Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 3/1 bl. 26-29
  • Jehovah het my in ’n woestyntronk onderskraag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het my in ’n woestyntronk onderskraag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons word in hegtenis geneem
  • Terwyl ons aangehou is
  • ’n Woestyntronk
  • Lewe in die tronk
  • Ons bly geestelik sterk
  • Kommunikasie met ons vriende
  • Uiteindelik vrygelaat!
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • My ontvlugting na die waarheid
    Ontwaak!—1994
  • Hoe ek daarin geslaag het om ’n Christengesin groot te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 3/1 bl. 26-29

Jehovah het my in ’n woestyntronk onderskraag

SOOS VERTEL DEUR ISAIAH MNWE

Daar was geen verhoor nie, en ek het geen misdaad gepleeg nie. Tog is ek gevonnis tot dwangarbeid in ’n strafkolonie in die middel van Afrika se snikhete Saharawoestyn. Wat dit erger gemaak het, was dat nie een van my vriende geweet het waar ek is nie. Dit het meer as agt jaar gelede, in die somer van 1984, gebeur. Laat ek verduidelik hoe ek in daardie aaklige situasie beland het.

IN 1958, toe ek maar 12 jaar oud was, het my ouer broer een van Jehovah se Getuies geword. My vader en moeder het egter voortgegaan om die stamgode te aanbid van die Abia-staat, in Nigerië, waar ons gewoon het.

In 1968 het ek by die weermag van Biafra aangesluit. Terwyl ek in die loopgrawe was, het ek oor die neutrale standpunt van Jehovah se Getuies gedink, en ek het tot God gebid om my te help. Ek het hom belowe dat ek een van sy Getuies sou word, as hy my die oorlog sou laat oorleef.

Na die oorlog het ek vinnig stappe gedoen om my belofte na te kom. Ek is in Julie 1970 gedoop en het dadelik die voltydse bediening as ’n pionier betree. Mettertyd is ek as ’n ouere man in die Christengemeente aangestel. Kort daarna het ek ’n uitnodiging van die Nigeriese takkantoor ontvang om as ’n sendeling in ’n naburige land te gaan dien waar die werk van Jehovah se Getuies nie wetlik erken was nie. Ek het dit aanvaar en teen Januarie 1975 was ek, paspoort in die hand, daarheen op pad.

Ons word in hegtenis geneem

In 1978 is ek aangewys om die Getuies oor die hele land te besoek. Aangesien daar min van hulle was, het ek ver gereis om al die stede met gemeentes, asook gebiede waar daar belangstellendes was, te besoek. Ek is dikwels by polisiekontrolepunte ondervra. Hulle het my twee keer vier dae lank aangehou en oor ons werk ondervra.

Toe, in Junie 1984, terwyl ons een Sondag vir die veldbediening voorberei het, het ’n goedgesinde amptenaar ons in kennis gestel dat die polisie daarop uit is om Jehovah se Getuies in hegtenis te neem. ’n Week later is ek en Djagli Koffivi, van Togo, gearresteer. Ons is na die polisiehoofkwartier geneem en beveel om die name van al Jehovah se Getuies in die stad vir hulle te gee. “Tensy julle vir ons die name gee”, het hulle gesê, “sal ons julle nie laat gaan nie.”

“Julle is die polisie”, het ek geantwoord. “Dit is julle taak om die mense wat julle wil hê, te vind. Ek is nie julle agent nie.” Ons het ongeveer 30 minute lank gestry, en die polisie het gedreig om ons te slaan. Nogtans het ons nie die name van ons Christenbroers vir hulle gegee nie. Hulle het toe besluit om my groot versameling Bybelnaslaanwerke te konfiskeer.

Terwyl ons aangehou is

Nadat hulle met die boeke na die polisiestasie teruggekeer het, het ek en Djagli dit afgelaai. Terwyl ons dit gedoen het, het ’n vel papier uit my grootdrukbybel geglip. Dit was ’n Streekbyeenkomsprogram waarop die name van al die Christen- ouere manne in die land gedruk was. Ek het dit vinnig opgetel en in my sak geprop. Een van die polisiemanne het my egter gesien en my beveel om dit vir hom te gee. Ek het natuurlik verskriklik gevoel.

Hy het die vel papier op die tafel neergesit in die vertrek waarheen ek en Djagli die boeke gebring het. Toe ek met my volgende pak boeke binnekom, het ek na die tafel gegaan, die vel papier opgetel en dit in my sak gedruk. Toe het ek gesê dat ek toilet toe moes gaan. ’n Polisieman het my na die toilette geneem. Nadat ek ingegaan en die deur toegemaak het, het ek die vel papier in stukke geskeur en dit in die toilet afgespoel.

Toe die polisiemanne agterkom wat gebeur het, was hulle woedend. Maar hulle was bang om teen ons op te tree, omdat hulle toegelaat het dat ek die geleentheid kry om die vel papier te vernietig en hulle bevelvoerders hulle van nalatigheid sou beskuldig. Nadat ons 17 dae aangehou is, het ’n polisie-inspekteur ons aangesê om ons besittings bymekaar te kry, omdat ons verskuif gaan word. Ons het ’n paar kledingstukke in ’n plastieksak gesit en heel onderin ’n Bybeltjie wat ’n besoeker vir ons ingesmokkel het.

Ons het die Getuies laat weet dat ons verskuif word, maar ons het nie geweet waarheen nie. Vroeg die volgende oggend, op 4 Julie 1984, het die polisie-inspekteur ons wakker gemaak. Hy het ons deurgesoek en gevra dat ons die klere uit die sak haal en oor ons arms hang. Maar toe ek by die laaste hemp kom, het hy gesê ek kan die klere terugsit, en die Bybel is dus nie ontdek nie.

’n Woestyntronk

Die polisie het ons na die lughawe geneem waar ons op ’n militêre vliegtuig geklim het. Ure later het ons by ’n dorp met ongeveer 2 000 inwoners geland, met ’n tronk daar naby. Dit is ongeveer 650 kilometer padlangs na die naaste dorp. Ons is van die vliegtuig na die tronk geneem en aan die tronk se superintendent oorgegee. Nie een van ons familielede of vriende het geweet waarheen ons geneem is nie.

Die dorp waarheen ons geneem is, is ’n oase in die Sahara. Daar is struike, ’n paar bome en geboue met mure van droë modder. Water kan verkry word deur net ’n meter of ’n half diep te grawe. Tog het ’n 31-jarige boorling van die gebied ons vertel dat hy dit nog net een keer in sy lewe sien reën het! En die gebied was ontsaglik warm. Een van die gevangenes het gesê dat ’n termometer in die gevangenes se kwartier al 60 grade Celsius gemeet het! ’n Sterk wind het voortdurend gewaai, en die opgewaaide sand het jou vel gesteek en jou oë gebrand.

Enigiemand wat by daardie plek aankom, sal besef dat hy by die land se ergste strafgevangenis is. Die tronk was deur hoë mure omring wat ’n mate van beskerming teen die wind en die son gebied het. Mure was egter nie nodig om te keer dat iemand ontsnap nie, aangesien daar nêrens was om heen te gaan nie. Buite die oase was daar nie een enkele boom om skadu te bied vir iemand wat wou ontsnap nie.

Voordat ons ingegaan het, het die tronk se superintendent ons deurgesoek. Hy het ons aangesê om alles uit ons sak te haal. Ek het begin om ons hemde een vir een uit te haal. Toe net die hemp oor was wat die Bybel bedek het, het ek die sak uitgehou om die hemp binne-in vir hom te wys en gesê: “Dit is al wat hulle ons toegelaat het om te neem.” Tevrede daarmee, het hy vir ons gesê om by die gevangenisterrein in te gaan. Die Bybel was die enigste publikasie wat ons gehad het.

Lewe in die tronk

Daar was altesaam ongeveer 34 gevangenes. Hulle was die berugste en gevaarlikste misdadigers in die land. Baie was moordenaars wat as onrehabiliteerbaar beskou is. Ons almal het in twee groot selle geslaap wat deur ’n oop badkamer geskei is. In die badkamer was daar ’n vat sonder ’n deksel wat as ’n toilet gebruik is. Hoewel dit elke oggend deur die gevangenes leeggemaak is, het dit gelyk asof al die vlieë in die woestyn die koelte en vuilheid van daardie vat kom geniet het.

Die enigste kos wat ons gekry het, was sorghum. Dit is deur ’n gevangene gemaal, gekook en op borde geskep wat dan uitgedeel is, een op elke gevangene se slaapmat. Die kos was nie bedek nie. Teen die tyd dat ons van ons werk af teruggekom het, was elke bord sorghum oortrek met die vlieë. Wanneer ons ons borde opgetel het, het die vlieë met ’n geraas opgevlieg. Die eerste twee dae het ons niks geëet nie. Eindelik, op die derde dag, nadat ons die vlieë verjaag en die droë vel bo-op afgehaal het, het ons die sorghum begin eet. Ons het gebid dat Jehovah ons gesondheid sou beskerm.

Ons het in die son gewerk en die mure van die ou gevangenisterrein afgebreek en nuwes gebou. Dit was ontsettend harde werk. Ons het sonder ’n verposing van 6:00 vm. tot 12:00 geswoeg, iets geëet en dan tot 6:00 nm. gewerk. Ons het nie een dag vry gekry nie. Ons moes nie alleen die hitte verduur nie, maar gedurende die winter moes ons ook die koue verduur. En ons het ook onder die wrede wagte gely.

Ons bly geestelik sterk

Ek en Djagli het in die geheim die Bybel gelees en wat ons geleer het met mekaar bespreek. Ons kon nie openlik lees nie omdat hulle die Bybel sou wegneem en ons sou straf. ’n Gevangene met wie ek ’n Bybelstudie begin het, het ’n keroseenlamp gehad wat hy met my gedeel het. Ek het dikwels een- of tweeuur in die oggend wakker geword en tot omtrent vyfuur gelees. Op dié manier kon ek die hele Bybel deurlees.

Ons het vir die ander gevangenes gepreek, en een van hulle het die hoofbewaarder van ons vertel. Die bewaarder het onverwags ’n Ontwaak!-tydskrif wat hy gehad het vir die gevangene gegee, wat dit weer vir ons gegee het. Ek het dit oor en oor gelees. Die feit dat ons gelees en gepreek het, het gehelp om ons geestelik sterk te hou.

Kommunikasie met ons vriende

Ons is nie toegelaat om briewe te skryf of te stuur nie. Maar iemand wat vriendelik teenoor ons was, het gesê dat hy my sal help. Op 20 Augustus, ongeveer ses weke nadat ek daar aangekom het, het ek in die geheim twee briewe geskryf, een aan die Nigeriese ambassade en nog een aan Getuievriende. Ek het hulle in die sand begrawe en die plek met ’n groot klip gemerk. Later het my vriend gekom en hulle uitgegrawe.

Weke het verbygegaan en ek het niks gehoor nie. Mettertyd het ek hoop verloor dat die briewe ooit afgelewer is. Maar hulle het daar uitgekom, en ons mede-Getuies het begin stry vir ons vrylating. Die Nigeriese Departement van Buitelandse Sake het ook in die saak belanggestel en die regering in die land waar ek gevange was, gevra waarom ek in so ’n tronk opgesluit is.

Intussen, op die oggend van 15 November 1984, het hulle ons gevat om skoonmaakwerk te doen. Die wagte het my na ’n hoërskool geneem waar mense al weke lank die toilet gebruik het ondanks die feit dat dit verstop was. Dit was vol ontlasting. My werk, het die wagte gesê, was om dit skoon te maak. Die enigste gereedskap wat ek gehad het, was my hande. Terwyl ek gewonder het hoe ek hierdie walglike taak gaan aanpak, het die hoofbewaarder gekom en gesê dat die streekoffisier van die gebied my wou sien.

Toe ek daar kom, het die streekoffisier gesê dat hy onlangs met die president van die land gepraat het, wat van my situasie te hore gekom het. Die president het verduidelik dat ek dadelik vrygelaat sou word en op die volgende vliegtuig kon vertrek as ek die name van Jehovah se Getuies in die land vir hulle gee. Weer het ek gesê dat as hulle Jehovah se Getuies soek, dit die polisie se taak was om hulle op te spoor. Die streekoffisier het vir my gesê om sy aanbod baie ernstig te oorweeg. Hy sou my vier of vyf dae gee om daaroor te dink. Ek is toe uitgestuur en die wagte het my terug na die gevangenis begelei en gelukkig nie terug na daardie toilet nie!

Na vyf dae het die streekoffisier my ontbied en gevra wat ek besluit het. Ek het gesê dat die enigste rede waarom ek in hulle gevangenis was, is die feit dat ek van die ware God getuig het en dat ek niks verkeerd gedoen het nie. Ek het verduidelik dat ek ’n wettige paspoort en ’n verblyfpermit het. Al my dokumente was reg en wanneer ek ook al na ’n ander stad gereis het, het ek altyd met die polisie in aanraking gekom om seker te maak dat alles in orde is. Aangesien ek geen misdaad gepleeg het nie, het ek gevra: “Waarom word ek gestraf? As hulle my nie in die land wou hê nie, waarom is ek nie gedeporteer nie? Waarom is ek tot tronkstraf in hierdie plek gevonnis?”

Ek het ongeveer 15 minute gepraat. Toe ek klaar was, is ek gevra om wat ek gesê het, neer te skryf en daar is vir my gesê dat my verklaring by die president ingedien sou word. Daar is vir my papier gegee en ek het vier bladsye geskryf.

Uiteindelik vrygelaat!

Ek het niks verder van die saak gehoor nie tot in Januarie 1985, ongeveer sewe maande nadat ek opgesluit is. By daardie geleentheid het die hoofbewaarder gekom en my gevra of ek ’n brief aan die Nigeriese ambassade geskryf het. “Ja”, het ek geantwoord.

“Waarom het jy dit gedoen? Waarom het jy my nie laat weet nie?” het hy gevra.

Ek het gesê dat die saak hom nie aangaan nie. Maar ek het hom verseker dat ek niks teen hom geskryf het nie, aangesien hy niks te doen gehad het met die feit dat ek tronk toe gestuur is nie. “Selfs my ma weet nie waar ek is nie”, het ek gesê. Hy wou toe weet hoe ek die brief gestuur het, maar ek het geweier om vir hom te sê.

Die volgende dag het die wagte ’n Land-Rover versien en vir my gesê dat ek en Djagli verskuif gaan word. Ons is buitentoe gebring, uitgetrek en deurgesoek. Ek het my Bybel vroeër vir ’n gevangene gegee met wie ek studeer het, want ek het geweet dat die wagte dit sou konfiskeer as hulle dit by my kry. Hierdie man het vir ons gesê dat wanneer hy vrygelaat word hy een van Jehovah se Getuies gaan word. Ons bid dat hy dit sal doen.

Kort daarna is ek na Nigerië gedeporteer, en in Februarie 1985 het ek my bediening as ’n reisende opsiener in daardie land hervat. Sedert 1990 dien ek as ’n streekopsiener in Nigerië. Djagli dien nou as ’n getroue Getuie in Côte d’Ivoire.

Ek het uit hierdie ondervinding geleer dat Jehovah God ons selfs onder die kwaaiste druk kan onderskraag. Keer op keer het ons gesien hoe sy hand ons in die tronk beskerm het. Ons vrylating het by my tuisgebring dat Jehovah nie net weet waar sy diensknegte is en wat hulle verduur nie, maar ook weet hoe om hulle uit beproewing te red.—2 Petrus 2:9, NAV.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel