God vergeet nie ‘die liefdearbeid wat julle vir sy Naam’ betoon het nie
“GOD is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefdearbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien” (Hebreërs 6:10). Vir Jehovah se Getuies in Oos-Europa is hierdie woorde van die apostel Paulus waar. Hulle het getrou in die belange van God se Naam gedien, en dekades lank het hulle gebuk gegaan onder die beperkings wat deur die Sowjetbeheerde regerings ingestel is. Jehovah onthou hulle goeie dade en stort Koninkrykseëninge op hulle uit. Kom ons kyk byvoorbeeld na net drie van hierdie gebiede se rapport vir die afgelope diensjaar.
Dele van die eertydse Sowjetunie
Dele van die eertydse Sowjetunie berig dat die Koninkryksverkondigerhoogtepunt gedurende die 1992-diensjaar met 35 persent vermeerder het—van 49 171 tot 66 211! Maar omdat daardie verkondigers so bedrywig was, was dit nie al nie, soos die uitstekende vermeerdering in die verspreiding van Bybellektuur, onder andere tydskrifte, toon. Hulle het goed gebruik gemaak van brosjures en ook boekies, en 1 654 559 versprei. Dit is meer as drie keer soveel as verlede jaar se 477 235! Hoe is daar op hierdie lektuurverspreiding gereageer? Die aantal tuisbybelstudies het verdubbel. Daar word nou 38 484 Bybelstudies gehou.
Ook die deelname aan die hulppionierdiens het met 94 persent vermeerder. Dit het vanselfsprekend bygedra tot die uitstekende getal pasgedoopte dissipels, 26 986 in vergelyking met verlede jaar se 6 570, ’n verbasende vermeerdering van 311 persent!
Hoe het van die pasgedooptes aanvanklik in die goeie nuus begin belangstel? Die diepe besorgdheid van die Getuie wat die studie gehou het, was soms ’n faktor. ’n Presiderende opsiener van Moldawië vertel:
“Ek en my vrou het ’n vrou besoek wat vantevore belangstelling in Bybelwaarhede getoon het. ’n Bybelstudie is met haar begin. Maar haar man het hoegenaamd geen belangstelling getoon nie. Eendag, op pad na haar om haar studie te hou, was dit bitter koud en dit het gesneeu. Daar was omtrent niemand op straat nie, maar ons het presies op die afgespreekte tyd by haar huis opgedaag. Sy het vir haar man gesê: ‘Sien jy hoeveel hierdie mense vir ons omgee? Ondanks die sneeu is hulle presies op tyd.’ Hierdie voorval het haar man laat dink. Hy het van gedagte verander en by die studie aangesluit, en nou is hy en sy vrou gedoopte Getuies.”
Met tye kan die beleefdheid van die Getuie belangstelling in die goeie nuus wek. ’n Ouere man, ook van Moldawië, het hierdie ondervinding gehad:
“’n Man wat ek in my predikingsgebied besoek het, het nie in Jehovah se Getuies belanggestel nie. Hy het gesê hy was Ortodoks, net soos sy pa en sy oupa. Daarom het hy my gevra om te loop. Voordat ek gegaan het, het hy my egter die geleentheid gebied om die rede vir my besoek te verduidelik. Ek het sy aandag op Mattheüs 28:19 gevestig wat sê: ‘Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.’ Ek het toe vir hom die adres gegee waar ons ons vergaderinge hou en gegaan. Tot my verbasing het hierdie man ’n week later na ons vergadering toe gekom! Hy het vir die hele program gebly. Hy het verduidelik dat hy die hele week sleg gevoel het omdat hy so onvriendelik teenoor my was. ’n Bybelstudie is daar en dan met hom begin, en hy is nou een van ons broers.”
Nog ’n uitstaande hoogtepunt van die diensjaar was die oorweldigende reaksie op die behoeftes van ons broers in daardie gebied. Gedurende die winter van 1991/92 is ongeveer 400 ton voedsel en ’n groot hoeveelheid mans-, vroue- en kinderklere aan behoeftiges gestuur. Hierdie voorrade is na feitlik alle dele van die eertydse Sowjetunie versprei, selfs so ver as Irkoetsk in Siberië en Khabarowsk naby Japan. Dit is waarlik ’n indrukwekkende aanduiding dat Jehovah nie die liefdearbeid vergeet het wat ons broers vir sy naam betoon het nie! Hierdie blyk van broederliefde wat deur Jehovah se gees gewek is, het hulle ook met hulle wêreldwye gesin verenig. Een suster in die Oekraïne het byvoorbeeld aan die takkantoor geskryf:
“Julle hulp het ons harte diep geroer. Ons was in trane en het Jehovah God gedank dat hy ons nie vergeet het nie. Ons het weliswaar nou materiële teëspoed, maar danksy die hulp wat van ons broers in die Weste opgedaag het, is ons materieel op die been gebring. Nou sal ons gesin, danksy julle hulp, meer tyd in Jehovah se diens kan bestee. Ek en my dogter sal, as dit Jehovah se wil is, in die somermaande hulppionierdiens doen.”
Die noodlenigingpogings het ook ’n getuienis aan buitestanders voorsien omdat hulle kon sien dat die Getuies deur hulle werke liefde openbaar. ’n Gesin van ’n ander gemeente het geskryf: “Ons het die materiële hulp wat uit voedsel en klere bestaan het, ontvang. Dit is so veel! Julle ondersteuning en aanmoediging is ’n les dat ons ook aan ander moet goed doen. Ongelowiges, asook belangstellendes en hulle gesinne, het hierdie daad van liefde opgemerk, en dit was ’n puik getuienis aangaande die ware broederskap.”
Die vyf streekbyeenkomste en die een internasionale byeenkoms met die tema “Ligdraers” wat hierdie afgelope Junie en Julie gehou is, was nog ’n bewys van Jehovah se seën op die harde werk van sy Getuies en die liefdearbeid wat hulle vir sy naam betoon het deur dit bekend te maak. Die byeenkomste is deur 91 673 mense bygewoon, en 8 562 is gedoop. Die grootste bywoning was in St. Petersburg, waar die internasionale byeenkoms gehou is, en 46 214 mense—waaronder afgevaardigdes uit ongeveer 30 lande oor die wêreld heen—in die Kirof-stadion bymekaargekom het.
In Siberië het ’n man van ongeveer 60 jaar na die byeenkomsterrein in Irkoetsk gekom net om rond te kyk. Hy het gesê: “Al die byeenkomsgangers is netjies aangetrek, met glimlaggende gesigte, en hulle is vriendelik teenoor mekaar. Hierdie mense is soos een verenigde gesin. Jy kan aanvoel dat hulle nie net by die stadion vriende is nie, maar ook in die alledaagse lewe. Ek het puik Bybellektuur ontvang en ’n baie beter idee gekry van watter soort organisasie dit is. Ek wil met Jehovah se Getuies in aanraking bly en die Bybel saam met hulle studeer.”
By dieselfde byeenkoms in Irkoetsk, waar 5 051 mense teenwoordig was, het ’n geïnteresseerde vrou uit die Yakut-Republiek, Siberië, gesê: “Ek kyk na die mense, en ek wil van vreugde huil. Ek is Jehovah baie dankbaar dat hy my gehelp het om sulke mense te leer ken. Ek het hier by die byeenkoms lektuur ontvang, en ek wil met ander daaroor praat. Ek wil baie graag ’n aanbidder van Jehovah wees.”
Die bestuurder van die Sentrale Stadion in Alma Ata, Kazakstan, waar 6 605 die byeenkoms bygewoon het, het die volgende gesê: “Ek is verheug oor julle gesindheid. Nou is ek daarvan oortuig dat julle almal, oud en jonk, ordentlike mense is. Ek kan nie sê dat ek in God glo nie, maar ek glo wel in die heilige dinge wat deur julle broederskap oorgedra word, in julle gesindheid teenoor geestelike en materiële waardes.”
’n Polisiebeampte by die Alma Ata-byeenkoms het gesê: “Ek het al twee keer met julle mense te doen gehad, elke keer by ’n byeenkoms. Dit is baie aangenaam om met Jehovah se Getuies te werk.”
Roemenië
Jehovah het ook nie die liefdearbeid vergeet wat die broers in Roemenië vir sy naam betoon het nie. Hierdie afgelope diensjaar het talle gelukkige gebeure vir die Getuies ingehou. Eerstens is ’n takkantoor weer eens in Boekarest oopgemaak. Die laaste wettige bedrywighede het in 1949 tot ’n einde gekom. Daar is ongeveer 20 broers en susters wat in hierdie nuwe kantoor werk. Die takkantoor bedien 24 752 verkondigers—’n hoogtepunt wat ’n vermeerdering van 21 persent oor verlede jaar se gemiddelde syfer verteenwoordig.
Nadat hulle jare lank in die geheim gepreek het, raak die verkondigers al hoe bekwamer in die openbare getuieniswerk van huis tot huis. ’n Ondervinding uit die Mureş-distrik toon hoe party Getuies elke geleentheid goed gebruik om vir ander te preek, selfs as hulle op reis is. Die takkantoor skryf:
“’n Verkondiger het besluit om van een kompartement na die ander te preek. Die mense se reaksie was oor die algemeen gunstig, maar in die laaste kompartement het probleme ontstaan. Nie een van die reisigers wou van ons tydskrifte aanvaar nie. Eindelik het ’n man, heel ontsteld, opgestaan en geskree: ‘Ek gaan al jou tydskrifte by die venster uitgooi! Waarom pla julle ons soveel met julle godsdiens?’ Die verkondiger het vriendelik geantwoord dat al gooi hy die tydskrifte uit, ander daarby sal baat—diegene wat die tydskrifte optel. Toe hy merk hoe kalm die verkondiger is, was die man so beïndruk dat hy die tydskrifte geneem het en self begin het om hulle aan die ander reisigers in die kompartement uit te deel. Verbasend genoeg het hulle almal ’n tydskrif geneem. Nadat die man hulle uitgedeel het, het hy niks vir homself oor gehad nie. Daarom het die verkondiger hom gevra: ‘Meneer, wil jy nie self ’n tydskrif hê nie?’ Die man het een van die tydskrifte by ’n reisiger gegryp wat twee gehad het en gesê: ‘Nou het ’n tydskrif my ook bereik!’”
In baie lande het die predikingswerk van Jehovah se Getuies met tye die teenkanting van die Christendom se geestelikes teweeggebring. In Roemenië word die priesters van die Ortodokse Kerk dikwels woedend vir die Getuies. Maar dit kan nie Jehovah keer om sy volk te seën vir die liefdearbeid wat hulle vir sy naam betoon het nie. Een kringopsiener skryf:
“Ons het saam met die plaaslike gemeente velddiens in die platteland gaan doen. Daar was honderd broers. Ons het ’n bus gehuur wat ons ongeveer [50 kilometer] na ’n klein dorpie in die platteland geneem het. Ons het baie mense na die openbare toespraak genooi wat in die Kultuursaal gehou sou word. Kort nadat die vergadering begin het, het die Ortodokse priester opgedaag om ons vergadering te ontwrig. Polisiebeamptes het probeer om die priester te keer. Hy het nietemin geweier om te kalmeer. Hy het daarin geslaag om die vergadering te onderbreek toe hy die glas in die deur van die hoofingang gebreek het. Baie van die plaaslike inwoners het egter glad nie die priester se gedrag goedgekeur nie. ’n Deeglike getuienis kon toe vir almal teenwoordig gegee word, en ’n groot aantal lektuur is versprei.”
Ongelukkig is daar in party dele van die land baie min Getuies. Toe ’n gewone pionier die eerste keer in die Olt-distrik kom, het hy net nege broers in die hele distrik gekry en ’n groot gebied om in te preek. Na ’n jaar het die aantal getuies tot 27 gegroei waarvan vyf verkondigers is wat onbedrywig was. Die pionier het hom in die stad Corabia gevestig waar daar hoegenaamd geen Getuies was nie. Nadat die Getuies net 45 dae daar was, het die plaaslike priester oor die Craiova-radio teen hulle werk beswaar gemaak. Hy het gesê dat hulle die stad Corabia met hulle leer “binnegeval” het en mense probeer dwing om hulle geloof te verander. Die aanvalle het voortgeduur met die doel om die werk te beëindig en die reputasie van die Getuies in daardie gebied te vernietig. Dit het alles ’n hoogtepunt bereik toe die plaaslike broers in Boekarest was vir die streekbyeenkoms. Die Ortodokse priester van Corabia het ’n kragtige aankondiging ná sy kerkdiens gemaak: “Ons moet almal ’n straatdemonstrasie hou om die polisie sover te kry om stappe te doen teen die Getuies wat die hele gebied met hulle publikasies besmet het en die mense vergiftig het.” Maar die aand voordat die vergadering veronderstel was om plaas te vind, het iets ongewoons gebeur. ’n Groep vandale het die katedraal en die stad se Kultuursaal vernietig. Die protesvergadering het dus toe nooit plaasgevind nie!
Gebiede van die eertydse Joego-Slawië
Die 1992-diensjaar was ’n baie moeilike jaar vir die broers in die gebied van Joego-Slawië. Maar terselfdertyd het hulle vreugdevolle ondervindinge gehad. Ons kan dankbaar wees dat Jehovah nie hulle werk en die liefdearbeid vergeet wat hulle vir sy naam betoon het nie.
Oorlog het eers in Slowenië uitgebreek, toe in Kroasië, en later in Bosnië en Herzegowina. Binne een jaar het vyf nuwe state, uit een republiek, probeer om hulle eie grense, wette en geldstelsels tot stand te bring. Honderde Getuies moes uit hulle huise vlug en by hulle broers op ander plekke skuiling vind. Soos in ander lande in Oos-Europa is noodkomitees in die groter stede aangestel om na huisvesting, voedsel en klere vir ons behoeftige broers om te sien. Gedurende die diensjaar is ongeveer 55 ton voedsel versprei onder die broers in die gemeentes wat in die geteisterde gebiede geleë is. Baie briewe van waardering is ontvang.
Die broers in Dubrovnik het vertel hoe dankbaar hulle is vir die hulp wat hulle ontvang het. Toe een suster huis toe is met haar pakkie kos, het ’n buurvrou haar gevra waar sy die eiers gekoop het. Die suster het vir haar gesê dat haar geestelike broers van ’n ander deel dit gestuur het. Die buurvrou was verstom. In ’n ander geval het ’n onbekende man van Slowenië ’n ouere man gebel en gesê: “Ek het gehoor dat Jehovah se Getuies die voedsel wat hulle van hulle broers ontvang op ’n regverdige manier versprei. Ek het verskeie pakkies vir mense gestuur; maar dit het nooit daar uitgekom nie. Kan ek sulke noodvoorraad vir julle stuur om te versprei?” Die koerante en die radio se berigte oor ons noodlenigingswerk was ook gunstig.
’n Broer wat in 1991 by die internasionale byeenkoms in Zagreb gedoop is, was bewus van die toenemende probleme en hy het ’n hele kruidenierswinkel gekoop. Hy het die voedsel na sy huis, wat naby die oorlogsgebied was, geneem. Namate die voedseltekort erger geword het, was hierdie voorraad ’n ware seën vir die broers.
Dit was moontlik om ’n permit te bekom sodat ’n groot vragmotor hoofvoedselprodukte vir die beleërde broers in Sarajevo kon neem. Ons is bly om te sê dat dit suksesvol afgelewer is.
Die gevegte het lewensverliese onder die burgerlikes veroorsaak. Dit is baie hartseer dat daar teen die einde van die diensjaar ses van ons broers en susters en twee belangstellendes hulle lewe verloor het en dat sommige beseer is.
Baie ondervindinge toon egter dat dit oor die algemeen ’n beskerming is om een van Jehovah se Getuies te wees. In een geval het die broers na ’n streekbyeenkoms in Belgrado gereis toe die bus voorgekeer is deur soldate wat wou weet of daar lede van ’n sekere godsdiens onder hulle was. Die broers het gesê daar is nie. Hulle moes hulle identiteitskaarte toon, en party het name gehad wat daarop gedui het dat hulle aan daardie godsdiens kon behoort. Die soldate het hulle daarvan beskuldig dat hulle leuens vertel, maar die broers het hulle briewe dat hulle uit die kerk bedank het by hulle gehad; hoewel hulle in daardie godsdiens gebore is, het hulle gesê dat hulle nou Getuies van Jehovah is wat na hulle byeenkoms toe reis. Die soldate het hulle toe verder laat reis.
Die pioniers sit hulle diens onverpoos met ywer voort, en dit was tot dusver ’n ware aansporing vir die werk. Die Wagtoring, met sy pragtige buiteblaaie in vollekleur, word tegelykertyd in al die hooftale van die streek vertaal. Dit voorsien liefhebbers van waarheid en regverdigheid gereeld van hulle geestelike “rantsoen op tyd” (Lukas 12:42). Gedurende die 1992-diensjaar is 674 nuwe broers en susters gedoop.
God het gewis nie die werk van ons broers in Oos-Europa en die liefdearbeid wat hulle vir sy naam betoon het, vergeet nie. Verder wil hy hê dat al sy aanbidders, waar hulle ook al woon, die goeie raad ter harte neem wat Paulus vervolgens in Hebreërs 6:11 gee: “Ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe.”