Veeldoelige olyfolie
SAL dit jou verbaas om te hoor dat olyfolie ’n vrugtesap is? Moontlik nie as jy in ’n land in die Middellandse See-gebied woon nie. Trouens, na raming word ongeveer 98 persent van die 800 miljoen olyfbome wat wêreldwyd aangeplant is in die Middellandse See-gebied aangetref. Hier speel olyfolie al duisende jare lank ’n belangrike rol in mense se lewe.
Die olyf is, eenvoudig gestel, die vrug van ’n immergroen boom, en daar word hoofsaaklik olyfolie uit die olyf gepers. Omdat die olyfboom stadig groei, kan dit tot tien jaar of langer duur voordat dit goed dra. Daarna kan die boom honderde jare lank vrugte dra. In Palestina is daar glo olyfbome wat meer as duisend jaar oud is!
Die vervaardiging van olyfolie begin wanneer die olywe met meulstene gestamp word. Hierdie proses lewer ’n pulp waaruit die sap deur middel van hidrouliese perse gepers word. Maar dit is nie gewone vrugtesap nie. Dit is eintlik ’n mengsel van water en olie. Nadat die water verwyder is, word die olie gegradeer, geberg en vir verbruik gebottel.
Sy eertydse gebruike
Die veeldoeligheid van olyfolie kon veral in die antieke wêreld gesien word. Olyfolie is byvoorbeeld in Egipte as ’n smeerolie gebruik wanneer swaar boumateriaal verskuif moes word. Behalwe dat olyfolie ’n basiese voedselsoort was, is dit in die Midde-Ooste as ’n skoonheidsmiddel en as brandstof vir lampe gebruik.
Volgens ’n aantal Bybelverslae is olyfolie met ’n bietjie reukwater daarin as ’n velroom gebruik. Dit is ook gewoonlik as beskerming teen die son aan die vel gesmeer en ná ’n bad (Rut 3:3). Dit is as ’n blyk van gasvryheid beskou om ’n gas se hoof met olie te salf (Lukas 7:44-46). Die olie het ook ’n mediese doel gedien aangesien dit gebruik is om kneusplekke en wonde te streel (Jesaja 1:6; Lukas 10:33, 34). En olyfolie is waarskynlik as ’n bestanddeel gebruik wanneer ’n lyk vir die begrafnis voorberei is.—Markus 14:8; Lukas 23:56.
Watter soort olie het Jehovah as ’n bestanddeel voorgeskryf toe hy Moses beveel het om die “heilige salfolie” te maak? Ja, die suiwerste olyfolie! Moses het ook die tabernakel, die meubels daarin, die heilige gereedskap en selfs die verbondsark daarmee gesalf. Aäron en sy seuns is met hierdie olie gesalf om hulle as priesters van Jehovah te heilig (Exodus 30:22-30; Levitikus 8:10-12). Israel se konings is eweneens gesalf met olyfolie wat op hulle hoofde uitgegiet is.—1 Samuel 10:1; 1 Konings 1:39.
Wat het gewoonlik as brandstof vir eertydse lampe gedien? Die antwoord is in Exodus 27:20. Dit was weer die veeldoelige olyfolie! In Jehovah se tempel was daar tien groot goue kandelare wat met olyfolie van die hoogste gehalte gebrand het. Die olie is ook gebruik in verband met graanoffers en die “voortdurende brandoffer” wat vir Jehovah aangebied is.—Exodus 29:40, 42.
Olyfolie is as so ’n kosbare artikel beskou dat Salomo dit selfs as deel van koning Hiram van Tirus se betaling vir boumateriaal vir die tempel gebruik het (1 Konings 5:10, 11). Olyfolie, wat vandag as ’n kragvoedsel en een van die verteerbaarste vette erken word, was ook ’n hoofbestanddeel van die Israeliete se dieet.
Sy hedendaagse gebruike
Olyfolie is vandag nog net so veeldoelig. Daar is olyfolieprodukte in skoonheidsmiddels, skoonmaakmiddels, medisyne en selfs weefstowwe. Maar die olie dien steeds hoofsaaklik as voedsel. Hoewel dit verreweg die gewildste in Europa en die Midde-Ooste is, het die vraag daarna in onlangse jare ook in ander lande toegeneem.
Volgens Consumer Reports het olyfolieverkope in die Verenigde State byvoorbeeld “tussen 1985 en 1990 meer as verdubbel”. Waarom? Een rede is dat olyfolie blykbaar ’n goeie bron van vitamien E is. ’n Aantal onlangse studies het ook aan die lig gebring dat die inname van die mono-onversadigde vette in olyfolie moontlik goed is vir die hart en nie newe-effekte het nie. ’n Ander studie het bevind dat olyfolie die bloeddruk kan laat daal en die bloedsuiker kan verminder.
Sommige deskundiges het al ’n vetryke dieet, met mono-onversadigde vette soos dié in olyfolie as grondslag, aanbeveel. Consumer Reports het opgemerk dat sulke aanbevelings “nogal opslae gemaak het, want vir dieetkundiges is dit feitlik onmoontlik om te dink dat enige vetryke dieet goed kan wees vir die hart. Mono-onversadigde vette het gou meer aandag van die pers geniet en olyfolieverkope het vinnig gestyg.”
Word hierdie bewerings algemeen aanvaar? Daar is blykbaar min onenigheid oor die bewering dat die mono-onversadigde vette in olywe, avokado’s en sommige neute gesonder is as die poli-onversadigde en versadigde vette in ander voedselsoorte. Maar sommige deskundiges meen dat die ander bewerings effens oordryf is. Consumer Reports verduidelik byvoorbeeld: “Sommige advertensies het gespog dat ‘die mediese wetenskap [al] bevestig het dat olyfolie cholesterol, bloeddruk en bloedsuiker kan laat daal’. Maar volgens een navorser, dr. Margo Denke, . . . was die verskil in die bloeddruk en die bloedsuiker so gering dat dit ‘klinies onbeduidend’ is.”
’n Groep navorsers het hierdie raad gegee: “Alle olyfolie, hetsy dit ‘lig’ is of nie, is 100 persent vet en bevat ongeveer 522 kilojoules per eetlepel. Net om daardie rede kan dit slegs ’n beperkte rol in ’n gesonde dieet speel. Olyfolie se moontlike gesondheidsvoordele kom uitsluitlik uit sy gebruik as ’n plaasvervanger vir botter, margarien en ander plantolies—en selfs daardie voordele is al oordryf.” Die Internasionale Olyfolieraad het met goeie rede hierdie waarskuwing gegee: “Voor jy te geesdriftig raak en [liters] olyfolie by jou dieet voeg, is ’n paar woordjies van waarskuwing gepas. As jy baie olyfolie inneem, sal jy moontlik gesond bly, maar nie noodwendig maer nie.”
Matigheid is vandag, soos in die ou tyd, die sleutel tot genot wanneer dit by voedsel en die ander gawes van Jehovah kom. Met dit in gedagte kan jy, of jy nou in die Middellandse See-streek of elders woon, gerus die lekkerte en die voordele van veeldoelige olyfolie geniet!
[Venster/Prent op bladsy 26]
Soorte olyfolie
○ Ekstra suiwer: Die beste soort olyfolie. Dit word sonder die gebruik van oplosmiddels uit olywe van die hoogste gehalte gepers. Dit word dikwels “koudgeperste” olie genoem omdat dit teen kamertemperatuur uitgepers word. Dit bevat baie min onvermengde oleïensuur. Hierdie vetsuur kan die smaak van olyfolie bederf. Ekstra suiwer olyfolie bied die grootste verskeidenheid smake en geure.
○ Suiwer: Dit word op dieselfde manier as ekstra suiwer olyfolie verkry, maar dit bevat meer onvermengde oleïensuur.
○ Olyfolie: Van die olie wat “koudgepers” is, word nie as geskik beskou om ingeneem te word nie weens die suurgehalte of ’n onaangename smaak, kleur of reuk. Vervaardigers gebruik oplosmiddels om hierdie soort olie te raffineer. Die oplosmiddels word dan deur middel van hitte verwyder. Dit het ’n byna kleurlose en smaaklose olie tot gevolg. Hierdie olie word dan met suiwer olyfolie van hoë gehalte vermeng. Dit is voorheen as “suiwer olyfolie” verkoop, maar daardie naam word sedert 1991 nie meer gebruik nie. Nou word dit eenvoudig “olyfolie” genoem.
○ Olyfpulpolie: Pulp is wat agterbly nadat die olie en die water deur meganiese en fisiese verwerking uit die olywe verwyder is. Daar kan nog olie deur middel van oplosmiddels uit die pulp verwyder word. Hierdie olie word dan geraffineer en met die suiwer olyfolie van ’n hoër gehalte vermeng.
○ Ligte olyfolie: Dit is nie ’n spesifieke soort olie nie. Dit is bloot geraffineerde olyfolie wat met kleiner hoeveelhede suiwer olyfolie vermeng is. Die woord “ligte” het niks met die vetgehalte van die olie te doen nie, aangesien alle olyfolie 100 persent vet is. Dit het eerder met sy ligter kleur, geur en smaak te doen.
[Venster op bladsy 27]
Het jy geweet . . . ?
○ Vars olywe bevat oleuropein, iets bitters wat hulle onsmaaklik maak tot hulle op een of ander manier verwerk word. Die tydskrif Natural History verduidelik dat olywe, voor hulle geëet word, “in sout gepreserveer kan word; gepekel kan word; baie dae lank, elke keer in skoon water, geweek kan word; selfs net buite in die son gelaat kan word”. Maar nie een van hierdie stappe is nodig indien olie uit die olywe gepers gaan word nie.
○ Alle olyfolie smaak nie dieselfde nie. Daar is ’n groot verskeidenheid natuurlike smake, kleure en geure. Volgens die Internasionale Olyfolieraad “gradeer fynproewers olyfolie gewoonlik as matig (delikaat, lig of ‘botteragtig’); semi-vrugtegeur (sterker, met ’n sterker olyfsmaak) en vrugtegeur (olie wat heeltemal na olyf smaak)”.
○ Olyfolie word troebel en dik wanneer dit verkoel word. Dit is nie ’n teken van bederf nie; teen kamertemperatuur sal dit gou weer helder word. Olyfolie kan eintlik maande lank sonder verkoeling geberg word.