Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 5/15 bl. 26-28
  • Wat is die Masoretiese teks?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die Masoretiese teks?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Woord van Jehovah
  • Die deur tot onnoukeurigheid begin oopgaan
  • Pogings om die deur toe te maak
  • Kan ons ’n “suiwer” Masoretiese teks vind?
  • Wie was die Masorete?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ’n Hebreeuse Bybelmanuskrip wat die standaard gestel het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Studie nommer 5—Die Hebreeuse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Hoe het die boek behoue gebly?
    ’n Boek vir alle mense
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 5/15 bl. 26-28

Wat is die Masoretiese teks?

IN WATTER taal jy die Bybel ook al lees, ’n deel van die boek is waarskynlik direk of indirek uit die Masoretiese teks vertaal, wat uit die Hebreeuse Geskrifte, of die “Ou Testament”, bestaan. Daar was in werklikheid meer as een Masoretiese teks. Watter een is dus gekies, en waarom? Trouens, wat is die Masoretiese teks en hoe weet ons dat dit betroubaar is?

Die Woord van Jehovah

Die skryf van die Bybel het in 1513 v.G.J. by die berg Sinai begin. Exodus 24:3, 4 sê vir ons: “Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe.”

Die Hebreeuse Geskrifte is oor meer as duisend jaar opgeteken, vanaf 1513 v.G.J. tot omtrent 443 v.G.J. Aangesien die skrywers deur God geïnspireer is, is dit redelik dat hy sou sorg dat sy boodskap getrou bewaar word (2 Samuel 23:2; Jesaja 40:8). Maar beteken dit dat Jehovah alle menslike foute sou uitskakel, sodat geen enkele letter met die oorskrywe verander sou word nie?

Die deur tot onnoukeurigheid begin oopgaan

Hoewel manne met diepe eerbied vir God se Woord dit van geslag tot geslag oorgeskrywe het, het menslike foute nietemin soms in manuskripte ingesluip. Die Bybelskrywers is geïnspireer, maar die kopiïste het nie hulle werk onder Goddelike inspirasie gedoen nie.

Nadat die Jode in 537 v.G.J. uit Babiloniese ballingskap teruggekeer het, het hulle ’n nuwe skryfwyse aangeneem met die vierkantige letters wat hulle in Babilon geleer het. Hierdie groot verandering het die wesenlike probleem laat ontstaan dat letters wat baie dieselfde lyk met mekaar verwar kon word. Aangesien Hebreeus ’n taal is wat met konsonante geskryf word en die leser vokaalklanke byvoeg na aanleiding van sy begrip van die konteks, kan ’n verandering van een konsonant maklik die betekenis van ’n woord verander. In die meeste gevalle kon sulke foute egter bespeur en gekorrigeer word.

Die oorgrote meerderheid van die Jode het nie na Israel teruggekeer nadat Babilon geval het nie. Sinagoges het dus die geestelike sentrums vir die Joodse gemeenskappe deur die hele Midde-Ooste en Europa geword.a Elke sinagoge moes afskrifte van die boekrolle van die Geskrifte hê. Hoe meer afskrifte gemaak is, hoe groter was die kans op kopieerfoute.

Pogings om die deur toe te maak

Vanaf die eerste eeu G.J. het kopiïste in Jerusalem probeer om ’n grondteks tot stand te bring waarvolgens alle Hebreeuse Geskrifte-rolle gekorrigeer kon word. Maar daar was geen definitiewe stelsel om tussen die oorspronklike van ’n teks en die manuskripte waarin daar kopieerfoute was te onderskei nie. Vanaf die tweede eeu G.J. is die konsonante-teks van die Hebreeuse Geskrifte blykbaar redelik goed gestandaardiseer, hoewel dit nog nie gesaghebbend vasgestel was nie. Aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte wat in die Talmoed (saamgestel tussen die tweede en sesde eeu G.J.) verskyn het, dui heel dikwels op ’n ander bron as wat later die Masoretiese teks genoem is.

Die woord “tradisie” in Hebreeus is ma·so·raʹ of ma·soʹret. Teen die sesde eeu G.J. het diegene wat die tradisie bewaar het om die Hebreeuse Geskrifte noukeurig oor te skrywe as die Masorete bekend gestaan. Die afskrifte wat hulle gemaak het, word Masoretiese tekste genoem. Wat was spesiaal omtrent hulle werk en die tekste wat hulle voorberei het?

Hebreeus het as ’n lewende volkstaal gekwyn en baie Jode was nie meer daarmee vertroud nie. Derhalwe was die begrip van die konsonante-Bybelteks bedreig. Om dit te beskerm, het die Masorete ’n vokaalstelsel uitgewerk wat deur kolletjies en strepies, of punte, verteenwoordig is. Hulle is bo en onder die konsonante geplaas. Die Masorete het ’n ingewikkelde stelsel van tekens ontwikkel wat beide as ’n vorm van punktuasie en as ’n gids vir noukeuriger uitspraak gedien het.

Waar die Masorete gemeen het dat die teks deur vroeëre geslagte kopiïste verander of verkeerd oorgeskryf is, het hulle eerder aantekeninge in die kantlyn gemaak as om die teks te verander. Hulle het aantekeninge gemaak van ongewone woordvorme en -kombinasies, asook hoe dikwels dit in een boek of in die hele Hebreeuse Geskrifte voorgekom het. Bykomende kommentare is ook aangeteken om kopiïste met kruiskontrolering te help. ’n Stelsel van afgekorte “kodes” is ontwikkel om hierdie inligting uiters bondig aan te teken. Bo en onder aan die bladsye het ’n soort miniatuurkonkordansie dele van verwante verse aangegee waaroor daar in die kanttekeninge kommentaar gelewer is.

Die beroemdste stelsel is deur die Masorete in Tiberias, by die See van Galilea, vervolmaak. Die families van Ben Aser en Ben Naftali van die negende en tiende eeu G.J., moontlik Karaïete, het veral prominent geword.b Hoewel daar verskille was tussen die uitspraakmetodes en aantekeninge van hierdie twee skole, verskil die konsonante van hulle tekste op minder as tien plekke in die hele Hebreeuse Geskrifte.

Albei Masoretiese skole, dié van Ben Aser en van Ben Naftali, het groot bydraes tot tekstuele kundigheid in hulle tyd gelewer. Nadat Maimonides (’n invloedryke Talmoediese geleerde van die 12de eeu) die Ben Aser-teks geprys het, het ander dit uitsluitlike voorkeur gegee. Dit was in so ’n mate die geval dat geen Ben Naftali-manuskrip vandag gevind kan word nie. Al wat oorbly, is lyste van die verskille tussen die twee skole. Die ironie is dat Maimonides se kommentaar oor styl gehandel het, soos paragraafspasiëring, en nie oor die belangriker aspekte van noukeurige oorskrywery nie.

Kan ons ’n “suiwer” Masoretiese teks vind?

Daar is groot verdeeldheid onder geleerdes oor watter kodeks wat vandag beskikbaar is die “suiwer” Ben Aser-teks is, asof dit dan vir ons die “egte” Masoretiese teks sal gee. In werklikheid was daar nooit een unieke, “suiwer” en gesaghebbende Masoretiese teks nie. Daar was eerder baie Masoretiese tekste, waarvan almal effens van mekaar verskil het. Alle bestaande kodekse is gemengde tekste, met Ben Aser sowel as Ben Naftali se lesings daarin.

Die taak waarvoor enige vertaler van die Hebreeuse Geskrifte vandag te staan kom, is gedug. Hy moet nie net met die Hebreeuse teks vertroud raak nie, maar ook met alle redelike keuses waar die teks moontlik deur kopieerfoute of andersins verander is. Terwyl die verskillende Masoretiese tekste as ’n grondslag dien, moet hy ander geldige bronne raadpleeg wat dalk redelikerwyse ouer en moontlik akkurater weergawes van die konsonante-teks verteenwoordig.

In die inleiding tot sy boek The Text of the Old Testament verduidelik Ernst Würthwein: “Wanneer ons ’n moeilike gedeelte teëkom, kan ons nie bloot die onderskeie lesings versamel en die een kies wat skynbaar die eenvoudigste oplossing bied nie; soms die Hebreeuse teks, soms die Septuagint, en nog ander kere die Aramese Targoem. Tekstuele getuies is nie almal ewe betroubaar nie. Elkeen het sy eie karakter en sy eie besondere geskiedenis. Ons moet hiermee bekend wees as ons ontoereikende of valse oplossings wil vermy.”

Ons het ’n vaste grondslag om die volle vertroue te hê dat Jehovah sy Woord bewaar het. As gevolg van die gesamentlike pogings van talle opregte mense deur die eeue heen is die kern, die inhoud en selfs die besonderhede van die Bybel se boodskap geredelik tot ons beskikking. Geringe veranderinge in letters of woorde het nie ons vermoë om die Geskrifte te verstaan, beïnvloed nie. Nou is die belangrike vraag: Sal ons volgens God se Woord, die Bybel, lewe?

[Voetnote]

a Aangesien baie Jode buite Israel nie meer Hebreeus vlot kon lees nie, het Joodse gemeenskappe, soos die een in Aleksandrië, Egipte, gou die behoefte gesien aan vertalings van die Bybel in die landstaal. Om in hierdie behoefte te voorsien, is die Griekse Septuagint-vertaling in die derde eeu v.G.J. voorberei. Hierdie vertaling sou later ’n belangrike bron vir teksvergelyking word.

b Omstreeks die jaar 760 G.J. het ’n Joodse groep wat as die Karaïete bekend gestaan het op groter getrouheid aan die Geskrifte aangedring. Aangesien hulle die gesag van die rabbi’s, die “Mondelinge Wet” en die Talmoed verwerp het, het hulle meer rede gehad om die Bybelteks stelselmatig te bewaar. Party families van hierdie groep het bekwame Masoretiese kopiïste geword.

[Prent op bladsy 26]

Die Aleppo-kodeks bevat die Masoretiese teks

[Erkenning]

Bibelmuseum, Münster

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel