“Goeiemôre! Weet u wat God se naam is?”
DIE takkantoor van Jehovah se Getuies in Brasilië het die volgende brief van 12-jarige tweelingsusters in die stad Fortaleza ontvang:
“Toe ons in 1990 in standerd drie was, het ons skool ’n tentoonstelling gereël wat oor die wetenskap, kuns en kultuur gehandel het. Ons het aan die onderwyser verduidelik dat ons wou hê ons aanbieding moes verskil van wat die ander leerlinge beplan het. Aangesien sy tevore al gehoor het wanneer ons oor Jehovah en die Bybel gepraat het, het sy voorgestel: ‘Dan kan julle oor julle God skryf!’
“Ons het dit beskou as ’n geleentheid om ’n getuienis te gee en het besluit om ’n tentoonstelling te reël met Bybellektuur wat Jehovah se naam beklemtoon. Ons het ’n vergrote weergawe van die woorde van Psalm 83:18 (NW) gemaak en dit op ’n prentjie van ’n oop Bybel geplak. Ons het ook verskillende Bybelvertalings waarin die naam Jehovah voorkom op ’n tafel uitgestal. Ons het op dieselfde tafel ’n verskeidenheid Bybellektuur vertoon. Op die punt van die tafel het ons ’n videokassetopnemer en ’n TV-stel opgestel om vir besoekers ’n voorbeeld te wys van waar die naam Jehovah in ’n baie gewilde rolprent gebruik is.
“Wanneer iemand gedurende die tentoonstelling na ons tafel toe gekom het, het ons gesê: ‘Goeiemôre! Weet u wat God se naam is?’ Nadat ons die besoeker die geleentheid gegee het om te antwoord, het ons verder gesê: ‘Kyk hier! Verskeie Bybelvertalings toon dat sy naam Jehovah is’, en die naam in verskillende Bybels uitgewys, soos dié van João Ferreira de Almeida, The Jerusalem Bible en die New World Translation. Dan het ons die toneel vertoon waar die hoofspeler van die rolprent beklemtoon dat God se naam Jehovah is. Wanneer mense belangstelling getoon het, het ons vir hulle ’n tydskrif of ’n traktaat met verdere inligting gegee.
“Een van die jongmense wat na ons tafel toe gekom het, het die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gevra. Ons onderwyser het na die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou gekyk en gesê: ‘Goeiste! Wat ’n interessante boek!’ Teen die einde van die tentoonstelling het ons 7 boeke, 18 traktate en 67 tydskrifte versprei. Ons het die derde plek by die tentoonstelling behaal. Maar ons was veral verheug omdat ons die voorreg gehad het om die Goddelike naam, Jehovah, bekend te maak.”