Ek het bevrediging uit my diens aan God geput
SOOS VERTEL DEUR JOSHUA THONGOANA
Destyds in 1942 was ek baie verward. Ek het lektuur bestudeer wat deur die Sewendedagadventiste gepubliseer is en lektuur wat deur die Wagtoringgenootskap gepubliseer is. Soos die eertydse Israeliete het ek ‘op twee gedagtes gehink’.—1 Konings 18:21.
DIE Sewendedagadventiste het vir my gedrukte lesings genaamd “Voice of Prophecy” gestuur. Ek het dit geniet om hulle vrae te beantwoord, en hulle het belowe om vir my ’n pragtige sertifikaat te gee as ek in al my toetse slaag. Maar ek het opgemerk dat die “Voice of Prophecy” asook die publikasies van die Wagtoringgenootskap vanuit die stad Kaapstad gepos is. Ek het gewonder: ‘Ken hierdie organisasies mekaar? Stem hulle leerstellings ooreen? Indien nie, wie is reg?’
Om die probleem op te los, het ek soortgelyke briewe aan elke organisasie gestuur. Ek het byvoorbeeld aan die Wagtoringgenootskap geskryf: “Ken julle die mense wat met die ‘Voice of Prophecy’ te doen het, en indien wel, wat het julle oor hulle leerstellings te sê?” Ek het mettertyd van al twee groepe ’n antwoord ontvang. Die brief van die Wagtoringgenootskap het gesê dat hulle die “Voice of Prophecy” ken maar het verduidelik dat hulle leerstellings, soos die Drie-eenheid en dat Christus in die vlees na die aarde sal terugkeer, onskriftuurlik is. Hulle brief het tekste ingesluit wat hierdie leerstellings verkeerd bewys het.—Johannes 14:19, 28.
Die antwoord van die “Voice of Prophecy” het bloot gesê dat hulle “die Wagtoringmense” ken, maar nie met hulle leerstellings saamstem nie. Geen redes is verskaf nie. Ek het dus die Wagtoringgenootskap gekies, ’n wetlike liggaam wat deur Jehovah se Getuies gebruik word. Hoe bly is ek tog vandag, ná 50 jaar van omgang met die Getuies, dat ek daardie regte besluit geneem het!
Godsdiensagtergrond
Ek is in 1912 in ’n plattelandse gebied genaamd Makanye, oos van die Suid-Afrikaanse dorp Pietersburg, gebore. Makanye was toe onder die godsdiensbeheer van die Anglikaanse Kerk en ek het gevolglik ’n lidmaat van daardie kerk geword. Toe ek tien was, het ons gesin na ’n gebied verhuis wat deur die Lutherse Berlyn-sendingkerk oorheers is en my ouers het by daardie kerk aangesluit. Ek het spoedig voldoen aan die vereistes om die Nagmaaldiens by te woon en ’n stukkie brood en ’n slukkie wyn te gebruik, maar dit het nie my geestelike behoeftes bevredig nie.
Nadat ek agt jaar lank op skool was, het my pa my na die Kilnerton-opleidingsinstituut gestuur, en in 1935 het ek ’n Onderwyssertifikaat ontvang nadat ek drie jaar lank gestudeer het. Een van die onderwyseresse saam met wie ek gewerk het, was ’n jong vrou, Caroline. Ons is getroud, en Caroline het later geboorte gegee aan ’n babadogter wat ons Damaris genoem het. Ek het ’n paar jaar later die skoolhoof by die Sehlale-skool in die plattelandse dorpie Mamatsha geword. Aangesien die skool deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk bestuur is, het ons by daardie kerk aangesluit en gereeld sy dienste bygewoon. Ons het dit gedoen omdat dit in die mode was, maar ek het nie bevrediging daaruit geput nie.
’n Keerpunt
Een Sondag in 1942 het ons gesange by die kerk geoefen toe ’n jong witman in die deur verskyn het met drie boeke wat deur die Wagtoringgenootskap gepubliseer is—Creation, Regverdiging en Voorbereiding. Ek het gedink dat die boeke mooi sou lyk op my biblioteekrak en het dus die boeke teen drie sjielings aanvaar. Ek het later gehoor dat die man, Tienie Bezuidenhout, een van Jehovah se Getuies is en die enigste een in die gebied is. Met Tienie se volgende besoek het hy ’n grammofoon gebring en ’n paar van regter Rutherford se lesings gespeel. Ek het die een bekend as “Strik en bedrogspul” terdeë geniet, maar Caroline en my suster Priscilla, wat by ons gewoon het, het nie. Met Tienie se derde besoek het hy vir my die grammofoon gegee sodat ek die plate vir vriende kon speel.
Ek het eendag deur die boek Creation geblaai en die hoofstuk “Waar is die dooies?” gesien. Ek het begin lees in die hoop dat ek sal leer oor die vreugdes wat die ontslape siele in die hemel ondervind. Maar in teenstelling met my verwagtinge het die boek gesê dat die dooies in hulle grafte is en niks weet nie. Verse uit die Bybel, soos Prediker 9:5, 10, is ter ondersteuning aangehaal. ’n Ander hoofstuk het die titel “Die dooies word opgewek” gehad, en Johannes 5:28, 29 is aangehaal om te bewys dat die dooies onbewus is van alles en op ’n opstanding wag. Dit het sin gehad. Ek het bevrediging daaruit geput.
Dit was op daardie tydstip, in 1942, dat ek my verbintenis met die “Voice of Prophecy” verbreek het en begin het om ander te vertel van die dinge wat ek uit die Wagtoringgenootskap se publikasies geleer het. Een van die eerstes om daarop te reageer, was ’n vriend, Judah Letsoalo, wat een van my klasmaats by die Kilnerton-opleidingsinstituut was.
Ek en Judah het 51 kilometer per fiets afgelê om ’n byeenkoms van swart Getuies in Pietersburg by te woon. Daarna het vriende van Pietersburg dikwels al die pad na Mamatsha gekom om my te help om die Koninkryksboodskap aan my bure te verkondig. Ek is uiteindelik, in Desember 1944, by ’n ander byeenkoms in Pietersburg as ’n simbool van my toewyding aan Jehovah gedoop.
My familie en ander reageer
Caroline, Priscilla en my dogter Damaris het voortgegaan om die Nederduitse Gereformeerde Kerk se dienste by te woon. Toe het ’n ramp ons getref. Caroline het geboorte gegee aan ons tweede kind—’n skynbaar gesonde babaseuntjie wat ons Samuel genoem het. Maar hy het skielik siek geword en gesterf. Caroline se vriende van die kerk het geen vertroosting gebied nie, want hulle het gesê dat God ons seun wou hê om saam met hom in die hemel te wees. In haar ellende het Caroline bly vra: “Waarom sou God ons seun wegneem”?
Toe die Getuies in Pietersburg van ons ramp gehoor het, het hulle ons besoek en vir ons ware vertroosting gebied wat op God se Woord gegrond was. Caroline het later gesê: “Wat die Bybel gesê het oor die oorsaak van die dood, oor die toestand van die dooies en oor die opstandingshoop het sin gehad en ek is grootliks vertroos. Ek wou in die nuwe wêreld wees en my seun uit die graf verwelkom.”
Caroline het opgehou om die kerkdienste by te woon, en in 1946 is sy, Priscilla en Judah gedoop. Kort nadat Judah gedoop is, het hy ons verlaat om die predikingswerk in ’n plattelandse gebied, Mamahlola, te begin, en hy het tot en met sy dood in 1991 getrou gebly.
Toe Judah weg is, was ek die enigste oorblywende man om na ons gemeente, wat Boyne genoem is, om te sien. Toe het Gracely Mahlatji na ons gebied verhuis, en is hy uiteindelik met Priscilla getroud. Ek en Gracely het elke week om die beurt ’n openbare toespraak gehou in Sepedi, die plaaslike Afrika-taal. Die Genootskap het my gevra om lektuur in Sepedi te vertaal sodat die mense Bybellektuur kon hê. Ek het groot bevrediging daaruit geput wanneer ek gesien het hoe mense by hierdie lektuur baat vind.
Om mense meer bewus te maak van ons openbare vergaderingkampanje, het ons ’n grammofoon met ’n groot luidspreker gekoop sodat ons Bybellesings deur ons hele gebied kon speel. Ons het ’n donkiekar geleen om hierdie swaar toerusting van plek tot plek te vervoer. Die gevolg was dat ons bure ons die bynaam “Mense van die Donkiekerk” gegee het.
Intussen het ons gemeentetjie aanhou groei. My twee ouer susters en hulle mans het uiteindelik Getuies geword en almal het tot en met hulle dood getrou gebly. Baie van die Boyne-gemeente (nou Mphogodiba genoem) het die voltydse evangelisasiewerk betree, en ’n paar verrig steeds daardie werk. Nou is daar twee gemeentes in hierdie uitgestrekte gebied van verspreide plattelandse dorpies en is daar altesaam meer as 70 verkondigers in die predikingswerk bedrywig.
’n Nuwe loopbaan
Ek het in 1949 opgehou skoolhou en ’n gewone pionierbedienaar geword. My eerste toewysing was om swart plaaswerkers te besoek wat op plase met wit eienaars gewoon het en om Vaalwater in die Transvaal geleë was. Party plaaseienaars was voorstanders van die apartheidsbeleid wat toe onlangs aangeneem is, en hulle was vasbeslote dat swart mense hulle oënskynlike minderwaardigheid ten opsigte van wit mense moes erken en hulle wit base moes dien. Wanneer ek dan vir swart werkers gepreek het, het party wit mense gedink dat ek opstandigheid preek. Party het my selfs daarvan beskuldig dat ek ’n Kommunis is en het gedreig om my te skiet.
Ek het die Wagtoringgenootskap se takkantoor laat weet van die situasie, en ek is spoedig na ’n ander toewysing in ’n plattelandse gebied genaamd Duiwelskloof verplaas. My vrou het ook op ongeveer hierdie tydstip uit haar werk as onderwyseres bedank en haar by my in die pionierdiens aangesluit. Een middag in 1950 het ons met ons terugkeer uit die velddiens ’n groot koevert van die Genootskap gevind. Tot ons verbasing het dit my uitgenooi om opleiding as ’n reisende opsiener te ontvang. Ons het drie jaar lank gemeentes in Suid-Afrika besoek, en in 1953 is ons toe na Lesotho gestuur, ’n land wat deur ander lande omring is in die hartjie van Suid-Afrika.
Die predikingswerk in Lesotho en Botswana
Toe ons in Lesotho begin dien het, was daar baie gerugte dat vreemdelinge dikwels die teiken van rituele moord was. Ek en my vrou was bekommerd, maar die liefde van ons Sothobroers en hulle gasvryheid het ons spoedig gehelp om sulke vrese te vergeet.
Ten einde gemeentes in Lesotho se Malutiberge te bedien, moes ek per vliegtuig ry en my vrou in die laaglande agterlaat waar sy met die pionierdiens voortgegaan het totdat ek teruggekeer het. Die vriende het my vriendelik van die een gemeente na die ander vergesel om te help verhoed dat ek in die berge verdwaal.
Daar is eenkeer vir my gesê dat ons die Oranjerivier te perd sou moes oorsteek om die volgende gemeente te bereik. Ek is daarvan verseker dat my perd mak is, maar gewaarsku dat perde dikwels probeer om hulle vrag af te gooi wanneer die water te sterk word. Ek was bekommerd omdat ek nie ’n goeie ruiter of ’n goeie swemmer is nie. Ons was spoedig in die rivier en die water het tot aan die saals gekom. Ek was so bang dat ek die teuels gelos en aan die perd se maanhare vasgeklou het. Wat ’n verligting was dit tog toe ons veilig op die oorkantste oewer aangekom het!
Ek kon daardie aand skaars slaap omdat my liggaam so seer was van die perdry. Maar dit was al die ongemak werd aangesien die vriende groot waardering vir die besoek getoon het. Toe ek met die kringwerk in Lesotho begin het, was daar ’n hoogtepunt van 113 verkondigers. Vandag het daardie syfer tot 1 649 gestyg.
In 1956 is ons gestuur om in die Betsjoeanaland-protektoraat, wat nou Botswana genoem word, te preek. Botswana is ’n veel groter land en baie langer afstande moes afgelê word om al die verkondigers te bereik. Ons het per trein of in ’n oop vragmotor gereis. Daar was geen sitplekke nie en ons moes dus op die vloer by ons bagasie sit. Ons het dikwels vol stof en moeg by ons bestemming aangekom. Ons Christenbroers het ons altyd verwelkom en hulle gelukkige gesigte het ons verkwik.
Daar was op daardie tydstip ’n verbod op die Genootskap se publikasies in Botswana, en ons het ons prediking van huis tot huis versigtig gedoen sonder om die Genootskap se lektuur te gebruik. Ons is eenkeer betrap waar ons naby die dorpie Maphashalala gewerk het en is gearresteer. Ter verdediging het ons uit die Bybel gelees en verwys na ons opdrag soos dit in Mattheüs 28:19 opgeteken is. Hoewel party van die raadgewers beïndruk was, het die hoofman beveel dat die plaaslike Getuies gegesel word. Toe het die geestelike, tot ons verbasing, by die hoofman gepleit om genadig te wees en ons te verskoon. Die hoofman het ingewillig en ons is vrygelaat.
Ten spyte van die vervolging en die verbod op ons lektuur het die Koninkrykswerk steeds gevorder. Toe ek in Botswana aangekom het, was daar ’n hoogtepunt van 154 verkondigers. Drie jaar later toe die verbod opgehef is, het daardie syfer tot 192 gestyg. Vandag is daar 777 Getuies van Jehovah wat in daardie land preek.
Opleiding en vertaling
Ek is mettertyd gebruik as ’n instrukteur in die Koninkryksbedieningskool vir Christen- ouere manne. Later het ek die voorreg geniet om ’n instrukteur in die Pionierdiensskool te wees. Ek en my vrou het ook af en toe in die Suid-Afrikaanse takkantoor gedien. By sulke geleenthede het ek met vertaalwerk gehelp, en Caroline het in die kombuis gewerk.
Een dag in 1969 het die takopsiener, Frans Muller, na my gekom en gesê: “Broer Thongoana, ek wil jou en jou vrou asseblief in my kantoor spreek.” Daar het hy verduidelik dat ons onder die afgevaardiges is wat gekies is om na 1969 se “Vrede op Aarde”-Byeenkoms in Londen te gaan. Ons het die liefdevolle gasvryheid van ons broers in Engeland en Skotland geniet, en dit het ons waardering vir die wêreldwye broederskap grootliks laat toeneem.
Caroline was die afgelope vier dekades ’n lojale metgesel in ons loopbaan as voltydse evangeliedienaars. Ons het saam baie vreugdes en soms hartseer ondervind. Hoewel twee van ons kinders gesterf het, het ons dogter, Damaris, grootgeword en ’n goeie Getuie geword en het sy ook vertaalwerk by die Suid-Afrikaanse takkantoor gedoen.
Weens ons gesondheid kan ons nie meer aan die reisende werk deelneem nie en daarom is ons die laaste paar jaar spesiale pioniers in ’n gemeente in Seshego, ’n swart woonbuurt naby Pietersburg. Ek dien as ’n presiderende opsiener. Die Bybel sê “versadiging van vreugde is voor [Jehovah se] aangesig”, en ek het inderdaad vreugde en bevrediging geput uit my diens aan God in suidelike Afrika.—Psalm 16:11.
[Prent op bladsy 26]
Getuieniswerk in Seshego-woonbuurt, Suid-Afrika