Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 1/15 bl. 4-7
  • ‘Weggevoer die Here tegemoet’—Hoe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Weggevoer die Here tegemoet’—Hoe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Christus se “teenwoordigheid”
  • “Die Israel van God”
  • “Weggevoer”—Hoe?
  • Oorlewing—Maar nie deur wegraping nie
  • Wegraping
    Redenering uit die Skrif
  • Vertroosting van die God van vrede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • “Die eerste opstanding”—Nou aan die gang!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Wederkoms
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 1/15 bl. 4-7

‘Weggevoer die Here tegemoet’—Hoe?

DIE einde van die teenswoordige goddelose stelsel spoed onherroeplik nader. Met elke uur, elke minuut, elke sekonde wat verbytik, kom ons nader aan merkwaardige gebeure wat lank gelede voorspel is. Is die wegraping een van hulle? Indien wel, wanneer en hoe sal dit plaasvind?

Die woord “wegraping” kom nie in die Bybel voor nie. Maar diegene wat daaraan glo, haal die apostel Paulus se woorde in 1 Thessalonicense 4:17 aan as die grondslag van hulle oortuiging. Kom ons ondersoek hierdie teks in sy konteks. Paulus het geskryf:

“Broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”—1 Thessalonicense 4:13-18.

Die gemeente in Thessalonika was nog betreklik nuut toe Paulus in ongeveer 50 G.J. sy eerste brief aan die Christene daar gerig het. Lede van die gemeente was bekommerd omdat party van hulle lede “ontslapenes” was. Maar wat Paulus geskryf het, het die Thessalonicense met die opstandingshoop bemoedig.

Christus se “teenwoordigheid”

Hoewel Paulus bevestig het dat getroue Christene wat op daardie tydstip dood was, opgewek sou word, het hy ook gesê: ‘Ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie vóór wees nie’ (Vers 15). Dit is beslis opmerkenswaardig dat die apostel van die Here se “teenwoordigheid” praat. Die teks in die oorspronklike taal gebruik hier die Griekse woord pa·rou·siʹan, wat letterlik beteken om “langsaan te wees”.

Wanneer ’n buitelandse staatshoof ’n land besoek, word die datums van sy teenwoordigheid daar gewoonlik bekend gemaak. Dit is die geval met die teenwoordigheid van die Here Jesus Christus. Die Wagtoring het nog altyd bewyse voorsien aan opregte studente van Bybelprofesieë dat Jesus se teenwoordigheid in hemelse Koninkryksmag in 1914 begin het. Gebeure sedert daardie jaar getuig van Jesus se onsigbare teenwoordigheid (Mattheüs 24:3-14). Deur gevolglik te sê sekere Christene wat gedurende die Here se teenwoordigheid leef, sal “in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug” het Paulus bedoel dat daardie oorlewendes Christus sou ontmoet, nie in die aarde se atmosfeer nie, maar in die onsigbare hemelse ryk waar Jesus aan God se regterhand sit (Hebreërs 1:1-3). Maar wie is hulle?

“Die Israel van God”

Die Skrif sê baie oor vleeslike Israeliete en praat ook van die geestelike “Israel van God”. Hierdie hele groep wat deur God se heilige gees, of werkende krag, gesalf is, sou uit Joodse en nie-Joodse gelowiges bestaan (Galasiërs 6:16; Romeine 11:25, 26; 1 Johannes 2:20, 27). Die boek Openbaring toon dat geestelike Israel altesaam 144 000 tel, wat almal saam met die Lam, Jesus Christus, op die hemelse berg Sion uitgebeeld word. Hulle sal saam met Christus konings en priesters in die hemel wees (Openbaring 7:1-8; 14:1-4; 20:6). Onder hulle sal mense wees wat met die gemeentes in Thessalonika en elders omgegaan het, ongeag hulle ras of nasionaliteit.—Handelinge 10:34, 35.

Voordat enige getroue lid van geestelike Israel ’n hemelse beloning kan ontvang, moet hy ’n sekere ondervinding deurmaak. Net soos Jesus se dood aan die folterpaal sy opstanding tot hemelse lewe voorafgegaan het, moet Christene met die hemelse hoop sterf voordat hulle hulle beloning ontvang (1 Korinthiërs 15:35, 36). Dit geld vir lede van geestelike Israel wat in die eerste eeu G.J. geleef het en vir diegene van daardie groep wat vandag leef.

Nadat Paulus melding gemaak het van “die teenwoordigheid van die Here” het hy gepraat van die tyd wanneer getroue geestelike Israeliete wat gesterf het hulle hemelse beloning sou ontvang. Hy het geskryf: “Die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (Vers 16). Daarom verwag ons dat die hemelse opstanding sou begin wanneer Jesus se teenwoordigheid as Koning begin het, en dat dié lede van geestelike Israel wat reeds as handhawers van onkreukbaarheid gesterf het eerste opgewek sou word (1 Korinthiërs 15:23, vgl NW). Hulle dien nou saam met Jesus in die hemel. Maar wat van die betreklik min gesalfde Christene wat nog op die aarde leef? Wag hulle op die wegraping?

“Weggevoer”—Hoe?

Nadat Paulus gepraat het van getroue Christene wat gesterf het, het hy bygevoeg: “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (Vers 17). Die “wat in die lewe oorbly”, is diegene wat gedurende Christus se teenwoordigheid leef. Hulle sal “weggevoer” word om die Here Jesus te ontmoet. Soos dit die geval was met getroue vroeë Christene moet hulle as mense sterf sodat hulle met Christus in die hemel verenig kan word.—Romeine 8:17, 35-39.

Paulus het aan Christene in Korinthe geskryf: “Dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:50-52). Elke lid van die oorblyfsel van geestelike Israel wat getrou gedurende Christus se teenwoordigheid sterf, ontvang onmiddellik sy hemelse beloning. “In ’n oogwink” word hy as ’n geesskepsel opgewek en “weggevoer” om Jesus te ontmoet en om as ’n medeheerser in die Koninkryk van die hemele te dien. Maar wat van al die ander wat Jehovah dien? Sal hulle ook namate die einde van hierdie goddelose stelsel nader kom na die hemel weggevoer word?

Oorlewing—Maar nie deur wegraping nie

Aangesien Jesus se koninklike teenwoordigheid in 1914 begin het, is ons nou diep in hierdie wêreld se “tyd van die einde” (Daniël 12:4). Paulus het gewaarsku: “Oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:1-3). Maar Christene wat wakker is, sal kan ontvlug. Hoe?

Die uitroep “Vrede en veiligheid” gaan die tydperk vooraf wat Jesus die “groot verdrukking” genoem het. In ’n beskrywing van “’n groot menigte” van getroues wat die hoop het om vir ewig in ’n aardse paradys te lewe, sê die boek Openbaring: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam” (Openbaring 7:9, 14; Lukas 23:43, NW). Nee, hulle vooruitsig is nie dié van ’n wegraping nie. Hulle het eerder die hoop om reg hier op die aarde behoue te bly. Om daarvoor voor te berei, moet hulle geestelik wakker bly. Hoe kan jy dit doen en die einde van hierdie stelsel oorleef?

Jy moet “nugter wees [jou “sinne bewaar”, NW], met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid” (1 Thessalonicense 5:6-8). Dit is nou die tyd om aandag te skenk aan God se profetiese Woord, die Bybel. Terwyl die sekondes verbytik na die einde van hierdie stelsel toe, moet jy na Paulus se raad luister: “Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:20, 21). Jehovah se Getuies nooi jou dus uit na hulle Koninkryksale, waar jy saam met hulle Bybelprofesieë en ander kenmerke van God se geïnspireerde Woord kan ondersoek.

Namate jou juiste kennis en geloof toeneem, sal jy die bewerkstelliging van Jehovah God se voorneme verstaan om die heelal van sy vyande te bevry en die aarde tot ’n paradys te herstel. Deur geloof te beoefen, kan jy ook onder die oorlewendes van die groot verdrukking wees, wat die voorreg sal hê om die miljoene terug te verwelkom wat tot lewe op die aarde opgewek sal word. En wat ’n vreugde sal dit tog wees om te leef onder God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus en sy medeheersers, wat al ‘weggevoer sal wees die Here tegemoet’ deur tot lewe in die hemelse ryk opgewek te word!

Wat is dan vir gehoorsame mense oor die algemeen die ware skriftuurlike hoop? Dit is nie ’n wegraping nie. Dit is eerder ewige lewe op die aarde onder die heerskappy van God se Koninkryk.

[Prent op bladsy 7]

Die oorlewendes van die groot verdrukking sal diegene verwelkom wat opgewek word tot lewe op ’n paradysaarde onder die heerskappy van Jesus en diegene wat “weggevoer” is na die hemel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel