Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 4/1 bl. 4-7
  • Moet jy gedoop word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet jy gedoop word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op watter manier?
  • Met watter doel?
  • Wat sal jy doen?
  • Wat verhinder jou om gedoop te word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Waarom moet jy gedoop word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Wat is doop?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Voldoen aan die vereistes vir Christelike doop
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 4/1 bl. 4-7

Moet jy gedoop word?

BYNA ’n miljoen mense is die afgelope drie jaar deur Jehovah se Getuies gedoop. Dit beteken dat daar gemiddeld 824 mense elke dag gedoop is, of 4 elke 7 minute. Is dít net ’n na-aping van die 15de en 16de eeu se godsdiensywer?

Nee, hierdie mense is nie met geweld gedoop as deel van ’n massabekering of as gevolg van ’n emosionele beroep deur die een of ander godsdiensorator nie. Hulle is gedoop omdat Jesus Christus, die Meester en Leier van Christene, beveel het dat dit gedoen word. Hulle het die stappe gedoen en die prosedures gevolg wat Jesus uiteengesit het en wat toegepas is deur die apostels wat hy self gekies en opgelei het.

Ná Jesus se opstanding en voor sy hemelvaart het hy vir sy volgelinge hierdie afskeidsopdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:19, 20). Sedertdien is dít die enigste waterdoop wat God se goedkeuring wegdra.

Gevolglik vertel die Bybel ons dat daardie vroeë volgelinge van Christus “getuies [van Jesus]” geword het “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Soos Jesus voorspel het, sou hulle predikings- en onderrigtingswerk tot die doop van gelowiges lei wat ook volgelinge van Christus sou wees.

Die eerste opgetekende voorbeeld hiervan het op Pinkster 33 G.J. in Jerusalem plaasgevind. By daardie geleentheid het die apostel Petrus “opgestaan met die elf” en met die skare wat daar byeen was oor Jesus die Messias gepraat. Die verslag sê vir ons dat sy spraak ‘hulle diep in die hart getref het’, en hulle wou weet wat hulle moes doen. “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes”, het Petrus gesê. Die gevolg was dat ‘die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, gedoop is; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring’ (Handelinge 2:14-41). Verdere verslae bevestig dat dissipels gedoop is nadat hulle die Christelike boodskap gehoor het, die goeie nuus geglo het en hulle bekeer het.—Handelinge 8:12, 13, 34-38; 10:34-48; 16:30-34; 18:5, 8; 19:1-5.

Op watter manier?

Maar hoe moes hierdie nuwe dissipels in water gedoop word? Moes dit deur aspersie (besprinkeling), deur begieting (deur water oor die kop te gooi) of deur immersie (algehele onderdompeling) wees? Wat toon die Bybelverslag? Aangesien Jesus vir ons ’n voorbeeld nagelaat het ‘sodat ons sy voetstappe noukeurig kan volg’, kan ons vra: Op watter manier is hy gedoop?—1 Petrus 2:21, NW.

Die Bybel toon dat Jesus in die Jordaan, ’n groot rivier, gedoop is. Nadat hy gedoop is, het hy “op[ge]klim uit die water” (Markus 1:10; Mattheüs 3:13, 16). Jesus is dus in werklikheid in die Jordaanrivier ondergedompel. Hy is deur Johannes gedoop wat ’n geskikte plek gesoek het om mense te doop en op ’n plek in die Jordaanvallei naby Salim besluit het “omdat daar baie water was” (Johannes 3:23). Die feit dat algehele onderdompeling in water die algemene doopgebruik onder Jesus se volgelinge was, word uit die Ethiopiese hofdienaar se woorde gesien. In reaksie op wat Filippus hom geleer het, het hy gesê: “Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?” Dan lees ons “hulle het altwee in die water afgeklim” en daarna “uit die water op[ge]klim”.—Handelinge 8:36-39.

Dui sekulêre geskiedenis ook daarop dat onderdompeling die doopgebruik onder Christene was? Ja, inderdaad. En interessant genoeg bestaan daar steeds in ’n hele paar lande talle groot doopbaddens wat geskik is vir onderdompeling. “Die argeologie bied oorweldigende getuienis dat onderdompeling die gebruiklike manier was om mense gedurende die eerste tien tot veertien eeue te doop”, sê die tydskrif Ministry. Dit voeg by: “Die geskiedenis van die Christendoop kan nagegaan word in sommige ruïnes van vroeë Christengeboue en ook in antieke kerke wat nog in gebruik is. Skilderye in katakombes en kerke, mosaïeke op vloere, mure en plafonne, reliëfs en tekeninge in antieke manuskripte van die Nuwe Testament voeg besonderhede by hierdie geskiedenis . . . Dit is bo en behalwe die getuienis wat ons deurgaans in die geskrifte van die kerkvaders vind dat onderdompeling die algemene manier was waarop die vroeë kerk mense gedoop het.”

Die New Catholic Encyclopedia erken: “Dit is duidelik dat die vroeë Kerk deur onderdompeling gedoop het.” Ons is dus nie verbaas om koerantopskrifte soos die volgende te sien nie: “Katolieke bring doop deur onderdompeling terug” (The Edmonton Journal, Kanada, 24 September 1983), “Doop deur onderdompeling vind hier onder Katolieke ingang” (St. Louis Post-Dispatch, 7 April 1985), “Baie Katolieke kies doop deur onderdompeling” (The New York Times, 25 Maart 1989) en “Doop deur onderdompeling ondergaan ’n herlewing” (The Houston Chronicle, 24 Augustus 1991).

Met watter doel?

Waarom het Jesus vereis dat sy dissipels gedoop moes word? Wel, dit was ’n gepaste simbool van hulle heelhartige toewyding aan God. Hulle moes die “goeie nuus” wêreldwyd verkondig en dissipels maak van mense van “al die nasies” (Mattheüs 24:14, NW; Mt 28:19). Dit het beteken dat God nie meer uitsluitlik met die Joodse nasie gehandel het nie, wat uit mense bestaan het wat van geboorte af aan hom toegewy was. Cornelius en sy familie was die eerste heidene, of nie-Jode, wat die waarheid aangaande Jesus Christus aangeneem en hulle laat doop het.

Die feit dat die dopelinge onder die water gedompel is, het getoon dat hulle ’n lewenswyse afgesterf het wat om hulleself gedraai het. Wanneer hulle uit die water opgelig is, het dit gesimboliseer dat hulle nou lewe om God se wil te doen en dat hulle dit eerste in hulle lewe stel, soos Jesus gedoen het (Mattheüs 16:24). Om “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” gedoop te wees, het getoon dat hulle die waarheid oor elkeen geleer en aangeneem het en hulle erken het vir wat hulle is. (Mattheüs 28:19; vergelyk Handelinge 13:48.) Doop was bloot ’n eerste stap wat gehoorsaamheid aan God en onderworpenheid aan sy wil behels het.

Die Skrif steun nie die godsdiensbeskouing wat so algemeen gehuldig word nie, naamlik dat die doop ’n sakrament is, met ander woorde, ’n godsdiensseremonie wat deugde—genade, heiligheid of geestelike voordeel—aan die dopeling verleen. Byvoorbeeld, die pouslike bul van pous Eugenius IV wat in die vorige artikel aangehaal is, het verder aangaande die doop gesê: “Die gevolg van hierdie sakrament is die kwytskelding van alle sonde, oorspronklik en teenswoordig; so ook van alle straf wat weens sonde verskuldig is. Daar word gevolglik geen verantwoording vir vorige sondes van dopelinge vereis nie; en as hulle sterf voordat hulle enigsins sondig, verkry hulle onmiddellik die koninkryk van die hemel en die gedaante van God.”

Jesus is egter gedoop hoewel hy “geen sonde gedoen het nie” (1 Petrus 2:22). Volgens die Skrif vind kwytskelding van sondes boonop slegs deur die losprysoffer van Jesus Christus plaas. Ananias het Saul van Tarsus aangespoor: “Staan op, word gedoop en was jou sondes af deurdat jy [Jesus] se naam aanroep” (Handelinge 22:12-16, NW). Ja, redding is slegs moontlik deur middel van die vergote bloed van Jesus en deur in geloof ‘sy naam aan te roep’.—Hebreërs 9:22; 1 Johannes 1:7.

Wat dan van Petrus se woorde in 1 Petrus 3:21? Daar sê hy: “Waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus.” Petrus het die doop vergelyk met Noag se ondervinding toe hy deur die waters van die Vloed gegaan het (Vers 20). Noag het volle vertroue in God getoon en die ark vir die behoud van sy gesin gebou (Hebreërs 11:7). Net so kan mense vandag van hierdie teenswoordige bose wêreld gered word as hulle geloof beoefen in Jehovah God en sy voorsiening vir redding deur Christus Jesus. Hulle moet ook in ooreenstemming met daardie geloof optree. Deur jou van jou sondes te bekeer, van ’n verkeerde weg af te draai en jou onvoorwaardelik in gebed aan Jehovah God toe te wy, word die bede tot God om ’n goeie gewete gemaak. Maar dit is op grond van Jesus se offerande, en sy opstanding waardeur hy die waarde van daardie offerande vir God in die hemel aangebied het, dat sondes vergewe word en redding moontlik is.—1 Petrus 3:22.

Wat sal jy doen?

Assosieer jy al ’n tyd lank met Jehovah se Getuies? Miskien het jy reeds die nodige veranderinge in jou lewe in ooreenstemming met Bybelbeginsels aangebring, maar het nog nie die stappe van toewyding en doop gedoen nie. Jy wil dalk God se wil doen, maar tog is jy bang dat die doop jou sal bind. Gevolglik verkies jy dalk om sulke verantwoordelikheid en aanspreeklikheid ’n tyd lank te vermy. Byna 11,5 miljoen mense het verlede jaar die viering van die Here se Aandmaal bygewoon. Tog was die hoogtepunt van diegene wat die goeie nuus gedurende die jaar verkondig het minder as 4,5 miljoen. Dit beteken dat ongeveer sewe miljoen mense ’n mate van waardering vir God se waarheid toon, hoewel hulle nie gedoopte Getuies van Jehovah is nie. Party van hulle is natuurlik jonger kinders en nuwe belangstellendes. Maar party van die wat aan die predikingswerk deelneem, is ook nog nie gedoop nie. Daar is baie mense wat ’n juiste kennis van die Bybel opgedoen het, maar nog nie ten volle gebruik gemaak het van God se voorsiening vir redding deur hulle te laat doop nie.

’n Belangrike punt om in gedagte te hou, is dat dit die kennis is van wat God van jou vereis wat aanspreeklikheid meebring. “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde”, sê Jakobus 4:17. Esegiël 33:7-9 toon dat as ’n persoon van God se gebooie en bevele vertel word hy die verantwoordelikheid het om dit uit te voer. Daarom is die vraag of iemand ’n opregte liefde vir God het en hom werklik wil behaag. Iemand wat werklik sulke liefde het en ’n spesiale verhouding met Jehovah God wil hê, sal nie aarsel om sy lewe onvoorwaardelik aan hom toe te wy nie. Die doop is slegs ’n uiterlike simbool van daardie toewyding. Dit is ’n noodsaaklike stap vir redding. Ware gelowiges laat hulle doop.—Handelinge 8:12.

Die wonderlike vooruitsigte wat God vir getroue, toegewyde individue in die komende nuwe wêreld belowe, oortref beslis enige tydelike voordele wat hierdie bose ou stelsel van dinge skynbaar bied. Vrees vir ons medemens verdwyn wanneer ons aan die magtige hand van God dink (1 Korinthiërs 10:22; 1 Petrus 5:6, 7). Dit is waarlik nou die tyd om jouself die vraag te vra wat die Ethiopiese hofdienaar Filippus gevra het: “Wat verhinder my om gedoop te word?”

[Prent op bladsy 7]

Vra jy jou, soos die Ethiopiese hofdienaar, hierdie vraag af: “Wat verhinder my om gedoop te word?”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel