Sigem die stad in die vallei
DIEP in die hart van die land wat God vir sy volk gekies het, tussen die berg Ebal en die berg Gerisim, het die stad Sigem gelê. Jehovah het hier—bykans vierduisend jaar gelede—hierdie belofte aan Abraham gemaak: “Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee.”—Genesis 12:6, 7.
In ooreenstemming met hierdie belofte het Abraham se kleinseun Jakob by Sigem sy laer opgeslaan en ’n altaar opgerig wat hy “Die God van Israel is God” genoem het. Jakob het waarskynlik in hierdie omgewing ’n put gegrawe om water te voorsien aan sy gesin en kuddes, ’n put wat eeue later as “Jakob se fontein” bekend sou staan.—Genesis 33:18-20; Johannes 4:5, 6, 12.
Maar nie al die lede van Jakob se gesin het ywer getoon vir ware aanbidding nie. Dina, sy dogter, het metgeselle onder die Kanaänitiese meisies van Sigem gesoek. Dina, wat toe nog jonk was, het die veiligheid van haar gesin se tente verlaat en die nabygeleë stad begin besoek en daar vriende gemaak.
Hoe sou die jong mans van die stad hierdie jong maagd beskou wat hulle stad gereeld—klaarblyklik onvergeseld—besoek het? ’n Vors se seun ‘het haar gesien en haar gegryp en met haar gemeenskap gehad en haar onteer’. Waarom het Dina moeilikheid gesoek deur met die onsedelike Kanaäniete te assosieer? Was dit omdat sy gevoel het dat sy die geselskap van meisies van haar eie ouderdom nodig gehad het? Was sy so koppig en onafhanklik soos party van haar broers? Lees gerus die Genesis-verslag en probeer begryp watter angs en verleentheid Jakob en Lea moes ervaar het weens die tragiese gevolge van hulle dogter se besoeke aan Sigem.—Genesis 34:1-31; 49:5-7; sien ook Die Wagtoring, 15 Junie 1985, bladsy 31.
Bykans 300 jaar later het die gevolge van die verontagsaming van toekratiese riglyne weer na vore gekom. Josua het by Sigem een van die onvergeetlikste byeenkomste in die geskiedenis van Israel georganiseer. Stel jou die toneel in die vallei voor. Meer as ’n miljoen mense—mans, vrouens en kinders—wat aan ses stamme van Israel behoort, staan voor die berg Gerisim. Aan die ander kant van die vallei staan omtrent dieselfde hoeveelheid mense van die ander ses stamme voor die berg Ebal.a En daar onder, langs die verbondsark en tussen die twee skares Israeliete, staan die priesters en Josua. Wat ’n toneel!—Josua 8:30-33.
Die twee berge wat bo hierdie enorme skare uitstyg, is ’n skerp kontras tussen prag en onvrugbaarheid. Gerisim se boonste hange lyk groen en vrugbaar, terwyl dié van Ebal hoofsaaklik grys en kaal is. Kan jy die opgewondenheid aanvoel terwyl die Israeliete die oomblik afwag wanneer Josua gaan praat? Elke geluid weerklink in hierdie natuurlike teater.
Gedurende die vier tot ses uur wat dit Josua neem om ‘die wetboek van Moses’ te lees, neem die volk ook deel (Josua 8:34, 35). Klaarblyklik sê die Israeliete voor Gerisim Amen! ná elke seëning, terwyl die Amen! van diegene voor Ebal elke vervloeking beklemtoon. Die onvrugbare voorkoms van die berg Ebal herinner die volk moontlik aan die rampspoedige gevolge van ongehoorsaamheid.
“Vervloek is hy wat sy vader of sy moeder verag”, waarsku Josua. Meer as ’n miljoen stemme antwoord eenstemmig: “Amen.” Josua wag totdat hierdie dawerende antwoord stil word voordat hy voortgaan: “Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê.” Weer eens roep die ses stamme, saam met baie vreemdelinge, uit: “Amen” (Deuteronomium 27:16, 17). As jy daar was, sou jy ooit daardie vergadering vergeet wat tussen die berge gehou is? Sou die belangrikheid van gehoorsaamheid nie onuitwisbaar in jou verstand ingeprent gewees het nie?
Josua het ongeveer 20 jaar later, kort voor hy dood is, die volk weer eens by Sigem bymekaargeroep sodat hulle hulle voorneme kon versterk. Hy het die keuse wat almal moet maak voor hulle gestel. “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien”, het hy gesê. “Maar ek en my huis, ons sal die HERE dien” (Josua 24:1, 15). Hierdie geloofinboesemende byeenkomste by Sigem het klaarblyklik ’n indruk op hulle gemaak. Baie jare ná Josua se dood het die Israeliete nog sy getroue voorbeeld nagevolg.—Josua 24:31.
Ongeveer 15 eeue later toe Jesus in die skaduwee van die berg Gerisim gerus het, het ’n hartverblydende gesprek plaasgevind. Jesus was moeg na ’n lang reis en het by Jakob se fontein gesit toe ’n Samaritaanse vrou met ’n waterkruik nader gekom het. Die vrou was baie verbaas toe Jesus haar water vra, aangesien Jode nie met Samaritane gepraat het nie, wat nog te sê uit hulle kruike drink (Johannes 4:5-9). Jesus se volgende woorde het haar nog meer verbaas.
“Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nóóit dors word nie, maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee” (Johannes 4:13, 14). Stel jou die vrou se belangstelling in daardie belofte voor, aangesien dit ’n moeisame taak was om water uit hierdie diep put te haal. Jesus het verder verduidelik dat nóg Jerusalem nóg die berg Gerisim, ondanks hulle historiese belangrikheid, godsdienstige plekke was wat noodsaaklik was om God te nader. Dit was die hartstoestand en gedrag wat saak gemaak het, nie die plek nie. ‘Ware aanbidders sal die Vader met gees en waarheid aanbid’, het hy gesê. “Die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:23). Hoe bemoedigend moes daardie woorde tog nie gewees het nie! Hierdie vallei het weer eens die plek geword waar mense aangespoor is om Jehovah te dien.
Vandag lê die stad Nabloes langs die ruïnes van eertydse Sigem. Die berg Gerisim en die berg Ebal oorheers nog steeds die vallei en staan as stilswyende getuies van die gebeure in die verlede. Jakob se put, aan die voet van hierdie berge, kan nog besoek word. Terwyl ons nadink oor die gebeure wat daar plaasgevind het, word ons herinner aan die belangrikheid daarvan om ware aanbidding te ondersteun, net soos Josua en Jesus ons geleer het om te doen.—Vergelyk Jesaja 2:2, 3.
[Voetnoot]
a Die ses stamme voor die berg Gerisim was Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin. Die ses stamme voor die berg Ebal was Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali.—Deuteronomium 27:12, 13.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.