Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 1/15 bl. 25-30
  • Waak teen elke vorm van afgodediens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waak teen elke vorm van afgodediens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Christendom se afgodediens word voorafgeskadu
  • Ander vorme van afgodediens
  • Vermy gierigheid en hebsug
  • Waak teen selfverafgoding
  • Bly op julle hoede!
  • Waarom moet ons teen afgodediens waak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • “Sien watter slegte, afskuwelike dinge hulle . . . doen”
    Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
  • “Rig jou hart op” God se tempel!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Bybelboek nommer 26—Esegiël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 1/15 bl. 25-30

Waak teen elke vorm van afgodediens

“Watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?”—2 KORINTHIËRS 6:16.

1. Wat is deur Israel se tabernakel en tempels afgebeeld?

JEHOVAH het ’n tempel waarin daar geen afgode is nie. Dit is afgebeeld deur Israel se tabernakel wat deur Moses gebou is en deur die tempels wat later in Jerusalem gebou is. Daardie geboue het “die ware tabernakel”, Jehovah se groot geestelike tempel, verteenwoordig (Hebreërs 8:1-5). Daardie tempel is die reëling waardeur ons God op grond van Jesus Christus se losprysoffer in aanbidding nader.—Hebreërs 9:2-10, 23.

2. Wie word pilare in God se groot geestelike tempel, en in watter posisie verkeer die groot menigte?

2 Elke gesalfde Christen word “’n pilaar in die tempel van God” en ontvang ’n plek in die hemel. “’n Groot menigte” van Jehovah se ander aanbidders “dien [God]” in wat afgebeeld is deur die voorhof van die heidene by die tempel wat Herodus herbou het. Omdat hulle geloof in Jesus se offerande stel, verkeer hulle in ’n regverdige posisie wat tot hulle behoud deur “die groot verdrukking” sal lei.—Openbaring 3:12; 7:9-15.

3, 4. Waarmee word die gemeente van gesalfde Christene op aarde vergelyk, en van watter besoedeling moet dit vry wees?

3 Die gemeente van gesalfde Christene op aarde word figuurlik vergelyk met ’n ander tempel wat vry van afgodediens is. Die apostel Paulus het aan hierdie persone wat “verseël is met die Heilige Gees” gesê: “[Julle is] gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ’n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ’n woning van God in die Gees” (Efesiërs 1:13; 2:20-22). Hierdie 144 000 verseëldes is “lewende stene” wat ‘opgebou word tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom’.—1 Petrus 2:5; Openbaring 7:4; 14:1.

4 Aangesien hierdie onderpriesters die “gebou van God” is, laat hy nie toe dat hierdie tempel besoedel word nie (1 Korinthiërs 3:9, 16, 17). “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie”, het Paulus gewaarsku. “Want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?” Gesalfde Christene, wat aan “Jehovah die Almagtige” behoort, moet niks met afgodediens te doen hê nie (2 Korinthiërs 6:14-18, vgl. NW). Diegene wat van die groot menigte is, moet ook elke vorm van afgodediens vermy.

5. Wat doen ware Christene aangesien hulle weet dat Jehovah uitsluitlike toegewydheid verdien?

5 Daar is blatante sowel as subtiele vorme van afgodediens. Nee, afgodediens is nie beperk tot die aanbidding van valse gode en godinne nie. Dit is die aanbidding van enigiets of enigiemand buiten Jehovah. As die Universele Soewerein vereis en verdien hy met reg uitsluitlike toegewydheid (Deuteronomium 4:24, NW). Omdat ware Christene dit weet, slaan hulle ag op skriftuurlike waarskuwings oor alle vorme van afgodediens (1 Korinthiërs 10:7). Kom ons ondersoek sekere vorme van afgodediens wat Jehovah se knegte moet vermy.

Die Christendom se afgodediens word voorafgeskadu

6. Watter gruwels het Esegiël in ’n gesig gesien?

6 Terwyl die profeet Esegiël in 612 v.G.J. in Babiloniese ballingskap was, het hy ’n gesig gehad van afvallige Jode wat by Jehovah se tempel in Jerusalem gruwels beoefen het. Esegiël het ’n “simbool van jaloesie” gesien. Hy het sewentig oudstes gesien wat reukwerk in die tempel offer. Hy kon vroue sien wat oor ’n valse god ween. En 25 manne was besig om die son te aanbid. Wat was die betekenis van hierdie afvallige dade?

7, 8. Wat was die “simbool van jaloesie” moontlik, en waarom het dit Jehovah tot jaloesie opgewek?

7 Die afgodediens van die Christendom is voorafgeskadu deur die gruwels wat Esegiël in die gesig gesien het. Hy het byvoorbeeld gesê: “Daar was aan die noordekant van die altaarpoort daardie afgodsbeeld van ywer [of, simbool van jaloesie] by die ingang! En [Jehovah God] sê vir my: “Mensekind, sien jy wat hulle doen, die groot gruwels wat die huis van Israel hier aanrig, dat Ek ver van my heiligdom af moet weggaan?”—Esegiël 8:1-6, vgl. NW.

8 Die afgodiese simbool van jaloesie was moontlik ’n heilige paal wat die valse godin voorgestel het wat die Kanaäniete as die vrou van hulle god Baäl beskou het. Wat die simbool ook al was, dit het Jehovah tot jaloesie opgewek omdat dit afbreuk gedoen het aan Israel se uitsluitlike toegewydheid aan hom in oortreding van sy gebooie: “Ek is die HERE jou God . . . Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n . . . God [wat uitsluitlike toegewydheid vereis].”—Exodus 20:2-5, vgl. NW.

9. Hoe het die Christendom God tot jaloesie opgewek?

9 Die aanbidding van die simbool van jaloesie in God se tempel was een van die groot gruwels wat afvallige Israeliete beoefen het. Op soortgelyke wyse word die Christendom se kerke verontreinig met godonterende simbole en beelde wat afbreuk doen aan die uitsluitlike toegewydheid wat hulle beweer hulle aan die Een gee wat hulle sê hulle dien. God word ook tot jaloesie opgewek omdat die geestelikes sy Koninkryk as die mensdom se enigte hoop verwerp en die Verenigde Nasies—“die gruwel van verwoesting . . . [wat] staan in die heiligdom”, waar dit nie behoort te staan nie—vereer.—Mattheüs 24:15, 16; Markus 13:14.

10. Wat het Esegiël binne-in die tempel gesien, en hoe vergelyk dit met wat in die Christendom gesien word?

10 Esegiël gaan die tempel binne en sê: “Kyk—en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was. En sewentig manne uit die oudstes van Israel het daarvoor gestaan, . . . elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van reukwerk het opgegaan.” Dink net daaraan! Israelitiese oudstes wat besig is om in Jehovah se tempel reukwerk aan valse gode te offer wat deur afskuwelike muursnywerk afgebeeld is (Esegiël 8:10-12). Voëls en wilde diere word op soortgelyke wyse gebruik as afbeeldings van die Christendom se lande en hulle word deur mense vereer. Daarbenewens maak baie geestelikes hulle daaraan skuldig dat hulle help om mense te mislei deur die onjuiste teorie voor te staan dat die mens uit laer, dierlike lewensvorme geëvolueer het, pleks van die ware Bybelverslag van die skepping deur Jehovah God te ondersteun.—Handelinge 17:24-28.

11. Waarom het afvallige Israelitiese vroue oor Tammus geween?

11 By die ingang van die poort van Jehovah se huis het Esegiël afvallige Israelitiese vroue oor Tammus sien ween (Esegiël 8:13, 14). Die Babiloniërs en die Siriërs het Tammus as die god van plantegroei beskou wat in die reënseisoen groei en gedurende die droë seisoen sterf. Wanneer die plantegroei doodgaan, het dit die dood van Tammus afgebeeld wat jaarliks tydens die tyd van die ergste hitte deur sy aanbidders beween is. Wanneer die plantegroei gedurende die reënseisoen weer verskyn het, het Tammus kwansuis van die onderwêreld af teruggekeer. Hy is voorgestel deur die eerste letter van sy naam, die antieke tau, wat in die vorm van ’n kruis was. Dit laat ons heel waarskynlik aan die Christendom se afgodiese verering van die kruis dink.

12. Wat het Esegiël die 25 afvallige Israelitiese manne sien doen, en watter soortgelyke optrede vind in die Christendom plaas?

12 In die tempel se binnehof het Esegiël vervolgens 25 afvallige Israelitiese manne gesien wat die son aanbid—’n skending van Jehovah se gebod teen sulke afgodediens (Deuteronomium 4:15-19). Daardie afgodedienaars het ook ’n afstootlike tak wat moontlik die manlike orgaan voorgestel het na God se neus uitgehou. Dit is geen wonder dat God nie hulle gebede verhoor het nie, net soos die Christendom sy hulp gedurende die “groot verdrukking” sal soek, maar dit sal tevergeefs wees (Mattheüs 24:21). Soos daardie afvallige Israeliete met hulle rug na Jehovah se tempel die liggewende son aanbid het, draai die Christendom die rug op die lig van God, en verkondig valse leerstellings, verafgood wêreldse wysheid en sien onsedelikheid deur die vingers.—Esegiël 8:15-18.

13. Hoe vermy Jehovah se Getuies die vorme van afgodediens wat in Esegiël se gesig gesien is?

13 Jehovah se Getuies vermy die vorme van afgodediens wat, soos Esegiël vooruitgesien het, in die Christendom, of antitipiese Jerusalem, beoefen word. Ons vereer nie godonterende simbole nie. Hoewel ons respek toon vir regerings-“owerhede” is ons onderworpenheid aan hulle relatief (Romeine 13:1-7; Markus 12:17; Handelinge 5:29). Ons gee ons hartgrondige toegewydheid aan God en sy Koninkryk. Ons vervang nie die Skepper en sy skepping met die evolusieteorie nie (Openbaring 4:11). Ons vereer nooit die kruis nie, en maak ook nie ’n afgod van intellektualisme, filosofie of ander vorme van wêreldlike wysheid nie (1 Timotheüs 6:20, 21). Ons waak ook teen alle ander vorme van afgodediens. Wat is sommige van hulle?

Ander vorme van afgodediens

14. Watter standpunt neem Jehovah se knegte in met betrekking tot die “dier” van Openbaring 13:1?

14 Christene aanbid nie ’n simboliese “dier” soos die res van die mensdom nie. Die apostel Johannes het gesê: “Ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone . . . En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid” (Openbaring 13:1, 8). Diere kan “konings”, of politieke magte, afbeeld (Daniël 7:17; 8:3-8, 20-25). Die sewe koppe van die simboliese dier beteken dus wêreldmoondhede—Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland, Rome en die Anglo-Amerikaanse bondgenootskap van Brittanje en die Verenigde State van Amerika. Die Christendom se geestelikes toon groot minagting vir God en Christus deur die leiding te neem in die mensdom se verering van Satan, “die owerste van hierdie wêreld” se politieke stelsel (Johannes 12:31). As Christene wat neutraal bly en voorstanders van die Koninkryk is, verwerp Jehovah se knegte egter sulke afgodediens.—Jakobus 1:27.

15. Hoe beskou Jehovah se volk wêreldse sterre, en wat het een Getuie in hierdie verband gesê?

15 God se volk verafgood ook nie die wêreld se vermaaklikheid- en sportsterre nie. Nadat een musikant ’n Getuie van Jehovah geword het, het hy gesê: “Musiek vir vermaak, asook dansmusiek kan . . . verkeerde begeertes wek. Die sanger sing oor geluk en teerheid, waaraan talle luisteraars moontlik dink hulle maat ’n gebrek het. Die kunstenaar word dikwels geïdentifiseer met die dinge waaroor hy sing. Party beroepsmusikante wat ek ken, is om hierdie rede groot gunstelinge by vroue. As iemand eers in hierdie fantasiewêreld vasgevang is, kan dit daartoe lei dat hy die sanger verafgood. Dit kan heel onskuldig begin deur ’n handtekening as aandenking te vra. Maar naderhand beskou party die kunstenaar as hulle ideaal, en deur hom op ’n voetstuk te plaas, maak hulle ’n afgod van hom. Hulle hang dalk ’n foto van die ster teen die muur en begin sy kleredrag en voorkoms naboots. Christene moet altyd in gedagte hou dat aanbidding God alleen toekom.”

16. Wat toon dat regverdige engele afgodediens verwerp?

16 Ja, slegs God verdien verering of aanbidding. Toe Johannes “neergeval [het] om te aanbid voor die voete van die engel” wat hom ongelooflike dinge gewys het, het daardie geesskepsel geweier om in enige opsig verafgood te word, maar hy het gesê: “Moenie! want ek is ’n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God” (Openbaring 22:8, 9). Die vrees van Jehovah, of diepe eerbied vir hom, beweeg ons om hom alleen te aanbid (Openbaring 14:7). Ware godvrugtige toegewydheid beskerm ons gevolglik teen afgodediens.—1 Timotheüs 4:8, NW.

17. Hoe kan ons teen afgodiese geslagsonsedelikheid waak?

17 Geslagsonsedelikheid is nog ’n vorm van afgodediens wat Jehovah se knegte verwerp. Hulle weet dat “geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ’n afgodedienaar is, ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie” (Efesiërs 5:5). Afgodediens is hierby betrokke aangesien die begeerte na ongeoorloofde genot ’n soort aanbidding word. Godvrugtige eienskappe word deur ongeoorloofde geslagsbegeertes in gevaar gestel. Wanneer iemand sy oë en ore aan pornografie uitleen, plaas hy enige verhouding wat hy moontlik met die heilige God, Jehovah, het op die spel (Jesaja 6:3). As God se knegte teen sulke afgodediens wil waak, moet hulle pornografie en verderflike musiek vermy. Hulle moet vashou aan sterk geestelike waardes wat op die Skrif gegrond is, en hulle moet sorg dat hulle altyd beklee is met ‘die nuwe mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid’.—Efesiërs 4:22-24.

Vermy gierigheid en hebsug

18, 19. (a) Wat is gierigheid en hebsug? (b) Hoe kan ons teen afgodiese gierigheid en hebsug waak?

18 Christene waak ook teen gierigheid en hebsug, wat nou verwante vorme van afgodediens is. Gierigheid is ’n buitensporige of onversadigbare begeerte, en hebsug is gierigheid na enigiets wat aan iemand anders behoort. Jesus het teen hebsug gewaarsku en van ’n hebsugtige ryk man gepraat wat by sy dood nie by sy rykdom kon baat vind nie en in die treurige posisie was dat hy nie ‘ryk was in God nie’ (Lukas 12:15-21). Paulus het medegelowiges gepas gewaarsku: “Maak dood . . . julle liggaamslede wat op die aarde is ten opsigte van . . . hebsug, wat afgodediens is.”—Kolossense 3:5, NW.

19 Diegene wat met ’n liefde vir geld, met ’n gulsigheid na voedsel en drank of met ’n strewe na mag behep is, maak sulke begeertes hulle afgode. Soos Paulus getoon het, is ’n gierigaard ’n afgodedienaar en sal hy nie God se Koninkryk beërwe nie (1 Korinthiërs 6:9, 10; Efesiërs 5:5). Gedoopte persone wat as gierigaards afgodediens beoefen, kan gevolglik uit die Christengemeente gesit word. Maar ons kan gierigheid vermy as ons die Skrif toepas en ernstig bid. Spreuke 30:7-9 sê: “Twee dinge vra ek van U [Jehovah God]; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie: Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is [Jehovah]? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie” (vgl. NW). So ’n gesindheid kan ons help om teen afgodiese gierigheid en hebsug te waak.

Waak teen selfverafgoding

20, 21. Hoe waak Jehovah se volk teen selfverafgoding?

20 Jehovah se volk waak ook teen selfverafgoding. In hierdie wêreld is dit iets algemeens om jouself en jou eie wil te verafgood. Die begeerte na roem en eer laat baie slinks optree. Hulle wil nie God se wil laat geskied nie, maar hulle eie. Maar ons kan glad nie ’n verhouding met God hê as ons aan selfverafgoding toegee deur op ’n slinkse wyse ons eie sin te probeer kry en oor ander te probeer baasspeel nie (Spreuke 3:32, NW; Mattheüs 20:20-28; 1 Petrus 5:2, 3). As Jesus se volgelinge het ons die wêreld se onderduimse dinge laat vaar.—2 Korinthiërs 4:1, 2.

21 Pleks van roem na te streef, gee God se volk gehoor aan Paulus se vermaning: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God” (1 Korinthiërs 10:31). As Jehovah se knegte dring ons nie op ’n afgodiese wyse daarop aan om ons sin te kry nie, maar ons doen vreugdevol die Goddelike wil, aanvaar die leiding van “die getroue en verstandige dienskneg” en werk ten volle saam met Jehovah se organisasie.—Mattheüs 24:45-47.

Bly op julle hoede!

22, 23. Hoe kan ons aanhou om teen elke vorm van afgodediens te waak?

22 As Jehovah se volk buig ons ons nie voor materiële afgode neer nie. Ons waak ook teen subtiele vorme van afgodediens. Trouens, ons moet voortdurend elke vorm van afgodediens vermy. Ons gee gevolglik gehoor aan Johannes se raad: “Waak teen die afgode.”—1 Johannes 5:21, NW.

23 As jy een van Jehovah se knegte is, moet jy jou Bybelopgeleide gewete en waarnemingsvermoë voortdurend oefen (Hebreërs 5:14, NW). Dan sal jy nie deur die wêreld se afgodiese gees besoedel word nie, maar jy sal soos die drie getroue Hebreërs en lojale vroeë Christene wees. Jy sal Jehovah jou uitsluitlike toegewydheid gee, en hy sal jou help om teen elke vorm van afgodediens te waak.

Wat dink jy?

◻ Hoe vermy Jehovah se Getuies die vorme van afgodediens wat in Esegiël se gesig gesien is?

◻ Wat is die “dier” van Openbaring 13:1, en watter standpunt neem Jehovah se knegte met betrekking tot hierdie “dier” in?

◻ Waarom moet ons daarteen waak om vermaaklikheid- en sportsterre te verafgood?

◻ Hoe kan ons teen selfverafgoding waak?

◻ Waarom moet ons teen elke vorm van afgodediens waak?

[Prente op bladsy 26]

Weet jy hoe die gruwels wat in Esegiël se gesig gesien is die Christendom se afgodediens voorafgeskadu het?

[Erkenning]

Artwork (upper left) based on photo by Ralph Crane/Bardo Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel