Jehovah dra nie die skuld nie
“Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.”—PSALM 103:13, 14.
1, 2. Wie was Abraham, en hoe het dit gebeur dat sy neef Lot in die bose stad Sodom gewoon het?
JEHOVAH is nie verantwoordelik vir die teëspoed wat ons dalk weens ons foute ondervind nie. Neem in ag wat ongeveer 3 900 jaar gelede in hierdie opsig gebeur het. God se vriend Abraham (Abram) en sy neef Lot het baie welvarend geword (Jakobus 2:23). Trouens, hulle het so baie besittings en vee gehad dat ‘die land hulle nie kon dra sodat hulle saam kon woon nie’. Bowendien het twis tussen die twee manne se veewagters ontstaan (Genesis 13:5-7). Wat kon hulle daaromtrent doen?
2 Om die twis te beëindig, het Abraham voorgestel dat hulle uitmekaar gaan, en hy het Lot die eerste keuse gegee. Hoewel Abraham ouer was en dit vir sy neef gepas sou gewees het om hom die beste gebied te laat neem, het Lot die beste deel gekies—die hele streek van die Benede-Jordaan waar daar baie water was. Die aantreklikheid was misleidend, want die verdorwe stede Sodom en Gomorra was daar naby. Lot en sy gesin het later na Sodom getrek, en dit het hulle geestelik in gevaar gestel. Daarbenewens is hulle gevange geneem toe koning Kedor-Laomer en sy bondgenote die koning van Sodom verslaan het. Abraham en sy manne het hulle gered, maar Lot en sy gesin het na Sodom teruggekeer.—Genesis 13:8-13; 14:4-16.
3, 4. Wat het met Lot en sy gesinslede gebeur toe God Sodom en Gomorra vernietig het?
3 Jehovah het besluit om Sodom en Gomorra te vernietig weens die seksuele perversiteit en sedelike verdorwenheid van daardie stede. Vanweë sy barmhartigheid het hy twee engele gestuur wat Lot, sy vrou en hulle twee dogters uit Sodom uitgelei het. Hulle moes nie omkyk nie, maar Lot se vrou het omgekyk, miskien omdat sy terugverlang het na die materiële dinge wat sy agtergelaat het. En onmiddellik het sy ’n soutpilaar geword.—Genesis 19:1-26.
4 Wat ’n verlies het Lot en sy dogters tog gely! Die dogters moes die manne agterlaat met wie hulle sou trou. Lot was nou sonder sy vrou en sy materiële rykdom. Trouens, hy is uiteindelik genoodsaak om saam met sy dogters in ’n spelonk te woon (Genesis 19:30-38). Wat vir hom so goed gelyk het, was net die teenoorgestelde. Al het hy klaarblyklik ’n paar ernstige foute gemaak, is hy later “regverdige Lot” genoem (2 Petrus 2:7, 8). En Jehovah God het beslis nie die skuld gedra vir Lot se foute nie.
“Foute—Wie kan dit onderskei?”
5. Wat was Dawid se siening van foute en verwaandheid?
5 Omdat ons onvolmaak en sondig is, maak ons almal foute (Romeine 5:12; Jakobus 3:2). Soos Lot kan ons deur die skyn bedrieg word en dalk ’n oordeelsfout begaan. Daarom het die psalmis Dawid gesmeek: “Foute—wie kan dit onderskei? Verklaar my onskuldig aan verborge sondes. En hou u kneg ook terug van verwaande dade; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek volkome wees, en ek sal aan baie oortredinge onskuldig gebly het” (Psalm 19:12, 13, NW). Dawid het geweet dat hy dalk sondes sal begaan waarvan hy nie eens bewus is nie. Daarom het hy gevra dat hy die oortredings vergewe word waarvan hy dalk nie eens bewus was nie. Toe hy ’n ernstige sonde begaan het omdat sy onvolmaakte vlees hom in ’n verkeerde weg gelei het, het hy Jehovah se hulp ernstig gesoek. Hy wou hê dat God hom van verwaande dade moes terughou. Dawid wou nie hê dat verwaandheid sy oorheersende eienskap moes word nie. Hy wou eerder volkome in sy toegewydheid aan Jehovah God wees.
6. Watter troos kan ons uit Psalm 103:10-14 put?
6 As Jehovah se hedendaagse toegewyde knegte is ons ook onvolmaak, en ons maak gevolglik foute. Soos Lot kan ons byvoorbeeld ’n slegte keuse doen wat ons woonplek betref. Miskien laat ons ’n geleentheid verbygaan om ons heilige diens aan God uit te brei. Hoewel Jehovah sulke foute sien, weet hy wie se hart tot geregtigheid neig. Al begaan ons ’n ernstige sonde, maar ons het berou, vergewe en help Jehovah ons, en hy hou aan om ons as godvresende mense te beskou. “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtigheid nie”, het Dawid gesê. “Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:10-14). Ons barmhartige hemelse Vader sal ons dalk in staat stel om vir ons sonde te vergoed of sal ons dalk nog ’n geleentheid bied om ons heilige diens tot sy eer uit te brei.
Die fout om God die skuld te gee
7. Waarom ondervind ons teëspoed?
7 Wanneer dinge verkeerd loop, is dit ’n menslike neiging om iemand of iets die skuld te gee vir wat gebeur het. Party gee God selfs die skuld. Maar Jehovah bring nie sulke teëspoed oor mense nie. Hy doen net goed, niks skadeliks nie. Trouens, “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges”! (Mattheüs 5:45). Een van die belangrikste redes waarom ons teëspoed ondervind, is dat ons in ’n wêreld lewe wat volgens selfsugtige beginsels werk en wat in die mag van Satan die Duiwel lê.—1 Johannes 5:19.
8. Wat het Adam gedoen toe dinge vir hom verkeerd geloop het?
8 Dit is onverstandig en gevaarlik om Jehovah God die skuld te gee vir die teëspoed wat ons weens ons foute ondervind. As ons dit doen, kan ons selfs ons lewe verloor. Die eerste man, Adam, moes God die eer gegee het vir al die goeie dinge wat hy ontvang het. Ja, Adam moes diepe dankbaarheid teenoor Jehovah betoon het vir die lewe en vir die seëninge wat hy in ’n parkagtige tuiste, die tuin van Eden, geniet het (Genesis 2:7-9). Wat het Adam gedoen toe dinge verkeerd geloop het omdat hy aan Jehovah ongehoorsaam was en die verbode vrug geëet het? Adam het by God gekla: “Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet” (Genesis 2:15-17; 3:1-12). Ons moet Jehovah beslis nie die skuld gee soos Adam gedoen het nie.
9. (a) Waaruit kan ons troos put as ons teëspoed ondervind weens ons onverstandige optrede? (b) Wat doen party volgens Spreuke 19:3 wanneer hulle moeilikhede oor hulleself bring?
9 As ons teëspoed ondervind omdat ons onverstandig opgetree het, kan ons vertroos word deur die wete dat Jehovah ons swakhede beter verstaan as ons self en dat hy ons uit die moeilikheid sal help as ons aan hom uitsluitlike toegewydheid gee. Ons moet die Goddelike hulp wat ons kry, waardeer en God nooit die skuld gee vir die verknorsings en moeilikhede wat ons oor onsself bring nie. In hierdie opsig sê ’n wyse spreuk: “’n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die HERE” (Spreuke 19:3). ’n Ander vertaling sê: “Party mense stort hulleself in die ongeluk deur hulle eie dwase dade en gee die HERE dan die skuld” (Today’s English Version). Nog ’n ander vertaling sê: “’n Mens se onkunde maak sy sake deurmekaar en hy vaar teen Jehovah uit.”—Byington.
10. Hoe het Adam se dwaasheid ‘sy weg bederwe’?
10 In ooreenstemming met die beginsel van hierdie spreuk het Adam selfsugtig opgetree en sy dwase denkwyse het ‘sy weg bederwe’. Hy het Jehovah God versaak en sy eie selfsugtige, onafhanklike weg gevolg. Ja, Adam het so ’n ondankbare mens geword dat hy sy Skepper die skuld gegee het en homself op dié manier ’n vyand van die Allerhoogste gemaak het! Adam se sonde het sy eie weg en dié van sy gesin in die ongeluk gestort. Wat ’n waarskuwing is dit tog nie vir ons nie! Diegene wat geneig is om Jehovah die skuld te gee vir ongewenste omstandighede kan hulleself gerus afvra: Gee ek God die eer vir die goeie dinge wat ek geniet? Is ek dankbaar dat ek as een van sy skepsele die lewe het? Is dit moontlik my eie foute wat teëspoed oor my gebring het? Verdien ek Jehovah se guns of hulp omdat ek sy leiding gevolg het soos dit in sy geïnspireerde Woord, die Bybel, uiteengesit is?
’n Gevaar selfs vir God se knegte
11. Waaraan was eerste-eeuse Joodse godsdiensleiers skuldig wat God betref?
11 Die Joodse godsdiensleiers van die eerste eeu G.J. het beweer dat hulle God dien, maar hulle het sy woord van waarheid veronagsaam en op hulle eie insig gesteun (Mattheüs 15:8, 9). Omdat Jesus Christus hulle verkeerde denkwyse aan die kaak gestel het, het hulle hom doodgemaak. Later het hulle groot woede teenoor sy dissipels geopenbaar (Handelinge 7:54-60). Daardie manne se weg was só verdorwe dat hulle eintlik vir Jehovah self woedend geword het.—Vergelyk Handelinge 5:34, 38, 39.
12. Watter voorbeeld toon dat selfs party wat met die Christengemeente omgaan Jehovah die skuld probeer gee vir hulle moeilikhede?
12 Selfs party in die Christengemeente het ’n gevaarlike denkpatroon ontwikkel en het probeer om God verantwoordelik te hou vir die moeilikhede wat hulle al ondervind het. Die aangestelde ouere manne in ’n sekere gemeente het dit byvoorbeeld nodig geag om een jong, getroude vrou liefdevolle maar streng skriftuurlike raad te gee om nie met ’n wêreldse man te assosieer nie. Tydens een bespreking het sy God die skuld daarvoor gegee omdat hy haar nie gehelp het om die versoeking te weerstaan wat haar voortgesette assosiasie met die man oor haar gebring het nie. Sy het in werklikheid gesê dat sy vir God kwaad is! Redenasies uit die Skrif en herhaalde pogings om haar te help was tevergeefs, en ’n onsedelike weg het later daartoe gelei dat sy uit die Christengemeente gesit is.
13. Waarom moet ons ’n klaerige gesindheid vermy?
13 ’n Klaerige gees kan daartoe lei dat ’n mens Jehovah die skuld gee. “Goddelose mense” wat in die eerste-eeuse gemeente ingesluip het, het so ’n slegte gees geopenbaar, en dit het gepaardgegaan met ander geestelik verdorwe denkwyses. Soos die dissipel Judas gesê het, het hierdie manne “die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën”. Judas het ook gesê: “Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae” (Judas 3, 4, 16). Jehovah se lojale knegte sal wyslik bid dat hulle ’n dankbare gees moet hê, nie ’n klaerige gesindheid wat hulle uiteindelik só verbitterd kan maak dat hulle hulle vertroue in God verloor en hulle verhouding met hom in gevaar stel nie.
14. Hoe reageer iemand dalk as ’n mede-Christen hom te na kom, maar waarom is dit nie die regte weg nie?
14 Jy meen dalk dat dit nie met jou sal gebeur nie. Maar dinge wat weens ons foute of dié van ander verkeerd loop, kan uiteindelik veroorsaak dat ons God die skuld gee. Ter toeligting: Iemand voel dalk dat hy te na gekom is deur iets wat ’n mede-gelowige gesê of gedoen het. Die gekrenkte persoon—miskien iemand wat Jehovah al baie jare lojaal dien—sê dan dalk: ‘As daardie persoon in die gemeente is, sal ek nie vergaderinge bywoon nie.’ Iemand ontstel hom dalk so dat hy in sy hart sê: ‘As sulke dinge gebeur, wil ek nie deel van die gemeente wees nie.’ Maar moet ’n Christen so ’n gesindheid hê? Waarom moet jy ’n hele gemeente wat vir God aanneemlik is en hom lojaal dien dit laat ontgeld as ’n ander onvolmaakte mens jou te na gekom het? Waarom sal enigeen wat hom aan Jehovah toegewy het, ophou om die Goddelike wil te doen en God dit sodoende laat ontgeld? Hoe verstandig is dit om toe te laat dat iemand of omstandighede jou goeie verhouding met Jehovah vernietig? Dit sal beslis dwaas en ’n sonde wees om sommer om enige rede op te hou om Jehovah God te dien.—Jakobus 4:17.
15, 16. Waaraan was Diotrefes skuldig, maar hoe het Gajus opgetree?
15 Stel jou voor dat jy in dieselfde gemeente was as die liefdevolle Christen Gajus. Hy het ‘getrou gehandel’ deur gasvryheid te betoon aan besoekende mede-aanbidders—en dit nog vreemdelinge! Maar die trotse Diotrefes was blykbaar in dieselfde gemeente. Hy het niks wat van Johannes, een van Jesus Christus se apostels, af gekom het met respek ontvang nie. Trouens, Diotrefes het met slegte woorde teen Johannes uitgevaar. Die apostel het gesê: “Hiermee nie tevrede nie, ontvang hy [Diotrefes] nie alleen self die broers nie gasvry [“met respek”, NW] nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente.”—3 Johannes 1, 5-10.
16 As Johannes na die gemeente sou kom, was hy van plan om Diotrefes se dade in herinnering te roep. Hoe het Gajus en ander gasvrye Christene in daardie gemeente gereageer? Daar is geen skriftuurlike aanduiding dat enigeen van hulle gesê het: ‘Solank Diotrefes in die gemeente is, wil ek nie ’n deel daarvan wees nie. Julle sal my nie by die vergaderinge sien nie.’ Gajus en ander het ongetwyfeld standvastig gebly. Hulle het nie toegelaat dat enigiets hulle keer om God se wil te doen nie, en hulle het beslis nie teen Jehovah verbitterd geraak nie. Nee, hulle het gewis nie geswig voor die liste van Satan die Duiwel, wat hom daarin sou verheug het as hulle ontrou aan Jehovah geraak het en God die skuld vir die situasie gegee het nie.—Efesiërs 6:10-18.
Moet nooit teen Jehovah verbitterd raak nie!
17. Hoe moet ons optree as ’n persoon of situasie ons ontstel of ons ontevrede maak?
17 Al is ’n kneg van God ontevrede met of ontsteld oor ’n persoon of situasie in die gemeente, sal die een wat ontsteld is sy eie weg in werklikheid bederwe as hy ophou om met Jehovah se volk om te gaan. So ’n persoon sal nie sy geestesvermoëns reg gebruik nie (Hebreërs 5:14). Wees dus vasbeslote om alle teëspoed as ’n handhawer van onkreukbaarheid die hoof te bied. Bly lojaal teenoor Jehovah God, Jesus Christus en die Christengemeente (Hebreërs 10:24, 25). Die waarheid wat na die ewige lewe lei, kan nêrens anders gevind word nie.
18. Waarvan kan ons seker wees in verband met Jehovah God, al verstaan ons nie altyd sy handelswyse nie?
18 Onthou ook dat Jehovah nooit iemand met die kwaad versoek nie (Jakobus 1:13). God, wat die verpersoonliking van liefde is, doen goed, veral aan diegene wat hom liefhet (1 Johannes 4:8). Hoewel ons nie altyd God se handelswyse verstaan nie, kan ons die vertroue hê dat Jehovah God altyd die beste vir sy knegte sal doen. Soos Petrus gesê het: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:6, 7). Ja, Jehovah sorg werklik vir sy volk.—Psalm 94:14.
19, 20. Hoe moet ons reageer al laat ons beproewinge ons soms terneergedruk voel?
19 Daarom moet ons nie toelaat dat enigiets of enigiemand ons laat struikel nie. Soos die psalmis tereg gesê het: “Die wat u [Jehovah God se] wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (Psalm 119:165). Ons almal ondervind beproewinge, en dit kan daartoe lei dat ons soms ’n bietjie terneergedruk en ontmoedig word. Maar moet nooit toelaat dat verbittering in jou hart posvat nie, veral nie teenoor Jehovah nie (Spreuke 4:23). Met sy hulp en op ’n skriftuurlike grondslag moet jy die probleme oplos wat jy kan en dié verduur waaraan jy niks kan doen nie.—Mattheüs 18:15-17; Efesiërs 4:26, 27.
20 Moet nooit toelaat dat jou emosies jou dwaas laat optree en jy sodoende jou weg bederwe nie. Praat en handel op ’n wyse wat God se hart sal verbly (Spreuke 27:11). Nader tot Jehovah in vurige gebed, aangesien jy weet dat hy werklik vir jou omgee as een van sy knegte en dat hy jou die insig sal gee wat jy nodig het om saam met sy volk op die pad van die lewe te bly (Spreuke 3:5, 6). Bowenal moet jy nie teen God verbitterd raak nie. Wanneer dinge verkeerd loop, moet jy altyd onthou dat Jehovah nie die skuld daarvoor dra nie.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Watter fout het Lot gemaak, maar hoe het God hom beskou?
◻ Hoe het Dawid oor foute en verwaandheid gevoel?
◻ Waarom moet ons nie God die skuld gee as dinge verkeerd loop nie?
◻ Wat sal ons help om nie vir Jehovah woedend te word nie?
[Prent op bladsy 15]
Toe Lot van Abraham geskei het, het hy ’n slegte keuse gemaak wat sy woonplek betref