Kruisvaarders gebuit. Die manuskrip is later herwin en na Ou Kaïro, Egipte, geneem. Dit het Aleppo ten minste teen die 15de eeu bereik en het vervolgens bekend geword as die Aleppo-kodeks. Hierdie manuskrip, wat uit ten minste 930 G.J. dateer, is die kroon van Masoretiese kundigheid geag, soos die naam te kenne gee. Dit is ’n goeie voorbeeld ter toeligting van die sorg waarmee die Bybelteks oorgedra is, en dit was inderdaad ’n voortreflike Hebreeuse manuskrip wat die standaard gestel het.

In die nuwe tye het die bewaarders van dié uitsonderlike manuskrip uit bygelowige vrees vir die ontheiliging van hulle heilige voorwerp geweier dat vakkundiges dit raadpleeg. Wat meer is, aangesien net ’n enkele blad ooit gefotografeer is, kon ’n faksimilee-uitgawe nooit vir die bestudering daarvan uitgegee word nie.

Toe die Britte hulle in 1948 aan Palestina onttrek het, het onluste in Aleppo teen die Jode uitgebreek. Hulle sinagoge is afgebrand; die waardevolle kodeks het verdwyn en daar is veronderstel dat dit vernietig is. Wat ’n verrassing was dit dus toe daar sowat tien jaar later uitgevind is dat omtrent drie kwart daarvan behoue gebly het en uit Sirië na Jerusalem gesmokkel is! In 1976 is 500 eksemplare van ’n puik faksimilee-uitgawe in volle kleur uiteindelik uitgegee.

Die werk van ’n meester

Waarom is hierdie manuskrip so belangrik? Omdat sy oorspronklike konsonante-teks teen omstreeks 930 G.J. verbeter en gepunktueer is deur Aaron ben Asjer, een van die mees gevierde vakkundiges wat in die kopiëring en oordraging van die Hebreeuse Bybel opgelei was. Daarom was dit ’n modelkodeks wat die standaard gestel het vir toekomstige kopieë wat deur minder bekwame kopiïste gemaak sou word.

Dit het oorspronklik 380 folio’s (760 bladsye) bevat en is oor die algemeen in drie kolomme op perkamentvelle geskryf. Dit bestaan nou uit 294 folio’s, en die grootste deel van die Pentateug en die laaste deel, wat bestaan uit Klaagliedere, die Hooglied van Salomo, Daniël, Ester, Esra en Nehemia, ontbreek. In die New World Translation of the Holy Scriptures—Reference Bible word dit as “Al” aangegee (Josua 21:37, voetnoot). Moses Maimonides (hier uitgebeeld), ’n beroemde Middeleeuse Joodse geleerde van die 12de eeu G.J., het gesê dat die Aleppo-kodeks die beste is wat hy nog gesien heta.

Die Hebreeuse teks wat van die 13de tot die 15de eeu met die hand gekopieer is, was ’n gemengde teks waarvoor twee vername Masoretiese teksfamilies, die Ben Asjer en die Ben Naftali, gebruik is. In die 16de eeu het Jakob ben Hajjim die teks vir ’n gedrukte Hebreeuse Bybel gelewer wat op hierdie gemengde tradisie gebaseer was, en dit het die grondslag geword van byna alle Hebreeuse Bybels wat oor die volgende 400 jaar gedruk is.

Met die derde uitgawe van die Biblia Hebraica (die gedrukte Hebreeuse teks) in 1937 is die Ben Asjer-tradisie geraadpleeg, wat bewaar is in ’n manuskrip wat in Rusland gehou word en as die Leningrad B 19A bekend staan. Die Leningrad B 19A dateer uit 1008 G.J. Die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem is van plan om die Aleppo- Hebreeuse teks oor ’n tydperk volledig uit te gee, tesame met lesings uit al die ander belangrike manuskripte en weergawes, met inbegrip van die Dooie See-rolle.

Die Bybelteks wat ons vandag gebruik, is betroubaar. Dit is Goddelik geïnspireer en is deur die eeue heen deur kopiïste oorgedra wat met noukeurige vaardigheid gewerk het. Die uiterste sorgvuldigheid van hierdie kopiïste blyk uit die feit dat vergelykings tussen die Jesaja-rol wat in 1947 langs die Dooie See gevind is en die Masoretiese teks verbasend min verskille toon, al is die Dooie See-rol meer as duisend jaar ouer as die oudste Masoretiese Bybel wat nog bestaan. Daarbenewens sal die feit dat die Aleppo-kodeks nou vir vakkundiges beskikbaar is nog meer rede vir vertroue in die egtheid van die teks van die Hebreeuse Geskrifte voorsien. Waarlik, “die woord van onse God hou stand in ewigheid”.—Jesaja 40:8.

[Voetnoot]

a Etlike jare lank het sekere vakkundiges getwyfel dat die Aleppo-kodeks die manuskrip is wat deur Ben Asjer gepunktueer is. Maar sedert die kodeks vir bestudering beskikbaar is, is bewyse gevind dat dit wel die Ben Asjer-manuskrip is waarvan Maimonides melding gemaak het.

[Foto-erkenning op bladsy 28]

Bibelmuseum, Münster

[Foto-erkenning op bladsy 29]

Jewish Division / The New York Public Library / Astor, Lenox, and Tilden Foundations

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel