Hou gewilliglik as herders toesig oor die kudde van God
“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik.”—1 PETRUS 5:2.
1. Waarom kan ons verwag dat Christen- ouere manne ‘gewilliglik as herders oor God se kudde sal toesig hou’?
JEHOVAH hou gewilliglik as herder toesig oor sy volk (Psalm 23:1-4). “Die goeie herder”, Jesus Christus, het sy volmaakte menselewe gewilliglik vir skaapgeaarde mense opgeoffer (Johannes 10:11-15). Die apostel Petrus het Christen- ouere manne gevolglik vermaan om ‘gewilliglik as herders oor God se kudde toesig te hou’.—1 Petrus 5:2.
2. Watter vrae aangaande die herdersbedrywighede van Christen- ouere manne moet bespreek word?
2 Gewilligheid is ’n kenmerk van God se knegte (Psalm 110:3). Maar meer as ’n Christenman se gewilligheid is nodig om as ’n opsiener, of onderherder, aangestel te word. Wie kwalifiseer om sulke herders te wees? Wat is by hulle herderswerk betrokke? Hoe word dit ten beste uitgevoer?
Hy moet sy huisgesin goed kan beheer
3. Waarom kan daar gesê word dat die wyse waarop ’n Christenman na sy gesin omsien ’n invloed kan hê op sy bevoegdheid om ’n herder in die gemeente te wees?
3 Voordat ’n man in “’n opsienersamp” aangestel kan word, moet hy aan skriftuurlike vereistes voldoen (1 Timotheüs 3:1-7; Titus 1:5-9). Om maar een ding te noem, die apostel Paulus het gesê dat ’n opsiener “iemand [moet wees wat] sy eie huisgesin goed kan beheer en in alle opsigte op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen”. Daar is goeie rede hiervoor, want Paulus het gesê: “Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem?” (1 Timotheüs 3:4, 5, NAV). Toe Titus ouere manne in die gemeentes op die eiland Kreta moes aanstel, is hy aangesê om uit te kyk na enigiemand wat “onberispelik is, die man van een vrou, [wat] gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie” (Titus 1:6). Ja, die wyse waarop ’n Christenman na sy gesin omsien, moet in ag geneem word wanneer daar bepaal word of hy bevoeg is om die ernstiger verantwoordelikheid te aanvaar om as herder oor die gemeente toesig te hou.
4. Benewens ’n gereelde Bybelstudie en gebed, hoe toon Christenouers liefde vir hulle gesin?
4 Mans wat goeie beheer oor hulle huisgesin uitoefen, doen meer as om net op ’n gereelde grondslag saam met hulle gesin te bid en die Bybel te bestudeer. Hulle is altyd gewillig om hulle geliefdes te help. Vir diegene wat ouers word, begin dit die dag wanneer ’n kind gebore word. Christenouers weet hoe strenger hulle by ’n Goddelike roetine bly, hoe gouer sal hulle kind by sy ouers se daaglikse rooster van Christelike bedrywighede aanpas. Die manier waarop die Christenvader onder hierdie omstandighede beheer oor sy gesin uitoefen, kan sy kwalifikasies as ’n ouere man in ’n goeie of slegte lig stel.—Efesiërs 5:15, 16; Filippense 3:16, NW.
5. Hoe kan ’n Christenvader sy kinders “in die tug en die vermaning van die Here” opvoed?
5 ’n Pligsgetroue Christenvader wat beheer oor sy huisgesin uitoefen, sal Paulus se raad in ag neem: “Moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en die vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). Gereelde Bybelstudie met die gesin, met sy vrou en kinders, bied uitstekende geleenthede vir liefdevolle onderrigting. Die kinders ontvang sodoende ‘tugtiging’, of korrektiewe onderrigting. Die “vermaning” wat dan plaasvind, help elke kind om te leer wat Jehovah se beskouing van sake is (Deuteronomium 4:9; 6:6, 7; Spreuke 3:11; 22:6). In die ontspanne atmosfeer van hierdie geestelike samesyn luister die sorgsame vader aandagtig wanneer sy kinders praat. Vriendelike uitlokvrae word gebruik om eerlike antwoorde oor hulle bekommernisse en gesindhede te kry. Die vader dink nie dat hy alles weet wat in hulle jong verstande aangaan nie. Trouens, Spreuke 18:13 sê: “Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ’n sotheid en ’n skande wees.” Vandag vind die meeste ouers dat die situasies waarmee hulle kinders te kampe het baie verskil van dít wat hulle ervaar het toe hulle jonk was. ’n Vader sal gevolglik probeer uitvind wat die agtergrond en besonderhede van ’n probleem is voordat hy sê hoe dit hanteer moet word.—Vergelyk Jakobus 1:19.
6. Waarom moet ’n Christenvader God se Woord raadpleeg wanneer hy sy gesin help?
6 Wat gebeur nadat ’n mens weet watter probleme, bekommernisse en gesindhede jou kinders het? Die vader wat goeie beheer oor sy huisgesin uitoefen, raadpleeg die Skrif, wat “nuttig [is] tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid”. Hy leer sy kinders hoe om die Bybel se geïnspireerde riglyne toe te pas. Op dié manier kan kinders “volkome . . . wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”.—2 Timotheüs 3:16, 17; Psalm 78:1-4.
7. Watter voorbeeld moet Christenvaders met betrekking tot gebed stel?
7 Wêreldse skoolmaats kan die lewe vir godvrugtige jongmense baie moeilik maak. Hoe kan Christenvaders dus hulle kinders se vrese stil? Een manier is om gereeld saam met hulle en vir hulle te bid. Wanneer hierdie jongmense voor moeilike situasies te staan kom, sal hulle waarskynlik hulle ouers se vertroue op God navolg. Een 13-jarige meisie het tydens ’n onderhoud, vóór sy as simbool van haar toewyding aan God gedoop is, vertel dat sy deur haar skoolmaats bespot en mishandel is. Toe sy haar Bybelse oortuiging oor die heiligheid van bloed verdedig het, het ander meisies haar geslaan en op haar gespoeg (Handelinge 15:28, 29). Het sy terugbaklei? Nee. “Ek het die heeltyd tot Jehovah gebid om my te help om kalm te bly”, het sy verduidelik. “Ek het ook onthou wat my ouers my in ons gesinstudie geleer het hoe ons ons onder die kwaad in bedwang moet hou.”—2 Timotheüs 2:24.
8. Hoe kan ’n ouere man wat nie kinders het nie goeie beheer oor sy huisgesin uitoefen?
8 ’n Ouere man wat nie kinders het nie, kan op geestelike en materiële gebied voorsien in die behoeftes van dié in sy huis. Dit sluit sy huweliksmaat in, asook afhanklike Christenfamilielede wat dalk in sy huis woon (1 Timotheüs 5:8). Om goeie beheer oor sy huisgesin uit te oefen, is dus een van die vereistes waaraan ’n man moet voldoen wat aangestel word om die verantwoordelikheid as ’n gemeentelike ouere man te dra. Hoe moet aangestelde ouere manne dan hulle bevoorregte verantwoordelikhede in die gemeente beskou?
Hou “in alle erns” toesig
9. Watter gesindheid moet Christen- ouere manne teenoor hulle dienstoewysings hê?
9 In die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling het die apostel Paulus gedien as ’n opsiener in God se huis, die Christengemeente onder Christus se hoofskap (Efesiërs 3:2, 7; 4:15). Paulus het weer op sy beurt sy medegelowiges in Rome aangespoor: “Daar . . . ons gawes het wat verskil ooreenkomstig die onverdiende goedhartigheid wat aan ons gegee is, hetsy profesie, laat ons profeteer ooreenkomstig die geloof wat aan ons toegemeet is; of ’n bediening, laat ons ons beperk tot hierdie bediening; of hy wat leer, laat hom by sy onderrigting bly; of hy wat vermaan, laat hom by sy vermaning bly; hy wat uitdeel, laat hom dit met mildadigheid doen; hy wat leiding gee, laat hom dit in alle erns doen; hy wat barmhartigheid bewys, laat hom dit met blymoedigheid doen.”—Romeine 12:6-8, NW.
10. Watter voorbeeld het Paulus vir hedendaagse ouere manne gestel met betrekking tot die versorging van God se kudde?
10 Paulus het die Thessalonicense herinner: “Soos ’n vader sy kinders, aangehou het om elkeen van julle te vermaan en te troos en aan julle getuienis af te gelê, sodat julle sou voortgaan om te wandel op ’n wyse wat God, wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep, waardig is” (1 Thessalonicense 1:1; 2:11, 12, NW). Die vermaning is op só ’n tere, liefdevolle wyse gegee dat Paulus kon skryf: “Ons het vriendelik onder julle geword soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester. Daar ons dus tere geneentheid vir julle gehad het, het ons met graagte nie alleen die goeie nuus van God aan julle meegedeel nie, maar ook ons eie siele, omdat julle vir ons bemind geword het” (1 Thessalonicense 2:7, 8, NW). In ooreenstemming met Paulus se vaderlike voorbeeld is lojale ouere manne diep besorg oor almal in die gemeente.
11. Hoe kan aangestelde ouere manne hulle ywer toon?
11 Teerheid, saam met ywer, moet kenmerke van die liefdevolle toesig wees wat ons getroue Christenherders uitoefen. Die manier waarop hulle dit doen, sê baie. Petrus vermaan ouere manne om as herders oor die kudde van God toesig te hou, “nie uit dwang” of “om vuil gewin” nie (1 Petrus 5:2). Die geleerde William Barclay het ’n waarskuwing oor hierdie punt uitgespreek, en geskryf: “Daar is ’n manier waarop ’n posisie van gesag aanvaar kan word en ’n diens verrig kan word asof dit ’n onverbiddelike en onaangename plig is, asof dit moeite is, asof dit ’n las is waaroor ’n mens gegrief voel. Dit is heel moontlik om iemand te vra om iets te doen, en vir hom om dit te doen, maar om dit op so ’n teësinnige wyse te doen dat die hele daad bederf is. . . . Maar [Petrus] sê wel dat elke Christen baie gretig moet wees om so ’n diens te verrig so goed hy kan, hoewel hy ten volle bewus is van hoe onwaardig hy is om dit te verrig.”
Gewillige herders
12. Hoe kan Christen- ouere manne gewilligheid openbaar?
12 ‘Hou gewilliglik as herders toesig oor die kudde van God onder julle’, het Petrus ook aangespoor. ’n Christenopsiener wat na die skape omsien, doen dit gewilliglik, uit sy eie, onder die leiding van die Goeie Herder, Jesus Christus. Om gewilliglik te dien, beteken ook dat ’n Christenherder hom aan die gesag van Jehovah, ‘die Herder en Opsiener van ons siele’, onderwerp (1 Petrus 2:25). ’n Christenonderherder toon gewilliglik respek vir die teokratiese reëling. Hy doen dit wanneer hy diegene rig wat raad uit God se Woord, die Bybel, soek. Hoewel ondervinding ’n ouere man sal help om ’n skatkis van Bybelse raad op te bou, beteken dit nie dat hy die skriftuurlike oplossing vir elke probleem deur en deur ken nie. Selfs wanneer hy weet wat die antwoord is, vind hy moontlik dat dit verstandig is om saam met die een wat om hulp gevra het in die Watch Tower Publications Index of soortgelyke indekse navorsing te doen. Hy onderrig sodoende op twee maniere: Hy toon hoe nuttige inligting gevind kan word en toon nederig respek vir Jehovah deur die aandag te vestig op wat God se organisasie gepubliseer het.
13. Watter stappe kan ouere manne help om betroubare raad te gee?
13 Wat kan ’n ouere man doen as daar niks oor die spesifieke probleem onder bespreking in die Genootskap se lektuur is nie? Hy sal ongetwyfeld om insig bid en na Bybelbeginsels soek wat met die saak verband hou. Hy kan ook vind dat dit goed is om die persoon wat om hulp gevra het aan te moedig om oor Jesus se voorbeeld na te dink. Die ouere man kan vra: “As Jesus, die Groot Onderwyser, in jou situasie was, wat dink jy sou hy gedoen het?” (1 Korinthiërs 2:16). So ’n redenasie kan die persoon wat om hulp gevra het, help om ’n verstandige besluit te neem. Maar hoe onverstandig sal dit tog vir ’n ouere man wees om bloot ’n persoonlike opinie te lug asof dit betroubare skriftuurlike raad is! Ouere manne kan eerder moeilike probleme met mekaar bespreek. Hulle kan selfs belangrike sake by ’n vergadering van die liggaam van ouere manne bespreek (Spreuke 11:14). Die besluite wat daaruit voortspruit, sal almal help om eenstemmig te wees.—1 Korinthiërs 1:10.
Sagmoedigheid is absoluut noodsaaklik
14, 15. Wat word van ouere manne verwag wanneer hulle ’n Christen reghelp wat ‘deur een of ander misdaad oorval is’?
14 ’n Christen- ouere man moet sagmoedigheid aan die dag lê wanneer hy ander leer, veral wanneer hy hulle raad gee. “Broeders”, het Paulus gesê, “as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid” (Galasiërs 6:1). Dit is interessant dat die Griekse woord wat hier met “reghelp” vertaal word, verband hou met ’n chirurgiese term wat gebruik is om te beskryf hoe ’n been gespalk word sodat ’n lewenslange gebrek voorkom kan word. Leksikograaf W. E. Vine bring dit in verband met ’n herstelproses “deur diegene wat geestelik is, van iemand wat deur ’n sonde oorval is, aangesien so iemand soos ’n ontwrigte lid van die geestelike liggaam is”. Ander vertalings is, “om tot die regte posisie te herstel; om op die regte koers te bring”.
15 Om ’n mens se denke reg te stel, is nie maklik nie, en dit kan baie moeilik wees om iemand wat gesondig het se denke op die regte koers te bring. Maar hulp wat in ’n gees van sagmoedigheid gegee word, sal waarskynlik met dankbaarheid ontvang word. Christen- ouere manne moet gevolglik op Paulus se raad ag gee: “Beklee julle dan . . . met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid” (Kolossense 3:12). Wat moet ouere manne doen wanneer iemand wat regstelling nodig het ’n slegte gesindheid openbaar? Hulle moet ‘sagmoedigheid najaag’.—1 Timotheüs 6:11.
Wees versigtig
16, 17. Teen watter gevare moet ouere manne waak wanneer hulle ander raad gee?
16 Daar is meer by Paulus se raad in Galasiërs 6:1 betrokke. Hy spoor geestelik gekwalifiseerde manne aan: “Julle . . . [moet] so een [iemand wat gesondig het] reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” Watter ernstige gevolge kan dit hê as sulke raad verontagsaam word! Na aanleiding van berigte oor ’n Anglikaanse geestelike wat hom aan owerspel met twee van sy gemeentelede skuldig gemaak het, het The Times van Londen gesê dit is “’n tydlose situasie: ’n voorligtingsessie, ’n oënskynlik vaderlike of broederlike man word die slagoffer van die versoekings wat vertroue bied”. Die nuusrubriekskrywer het toe melding gemaak van dr. Peter Rutter se bewerings dat “uitbuitende liefdesverhoudings tussen pasiënte en hulle manlike raadgewers—dokters, regsgeleerdes, priesters en werkgewers—in ons seksueel permissiewe gemeenskap ’n onerkende, skadelike en skandelike epidemie geword het”.
17 Ons moenie dink dat Jehovah se volk teen sulke versoekings immuun is nie. Een gerespekteerde ouere man wat jare lank getrou gedien het, het by onsedelikheid betrokke geraak omdat hy herdersbesoeke op ’n getroude suster gedoen het terwyl sy alleen was. Hoewel die broer berouvol was, het hy al sy diensvoorregte verloor (1 Korinthiërs 10:12). Hoe kan aangestelde ouere manne dan herdersbesoeke doen sodat hulle nie in versoeking kom nie? Hoe kan hulle reël dat hulle ’n mate van privaatheid het, vir gebed, en vir ’n geleentheid om God se Woord en Christelike publikasies te raadpleeg?
18. (a) Hoe kan dit ouere manne help om gevaarlike situasies te vermy as hulle die beginsel van hoofskap toepas? (b) Watter reëlings kan getref word wanneer ’n herdersbesoek op ’n suster gedoen moet word?
18 Een faktor wat ouere manne in aanmerking moet neem, is die beginsel van hoofskap (1 Korinthiërs 11:3). As ’n jong persoon om leiding vra, moet die ouere man probeer om sy ouers by die bespreking te betrek indien dit gepas is. Kan jy reël dat ’n getroude suster wat om geestelike hulp vra se man teenwoordig is wanneer jy haar besoek? Sê nou dit is onmoontlik of hy is ’n ongelowige wat haar op die een of ander wyse mishandel? Dan moet jy dieselfde doen as wat jy tydens ’n herdersbesoek op ’n ongetroude suster sou doen. Dit sal verstandig wees as twee geestelik bekwame broers die suster saam besoek. As dit nie gepas is nie, kan ’n geskikte tyd miskien gekies word waarop die twee broers ’n bespreking by die Koninkryksaal, verkieslik in ’n vertrek waar hulle privaat is, met haar kan hê. Met ander broers en susters wat in die saal teenwoordig is, maar nie in die posisie is om die bespreking te sien of toevallig te hoor nie, sal enige rede tot struikeling vermy word.—Filippense 1:9, 10.
19. Watter goeie resultate bring dit mee wanneer herders gewilliglik oor God se skape toesig hou, en teenoor wie spreek ons ons dankbaarheid uit vir gewillige herders?
19 Om gewilliglik as herder oor God se skape toesig te hou, bring goeie resultate mee—’n geestelik sterk, goedgerigte kudde. Hedendaagse Christen- ouere manne is, soos die apostel Paulus, baie besorg oor medegelowiges (2 Korinthiërs 11:28). Dit is in hierdie swaar tye veral ’n groot verantwoordelikheid om as herder oor God se volk toesig te hou. Ons is gevolglik waarlik dankbaar vir die goeie werk wat deur ons broers gedoen word wat as ouere manne dien (1 Timotheüs 5:17). Ons loof die Gewer van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe”, ons liefdevolle hemelse Herder, Jehovah, vir die seëning van “gawes in mense” wat gewilliglik as herders oor ons toesig hou.—Efesiërs 4:8; Jakobus 1:17.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe kan ’n man goeie beheer oor sy huisgesin uitoefen?
◻ Watter eienskappe moet Christen- ouere manne se toesig kenmerk?
◻ Hoe kan ouere manne nederigheid en sagmoedigheid aan die dag lê wanneer hulle raad gee?
◻ Wat help om geestelike regstelling doeltreffend te maak?
◻ Hoe kan ouere manne gevaarlike situasies vermy wanneer hulle as herders oor die kudde toesig hou?
[Prent op bladsy 18]
’n Christen- ouere man moet goeie beheer oor sy huisgesin uitoefen
[Prent op bladsy 21]
Christelike herderswerk moet met sagmoedigheid en in goeie oordeel gedoen word