Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 11/1 bl. 22-27
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Antwoorde op my vrae
  • In hegtenis geneem
  • Die doodstraf
  • Naoorlogse bedrywighede
  • Nie meer alleen nie
  • Jehovah se ryk seën
  • Diens onder Jehovah se liefdevolle hand
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Ek gee Jehovah wat hy verdien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ek wag geduldig op Jehovah van my jeug af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 11/1 bl. 22-27

Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’

SOOS VERTEL DEUR EMMANUEL PATERAKIS

Negentien eeue gelede het die apostel Paulus ’n besondere uitnodiging ontvang: “Kom oor na Masedonië en help ons.” Paulus het hierdie nuwe geleentheid om ‘die goeie nuus bekend te maak’ gewillig aangegryp (Handelinge 16:9, 10). Terwyl ek my uitnodiging nie só lank terug ontvang het nie, is dit nietemin meer as 50 jaar gelede dat ek ingestem het om na nuwe gebiede ‘oor te kom’ in die gees van Jesaja 6:8: “Hier is ek, stuur my.” Al my reise het my die bynaam die Permanente Toeris besorg, maar my bedrywighede het min met toerisme te doen gehad. Meer as een keer het ek, wanneer ek in my hotelkamer gekom het, op my knieë neergeval en Jehovah gedank vir sy beskerming.

EK IS op 16 Januarie 1916 in Hierápetra, in Kreta, uit ’n uiters godsdienstige Ortodokse gesin gebore. Van kleins af het my ma vir my en my drie susters Sondae kerk toe geneem. My pa het verkies om tuis te bly en die Bybel te lees. Ek was baie lief vir my pa—’n eerlike, goeie en vergewensgesinde man—en sy dood, toe ek nege jaar oud was, het my diep getref.

Ek onthou dat ek, toe ek vyf was, op skool ’n teks gelees het wat gesê het: “Alles om ons getuig dat God bestaan.” Terwyl ek grootgeword het, was ek absoluut oortuig hiervan. Daarom het ek, toe ek 11 jaar oud was, ’n opstel geskryf met Psalm 104:24 as tema: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!” Die wondere van die natuur het my gefassineer, selfs eenvoudige dinge soos sade wat vlerkies het sodat hulle uit die skadu van die ouerboom weggewaai kan word. Die week nadat ek my opstel ingegee het, het my onderwyser dit vir die hele klas voorgelees en toe vir die hele skool. Die onderwysers het destyds teen Kommunistiese idees geveg en was bly om my verdediging van God se bestaan te hoor. Wat my betref, ek was net bly dat ek my geloof in die Skepper kon uitdruk.

Antwoorde op my vrae

Ek kan my eerste kennismaking met Jehovah se Getuies in die vroeë dertigerjare nog goed onthou. Emmanuel Lionoudakis het in al die dorpe in Kreta gepreek. Ek het ’n paar boekies by hom geneem, maar die een met die titel Waar is die dode? het werklik my aandag getrek. Ek het so ’n morbiede vrees vir die dood gehad dat ek nie eers in die kamer wou ingaan waar my pa gesterf het nie. Terwyl ek hierdie boekie oor en oor gelees het en geleer het wat die Bybel oor die toestand van die dooies sê, het ek gevoel hoe my bygelowige vrees verdwyn.

Een maal ’n jaar, gedurende die somer, het die Getuies ons dorpie besoek en vir my nog lektuur gebring om te lees. My begrip van die Skrif het geleidelik toegeneem, maar ek het nog steeds die Ortodokse Kerk bygewoon. Die boek Verlossing het egter ’n keerpunt meegebring. Dit het die verskil tussen Jehovah se organisasie en Satan s’n duidelik getoon. Van toe af het ek die Bybel en enige lektuur van die Wagtoringgenootskap wat ek in die hande kon kry meer gereeld begin bestudeer. Aangesien daar ’n verbod op Jehovah se Getuies in Griekeland was, het ek snags in die geheim gestudeer. Ek was nogtans so geesdriftig oor wat ek geleer het dat ek my nie kon keer om met almal daaroor te praat nie. Kort voor lank het die polisie my begin dophou en my gereeld enige tyd van die dag of nag besoek om te soek na lektuur.

In 1936 het ek my eerste vergadering, 120 kilometer daarvandaan in Iráklion, bygewoon. Ek was so bly om die Getuies te ontmoet. Die meeste van hulle was eenvoudige mense, meestal boere, maar hulle het gehelp om my te oortuig dat dit die waarheid is. Ek het my daar en dan aan Jehovah toegewy.

Ek sal nooit my doop vergeet nie. Een nag in 1938 het broer Lionoudakis vir my en twee van my Bybelstudente in pikdonkerte na die strand geneem. Nadat hy ’n gebed gedoen het, het hy ons in die water gedompel.

In hegtenis geneem

Die heel eerste keer dat ek uitgegaan het om te preek, was nogal opwindend om die minste te sê. Ek het ’n ou skoolmaat ontmoet wat ’n priester geword het, en ons het ’n heerlike gesprek gehad. Maar daarna het hy vir my gesê dat hy my in ooreenstemming met die biskop se opdrag in hegtenis moet laat neem. Terwyl ons in die burgemeester se kantoor gewag het dat die polisie van die buurdorpie moet kom, het ’n klomp mense buite versamel. Ek het dus ’n Griekse Nuwe Testament geneem wat in die kantoor was en vir hulle ’n toespraak begin hou wat op Matteus hoofstuk 24 gebaseer was. Eers wou die mense nie luister nie, maar die priester het tussenbeide getree. “Laat hom praat”, het hy gesê. “Dis ons Bybel.” Ek kon ’n uur en ’n half praat. Gevolglik het ek op my eerste dag in die bediening ook my eerste openbare toespraak gehou. Aangesien die polisie nog nie gekom het teen die tyd dat ek klaar gepraat het nie, het die burgemeester en die priester besluit dat ’n groep mans my uit die dorp moes verdryf. By die eerste draai in die pad het ek so vinnig begin hardloop as wat ek kon sodat ek uit die pad kon kom van die klippe wat hulle gegooi het.

Die volgende dag het twee polisiemanne, saam met die biskop, my by die werk in hegtenis geneem. By die polisiestasie kon ek vir hulle uit die Bybel getuig, maar aangesien my Bybellektuur nie die biskop se stempel ingehad het soos die wet vereis het nie, is ek van proselitisme en die verspreiding van verbode lektuur aangekla. Ek is vrygelaat in afwagting van my verhoor.

My verhoor het een maand later plaasgevind. In my verdediging het ek daarop gewys dat ek niks meer gedoen het as om Christus se opdrag om te preek na te kom nie (Matteus 28:19, 20). Die regter het sarkasties geantwoord: “My seun, die Een wat daardie opdrag gegee het, is gekruisig. Ek het ongelukkig nie die gesag om jou dieselfde straf op te lê nie.” Maar ’n jong regsgeleerde wat ek nie geken het nie, het my verdedig en gesê dat die hof daarop trots moes wees dat daar jong manne was wat ondanks die algemeenheid van Kommunisme en ateïsme bereid was om die Woord van God te verdedig. Toe het hy na my toe gekom en my hartlik gelukgewens met my geskrewe verdediging wat in my lêer was. Hy was beïndruk deur die feit dat ek so jonk was en het aangebied om my gratis te verdedig. In plaas van die minimum van drie maande is ek gevonnis tot net tien dae tronkstraf en ’n boete van 300 dragmas. Sulke teenstand het my voorneme om Jehovah te dien en die waarheid te verdedig net versterk.

By ’n ander geleentheid toe ek in hegtenis geneem is, het die regter gesien met hoeveel gemak ek die Bybel aanhaal. Hy het die biskop gevra om sy kantoor te verlaat en gesê: “U het u werk gedoen. Ek sal die saak verder voer.” Toe haal hy sy Bybel uit, en ons het die hele middag oor God se Koninkryk gepraat. Sulke voorvalle het my aangespoor om ondanks al die moeilikheid aan te hou.

Die doodstraf

In 1940 is ek vir militêre diens opgeroep, en ek het ’n brief geskryf wat verduidelik het waarom ek nie daartoe kon instem nie. Twee dae later is ek in hegtenis geneem en erg deur die polisie geslaan. Toe is ek na die front in Albanië gestuur, waar ek voor ’n krygshof verskyn het omdat ek geweier het om te veg. Die militêre owerheid het vir my gesê dat hulle minder daarin belanggestel het om te weet of ek reg of verkeerd is as in die indruk wat my voorbeeld op die soldate sou maak. Ek is die doodstraf opgelê, maar tot my groot verligting is hierdie vonnis weens ’n wetlike fout tot tien jaar dwangarbeid versag. Ek het die volgende paar maande van my lewe onder baie moeilike omstandighede in ’n militêre tronk in Griekeland deurgebring, en ek ondervind nog steeds die fisiese gevolge daarvan.

Maar die tronk het nie gekeer dat ek preek nie. Inteendeel! Dit was maklik om gesprekke aan te knoop, want baie het gewonder waarom ’n burgerlike in ’n militêre tronk was. Een van hierdie gesprekke met ’n opregte jong man het tot ’n Bybelstudie in die tronk se binneplein gelei. Agt-en-dertig jaar later het ek hierdie man weer by ’n byeenkoms raakgeloop. Hy het die waarheid aangeneem en het as ’n gemeenteopsiener op die eiland Lefkás gedien.

Toe Hitler se leërs Joego-Slawië in 1941 binnegeval het, is ons na ’n tronk verder suid in Preveza oorgeplaas. Gedurende die reis is ons konvooi deur Duitse bomwerpers aangeval, en ons as gevangenes is geen kos gegee nie. Toe ek my laaste stukkie brood geëet het, het ek tot God gebid: “As dit u wil is dat ek van die honger doodgaan nadat u my van die doodsvonnis gered het, laat u wil geskied.”

Die volgende dag het ’n offisier my gedurende appèl eenkant toe geroep en, nadat hy gehoor het waar ek vandaan kom, wie my ouers is en waarom ek in die tronk is, vir my gesê om hom te volg. Hy het my na die offisiersmenasie in die dorp geneem, vir my ’n tafel vol brood, kaas en gebraaide lamsvleis gewys en gesê dat ek daarvan moes neem. Maar ek het verduidelik dat my gewete my nie sou toelaat om te eet nie omdat die ander 60 gevangenes niks gehad het nie. Die offisier het geantwoord: “Ek kan nie vir almal kos gee nie! Jou pa was baie goed vir my pa. Ek het ’n morele verpligting teenoor jou, maar nie teenoor die ander nie.” “Dan sal ek maar net teruggaan”, het ek gesê. Hy het ’n bietjie gedink en toe vir my ’n groot sak gegee om soveel kos in te sit as wat ek kon.

Toe ek weer in die tronk kom, het ek die sak neergesit en gesê: “Menere, dit is vir julle.” Hulle het my toevallig net die vorige aand daarvan beskuldig dat ek verantwoordelik was vir die haglike toestand van die ander gevangenes omdat ek nie saam met hulle tot die Maagd Maria wou bid nie. ’n Kommunis het my egter verdedig. Toe hy die kos sien, het hy vir die ander gesê: “Waar is julle ‘Maagd Maria’ nou? Julle het gesê dat ons weens hierdie man sou doodgaan, en nou is hy die een wat vir ons kos bring.” Toe het hy na my gedraai en gesê: “Emmanuel! Kom dank vir ons.”

Kort daarna het die aantog van die Duitse leër die tronkbewaarders laat vlug, met die gevolg dat die deure van die gevangenis vir ons oopgemaak is. Ek het na Patras gegaan om ander Getuies daar te vind voordat ek teen die einde van Mei 1941 na Atene gegaan het. Daar kon ek klere en skoene kry en vir die eerste keer in meer as ’n jaar bad. Tot die end van die besetting het die Duitsers my gereeld gestop wanneer ek gepreek het, maar hulle het my nooit in hegtenis geneem nie. Een van hulle het gesê: “In Duitsland skiet ons Jehovah se Getuies. Maar hier wens ons al ons vyande was Getuies!”

Naoorlogse bedrywighede

Asof daar nog nie genoeg bakleiery in Griekeland was nie, is dit van 1946 tot 1949 verder uitmekaargeskeur deur ’n burgeroorlog wat duisende lewens geëis het. Die broers het baie aanmoediging nodig gehad om sterk te bly toe ’n mens in hegtenis geneem kon word bloot omdat jy vergaderinge bywoon. Etlike broers is tot die dood veroordeel weens hulle neutrale standpunt. Maar baie mense het nietemin op die Koninkryksboodskap ag geslaan, en daar is elke week een of twee mense gedoop. In 1947 het ek bedags by die Genootskap se kantoor in Atene begin werk en saans die gemeentes as reisende opsiener besoek.

In 1948 het ek die vreugde gesmaak om genooi te word om die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die Verenigde State by te woon. Maar daar was ’n probleem. Weens my vorige veroordelings kon ek nie ’n paspoort kry nie. Een van my Bybelstudente was egter op vriendskaplike voet met ’n generaal. Danksy hierdie student het ek binne ’n paar weke my paspoort gehad. Maar ek was bekommerd toe ek, kort voor ek moes vertrek, in hegtenis geneem is omdat ek Die Wagtoring versprei het. ’n Polisieman het my na die hoof van die Staatsveiligheidspolisie in Atene geneem. Tot my groot verbasing was hy een van my bure! Die polisieman het verduidelik waarom ek in hegtenis geneem is en hom die pak tydskrifte gegee. My buurman het ’n stapel eksemplare van Die Wagtoring uit sy lessenaar gehaal en vir my gesê: “Ek het nie die jongste nommer nie. Mag ek een neem?” Ek was so verlig om Jehovah se hand in sulke aangeleenthede te sien!

Die 16de klas van Gilead, in 1950, was ’n verrykende ondervinding. Aan die einde daarvan is ek na Siprus gestuur, waar ek gou agtergekom het daar net sulke sterk teenkanting deur die geestelikes was as in Griekeland. Ons het dikwels met skares godsdiensdwepers te doen gekry wat deur Ortodokse priesters tot waansin opgesweep is. In 1953 is my visum vir Siprus nie hernieu nie, en ek is na Istanboel, Turkye, gestuur. My verblyf hier was ook kort. Politieke spanning tussen Turkye en Griekeland het gemaak dat ek, ondanks goeie resultate in die predikingswerk, na ’n nuwe toewysing moes vertrek—Egipte.

Terwyl ek in die tronk was, het ek dikwels aan Psalm 55:7, 8 gedink. Daar wens Dawid dat hy na die woestyn kon vlug. Ek het nooit gedink dat ek eendag werklik daar sou wees nie. In 1954, ná ’n uitputtende reis van etlike dae per trein en Nyl-rivierboot, het ek uiteindelik by my bestemming aangekom—Khartoem, in die Soedan. Ek wou net stort en in die bed klim. Maar ek het vergeet dat dit in die middel van die dag was. Die water, wat in ’n tenk op die dak opgegaar is, het my gebrand, en het gemaak dat ek ’n paar maande lank ’n hoed moes dra tot my kopvel genees het.

Ek het daar dikwels eensaam gevoel, alleen in die middel van die Sahara, eenduisend-seshonderd kilometer weg van die naaste gemeente, maar Jehovah het my ondersteun en my die krag gegee om voort te gaan. Daar was dikwels aanmoediging uit die mees onverwagte bronne. Eendag het ek die direkteur van die Museum van Khartoem ontmoet. Hy het ’n oop gemoed gehad en ons het lekker gesels. Toe hy hoor dat ek van Griekse afkoms is, het hy my gevra of ek hom ’n guns sou doen en na die museum sou gaan om ’n paar inskripsies op artefakte te vertaal wat in ’n sesde-eeuse kerk gevind is. Ná vyf ure in ’n bedompige kelder het ek ’n piering gevind met Jehovah se naam, die Tetragrammaton, daarop. Stel jou voor hoe bly ek was! In Europa is dit niks vreemds om die Goddelike naam in kerke te sien nie, maar in die middel van die Sahara is dit beslis iets buitengewoons!

Ná die internasionale byeenkoms in 1958 het ek die toewysing ontvang om die broers in 26 lande en gebiede in die Midde- en Nabye-Ooste en rondom die Middellandse See as sone-opsiener te besoek. Ek het dikwels nie geweet hoe ek uit moeilike situasies sou kom nie, maar Jehovah het altyd ’n uitweg voorsien.

Ek was altyd beïndruk deur die besorgdheid wat Jehovah se organisasie toon vir Getuies wat afgesonder is in sekere lande. By een geleentheid het ek ’n Indiese broer ontmoet wat in ’n olieveld gewerk het. Hy was blykbaar die enigste Getuie in die land. In sy sluitkas het hy publikasies in 18 tale gehad, wat hy vir sy werksmaats gegee het. Selfs hier, waar alle vreemde godsdienste ten strengste verbied was, het ons broer nie sy verantwoordelikheid vergeet om die goeie nuus te verkondig nie. Sy kollegas was beïndruk om te sien dat ’n verteenwoordiger van sy godsdiens gestuur is om hom te besoek.

In 1959 het ek Spanje en Portugal besoek. Albei lande was destyds onder ’n militêre diktatorskap, en die werk van Jehovah se Getuies was onder ’n streng verbod. In een maand kon ek meer as honderd vergaderinge hou en die broers aanmoedig om ondanks die moeilike tyd nie moed op te gee nie.

Nie meer alleen nie

Ek het Jehovah meer as 20 jaar lank voltyds gedien as ’n ongetroude man, maar ek het skielik moeg geword van my voortdurende reise sonder enige vaste tuiste. Omtrent hierdie tyd het ek Annie Bianucci, ’n spesiale pionier in Tunisië, ontmoet. Ons het in 1963 getrou. Haar liefde vir Jehovah en die waarheid, haar toegewydheid aan die bediening tesame met haar onderrigkuns en haar kennis van tale was ’n ware seën in ons sending- en kringwerk in Noord- en Wes-Afrika en in Italië.

In Augustus 1965 is ek en my vrou na Dakar, Senegal, gestuur, waar ek die voorreg gehad het om die plaaslike takkantoor te organiseer. Senegal was ’n land wat bekend was vir sy godsdiensverdraagsaamheid, ongetwyfeld weens sy president, Leopold Senghor, een van die min staatshoofde in Afrika wat aan Malawi se president Banda geskryf het ter verdediging van Jehovah se Getuies gedurende die vreeslike vervolging wat gedurende die sewentigerjare in Malawi plaasgevind het.

Jehovah se ryk seën

Toe ek Gilead in 1951 verlaat het om in Siprus te gaan dien, het ek met sewe koffers gereis. Toe ek na Turkye gegaan het, het ek net vyf gehad. Maar omdat ek so baie gereis het, moes ek aan die bagasiebeperking van 20 kilogram gewoond raak, wat my lêers en klein tikmasjientjie ingesluit het. Eendag het ek vir broer Knorr, destyds die president van die Wagtoringgenootskap, gesê: “Julle beskerm my teen materialisme. Julle laat my lewe met 20 kilogram, en ek kom heel goed reg.” Ek het nooit verontrief gevoel omdat ek nie baie besittings gehad het nie.

Wanneer ek gereis het, was my grootste probleem om by lande in en uit te kom. In ’n land waar die werk verbied was, het ’n doeanebeampte eenkeer in my lêers begin rondkrap. Dit kon gevaarlik gewees het vir die Getuies in daardie land; ek haal toe ’n brief van my vrou uit my baadjiesak en sê vir die doeanebeampte: “Ek sien jy hou daarvan om briewe te lees. Wil jy hierdie brief van my vrou ook lees wat nie in die lêers is nie?” Hy het verleë om verskoning gevra en my laat deurgaan.

Sedert 1982 is ek en my vrou sendelinge in Nice, in die suide van Frankryk. Weens swak gesondheid kan ek nie meer heeltemal soveel doen as voorheen nie. Maar dit beteken nie dat ons vreugde verminder het nie. Ons het gesien dat ‘ons arbeid nie tevergeefs is nie’ (1 Korintiërs 15:58). Ek het die vreugde gesmaak om te sien hoe baie mense met wie ek deur die jare heen die voorreg gehad het om te studeer sowel as meer as 40 lede van my familie Jehovah getrou dien.

Ek is geensins spyt oor die opofferinge wat ek in my lewe moes maak om ‘oor te kom en te help’ nie. Nie een van die opofferinge wat ons maak, kan buitendien vergelyk word met wat Jehovah en sy Seun, Christus Jesus, vir ons gedoen het nie. Wanneer ek terugdink aan die afgelope 60 jaar wat ek die waarheid ken, kan ek sê dat Jehovah my oorvloedig geseën het. Soos Spreuke 10:22 sê: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk.”—NW.

Dit ly geen twyfel nie, Jehovah se “goedertierenheid is beter as die lewe” (Psalm 63:4). Terwyl die ongerief van die ouderdom vermeerder, meld ek dikwels die woorde van die geïnspireerde psalmis in my gebede: “By U, o [Jehovah], skuil ek: laat my nie vir altyd beskaamd staan nie! Want U is my verwagting, [Soewereine Heer Jehovah], my vertroue van my jeug af. o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders. En ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie.”—Psalm 71:1, 5, 17, 18, vgl. NW.

[Prent op bladsy 25]

Vandag saam met my vrou, Annie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel