Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 3/1 bl. 24-25
  • Wees bly! Die kuipe loop oor van olie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees bly! Die kuipe loop oor van olie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Vloeibare goud van die Mediterreense streek
    Ontwaak!—2008
  • Veeldoelige olyfolie
    Ontwaak!—1992
  • ’n Blaarryke olyfboom in die huis van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Kan ’n afgekapte boom weer uitspruit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 3/1 bl. 24-25

Tonele uit die Beloofde Land

Wees bly! Die kuipe loop oor van olie

DIE profeet Joël het die ‘kinders van Sion’ aangespoor om te ‘juig en bly te wees in die HERE’. Hy het olyfolie gebruik om hulle vreugde en voorspoed te beskryf: “Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.”—Joël 2:23, 24.

As jy in Bybeltye in Israel gewoon het, sou jy baie in jou skik gewees het as jy ’n olyfboom soos die een hierbo naby jou huis of in jou lande gehad het.a Dit sou jou lewe makliker en aangenamer gemaak het. Wat het ’n olyfboom so belangrik gemaak?—Vergelyk Rigters 9:8, 9.

Bekyk jou boom eers goed. Olyfbome kan eeue lank lewe, party meer as duisend jaar, en as jy dus die stam ondersoek, sal jy waarskynlik vind dat dit vergroeid en askleurig is. Jou boom is dalk tot ses meter hoog, beslis nie so toringhoog soos ’n seder of so grasieus soos ’n palmboom nie. Sy immergroenblare met hulle silwer glans gee regdeur die jaar koelte. Nogtans sal jy nie jou boom hoofsaaklik vir sy voorkoms of sy skadu waardeer nie. Alles behalwe.

Dit is die vrugte wat waardevol is, daardie duisende groen of swart olywe! Dít is wat die olyfboom ’n sleutelfaktor in die lewe en bedrywighede in Israel gemaak het. In Mei is die boom met ligte blomme oortrek ter voorbereiding vir die olyfvruggies (Job 15:33). Soos hulle ryp word, kan hulle van geelgroen na donkerbruin of swart verkleur.

Dit was harde werk om die olywe gedurende Oktober/November te oes. Jy sou die boom met stokke moes slaan sodat die ryp vrugte op die doeke kon val wat onder oopgesprei was (Deuteronomium 24:20). Die olywe sou gewas word voordat hulle verwerk is deur hulle byvoorbeeld in soutwater te week om die bitter smaak wat hulle gewoonlik het te verwyder. Wat dan?

Dit sou afhang van hoe jy jou ryk oes wou geniet of daarby wou baat vind. Jy kon die olywe rou eet, of jy kon hulle inmaak sodat jou gesin maande lank ’n smaaklike voorraad olywe kon hê. Olywe kon ’n belangrike deel van die dieet uitmaak, soos wanneer ’n maal uit ’n paar smaaklike olywe saam met garsbrode bestaan het.

Maar jy sou waarskynlik die meeste olywe deur die proses laat gaan wat nodig is om daardie uiters bruikbare en waardevolle produk—olyfolie—te verkry. Jy kon olie van verskillende gehalte verkry wat jy op baie maniere kon gebruik. Eerstens kon jy die ryp olywe liggies in ’n vysel stamp of pers of hulle selfs uittrap (Miga 6:15). Dit het die beste olie, wat vandag ekstra suiwer genoem word, gelewer wat geskik was vir die lampe wat die tabernakel verlig het (Exodus 25:37; 27:20, 21). Dink net hoe graag jy olie van hierdie gehalte met spesiale geleenthede in jou kos sou wou gebruik!

Olywe, selfs dié van ’n swakker gehalte, kon in ’n pers gesit word om baie meer olie uit die pulp te pers, hoewel dit van ’n swakker gehalte was. Ongeveer 50 persent van die pulp is olie. Verskillende soorte perse kon gebruik word, maar een word hier geïllustreer. Heel of gedeeltelik gepersde olywe is in ’n silindervormige basis geplaas. ’n Meulsteen, gedraai deur ’n donkie of ’n mens, het oor hulle gerol en die olie uitgepers wat afgeloop en in kruike opgevang is.—Mattheüs 18:6.

Olyfolie kan met vloeibare goud vergelyk word—dit was so waardevol en dit het soveel gebruike gehad. Een boom kon ’n jaar se olievoorraad vir ’n gesin van vyf of ses voorsien. Dit was ’n belangrike deel van hulle dieet omdat dit maklik verteer word en ryk aan energie is. (Vergelyk Jeremia 41:8; Esegiël 16:13.) Jy parfumeer dalk van die olie en gebruik dit as ’n skoonheidsmiddel of gooi daarvan oor ’n gas se kop as ’n gebaar van gasvryheid (2 Samuel 12:20; Psalm 45:8; Lukas 7:46, NAV). Jy kon dit gebruik as ’n strelende geneesmiddel vir wonde.—Jesaja 1:6; Markus 6:13; Lukas 10:34.

Dit sou nie die enigste gebruike vir ’n ryk voorraad olyfolie wees nie. Jy kon dit ook gebruik het om jou huis te verlig, as deel van ’n offerande aan God of as ’n produk vir winsgewende handel. Ja, in Bybeltye was die olyfboom ’n uiters waardevolle plant, en Joël kon dit dus gepas gebruik om voorspoed en vreugde af te beeld.—Deuteronomium 6:11; Psalm 52:10; Jeremia 11:16; Mattheüs 25:3-8.

[Voetnoot]

a ’n Vergroting van hierdie foto verskyn in Jehovah se Getuies se kalender vir 1993.

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel