Vrae van lesers
Watter verantwoordelikheid het Christene om die besoedeling van ons omgewing—land, see en lug—te vertraag?
As Getuies van Jehovah is ons diep besorg oor die talle ekologiese probleme wat tans ons aardse tuiste teister. Ons besef, meer as die meeste mense, dat die aarde geskep was om ’n skoon, heilsame tuiste vir ’n volmaakte mensegesin te wees (Genesis 1:31; 2:15-17; Jesaja 45:18). Ons het ook God se versekering dat hy “die verderwers van die aarde [sal] verderf” (Openbaring 11:18). Dit is dus reg om gebalanseerde, redelike pogings aan te wend sodat ons nie onnodig tot die mens se voortgesette verderwing van ons aardbol bydra nie. Let egter op die woord “redelike”. Dit is ook skriftuurlik gepas om daarteen te waak dat ekologiese geskille en praktyke oorweldigende bekommernisse vir ons word.
Selfs ’n normale menslike bestaan het afval tot gevolg. Die verbouing, verwerking en eet van voedselprodukte veroorsaak dikwels afvalprodukte, hoewel baie daarvan vergaanbaar is (Psalm 1:4; Lukas 3:17). Die gebraaide vismaal wat die verrese Jesus vir sy dissipels gemaak het, het waarskynlik ook ’n bietjie rook, as en visgrate tot gevolg gehad (Johannes 21:9-13). Maar die lewende en lewelose stelsels of siklusse van die aarde is ontwerp om sulke afval te verwerk.
God se volk moet nie onbewus van ekologiese sake wees nie. Jehovah het van sy eertydse volk verwag om stappe te doen om van afval ontslae te raak, stappe wat van ekologiese asook sanitêre belang was (Deuteronomium 23:9-14). En aangesien ons weet wat sy beskouing is van diegene wat die aarde verderf, moet ons beslis nie dinge ignoreer wat ons kan doen om die omgewing skoon te hou nie. Ons kan dit weerspieël deur behoorlik ontslae te raak van vullis of afval, veral gifstowwe. Ons werk nougeset met hersirkuleringspogings saam, veral as die keiser dit beveel (Romeine 13:1, 5) En party persone verkies om verdere stappe te doen, soos om eerder vergaanbare produkte te gebruik as produkte wat tot die berge afval op land en onder die seë sal bydra.
Hoe ver ’n Christen dit sal voer, is egter ’n persoonlike saak, tensy die wet dit vereis. Dit is duidelik uit die nuusmedia dat onvolmaakte mense maklik in ekstremisme verstrik raak. Jesus se raad is sekerlik ter sake: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. . . . Waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (Mattheüs 7:1, 3). As ons dit in gedagte hou, sal dit ons help om nie ander belangrike faktore uit die oog te verloor nie.
Die profeet Jeremia het geskryf: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Deur hierdie beginsel te ignoreer, het die mensdom te staan gekom voor die “swaar tye” waarvan 2 Timotheüs 3:1-5 praat. En wat God in Openbaring 11:18 laat opteken het, bewys dat die mensdom se pogings om van die aarde se vernaamste ekologiese probleme, onder andere besoedeling, ontslae te raak nie ten volle sal slaag nie. Daar is dalk hier en daar ’n bietjie vooruitgang, maar die enigste blywende oplossing vereis dat God ingryp.
Daarom gebruik ons ons kragte en middele eerder om die aandag op die Goddelike oplossing te vestig as om oppervlakkige simptome te probeer verlig. Hierin volg ons die voorbeeld van Jesus na wat die grootste deel van sy bediening gebruik het “om vir die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). In plaas daarvan om die wêreld te voed of grootskaalse sosiale wantoestande te verlig—wat besoedeling insluit—het Jesus die aandag gevestig op die algehele oplossing vir die probleme wat die mensdom teister.—Johannes 6:10-15; 18:36.
Hoewel liefde vir ons medemens ons beweeg om nie die land, atmosfeer of waterbronne onnodig te besoedel nie, hou ons aan om vir die waarheid te getuig. Dit sluit in dat ons mense leer om Bybelwaarhede toe te pas en sodoende nie hulle liggame met rook, oormatige gebruik van alkohol of skadelike dwelms te vernietig nie. Die miljoene nuwelinge wat dissipels geword het, het gewoontes soos reinheid en bedagsaamheid teenoor ander aangeleer. Sodoende het die predikingswerk ’n wesenlike bydrae gelewer om vandag die algemene probleem van besoedeling te verminder. Maar nog belangriker is die feit dat Christendissipels daarna streef om hulle persoonlikheid en gewoontes nou te verander sodat hulle sal inpas by die skoon Paradysaarde wat God binnekort vir sy ware aanbidders sal voorsien.