Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 11/1 bl. 10-15
  • Opvoeding in Bybeltye

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Opvoeding in Bybeltye
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Patriargale opvoeding
  • Die opvoedingstelsel in Israel
  • Onderrigtingsmetodes
  • Die leerplan
  • Priesters, Leviete en profete
  • Opvoeding gedurende en ná die ballingskap
  • Rabbynse skole
  • Opvoeding—Gebruik dit om Jehovah te loof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Hoe Jehovah se Getuies opvoeding beskou
    Jehovah se Getuies en opvoeding
  • Hoe beskou Jehovah se Getuies opvoeding?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • Opvoeding met ’n doel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 11/1 bl. 10-15

Opvoeding in Bybeltye

“Leer dit aan julle kinders.”—DEUTERONOMIUM 11:19.

1. Wat toon dat Jehovah in die opvoeding van sy knegte belangstel?

JEHOVAH is die Grootste Opvoeder. Hy het sy knegte nog nooit onkundig gelaat nie. Hy was nog altyd bereid om kennis aan hulle oor te dra. Hy leer hulle wat sy wil en sy weë is. Sy eniggebore Seun was tallose millenniums lank by hom en het die heeltyd as God se “meesterwerker” geleer (Spreuke 8:30, NW). Toe Jesus op die aarde was, het hy gesê: “Net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 8:28). Elihu het van God as die Weergalose Opvoeder gepraat en gevra: “Wie is ’n leermeester soos Hy?” (Job 36:22). Die profeet Jesaja het van Jehovah gepraat as die “Grootse Onderrigter” van Sy volk en het voorspel: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jesaja 30:20, NW; 54:13). Jehovah wil sonder twyfel hê dat sy intelligente skepsele ingelig en deeglik opgevoed moet wees.

Patriargale opvoeding

2, 3. (a) Hoe het die getroue aartsvaders die opvoeding van hulle kinders beskou, en watter opdrag het Jehovah Abraham gegee? (b) Watter grootse voorneme het verskuil gelê in die opdrag om Abraham se nakomelinge te onderrig?

2 Een van die basiese voorregte van die gesinshoof in patriargale tye was die onderrigting van sy kinders en sy huishouding. Die opvoeding van hulle kinders was vir God se knegte ’n godsdiensplig. Jehovah het van sy kneg Abraham gesê: “Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het.”—Genesis 18:19.

3 Hierdie Goddelike verklaring toon dat Jehovah opvoeding as baie belangrik beskou het. God het van Abraham, Isak en Jakob verwag om hulle huishoudings in Sy weë van geregtigheid en reg op te voed sodat toekomstige geslagte in Jehovah se weë kon wandel. Jehovah sou gevolglik sy beloftes aangaande Abraham se saad en die seëning van “al die nasies van die aarde” vervul.—Genesis 18:18; 22:17, 18.

Die opvoedingstelsel in Israel

4, 5. (a) Wat het Israel se opvoedingstelsel van die ander nasies s’n onderskei? (b) Watter ander belangrike verskil is in die Encyclopaedia Judaica uiteengesit, en wat het ongetwyfeld tot hierdie verskil bygedra?

4 Die Encyclopaedia Judaica sê: “Die Bybel is die vernaamste bron waaruit ons ’n begrip van die opvoedingsproses in eertydse Israel kan verkry.” Jehovah het Moses as Israel se eerste menslike leermeester gebruik (Deuteronomium 1:3, 5; 4:5). Moses het Jehovah se woorde oorgedra (Exodus 24:3). God was dus in werklikheid Israel se vernaamste Opvoeder. Dit op sigself het Israel se opvoedingstelsel van die ander nasies s’n onderskei.

5 Dieselfde naslaanwerk sê: “Hoër onderwys en boekekennis in Mesopotamië en Egipte was formeel en tot die skrifgeleerdes beperk, wat blykbaar nie die geval in Israel was nie. Die verskil was ongetwyfeld toe te skryf aan die feit dat die Hebreërs ’n eenvoudiger alfabetiese skryfstelsel gebruik het. . . . Die belangrike bydrae wat die alfabetiese skryfstelsel tot die geskiedenis van die onderwys gemaak het, moet nie misken word nie. Dit het ’n tydperk ingelui waar daar weggebreek is van die tradisionele skrifgeleerde-kulture van Egipte, Mesopotamië en tweede-millenniumse Kanaän. Om geletterd te wees, was nie meer die eksklusiewe kenmerk van ’n klas professionele skrifgeleerdes en priesters wat in die ingewikkelde spyker- en hiëroglifiese skrif bedrewe was nie.”

6. Watter Bybelse bewys is daar dat die Israeliete reg van die begin van hulle geskiedenis af ’n geletterde volk was?

6 Die Bybel lewer bewys dat die Israeliete ’n geletterde volk was. Selfs voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het, is daar aan hulle gesê om Jehovah se wette op hulle deurposte en op hulle poorte te skryf (Deuteronomium 6:1, 9; 11:20; 27:1-3). Hoewel hierdie bevel ongetwyfeld figuurlik was, sou dit beslis nie veel vir die gewone Israeliet beteken het as hy nie geweet het hoe om te lees en te skryf nie. Tekste soos Josua 18:9 en Rigters 8:14 toon dat ander, benewens leiers soos Moses en Josua, geweet het hoe om te skryf lank voordat die monargie in Israel ingestel is.—Exodus 34:27; Josua 24:26.

Onderrigtingsmetodes

7. (a) Wie het volgens die Skrif die Israelitiese kinders hulle basiese opvoeding gegee? (b) Watter inligting gee ’n Franse Bybelgeleerde?

7 In Israel is kinders van ’n baie vroeë ouderdom af deur die vader sowel as die moeder geleer (Deuteronomium 11:18, 19; Spreuke 1:8; 31:26). In die Franse Dictionnaire de la Bible het die Bybelgeleerde E. Mangenot geskryf: “Sodra die kind kon praat, het hy ’n paar gedeeltes uit die Wet geleer. Sy moeder het ’n vers opgesê; wanneer hy dit geken het, het sy hom nog een geleer. Later is die geskrewe teks van die verse wat hulle reeds uit die hoof kon opsê in die kinders se hande geplaas. Só het hulle met lees kennis gemaak, en wanneer hulle groter was, kon hulle hulle godsdiensonderrig voortsit deur die wet van die Here te lees en te bepeins.”

8. (a) Watter basiese onderrigtingsmetode is in Israel gebruik, maar met watter belangrike kenmerk? (b) Watter geheuehulpmiddele is gebruik?

8 Dit dui daarop dat memorisering as ’n basiese onderrigtingsmetode gebruik is. Die dinge wat hulle aangaande Jehovah se wette en sy handelinge met sy volk geleer is, moes in hulle hart insink (Deuteronomium 6:6, 7). Hulle moes daaroor peins (Psalm 77:12, 13). Verskillende geheuehulpmiddele is gebruik om jonk en oud te help om dinge te memoriseer. Dit het alfabetiese letterverse ingesluit, waar opeenvolgende verse in ’n psalm met ’n ander letter begin (soos in Spreuke 31:10-31); alliterasie (woorde wat met dieselfde letter of klank begin) en die gebruik van getalle, soos dié wat in die laaste deel van Spreuke hoofstuk 30 gebruik is. Interessant genoeg, sommige geleerdes is van mening dat die Gezer-kalender, wat een van die oudste voorbeelde van antieke Hebreeuse skrif is, ’n skoolseun se geheue-oefening was.

Die leerplan

9. (a) Wat het ’n belangrike deel uitgemaak van die leerplan vir Israelitiese kinders? (b) Wat sê ’n Bybelensiklopedie oor die onderrigting wat in verband met die jaarlikse feeste gegee is?

9 Opvoeding in Israel is nie net tot lees en skryf beperk nie. Geskiedenis was ’n belangrike vak wat geleer is. Dit was ’n fundamentele deel van die leerplan om van Jehovah se roemryke dade ten behoewe van sy volk te leer. Hierdie geskiedkundige feite moes van geslag tot geslag geleer word (Deuteronomium 4:9, 10; Psalm 78:1-7). Die viering van die jaarlikse feeste het die gesinshoof ’n goeie geleentheid gebied om sy kinders te leer (Exodus 13:14; Levitikus 23:37-43). The International Standard Bible Encyclopedia sê die volgende hieroor: “Die Hebreeuse kinders is deur middel van die vader se onderrigting by die huis en sy verduidelikings oor die betekenis van die feeste geleer hoe God Hom in die verlede aan hulle geopenbaar het, hoe hulle in die hede moes lewe en wat God se beloftes in verband met die toekoms van Sy volk was.”

10. Watter praktiese opleiding is aan dogters gegee? En aan seuns?

10 Ouerlike opvoeding het praktiese opleiding ingesluit. Dogters is huishoudelike vaardighede geleer. Die slothoofstuk van Spreuke toon dat dit verskeie dinge ingesluit het; hulle is onder andere geleer om te spin, te weef, te kook, handel te dryf en die huishouding oor die algemeen te behartig. Seuns het gewoonlik hulle vader se sekulêre werk aangeleer, of dit nou in die landbou of die een of ander ambag of vaardigheid was. Later van tyd het Joodse rabbi’s die gewoonte gehad om te sê: “Hy wat sy seun nie ’n nuttige ambag leer nie, maak hom groot om ’n dief te word.”

11. Wat toon wat die onderliggende doel van opvoeding in Israel was, en watter les hou dit vir hedendaagse jongmense in?

11 Die geestelike diepte van die onderrigtingsmetodes wat in Israel gebruik is, kan deur die hele boek van Spreuke duidelik gesien word. Dit toon dat die doel was om die “onervarenes” sulke verhewe dinge soos wysheid, dissipline, begrip, insig, onderskeidingsvermoë, skranderheid, kennis en denkvermoë te leer—en dit alles in “die vrees vir Jehovah” (Spreuke 1:1-7, NW; 2:1-14). Dit beklemtoon watter beweegredes ’n kneg van God vandag moet hê om sy of haar opvoeding te verbeter.

Priesters, Leviete en profete

12. Wie benewens die ouers het ’n aandeel daaraan gehad om die volk van Israel op te voed, en wat is die grondbetekenis van die Hebreeuse woord wat met “wet” vertaal word?

12 Hoewel basiese opvoeding deur die ouers voorsien is, het Jehovah sy volk verder opgevoed deur middel van die priesters, die nie-priesterlike Leviete en die profete. In die laaste seën wat Moses oor die stam van Levi uitgespreek het, het hy gesê: “Hulle sal Jakob u verordeninge leer en Israel u wet” (Deuteronomium 33:8, 10). Dit is betekenisvol dat die woord “wet” in Hebreeus (toh·rahʹ) van ’n grondwoord kom wat in sy werkwoordvorm beteken om “te wys”, “te leer”, “te onderrig”. Die Encyclopaedia Judaica sê: “Die woord [tora] beteken derhalwe ‘leer’, ‘leerstelling’ of ‘onderrig’.”

13. Waarom was Israel se Wet anders as die regstelsels van ander nasies?

13 Dit het ook daartoe bygedra dat Israel anders was as die ander nasies en selfs as hedendaagse nasies. Vandag het staatkundige nasies ’n hele klomp wette waarvan die algemene publiek net ’n klein deeltjie ken. Wanneer mense met die gereg bots, moet hulle wetsgeleerdes duur betaal om hulle te verdedig. Regskole is vir die deskundiges. Maar in Israel was die Wet God se manier om sy volk in te lig oor hoe hy wou hê hulle hom moes aanbid en in ooreenstemming met sy wil moes lewe. Dit het, anders as ander wetboeke, liefde vir God en hulle naaste ingesluit (Levitikus 19:18; Deuteronomium 6:5). Die Wet was alles behalwe ’n onpersoonlike wetboek. Dit het leerstellings en onderrig in ’n lewenswyse voorsien wat aangeleer moes word.

14. Wat was een rede waarom Jehovah die Levitiese priesterdom verwerp het? (Maleagi 2:7, 8)

14 Terwyl hulle getrou was, het die priesters en Leviete hulle verantwoordelikheid nagekom om die volk te onderrig. Maar die priesters het alte dikwels hulle plig versuim om die volk te onderrig. Hierdie gebrek aan onderrig in God se Wet sou verskriklike gevolge vir die priesters sowel as die volk inhou. In die agtste eeu v.G.J. het Jehovah voorspel: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.”—Hosea 4:6.

15. (a) Wie, buiten die priesters, het Jehovah as opvoeders in Israel aangestel, en wat het ’n Bybelgeleerde oor hulle rol as onderrigters geskryf? (b) Wat het uiteindelik met Israel en Juda gebeur omdat hulle die kennis van Jehovah en sy weë verwerp het?

15 Jehovah het buiten die priesters ook profete as opvoeders aangestel. Ons lees: “Die HERE het Israel en Juda gewaarsku deur die diens van elke profeet en elke siener en gesê: Bekeer julle van jul verkeerde weë en onderhou my gebooie, my insettinge, volgens die hele wet wat Ek julle vaders beveel het, en wat Ek deur die diens van my diensknegte, die profete, vir julle gestuur het” (2 Konings 17:13). Wat die rol van die profete as onderrigters betref, het die Franse Bybelgeleerde Roland de Vaux geskryf: “Die profete het ook ’n opdrag gehad om die volk te onderrig; dit was net soveel ’n deel van hulle taak as wat die voorspelling van die toekoms deel daarvan was. En profetiese inspirasie het gesag aan hulle prediking verleen, aangesien dit as ’n woord van God beskou is. Onder die monargie was die profete sonder twyfel die onderrigters van die volk wat die godsdiens en sedes betref het; en ons kan byvoeg, die beste van al hulle onderrigters, al is daar nie altyd op hulle ag geslaan nie.” As gevolg van ’n gebrek aan behoorlike opvoeding deur die priesters en die Leviete, en omdat die Israeliete ook nie na Jehovah se profete geluister het nie, het hulle Jehovah se weë verlaat. Samaria is in 740 v.G.J. deur die Assiriërs verower, en in 607 v.G.J. het die Babiloniërs Jerusalem en sy tempel vernietig.

Opvoeding gedurende en ná die ballingskap

16, 17. (a) Watter opvoedingsprogram moes Daniël en sy drie metgeselle noodgedwonge volg? (b) Wat het hulle gehelp om hierdie Babiloniese opvoeding te ondergaan en steeds aan Jehovah getrou te bly?

16 Sowat tien jaar voor die vernietiging van Jerusalem het koning Nebukadnesar koning Jojagin en ’n groep prinse en edelmanne as gevangenes na Babilon weggevoer (2 Konings 24:15). Onder hulle was Daniël en drie ander jong edelmanne (Daniël 1:3, 6). Nebukadnesar het beveel dat die vier van hulle ’n spesiale driejarige opleidingskursus moes volg om “die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer”. Daarbenewens is daar “vir hulle ’n daaglikse porsie bestem uit die spys van die koning en van die wyn wat hy gedrink het” (Daniël 1:4, 5). Dit het om verskeie redes vir hulle gevaar ingehou. Die leerplan het waarskynlik nie net uit ’n taalkursus van drie jaar bestaan nie. Sommige geleerdes meen dat die woord “Chaldeër” in hierdie skrifgedeelte nie net betrekking gehad het “op die Babiloniërs as ’n volk nie, maar op die geleerde klas” (The Soncino Books of the Bible). C. F. Keil sê in sy kommentaar oor Daniël: “Daniël en sy metgeselle sou opgevoed word in die wysheid van die Chaldeeuse priesters en geleerdes wat in die skole van Babilon geleer is.” As hulle die koninklike voedselporsie geëet het, sou hulle dalk ook die dieetkundige beperkings skend wat die Wet van Moses aan hulle gestel het. Hoe het hulle gevaar?

17 Daniël het, as woordvoerder van die vier jong Joodse edelmanne, dit reg van die begin af duidelik gestel dat hulle nie iets sou eet of drink wat hulle gewete sou skend nie (Daniël 1:8, 11-13). Jehovah het hierdie onwrikbare standpunt geseën en die hart van die Babiloniese owerste in bevel versag (Daniël 1:9, 14-16). Wat hulle studies betref, het latere gebeure in die lewe van al vier jong Hebreërs sonder twyfel bewys dat die driejarige opvoedingsprogram in die Babiloniese kultuur wat hulle noodgedwonge moes gevolg het hulle nie van hulle diepgewortelde lojaliteit teenoor Jehovah en sy suiwer aanbidding laat afsien het nie (Daniël, hoofstukke 3 en 6). Jehovah het hulle gehelp sodat hulle nie beïnvloed is deur die intensiewe driejarige opvoedingsprogram in Babiloniese geleerdheid wat hulle noodgedwonge moes volg nie. “Hierdie vier jong seuns—God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome. En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het.”—Daniël 1:17, 20.

18. Watter opvoedingsprogram is ná die Babiloniese ballingskap in Juda uitgevoer?

18 Ná die Babiloniese ballingskap het Esra, ’n priester wat “sy hart daarop gerig [het] om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer”, ’n groot opvoedingswerk uitgevoer (Esra 7:10). Hy is in hierdie taak bygestaan deur getroue Leviete wat “die volk in die wet onderrig” het (Nehemia 8:8). Esra was ’n Bybelgeleerde en ’n “skrifgeleerde” (Esra 7:6). Dit was in sy dag dat die skrifgeleerdes as ’n klas op die voorgrond getree het.

Rabbynse skole

19. Watter groep onderrigters het in Israel te voorskyn getree teen die tyd dat Jesus na die aarde gekom het, en om watter belangrike redes het hy en sy dissipels nie die skole vir Joodse hoër onderrig bygewoon nie?

19 Teen die tyd dat Jesus op die aarde verskyn het, was die skrifgeleerdes ’n elite groep leraars wat meer aan tradisies vasgehou het as aan die waarhede van God se Woord. Hulle het daarvan gehou om “Rabbi” genoem te word, wat ’n eervolle titel geword het wat “My Grote (Uitnemende)” beteken (Mattheüs 23:6, 7, voetnoot in NW). In die Christelike Griekse Geskrifte word die skrifgeleerdes dikwels met die Fariseërs geassosieer, van wie sommige self leraars van die Wet was (Handelinge 5:34). Jesus het albei groepe daarvan beskuldig dat hulle die woord van God kragteloos maak vanweë hulle tradisies en die feit dat hulle ‘leringe leer wat gebooie van mense is’ (Mattheüs 15:1, 6, 9). Dit is geen wonder dat nie Jesus of die meeste van sy dissipels in die rabbynse skole onderrig is nie.—Johannes 7:14, 15; Handelinge 4:13; 22:3.

20. Wat het ons uit hierdie hersiening van opvoeding in Bybeltye geleer, en wat toon dat Jehovah se knegte opvoeding en opleiding moet ontvang?

20 Hierdie oorsig van opvoeding in Bybeltye toon dat Jehovah die Groot Onderrigter van sy volk is. God het deur middel van Moses ’n doeltreffende opvoedingstelsel in Israel georganiseer. Maar na ’n lang tyd het ’n stelsel van Joodse hoër onderrig ontwikkel waar dinge geleer is wat strydig met die Woord van God was. Hoewel Jesus nie in sulke Joodse skole onderrig is nie, was hy nietemin ’n weergalose Leermeester (Mattheüs 7:28, 29; 23:8; Johannes 13:13). Hy het sy dissipels ook opdrag gegee om ander te leer, selfs tot aan die voleinding van die stelsel van dinge (Mattheüs 28:19, 20, vgl. NW). Om dit te kon doen, moes hulle goeie onderrigters wees en sou hulle gevolglik opvoeding en opleiding moes ontvang. Watter beskouing behoort ware Christene dus vandag van opvoeding te hê? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.

’n Geheuetoets

◻ Waarom kan ons seker wees dat Jehovah in die opvoeding van sy knegte belangstel?

◻ In watter opsigte het Israel se opvoedingstelsel van die ander nasies s’n verskil?

◻ Watter opvoeding het Israelitiese kinders ontvang?

◻ Watter onderrigtingsmetodes is in Israel gebruik?

◻ Waarom het Jesus en sy dissipels nie aan Joodse skole van hoër onderwys geleer nie?

[Prent op bladsy 14]

Verpligte opvoeding in Babilon het nie Daniël en sy drie metgeselle van Jehovah laat afsien nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel