Sal jy na die hemel weggevoer word?
BAIE mense glo dat hulle hemel toe sal gaan wanneer hulle sterf. Maar party dink dat hulle na die hemel weggevoer sal word in wat die wegraping genoem word. Is dit jou verwagting?
Die wegraping is “die skielike verdwyning van miljoene der miljoene mense sonder enige spoor van waar hulle heen is!” Dít is wat een Protestantse evangelis gesê het. Volgens die Evangelical Dictionary of Theology het die woord “wegraping” betrekking op “die kerk wat tydens Christus se wederkoms met hom verenig sal word”.
Dit ontstel party wanneer hulle daaraan dink dat hulle vriende en familielede moet agterlaat om Jesus Christus te ontmoet. Tog glo baie dat die wegraping moet plaasvind. Sal dit gebeur? Indien wel, wanneer?
Uiteenlopende beskouings oor die wegraping
Die Bybel toon dat daar voor die begin van Christus se beloofde Duisendjarige Heerskappy ’n tydperk sal wees wat die “groot verdrukking” genoem word. Jesus het gesê: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:21; Openbaring 20:6). Party glo dat die wegraping voor die groot verdrukking sal plaasvind. Ander verwag dit gedurende daardie tyd. Ander dink weer dat die wegraping ná daardie ongeëwenaarde ellende sal plaasvind.
Die beskouing dat die wegraping ná die groot verdrukking sal plaasvind, was tot en met die vroeë 19de eeu gewild. Toe het daar in Engeland ’n beweging ontstaan onder leiding van ’n eertydse geestelike van die Kerk van Ierland, John Nelson Darby. Hy en eensgesinde Anglikane het as die Broeders bekend geword. Darby het van sy basis in Plymouth gereis om in Switserland en elders in Europa te preek. Hy het beweer dat Christus se terugkeer in twee stadiums sou plaasvind. Dit sou met ’n geheime wegraping begin waarin die “heiliges” weggevoer sou word voordat ’n tydperk van sewe jaar van verdrukking verwoesting aanrig op die aarde. Dan sou Christus sigbaar verskyn, vergesel van hierdie “heiliges”, en saam sou hulle duisend jaar lank op die aarde heers.
Darby het beklemtoon hoe nodig dit was om afgeskeie van die wêreld te bly, en diegene wat dieselfde beskouing as hy gehuldig het, het uiteindelik as die Eksklusiewe Broeders bekend geword. B. W. Newton was die leier van ’n ander groep wat aan die wegraping geglo het, maar nie dat dit voor die groot verdrukking sou plaasvind nie. Alexander Reese, ’n voorstander van die beskouing dat die wegraping ná die groot verdrukking sou plaasvind, het volgehou dat “die teorieë oor die Geheime Wegraping die hoop op Christus se Koms verydel”.
Diegene wat glo dat die wegraping voor die groot verdrukking sal plaasvind, meen dat hierdie verskil in sienswyse so ernstig is dat dit “die aard van [hulle] hoop met betrekking tot die koms van Christus” raak. Ander glo aan ’n “gedeeltelike wegrapingsteorie”, met ander woorde dat diegene wat die getrouste aan Christus is eerste weggeraap sal word en diegene wat meer wêrelds is later geneem sal word.
Baie evangeliese groepe verkondig dat ’n wegraping van getroue Christene op hande is. Maar aangesien daar verskillende beskouings is, sê ’n boekie wat deur Brittanje se Elim-Pinksterkerk uitgegee word: “Hoewel ons in breë trekke saamstem oor gebeure wat betrekking het op die terugkeer van die Here Jesus . . . , kan elkeen profesieë volgens sy eie oortuiging uitlê. Baie neem ’n niedogmatiese standpunt in en wag geduldig daarop dat die gebeure self openbaar wat die profetiese program is.”
God se geïnspireerde Woord, die Bybel, is die maatstaf waarvolgens ons die waaragtigheid van alle oortuigings moet meet (2 Timotheüs 1:13; 3:16, 17). Wat sê dit gevolglik oor die wegraping?