Die vroeë Christene en die wêreld
ONGEVEER tweeduisend jaar gelede het ’n baie wonderlike gebeurtenis in die Midde-Ooste plaasgevind. Die eniggebore Seun van God is van sy hemelse woonplek gestuur om ’n ruk lank in die mensewêreld te kom woon. Hoe het die meeste mense gereageer? Die apostel Johannes antwoord: “Hy [Jesus] was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom [Israel] gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.”—Johannes 1:10, 11.
Die wêreld het Jesus, die Seun van God, eenvoudig nie aanvaar nie. Waarom nie? Jesus het een rede verduidelik toe hy gesê het: ‘Die wêreld haat my, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is’ (Johannes 7:7). Dit was uiteindelik hierdie selfde wêreld—wat deur party Joodse godsdiensleiers, ’n Edomitiese koning en ’n Romeinse politikus verteenwoordig is—wat Jesus laat doodmaak het (Lukas 22:66–23:25; Handelinge 3:14, 15; 4:24-28). Wat van Jesus se volgelinge? Sou dit vir die wêreld makliker wees om hulle te aanvaar? Nee. Jesus het hulle kort voor sy dood gewaarsku: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”—Johannes 15:19.
In apostoliese tye
Jesus se woorde is bewaarheid. Net ’n paar weke ná sy dood is sy apostels gearresteer, gedreig en geslaan (Handelinge 4:1-3; 5:17, 18, 40). Kort daarna is die ywerige Stefanus voor die Joodse Sanhedrin gesleep en toe gestenig (Handelinge 6:8-12; 7:54, 57, 58). Later is die apostel Jakobus deur koning Herodes Agrippa I tereggestel (Handelinge 12:1, 2). Paulus is gedurende sy sendingreise vervolg op aanstigting van Jode van die diaspora.—Handelinge 13:50; 14:2, 19.
Hoe het die vroeë Christene op sulke teëkanting gereageer? Toe die godsdiensowerheid die apostels in die vroeë dae verbied het om in die naam van Christus te preek, het die apostels gesê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 4:19, 20; 5:29). Dit was altyd hulle gesindheid wanneer teëkanting voorgekom het. Die apostel Paulus het Christene in Rome nietemin gemaan om hulle te “onderwerp aan die [regerings]magte”. Hy het hulle ook gemaan: “As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Romeine 12:18; 13:1). Die vroeë Christene moes dus ’n balans verkry wat moeilik was om te behou. Hulle het God as hulle vernaamste Heerser gehoorsaam. Hulle was terselfdertyd onderworpe aan nasionale owerhede en het probeer om in vrede met alle mense te leef.
Christene in die Romeinse wêreld
Christene het ongetwyfeld in die eerste-eeuse wêreld van die Romeinse Ryk baat gevind by die Pax Romana, of Romeinse Vrede, wat deur die Romeinse legioene gehandhaaf is. Die stabiele heerskappy van wet en orde, die goeie paaie en die relatief veilige seevervoer het ’n milieu geskep wat die uitbreiding van die Christelike godsdiens bevorder het. Die vroeë Christene het klaarblyklik hulle verpligting teenoor die samelewing erken en gehoor gegee aan Jesus se opdrag om te “betaal aan die keiser wat die keiser toekom” (Markus 12:17). Justinus die Martelaar het in ’n brief aan die Romeinse keiser Antoninus Pius (138-161 G.J.) gesê dat Christene hulle belasting met “meer gewilligheid as alle ander mense” betaal het (First Apology, hoofstuk 17). In 197 G.J. het Tertullianus vir die Romeinse heersers vertel dat hulle belastinggaarders “dank aan Christene verskuldig is” vanweë die pligsgetroue manier waarop hulle hulle belasting betaal het (Apology, hoofstuk 42). Dit was een manier waarop hulle Paulus se raad gevolg het om hulle te onderwerp aan die magte wat oor hulle gestel is.
Vroeë Christene het boonop probeer om, sover as hulle Christelike beginsels dit toegelaat het, in vrede met hulle naaste te leef. Maar dit was nie maklik nie. Die wêreld om hulle was grotendeels onsedelik, en Grieks-Romeinse afgodediens, waarvan keiseraanbidding ’n nuwer aspek was, was aan die orde van die dag. Die Heidens-Romeinse godsdiens was hoofsaaklik ’n Staatsgodsdiens, en daarom kon enige weiering om dit te beoefen as vyandigheid teenoor die Staat beskou word. Hoe is Christene hierdeur geraak?
Die Oxfordse professor E. G. Hardy het geskryf: “Tertullianus noem baie dinge wat ’n pligsgetroue Christen nie kon doen nie omdat afgodediens daarby betrokke was: bv., die eed wat gewoonlik tydens kontrakte afgelê word; die verligting van deure tydens feeste, ens.; alle Heidense godsdienseremonies; die spele en die sirkus; die onderrigberoep in sekulêre [heidens-klassieke] literatuur; militêre diens; regeringsposte.”—Christianity and the Roman Government.
Ja, dit was moeilik om in die Romeinse wêreld te leef sonder om die Christelike geloof te verloën. Die Franse Katolieke skrywer A. Hamman skryf: “Dit was onmoontlik om iets te doen waarby daar nie ’n godheid betrokke was nie. Die Christen se posisie het daagliks vir hom probleme meegebring; hy het aan die rand van die samelewing gelewe . . . Hy moes herhaaldelik probleme tuis, op straat, by die mark die hoof bied . . . Wanneer ’n Christen op straat was, moes hy, óf hy nou ’n Romeinse burger was óf nie, sy hoof ontbloot wanneer hy verby ’n tempel of ’n beeld loop. Hoe kon hy hom daarvan weerhou sonder om agterdog te wek, en hoe sou hy nie ’n daad van trou pleeg as hy dit sou doen nie? As hy ’n sakeman was en geld moes leen, moes hy voor die geldlener ’n eed in die naam van die gode aflê. . . . As hy ’n regeringspos aanvaar het, moes hy ’n offerande bring. Hoe kon hy, as hy vir militêre diens opgeroep word, dit vermy om die eed af te lê en deel te neem aan die gebruike wat met militêre diens gepaardgaan?”—La vie quotidienne des premiers chrétiens (95-197) (Die daaglikse lewe onder die vroeë Christene, 95-197 G.J.).
Goeie burgers, maar tog belaster
Ongeveer 60 of 61 G.J., toe Paulus in Rome ’n verhoor deur keiser Nero afgewag het, het vername Jode aangaande die vroeë Christene gesê: “Wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word” (Handelinge 28:22). Die geskiedkundige verslag bevestig dat daar sleg van die Christene gepraat is—maar ten onregte. In sy boek The Rise of Christianity sê E. W. Barnes: “In hulle vroeë gesaghebbende dokumente word die Christelike beweging in wese uitgebeeld as sedelik en wetsgehoorsaam. Hulle lede wou goeie burgers en lojale onderdane wees. Hulle het die tekortkominge en verdorwenhede van die heidendom vermy. In hulle privaat lewe het hulle daarna gestrewe om vredeliewende bure en betroubare vriende te wees. Hulle is geleer om ernstig en beskeie, vlytig en rein te wees. Te midde van korrupsie en bandeloosheid was hulle, indien hulle lojaal gebly het aan hulle beginsels, eerlik en waarheidliewend. Hulle seksuele standaarde was hoog: die huweliksband is gerespekteer en die gesinslewe was rein. ’n Mens sou dink dat hulle met sulke deugde nie moeilike burgers kon wees nie. Tog is hulle lank verag, belaster en gehaat.”
Net soos die eertydse wêreld Jesus nie verstaan het nie, het dit die Christene nie verstaan nie en hulle daarom gehaat. Omdat hulle geweier het om die keiser en heidense godhede te aanbid, is hulle van ateïsme beskuldig. As daar ’n ramp was, is hulle daarvan beskuldig dat hulle die gode kwaad gemaak het. Omdat hulle onsedelike opvoerings of wrede gladiatorvertonings nie bygewoon het nie, is hulle as antisosiaal, selfs ‘mensehaters’, beskou. Hulle vyande het gesê dat die Christen-“sekte” gesinne laat verbrokkel het en dit dus gevaar ingehou het vir sosiale stabiliteit. Tertullianus het gepraat van heidense mans wat verkies het dat hulle vroue owerspel pleeg as dat hulle Christene word.
Christene is gekritiseer omdat hulle teen aborsie was, wat destyds algemeen beoefen is. Tog het hulle vyande hulle daarvan beskuldig dat hulle kinders doodmaak. Die aantyging is gemaak dat hulle by hulle vergaderinge die bloed van geofferde kinders gedrink het. Hulle vyande het hulle terselfdertyd probeer dwing om bloedwors te eet, met die wete dat dit teen hulle gewete ingedruis het. Hierdie teenstanders was dus in teëspraak met hulle eie beskuldiging.—Tertullianus, Apology, hoofstuk 9.
Verag as ’n nuwe sekte
Die geskiedskrywer Kenneth Scott Latourette het geskryf: “Nog ’n stel kritiek het die Christelike godsdiens aan bespotting onderwerp vanweë die feit dat hy eers onlangs ontstaan het en het hom met sy mededingers vergelyk [Judaïsme en die Grieks-Romeinse heidense godsdienste] wat so lank reeds bestaan het.” (A History of the Expansion of Christianity, Deel 1, bladsy 131). Vroeg in die tweede eeu G.J. het die Romeinse geskiedskrywer Suetonius die Christelike godsdiens “’n nuwe en verderflike bygeloof” genoem. Tertullianus het daarvan getuig dat selfs die naam Christen gehaat is en dat Christene ’n ongewilde sekte was. Robert M. Grant het die volgende geskryf oor die beskouing wat amptenare van die Romeinse Ryk gedurende die tweede eeu oor Christene gehuldig het: “Die basiese beskouing was dat die Christelike godsdiens eenvoudig ’n onnodige, moontlik ’n skadelike, godsdiens was.”—Early Christianity and Society.
Beskuldig van aggressiewe bekeringswerk
In sy boek Les premiers siècles de l’Eglise (Die vroeë eeue van die Kerk) het die Sorbonne-professor Jean Bernardi geskryf: “[Christene] moes uitgaan en oral en met almal praat. Op die hoofweë en in die stede, op die openbare pleine en in die huise. Welkom of onwelkom. Met die armes en met die rykes wat deur hulle besittings belas is. Met die geringes en met die goewerneurs van die Romeinse provinsies . . . Hulle moes op die paaie reis, aan boord van skepe en na die uiteindes van die aarde gaan.”
Het hulle dit gedoen? Hulle het klaarblyklik. Professor Léon Homo vertel dat die publiek teen die vroeë Christene gekant was vanweë hulle “vurige bekeerdery”. Professor Latourette sê dat terwyl die Jode hulle ywer vir die bekeringswerk verloor het “Christene daarenteen aggressiewe sendelinge was en daarom aanstoot gegee het”.
In die tweede eeu G.J. het die Romeinse filosoof Celsus die Christene se predikingsmetodes gekritiseer. Hy het gesê dat die Christelike godsdiens vir die ongeletterdes bedoel was en dat dit ‘net die verstandeloses, slawe, vroue en kindertjies kon oortuig’. Hy het Christene daarvan beskuldig dat hulle “liggelowige mense” indoktrineer deur hulle te laat “glo sonder rasionele oordenking”. Hy het gesê dat hulle hulle nuwe dissipels vertel het: “Moenie vrae vra nie; glo net.” Tog het Celsus, volgens Origines, self erken dat “dit nie net die eenvoudiges was wat deur die leerstelling oor Jesus beweeg is om Sy godsdiens aan te neem nie”.
Geen ekumenisme nie
Die vroeë Christene is verder gekritiseer omdat hulle gesê het dat hulle die waarheid aangaande die enigste ware God het. Hulle het nie ekumenisme, of geloofsvermenging, aanvaar nie. Kenneth Latourette het geskryf: “[Die Christene] was, anders as die meeste gelowe van daardie tyd, gekant teen ander godsdienste. . . . In teenstelling met die taamlike verdraagsaamheid wat ander kultusse gekenmerk het, het hulle verklaar dat hulle onbetwisbare waarheid het.”
In 202 G.J. het keiser Septimius Severus ’n dekreet uitgevaardig wat Christene verbied het om bekeerlinge te maak. Maar dit het hulle nie daarvan weerhou om van hulle geloof te getuig nie. Kenneth Latourette beskryf die gevolg: “Vanweë [die vroeë Christelike godsdiens] se weiering om ’n kompromis aan te gaan met die teenswoordige heidendom en met talle van die sosiale gewoontes en sedelike gebruike van daardie tyd het dit ’n samehorigheid en ’n organisasie ontwikkel wat veroorsaak het dat die gemeenskap teen hulle gekant was. Juis die breuk wat nodig was om by [die vroeë Christelike godsdiens] aan te sluit, het aan sy volgelinge ’n oortuiging besorg wat hulle versterk het teen vervolging en hulle ywer gegee het om bekeerlinge te maak.”
Die geskiedkundige verslag is dus duidelik. Die vroeë Christene het, terwyl hulle daarna gestrewe het om goeie burgers te wees en in vrede met alle mense te leef, oor die algemeen geweier om ‘’n deel van die wêreld te wees’ (Johannes 15:19, NW). Hulle het die owerhede gerespekteer. Maar wanneer die Keiser hulle verbied het om te preek, moes hulle eenvoudig aanhou preek. Hulle het probeer om in vrede met alle mense te leef, maar het geweier om ’n kompromis aan te gaan wat sedelike standaarde en heidense afgodediens betref. Weens al hierdie dinge is hulle verag, belaster, gehaat en vervolg, soos Christus voorspel het sou gebeur.—Johannes 16:33.
Het hulle voortgegaan om afgeskeie van die wêreld te wees? Of het diegene wat die Christelike godsdiens bely het mettertyd hulle gesindheid hieroor verander?
[Lokteks op bladsy 4]
“Die Christen se posisie het daagliks vir hom probleme meegebring; hy het aan die rand van die samelewing geleef”
[Lokteks op bladsy 6]
‘Die Christelike godsdiens is aan bespotting onderwerp vanweë die feit dat hy eers onlangs ontstaan het en is met sy mededingers vergelyk wat so lank reeds bestaan het’
[Prent op bladsy 3]
Omdat Christene geweier het om die Romeinse keiser en heidense godhede te aanbid, is hulle van ateïsme beskuldig
[Erkenning]
Museo della Civiltà Romana, Roma
[Prent op bladsy 7]
Die eerste-eeuse Christene was bekend as ywerige verkondigers van die Koninkryksboodskap
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Cover: Alinari/Art Resource, N.Y.