Vrae van lesers
In watter mate moet Christene hulle daaroor bekommer dat bloedkomponente, soos gedroogte plasma, dalk by voedselprodukte gevoeg is?
As daar ’n gegronde rede is om te glo dat dierebloed (of ’n komponent daarvan) beslis plaaslik in voedselprodukte gebruik word, moet Christene die gepaste versigtigheid aan die dag lê. Tog sou dit onverstandig wees om deur ’n blote vermoede ontsteld te raak of met ongegronde kommer te lewe.
Ons Skepper het vroeg in die mensegeskiedenis bepaal dat mense nie bloed mag eet nie (Genesis 9:3, 4). Hy het gesê dat bloed die lewe, ’n gawe van hom, voorstel. Die bloed wat uit ’n dier geneem is, kon net in offerandes gebruik word, soos op die altaar. Anders moes ’n persoon die bloed van ’n dier op die grond laat uitloop het, waardeur hy dit in sekere sin aan God teruggegee het. Sy volk moes nie die lewe onderhou deur bloed in te neem nie. Hy het beveel: “Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word” (Levitikus 17:11-14). God se verbod op die eet van bloed is vir Christene herhaal (Handelinge 15:28, 29). Die vroeë Christene moes dus kos vermy wat bloed bevat het, soos die vleis van verwurgde diere of bloedwors.
Maar hoe sou daardie Christene in die praktyk volgens hulle vaste voorneme gehandel het om ‘hulle van bloed te onthou’? (Handelinge 21:25). Moes hulle bloot die apostel Paulus se woorde toepas: “Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete”?
Nee. Daardie woorde in 1 Korinthiërs 10:25 verwys na vleis van ’n dier wat miskien by ’n afgodstempel geoffer is. Destyds is die vleis wat by die tempels oorgebly het van die hand gesit deur dit aan handelaars te verkoop, wat dit dalk by hulle vleisvoorraad gevoeg het wat in hulle winkels verkoop is. Paulus se punt was dat vleis wat van ’n tempel kom nie op sigself sleg of besoedel was nie. Dit was blykbaar gebruiklik om die bloed van diere wat op die heidense altare geoffer is, te laat uitloop en dit daarop te gebruik. Indien van die oortollige vleis dan op ’n mark verkoop is, sonder ’n ooglopende verband met ’n tempel of die wanbegrippe van heidene, kon Christene dit koop as bloot kommersiële vleis wat rein was en waaruit die bloed behoorlik gedreineer is.
Dit sou egter beslis ’n ander saak gewees het as daardie Christene geweet het dat die vleis van verwurgde diere (of bloedwors) een van die keuses by die plaaslike winkels was. Hulle sou die vleis wat hulle gekoop het versigtig moes gekies het. Miskien was dit vir hulle moontlik om vleisprodukte wat bloed bevat het, uit te ken indien dit ’n kenmerkende kleur gehad het (soos bloedwors vandag gewoonlik uitgeken kan word in lande waar dit algemeen voorkom). Of Christene kon ’n slagter of vleishandelaar van goeie naam gevra het. As daar geen rede was om te glo dat sekere vleis bloed bevat het nie, kon hulle dit bloot gekoop en geëet het.
Paulus het ook geskryf: “Laat julle [redelikheid] aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5, vgl. NW). Dit kan op die koop van vleis van toepassing wees. Nóg Israel se Wet nóg die raadsbesluit van die eerste-eeuse Christenbestuursliggaam het te kenne gegee dat God se volk groot moeite moes doen om navraag te doen na vleis en selfs vegetariërs moes word as daar die geringste twyfel bestaan het oor die aanwesigheid van bloed in die vleis wat beskikbaar was.
’n Israelitiese jagter wat ’n dier doodgemaak het, moes sy bloed laat uitloop. (Vergelyk Deuteronomium 12:15, 16.) As sy gesin nie al die vleis kon eet nie, kon hy daarvan verkoop. Daar bly selfs in ’n karkas wat behoorlik gebloei is ’n bietjie bloed in die vleis oor, maar niks in die Bybel gee te kenne dat ’n Jood wat vleis koop tot die uiterste moes gaan om feite in te win nie, soos hoeveel minute tussen die slagting en die dreinering verloop het, watter slagaar of aar gesny is om die bloed te laat vloei en op watter manier en hoe lank die dier opgehang is nie. Die bestuursliggaam het ook nie geskryf dat Christene in dié opsig buitengewone voorsorg moes tref nie, asof hulle gedetailleerde antwoorde moes hê voordat hulle enige vleis kon eet nie.
Deesdae kom vleisprodukte (behalwe ongewone artikels, soos bloedwors) in baie lande as gevolg van die wet, gewoonte of godsdiensgebruik van diere waarvan die bloed eers moet uitloop nadat hulle geslag is. Derhalwe hoef Christene in daardie gebiede gewoonlik nie oormatig besorg te wees oor die slag- of verwerkingsmetodes nie. In ’n uitgebreide sin kan hulle bloot voortgaan om kommersiële ‘vleis te eet sonder om navraag te doen’, en hulle kan ’n skoon gewete hê dat hulle hulle van bloed onthou.
Daar is egter van tyd tot tyd tegniese verslae oor die kommersiële gebruik van bloed wat party Christene ontstel. Party mense in die vleisverwerkingsbedryf redeneer dat groot hoeveelhede bloed van geslagte diere opgevang kan word vir praktiese gebruike en wins, soos in bemestingstowwe of dierevoer. Navorsers het die moontlike gebruik van sulke bloed (of komponente) in verwerkte vleis ondersoek. ’n Paar fabrieke het selfs al ’n beperkte hoeveelheid vloeibare, gevriesde of verpoeierde plasma (of ontkleurde rooi bloedliggaampies) gelewer wat ’n klein persentasie vleis in worsprodukte of vleissmeer kan vervang. Ander studies was oor die gebruik van verpoeierde bloedprodukte as ’n vuller of om water en vet te bind in maalvleis, in bakprodukte of in ander voedselsoorte en drankies om proteïen of yster by te voeg.
Dit is egter opmerkenswaardig dat sulke navorsing al dekades lank aan die gang is. Tog lyk dit of die gebruik van sulke produkte in die meeste lande baie beperk is of selfs glad nie bestaan nie. ’n Paar tipiese verslae help om te toon waarom:
“Bloed is ’n bron van voedings- en funksionele proteïene. Maar weens die donker kleur en kenmerkende smaak daarvan is beesbloed vir regstreekse menslike gebruik slegs in beperkte hoeveelhede gebruik.”—Journal of Food Science, deel 55, nommer 2, 1990.
“Bloedplasmaproteïene het nuttige eienskappe, soos hulle hoë oplosbaarheid, emulsifiserende werking en hidrofobisiteit . . . en hulle gebruik in voedselverwerking bied groot voordele. Maar daar is in Japan geen effektiewe stelsel vasgestel om plasma te suiwer nie, veral nie na ontwatering nie.”—Journal of Food Science, deel 56, nommer 1, 1991.
Party Christene gaan nou en dan die etikette op verpakte voedsel na, aangesien baie regerings vereis dat bestanddele aangegee word. En hulle kan dit gereeld doen in die geval van enige produk wat hulle rede het om te glo moontlik bloed bevat. Dit sou natuurlik reg wees om produkte te vermy wat dinge soos bloed, bloedplasma, plasma, globienproteïen (of globulienproteïen) of hemoglobienyster (of globienyster) aangee. Die bemarkingsinligting van een Europese maatskappy op dié gebied het erken: “Inligting aangaande die gebruik van globien as ’n bestanddeel moet op so ’n manier op die verpakking van die kos aangedui word dat die verbruiker nie mislei word oor die samestelling of waarde van die voedsel nie.”
Maar redelikheid is nodig selfs met betrekking tot die nagaan van etikette of navrae by slagters. Dit is nie asof elke Christen wêreldwyd die etikette en bestanddele op alle verpakte voedsel moet begin bestudeer of die werknemers by restaurante of voedselwinkels moet uitvra nie. ’n Christen kan hom eers afvra: ‘Is daar enige bewys dat bloed en bloedprodukte in gewone voedselprodukte in hierdie omgewing of land gebruik word?’ Die antwoord is in die meeste plekke nee. Daarom het baie Christene besluit dat hulle nie baie tyd en aandag daaraan gaan bestee om vae moontlikhede na te gaan nie. Iemand wat nie so voel nie, moet in ooreenstemming met sy gewete optree, sonder om ander te oordeel wat die saak dalk op ’n ander manier, maar met ’n goeie gewete voor God, hanteer.—Romeine 14:2-4, 12.
Al kan voedselprodukte wat bloed bevat, vervaardig word, word dit bes moontlik weens die koste, wetgewing of ander faktore nie algemeen gedoen nie. Food Processing (September 1991) het byvoorbeeld gesê: “Vir die verwerkers wat beswaar het teen die minder as 1% gehidroliseerde beesplasma in die mengsel (van die vleiskoekie), word dit vervang deur ’n alternatiewe mengsel weiproteïen-konsentraat wat as Kosjer gemerk kan word.”
Daar moet beklemtoon word dat die wet, gewoonte of smaak in baie lande vereis dat die bloed gewoonlik eers uit geslagte diere moet loop en dat dié bloed nie in ander voedselprodukte gebruik word nie. As daar geen grondige rede is om te dink dat die situasie plaaslik anders is of dat daar onlangs ’n groot verandering plaasgevind het nie, moet Christene daarteen waak dat hulle deur ’n blote moontlikheid of gerug ontstel word. Maar wanneer daar sekerheid of ’n sterk moontlikheid bestaan dat bloed algemeen gebruik word—hetsy in voedsel of in mediese behandeling—moet ons vasbeslote wees om God se bevel te gehoorsaam om ons van bloed te onthou.