Tonele uit die Beloofde Land
Gerisim—‘Op hierdie berg het ons aanbid’
DIE Samaritaanse vrou by die put. Laat daardie woorde jou dink aan die roerende verhaal toe Jesus informeel getuig het vir ’n vrou by “die fontein van Jakob” in Sigar, ’n Samaritaanse stad? Sal jy graag meer omtrent daardie betekenisvolle gebeurtenis wil leer?—Johannes 4:5-14.
Kyk hierbo na die twee berge wat ongeveer 50 kilometer noord van Jerusalem geleë is.a Links (suid) is die boomryke Gerisim; die baie fonteine aldaar dra tot sy vrugbaarheid en prag by. Aan die regterkant (noord) is Ebal, ’n bietjie hoër maar rotsagtig en onvrugbaar.
Tussen hulle is die vrugbare vallei van Sigem. Onthou jy dat God se vriend Abram (wat later Abraham genoem is) by Sigem vertoef het toe hy deur die Beloofde Land getrek het? Hier het hy ’n altaar gebou vir Jehovah, wat ’n kort rukkie tevore aan hom verskyn het en hierdie land aan sy saad belowe het (Genesis 12:5-7). Wat ’n gepaste plek om so ’n belofte te doen, in die hartjie van die land! Van die top van Gerisim of van Ebal kon die aartsvader groot dele van die Beloofde Land sien. Die stad Sigem (hedendaagse Nabloes) was ’n belangrike middelpunt, aangesien dit op die noord-suid-bergpad naby ’n oos-wes-pad tussen die kus en die Jordaanvallei geleë was.
Abraham se altaar was maar net een van die merkwaardige godsdiensgebeurtenisse wat hier plaasgevind het. Later het Jakob grond in die gebied gekoop en ware aanbidding beoefen. Hy het ook naby die onderste deel van Gerisim ’n diep put gegrawe of vir die grawery daarvan betaal. Eeue later het die Samaritaanse vrou vir Jesus gesê: ‘Ons vader Jakob wat die put aan ons gegee het, het self daaruit gedrink.’ Dit is moontlik deur ’n fontein aangevul, en dit kan verklaar waarom die apostel Johannes dit “die fontein van Jakob” genoem het.
Die feit dat ware aanbidding in verband met Gerisim en Ebal genoem word, herinner jou dalk ook daaraan dat Josua Israel hiernatoe gebring het, soos Moses hom beveel het. Josua het ’n altaar op Ebal gebou. Stel jou voor hoe die helfte van die mense voor Gerisim en die res voor Ebal staan terwyl Josua ‘die wet, die seën en die vloek’ lees (Josua 8:30-35; Deuteronomium 11:29). Jare later het Josua teruggekeer en in sy laaste vermaning gesê: “Ek en my huis, ons sal die HERE dien.” Die volk het ooreengekom om dieselfde te doen (Josua 24:1, 15-18, 25). Maar sou hulle dit werklik doen?
Die antwoord sal jou moontlik help om Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou te verstaan. Die ware aanbidding wat Abraham, Jakob en Josua beoefen het, het nie hier in Samaria voortgeduur nie.
Nadat die noordelike tien stamme weggebreek het, het hulle hulle tot kalfaanbidding gewend. Gevolglik het Jehovah die Assiriërs toegelaat om hierdie gebied in 740 v.G.J. te verower. Hulle het die meeste van die inwoners weggevoer en hulle vervang deur uitlanders van ander dele in die Assiriese Ryk, wat aanbidders van vreemde gode was. Party van daardie heidene het waarskynlik met Israeliete ondertrou en sommige leringe van die ware aanbidding, soos besnydenis, geleer. Maar die Samaritaanse vorm van aanbidding wat hieruit voortgevloei het, was vir God nie heeltemal aanvaarbaar nie.—2 Konings 17:7-33.
In hulle gemengde aanbidding het die Samaritane net die eerste vyf boeke van Moses, die Pentateug, as die Skrif aanvaar. Ongeveer die vierde eeu v.G.J. het hulle ’n tempel op die berg Gerisim gebou in mededinging met God se tempel in Jerusalem. Die tempel op Gerisim is mettertyd aan Zeus (of, Jupiter) toegewy en is uiteindelik vernietig. Die Samaritaanse aanbidding het nietemin nog om Gerisim gedraai.
Tot vandag toe vier Samaritane ’n jaarlikse Pasga op Gerisim. ’n Aantal lammers word geslag. Hulle karkasse word in vate kokende water gesteek sodat die wol afgetrek kan word, en daarna word die vleis ure lank in holtes in die grond gaargemaak. Teen middernag hou honderde Samaritane, waarvan baie van Jerusalem afkomstig is, hulle paasmaal. Links sien jy die Samaritaanse hoëpriester, met sy bedekte hoof, wat ’n Pasgaviering op berg Gerisim lei.
Onthou wat die Samaritaanse vrou vir Jesus gesê het: “Ons vaders het op hierdie berg aanbid.” Jesus het vir haar, en ook vir ons, reggehelp: “Daar kom ’n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. . . . Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”—Johannes 4:20-24.
[Voetnoot]
a ’n Vergroting van hierdie foto verskyn in Jehovah se Getuies se kalender vir 1993.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Foto-erkennings op bladsy 25]
Garo Nalbandian
Garo Nalbandian