Vrae van lesers
Wat kan ’n Christen doen wanneer hy of sy nie ’n geskikte huweliksmaat kan vind nie?
Hoewel ons toegewyde Christene is, kan ons nogtans angstig raak wanneer ons ernstig hoop op iets wat nie ’n werklikheid word nie. Ons gevoelens word goed uitgedruk in Spreuke 13:12 wat sê: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek.” Dit is hoe party Christene al gevoel het toe hulle graag wou trou maar nie ’n geskikte maat kon vind nie. Dit is veral die geval met diegene wat ‘van begeerte brand’, soos die apostel Paulus dit beskryf het.—1 Korinthiërs 7:9.
Jehovah het in mense die begeerte geplaas om ’n ware komplement in iemand van die ander geslag te vind. Daarom is dit nie verbasend dat baie jong Christene sulke emosies ondervind nie (Genesis 2:18, vgl. NW). Hierdie normale gevoelens kan na vore tree in kulture wat groot nadruk lê op trou (of om teen ’n sekere ouderdom te trou) of wanneer ongetroude Christene deur gelukkige egpare in die gemeente omring word. Maar dit is nie goed om toe te laat dat ’n mens lank angstig bly nie. Hoe kan opregte Christene dus die situasie hanteer sonder om te angstig te raak?
Dit is nie maklik nie, en ander moet nie hierdie kommer beskou asof dit eenvoudig ’n oordrywing of maar net ’n bietjie ongemak is nie. Maar die vermoë om die situasie te hanteer of op te los, hang tot ’n groot mate af van stappe wat die ongetroude persoon kan doen.
Ons vind in hierdie praktiese Bybelbeginsel ’n sleutel: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Dit is wat die ongetroude man Jesus Christus gesê het, en hy het geweet waarvan hy praat. As ons dinge vir ander doen sonder ’n selfsugtige beweegrede is dit ’n goeie manier waarop enigeen van ons gehelp kan word om gevoelens te bowe te kom wat as gevolg van uitgestelde hoop ontstaan. Wat beteken dit in die geval van die ongetroude Christen?
Doen jou bes om goeie dade vir jou eie familie en vir ander in die gemeente te doen, en doen meer in die bediening. Hierdie raad is nie net ’n manier om te sê: ‘Bly besig, en jy sal daarvan vergeet om te wil trou’ nie. Nee. As jy met hierdie produktiewe Christelike belange besig bly, sal jy moontlik vind dat jy ‘in jou hart vasstaan, en mag het oor jou eie wil’ en jou huidige omstandighede op ’n nuttige wyse kan gebruik.—1 Korinthiërs 7:37.
Party wat bitter graag wil trou, het toegelaat dat hierdie begeerte ’n allesoorheersende beheptheid word. Hulle het selfs al tot die uiterste gegaan om in koerante vir ’n maat te adverteer. Hoeveel beter is dit tog nie om meer nadruk te lê op waardering vir die voordele wat ’n mens as ongetroude persoon kan geniet nie.—Sien asseblief die artikels “Ongetroud, maar volkome vir God se diens” en “Die ongehude staat—’n lonende lewenswyse” in Die Wagtoring van 15 November 1987 en “Is die huwelik die enigste sleutel tot geluk?” in Die Wagtoring van 15 Mei 1992.
Bid tot Jehovah om hulp sodat jy in die ongehude staat kan volhard (Filippense 4:6, 7, 13). Baie ongetroude Christene het gevind dat hulle deur hulle tyd te gebruik om die Woord van God te studeer, daaroor te mediteer, Christelike vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem, bykomende ‘rus vir hulle siele’ gevind het, soos Jesus beloof het aan diegene wat hom volg (Mattheüs 11:28-30). Dit het hulle gehelp om geestelikheid aan te kweek sodat hulle beter mans of vrouens sal wees as hulle mettertyd ’n geskikte maat vind.
Moet nooit vergeet nie dat Jehovah die situasie verstaan van alle ongetroude mense wat hom dien. Hy weet dat jy moontlik voel dat jou huidige omstandighede nie is wat jy sou verkies nie. Ons liefdevolle hemelse Vader weet ook wat op die lange duur vir jou die beste is, op geestelike sowel as emosionele gebied. Jy kan op jou beurt hiervan seker wees: Deur geduldig op Jehovah te wag en deur die beginsels in sy Woord in jou daaglikse lewe toe te pas, kan jy seker wees dat hy jou belangrikste behoeftes sal bevredig op ’n manier waarby jy vir ewig baat sal vind.—Vergelyk Psalm 145:16.