Waarom moet ons teen afgodediens waak?
“Kindertjies, waak teen die afgode.”—1 JOHANNES 5:21, NW.
1. Waarom is die aanbidding van Jehovah vry van afgodediens?
JEHOVAH is nie ’n afgod van metaal, hout of klip nie. Hy kan nie in ’n aardse tempel gehuisves word nie. Aangesien hy die almagtige Gees is, onsigbaar vir mense, is dit onmoontlik om ’n afbeelding van hom te maak. Derhalwe moet die reine aanbidding van Jehovah heeltemal vry van afgodediens wees.—Exodus 33:20; Handelinge 17:24; 2 Korinthiërs 3:17.
2. Watter vrae verdien ons aandag?
2 As jy ’n aanbidder van Jehovah is, kan jy jou dus gerus afvra: ‘Wat is afgodediens? Hoe was dit vir Jehovah se knegte in die verlede moontlik om afgodediens te vermy? En waarom moet ons vandag teen afgodediens waak?’
Wat afgodediens is
3, 4. Hoe kan ons afgodediens definieer?
3 Afgodediens sluit gewoonlik ’n seremonie of ’n ritus in. Dit is afgodediens om ’n afgod te vereer, lief te hê, te aanbid of te verafgood. En wat is ’n afgod? Dit is ’n beeld, ’n afbeelding van iets, of ’n simbool, wat ’n voorwerp van verering is. Afgodediens word gewoonlik gerig tot ’n werklike of veronderstelde hoër mag wat vermoedelik ’n lewende bestaan voer (’n mens, ’n dier of ’n organisasie). Maar afgodediens kan ook tot lewelose dinge (’n krag of ’n lewelose voorwerp in die natuur) gerig word.
4 In die Skrif beklemtoon Hebreeuse woorde wat na afgode verwys dikwels waardeloosheid, of hulle is uitdrukkings van veragting. Hulle sluit woorde in wat weergegee word met “gesnede beeld” (letterlik iets wat uitgebeitel is); “gegote standbeeld, beeld of afgod” (iets wat gevorm of gegiet is); “afgryslike afgod”; “nietige afgod” (letterlik, nutteloosheid); en “drekgod”. Die Griekse woord eiʹdo·lon word as “afgod” vertaal.
5. Waarom kan daar gesê word dat nie alle beelde afgode is nie?
5 Nie alle beelde is afgode nie. God self het vir die Israeliete gesê om twee goue gerubs vir die verbondsark te maak en om afbeeldings van sulke geesskepsele te borduur op die binnekant van tien tentdoeke vir die tabernakel en op die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het (Exodus 25:1, 18; 26:1, 31-33). Net die priesters wat in die tempel diens gedoen het, het hierdie afbeeldings gesien wat hoofsaaklik as ’n simbool van die hemelse gerubs gedien het. (Vergelyk Hebreërs 9:24, 25.) Dit is duidelik dat die tabernakelafbeeldings van gerubs nie vereer moes word nie, aangesien regverdige engele self nie aanbidding wou aanvaar nie.—Kolossense 2:18; Openbaring 19:10; 22:8, 9.
Jehovah se beskouing van afgodediens
6. Hoe beskou Jehovah afgodediens?
6 Knegte van Jehovah waak teen afgodediens omdat hy teen alle afgodiese gebruike gekant is. God het die Israeliete beveel om nie beelde as voorwerpe van verering te maak en hulle te aanbid nie. Die volgende woorde maak deel uit van die Tien Gebooie: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n . . . God [wat uitsluitlike toegewydheid vereis], wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.”—Exodus 20:4-6, vgl. NW.
7. Waarom is Jehovah teen alle vorme van afgodediens gekant?
7 Waarom is Jehovah teen alle vorme van afgodediens gekant? Hoofsaaklik omdat hy uitsluitlike toegewydheid vereis, soos hierbo deur die tweede van die Tien Gebooie getoon word. Daarbenewens het hy deur sy profeet Jesaja gesê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my eie heerlikheid gee nie, nog my lof aan gesnede beelde” (Jesaja 42:8, NW). Op een tydstip het afgodediens die Israeliete in so ’n mate verstrik dat “hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer” het (Psalm 106:36, 37). Afgodedienaars ontken nie net dat Jehovah die ware God is nie, maar hulle bevorder ook die belange van sy Hoofteenstander, Satan, sowel as die demone.
Lojaal onder beproewing
8. Voor watter toets het die drie Hebreërs Sadrag, Mesag en Abednego te staan gekom?
8 Lojaliteit teenoor Jehovah help ons ook om teen afgodediens te waak. Dit word toegelig deur die gebeurtenis wat in Daniël hoofstuk 3 opgeteken is. Die Babiloniese koning Nebukadnesar het amptenare van sy ryk laat vergader om ’n groot goue beeld in te wy wat hy laat oprig het. Sy bevel het Sadrag, Mesag en Abednego—drie Hebreeuse administrateurs oor die provinsies van Babilon—ingesluit. Almal wat teenwoordig was, moes hulle voor die beeld neerbuig wanneer die geluid van sekere musiekinstrumente gehoor is. Dit was ’n poging deur Babilon se werklike god, Satan, om die drie Hebreërs sover te kry om hulle voor ’n beeld neer te buig wat die Babiloniese Ryk verteenwoordig het. Stel jou voor dat jy op die toneel is.
9, 10. (a) Watter standpunt het die drie Hebreërs ingeneem, en hoe is hulle beloon? (b) Watter aanmoediging kan Jehovah se Getuies uit die drie Hebreërs se optrede ontvang?
9 Kyk! Die drie Hebreërs bly staan. Hulle onthou God se wet wat hulle verbied om afgode of gesnede beelde te maak en hulle te dien. Nebukadnesar stel ’n ultimatum aan hulle—buig julle neer of sterf! Maar uit lojaliteit teenoor Jehovah sê hulle: “As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.”—Daniël 3:16-18.
10 Hierdie lojale knegte van God word in die oorverhitte vuuroond gegooi. Verbaas om vier mense in die vuuroond te sien rondbeweeg, roep Nebukadnesar die drie Hebreërs uit, en hulle kom ongeskonde uit die vuuroond. Daarop roep die koning uit: “Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego, wat sy engel [die vierde persoon in die vuuroond] gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God. . . . Daar [is] geen ander god . . . wat so kan verlos nie” (Daniël 3:28, 29). Die voorbeeld van daardie drie Hebreërs wat hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het, moedig Jehovah se hedendaagse Getuies aan om lojaal teenoor God te wees, hulle neutraliteit teenoor die wêreld te handhaaf en afgodediens te vermy.—Johannes 17:16.
Afgode verloor in die hof
11, 12. (a) Watter verslag het Jesaja opgeteken waarby Jehovah en afgode betrokke was? (b) Hoe het die gode van die nasies gevaar toe hulle deur Jehovah uitgedaag is?
11 ’n Ander rede waarom ons teen afgodediens moet waak, is dat die verering van afgode nutteloos is. Hoewel sommige mensgemaakte afgode lyk asof hulle leef—hulle het dikwels ’n mond, oë en ore—kan hulle nie praat, sien of hoor nie, en hulle kan niks vir hulle aanbidders doen nie (Psalm 135:15-18). Dit is in die agtste eeu v.G.J. getoon toe God se profeet die verloop van wat as ’t ware ’n hofsaak tussen Jehovah en afgode was, in Jesaja 43:8-28 opgeteken het. In hierdie hofsaak was God se volk Israel aan die een kant en die wêreldse nasies aan die ander kant. Jehovah het die valse gode van die nasies uitgedaag om ‘die vorige dinge’ bekend te maak, om noukeurig te profeteer. Nie een kon dit doen nie. Jehovah het hom tot sy volk gewend en gesê: “Júlle is my getuies . . . en Ek is God.” Die nasies kon nie bewys dat hulle gode vóór Jehovah bestaan het of dat hulle kon profeteer nie. Maar Jehovah het Babilon se vernietiging en die verlossing van sy gevange volk voorspel.
12 Boonop sou God se verloste knegte, volgens Jesaja 44:1-8, sê hulle “behoort aan Jehovah”. Hy self het gesê: “Ek is die eerste en Ek is die laaste, buiten My is daar geen God nie.” Die afgode weerlê nie hierdie stelling nie. “Julle is my getuies”, het Jehovah weer van sy volk gesê en bygevoeg: “Is daar ’n God buiten My? Daar is geen ander Rots nie.”—NW.
13. Wat toon afgodediens omtrent ’n afgodedienaar?
13 Ons waak ook teen afgodediens omdat die beoefening daarvan ’n gebrek aan wysheid toon. ’n Afgodedienaar kies vir hom ’n boom en maak met ’n deel daarvan ’n god om te aanbid, en met ’n ander deel daarvan ’n vuur om sy kos op gaar te maak (Jesaja 44:9-17). Hoe dwaas tog! Iemand wat afgode maak en aanbid, word ook in die skande gesteek omdat hy nie ’n oortuigende getuienis kan gee om hulle godheid te bewys nie. Maar Jehovah se Godheid is onbetwisbaar, want hy het nie net die bevryding van sy volk uit Babilon voorspel nie, maar het dit ook laat plaasvind. Jerusalem is weer bewoon, die stede van Juda is herbou, en Babilon se “diep waters”—die Eufraatrivier—het as ’n bron van beskerming opgedroog (Jesaja 44:18-27, vgl. NAV). Soos God ook voorspel het, het Kores die Pers Babilon verower.—Jesaja 44:28–45:6.
14. Wat sal eens en vir altyd in die Universele Hooggeregshof bewys word?
14 Die afgode het daardie regsaak in verband met godheid verloor. En wat met Babilon gebeur het, gaan gewis met haar hedendaagse eweknie, Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gebeur. Sy en al haar gode, godsdienstoebehore en voorwerpe van afgodediens gaan binnekort vir altyd verdwyn (Openbaring 17:12–18:8). In die Universele Hooggeregshof sal daar dan eens en vir altyd bewys word dat Jehovah alleen die lewende en ware God is en dat hy sy profetiese Woord vervul.
Offerandes aan demone
15. Wat het die heilige gees en die eerste-eeuse bestuursliggaam bepaal, wat Jehovah se volk en afgodediens betref?
15 Jehovah se volk waak ook teen afgodediens omdat hulle deur God se gees en organisasie gelei word. Die eerste-eeuse bestuursliggaam van Jehovah se knegte het vir mede-Christene gesê: “Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!”—Handelinge 15:28, 29.
16. Hoe sou jy in jou eie woorde uitdruk wat Paulus gesê het oor dinge wat aan afgode geoffer word?
16 ’n Ander rede waarom ons teen afgodediens moet waak, is om demonisme te vermy. Die apostel Paulus het vir Korinthiese Christene aangaande die Here se Aandmaal gesê: “Vlug vir die afgodediens. . . . Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie? Wat sê ek dan? Dat ’n afgod iets is, of dat ’n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?”—1 Korinthiërs 10:14-22.
17. Onder watter omstandighede kon ’n Christen in die eerste eeu G.J. vleis eet wat aan afgode geoffer is, en waarom?
17 ’n Deel van ’n dier is aan ’n afgod geoffer, ’n deel daarvan is aan die priesters gegee en die aanbidder het ’n deel daarvan vir ’n fees gekry. Maar ’n deel van die vleis kon in ’n slaghuis verkoop word. Dit was onverstandig van ’n Christen om na ’n afgodstempel te gaan om vleis te eet, selfs al het hy dit nie as ’n deel van ’n ritus geëet nie, want dit kon ander laat struikel of hom by valse aanbidding betrek (1 Korinthiërs 8:1-13; Openbaring 2:12, 14, 18, 20). Die feit dat ’n dier aan ’n afgod geoffer is, het nie die vleis verander nie, en ’n Christen kon dus daarvan by ’n slaghuis koop. Dit was ook nie nodig dat hy moes vra waar die vleis vandaan kom wat hy by iemand se huis eet nie. Maar as iemand gesê het dat dit ’n “afgodsoffer” is, sou hy dit nie eet nie, sodat hy niemand sou laat struikel nie.—1 Korinthiërs 10:25-29.
18. Hoe kon diegene wat iets geëet het wat aan ’n afgod geoffer is by die demone betrokke raak?
18 Baie het geglo dat die god ná die offerplegtigheid in die vleis is en die liggaam van diegene binnegaan wat die vleis tydens die aanbidders se fees geëet het. Net soos mense wat saam eet ’n band van vriendskap onder mekaar smee, net so het diegene wat van die offerdiere geëet het, deel gehad aan die altaar en gemeenskap gehad met die demoon-god wat deur die afgod verteenwoordig is. Deur middel van sulke afgodediens het demone mense daarvan weerhou om die enigste ware God te aanbid (Jeremia 10:1-15). Dit is geen wonder nie dat Jehovah se volk hulle van dinge moes onthou wat aan afgode geoffer is! Lojaliteit teenoor God, die aanvaarding van leiding deur sy heilige gees en organisasie en ’n vasbeslotenheid om betrokkenheid by demonisme te vermy, is ook kragtige aansporings om vandag teen afgodediens te waak.
Waarom moet ons waaksaam wees?
19. Watter soort afgodediens het in eertydse Efese bestaan?
19 Christene waak noulettend teen afgodediens omdat dit in baie vorme voorkom, en omdat selfs een daad van afgodediens hulle geloof kan laat skipbreuk ly. Die apostel Johannes het vir mede-gelowiges gesê: “Waak teen die afgode” (1 Johannes 5:21, NW). Hierdie raad was gepas omdat hulle deur baie vorme van afgodediens omring was. Johannes het uit Efese geskryf, ’n stad wat deurdrenk was van magiese gebruike en mites oor valse gode. Efese het een van die sewe wonders van die wêreld gehad—die tempel van Artemis, ’n toevlugsoord vir misdadigers en ’n sentrum vir onsedelike ritusse. Die filosoof Heraklitus van Efese het die donker paadjie na daardie tempel se altaar met die duisternis van verdorwenheid vergelyk en volgens hom was tempelsedes erger as dié van diere. Efesiese Christene moes gevolglik ’n ferm standpunt teen demonisme, onsedelikheid en afgodediens inneem.
20. Waarom is dit noodsaaklik om selfs die geringste vorm van afgodediens te vermy?
20 Christene moet vasbelote wees om selfs die geringste vorm van afgodediens te vermy omdat net een daad van aanbidding teenoor die Duiwel sy uitdaging sal staaf dat mense nie onder beproewing aan God getrou sal bly nie (Job 1:8-12). Toe Satan Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” gewys het, het hy gesê: “Al hierdie dinge sal ek jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig.” Christus se weiering het Jehovah se kant van die geskil van universele soewereiniteit ondersteun en die Duiwel ’n leuenaar bewys.—Mattheüs 4:8-11, NW; Spreuke 27:11.
21. Wat het getroue Christene geweier om met betrekking tot die Romeinse keiser te doen?
21 Jesus se vroeë volgelinge sou ook nie ’n daad van aanbidding verrig om Satan se kant van die geskil te steun nie. Hoewel hulle behoorlike eerbied vir die regerings-“owerhede” gehad het, het hulle geweier om reukwerk ter ere van die Romeinse keiser te brand, al sou dit hulle hulle lewe gekos het (Romeine 13:1-7). In hierdie verband het Daniel P. Mannix geskryf: “Baie min Christene het van hulle geloof afstand gedoen, hoewel daar gewoonlik ’n altaar met ’n vuur daarop vir hulle gerief in die arena gehou is. Al wat ’n gevangene moes doen, was om ’n knippie reukwerk op die vlam te strooi en dan is daar ’n Offersertifikaat aan hom gegee en is hy vrygelaat. Daar is ook noukeurig aan hom verduidelik dat hy nie die keiser aanbid nie; maar bloot die goddelike karakter van die keiser as hoof van die Romeinse staat erken. Nogtans het byna geen Christen gebruik gemaak van die geleentheid om te ontkom nie” (Those About to Die, bladsy 137). Sal jy alle vorme van afgodediens heeltemal verwerp as jy op soortgelyke wyse getoets word?
Sal jy teen afgodediens waak?
22, 23. Waarom moet jy teen afgodediens waak?
22 Dit is duidelik dat Christene teen alle vorme van afgodediens moet waak. Jehovah vereis uitsluitlike toegewydheid. Die drie getroue Hebreërs het ’n uitstekende voorbeeld gestel deur te weier om die groot beeld te aanbid wat die Babiloniese koning Nebukadnesar laat oprig het. In die universele hofsaak wat deur die profeet Jesaja opgeteken is, is daar bewys dat Jehovah alleen die ware en lewende God is. Sy vroeë Christengetuies moes hulle altyd van dinge onthou wat aan afgode geoffer is. Die talle lojales onder hulle het nie aan druk toegegee om selfs ’n enkele daad van afgodediens te verrig wat daarop sou neerkom dat hulle Jehovah verloën nie.
23 Waak jy dus persoonlik teen afgodediens? Gee jy God jou uitsluitlike toegewydheid? Ondersteun jy Jehovah se soewereiniteit en verheerlik jy hom as die ware en lewende God? Indien wel, moet dit jou vaste voorneme wees om voort te gaan om ’n ferm standpunt teen afgodiese gebruike in te neem. Maar watter verdere skriftuurlike punte kan jou help om teen elke vorm van afgodediens te waak?
Wat dink jy?
◻ Wat is afgodediens?
◻ Waarom is Jehovah teen alle vorme van afgodediens gekant?
◻ Watter standpunt het die drie Hebreërs in verband met afgodediens ingeneem?
◻ Hoe kon diegene wat iets geëet het wat aan afgode geoffer is by die demone betrokke raak?
◻ Waarom moet ons teen afgodediens waak?
[Prent op bladsy 23]
Hoewel hulle lewe op die spel was, het die drie Hebreërs geweier om aan afgodediens deel te neem