Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 5/1 bl. 5-8
  • Die vroeë Christelike godsdiens en die Staat

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vroeë Christelike godsdiens en die Staat
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nóg wêrelds nóg vyandig
  • Eer, nie aanbidding nie
  • “Aan die rand van die samelewing”
  • Betaal Caesar wat hom “toekom”
  • ’n Fyn balans tussen twee botsende eise
  • Kompromis met die Staat
  • Die vroeë Christene en die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • God en Caesar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • ’n Kompromis was eenvoudig ondenkbaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Wat beteken dit om ’n goeie burger te wees?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 5/1 bl. 5-8

Die vroeë Christelike godsdiens en die Staat

’NPAAR uur voor sy dood het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘Julle is geen deel van die wêreld nie, maar ek het julle uit die wêreld uitgekies, om dié rede haat die wêreld julle’ (Johannes 15:19). Maar beteken dit dat Christene ’n vyandige gesindheid teenoor die owerhede van hierdie wêreld sou inneem?

Nóg wêrelds nóg vyandig

Die apostel Paulus het vir die Christene wat in Rome gewoon het, gesê: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede” (Romeine 13:1). Die apostel Petrus het insgelyks geskryf: “Onderwerp julle ter wille van die Here aan elke menslike skepping: hetsy aan ’n koning as een wat hoër is of aan goewerneurs as dié wat deur hom gestuur word om boosdoeners te straf maar om dié wat goed doen te loof” (1 Petrus 2:13, 14). Onderdanigheid aan die Staat en sy behoorlik aangestelde verteenwoordigers was duidelik ’n erkende beginsel onder die vroeë Christene. Hulle het probeer om wetsgehoorsame burgers te wees en om vreedsaam met alle mense te leef.—Romeine 12:18.

The Encyclopedia of Religion sê onder die onderwerp “Kerk en Staat”: “In die eerste drie eeue n.C. was die Christelike kerk in groot mate afgesonder van die amptelike Romeinse samelewing . . . Christenleiers het nietemin . . . binne die perke wat deur die Christelike geloof gestel is gehoorsaamheid aan die Romeinse wet en lojaliteit aan die keiser geleer.”

Eer, nie aanbidding nie

Christene was nie vyandig teenoor die Romeinse keiser nie. Hulle het sy gesag geëerbiedig en aan hom die eer betoon wat iemand in sy posisie toegekom het. Tydens die heerskappy van keiser Nero het die apostel Petrus aan Christene wat in verskillende dele van die Romeinse Ryk gewoon het, geskryf: “Eer alle soorte mense, . . . eer die koning” (1 Petrus 2:17). Die woord “koning” is in die Griekssprekende wêreld nie net met verwysing na plaaslike konings gebruik nie, maar ook met verwysing na die Romeinse keiser. Die apostel Paulus het die Christene wat in die hoofstad van die Romeinse Ryk gewoon het, gemaan: “Gee aan almal wat hulle toekom: . . . aan hom wat eer verlang, sulke eer” (Romeine 13:7). Die Romeinse keiser het beslis eer verlang. Mettertyd het hy selfs aanbidding verlang. Maar hier het die vroeë Christene die lyn getrek.

Polycarpus het, in die tweede eeu G.J. tydens sy verhoor voor ’n Romeinse prokonsul, na bewering gesê: “Ek is ’n Christen. . . . Ons word geleer om aan die magte en owerhede wat God verorden het al die eer . . . te betoon wat hulle toekom.” Maar Polycarpus het eerder gekies om te sterf as om die keiser te aanbid. Die tweede-eeuse apologeet Teofilus van Antiogië het geskryf: “Ek sal eerder die keiser eer, hom beslis nie aanbid nie, maar vir hom bid. Maar ek aanbid God, die lewende en ware God.”

Gepaste gebede aangaande die keiser het geensins met keiseraanbidding of nasionalisme verband gehou nie. Die apostel Paulus het die doel daarvan verduidelik: “Ek vermaan dus allereers dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word aangaande alle soorte mense, aangaande konings en almal wat ’n hoë posisie beklee, sodat ons kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei.”—1 Timoteus 2:1, 2.

“Aan die rand van die samelewing”

Hierdie eerbiedige gedrag aan die kant van die vroeë Christene het nie vir hulle die vriendskap van die wêreld besorg waarin hulle geleef het nie. Die Franse geskiedskrywer A. Hamman sê dat die vroeë Christene “aan die rand van die samelewing geleef het”. Hulle het in werklikheid aan die rand van twee samelewings geleef, die Joodse en die Romeinse samelewing, en hulle het met baie vooroordeel en misvattings van beide groepe te kampe gehad.

Toe die Joodse leiers die apostel Paulus byvoorbeeld valslik aangekla het, het hy ter verdediging voor die Romeinse goewerneur gesê: “Ek het nie teen die Wet van die Jode of teen die tempel of teen Caesar enige sonde gepleeg nie. . . . Ek beroep my op Caesar!” (Handelinge 25:8, 11). Omdat Paulus geweet het dat die Jode saamgesweer het om hom dood te maak, het hy hom op Nero beroep, wat dus toon dat hy die gesag van die Romeinse keiser erken het. Paulus is blykbaar daarna tydens sy eerste verhoor in Rome vrygespreek. Maar later is hy weer gevange geneem, en volgens oorlewering is hy op bevel van Nero tereggestel.

Die sosioloog en teoloog Ernst Troeltsch het aangaande die netelige posisie van die vroeë Christene in die Romeinse samelewing geskryf: “Alle ampte en strewes is belet wat enigsins verband gehou het met afgodediens of met die aanbidding van die Keiser of wat enigiets te doen gehad het met bloedvergieting of met die doodstraf of wat Christene in aanraking sou bring met heidense onsedelikheid.” Het hierdie standpunt geen ruimte vir ’n vreedsame en wedersyds eerbiedige verhouding tussen Christene en die Staat gelaat nie?

Betaal Caesar wat hom “toekom”

Jesus het ’n voorskrif voorsien wat Christelike gedrag teenoor die Romeinse Staat of, wat dit betref, teenoor enige ander regering sou rig toe hy gesê het: “Betaal . . . aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matteus 22:21). Hierdie raad aan Jesus se volgelinge het ’n skerp teenstelling gevorm met die gesindheid van talle nasionalistiese Jode wat Romeinse oorheersing verag het en betwis het of dit geoorloof is om belasting aan ’n vreemde mag te betaal.

Paulus het later vir die Christene wat in Rome gewoon het, gesê: “Daar is dus dwingende rede vir julle om onderdanig te wees, nie net weens dié gramskap nie, maar ook weens julle gewete. Want dit is waarom julle ook belastings betaal; want hulle [goewermentele “hoër owerhede”] is God se openbare dienaars wat voortdurend juis met dié doel dien. Gee aan almal wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting; aan hom wat die skatting verlang, die skatting” (Romeine 13:5-7). Hoewel die Christene geen deel van die wêreld was nie, was hulle verplig om eerlike, belastingbetalende burgers te wees wat die Staat vir gelewerde dienste betaal het.—Johannes 17:16.

Maar geld Jesus se woorde net vir die betaling van belasting? Aangesien Jesus nie presies gedefinieer het wat Caesar s’n is en wat God s’n is nie, is daar grensgevalle waaroor daar na gelang van die verband of na gelang van ons begrip van die hele Bybel besluit moet word. Met ander woorde, ’n Christen sal soms sy gewete, wat deur Bybelbeginsels gerig word, volg wanneer hy moet besluit watter dinge hy aan Caesar kan betaal.

’n Fyn balans tussen twee botsende eise

Baie mense is geneig om te vergeet dat Jesus, ná hy gesê het dat ons aan Caesar moet terugbetaal wat aan hom behoort, bygevoeg het: “Maar [betaal terug] aan God wat aan God behoort”. Die apostel Petrus het getoon wat vir Christene die belangrikste is. Onmiddellik ná Petrus raad gegee het oor onderdanigheid aan die “koning”, of keiser, en sy “goewerneurs”, het hy geskryf: “Wees soos vry mense, maar behou julle vryheid, nie as ’n dekmantel vir slegtheid nie, maar as slawe van God. Eer alle soorte mense, wees lief vir die hele gemeenskap van broers, vrees God, eer die koning” (1 Petrus 2:16, 17). Die apostel het getoon dat Christene slawe van God is, nie van ’n menseheerser nie. Hoewel hulle verteenwoordigers van die Staat op behoorlike wyse moet eer en respekteer, moet hulle dit met vrees doen vir God, wie se wette die grootste gesag dra.

Jare tevore het Petrus geen twyfel gelaat oor die belangrikheid van God se wet bo dié van mense nie. Die Joodse Sanhedrin was ’n administratiewe liggaam waaraan die Romeine burgerlike sowel as godsdienstige gesag gegee het. Toe hulle Jesus se volgelinge beveel het om op te hou om in Christus se naam te leer, het Petrus en die ander apostels eerbiedig maar beslis geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Die vroeë Christene moes klaarblyklik ’n fyn balans tussen gehoorsaamheid aan God en gepaste onderdanigheid aan menseowerhede handhaaf. Tertullianus het dit vroeg in die derde eeu G.J. so gestel: “As alles Caesar s’n is, wat sal vir God oorbly?”

Kompromis met die Staat

Met verloop van tyd het die standpunt wat die eerste-eeuse Christene teenoor die Staat ingeneem het geleidelik verslap. Die afvalligheid wat Jesus en die apostels voorspel het, het in die tweede en derde eeu G.J. gefloreer (Matteus 13:37, 38; Handelinge 20:29, 30; 2 Tessalonisense 2:3-12; 2 Petrus 2:1-3). Die afvallige Christelike godsdiens het kompromisse met die Romeinse wêreld aangegaan, sy heidense feeste asook sy filosofie aangeneem en nie alleen ingestem om staatsdiens nie, maar ook militêre diens te verrig.

Professor Troeltsch het geskryf: “Vanaf die derde eeu het die situasie moeiliker geword, aangesien daar nou baie meer Christene in die hoër stande van die Samelewing en in die belangriker posisies, in die leër en in amptelike kringe, was. In talle gedeeltes in die [nie-Bybelse] Christelike geskrifte is daar verontwaardigde besware teen deelname aan hierdie dinge; daarenteen vind ons ook pogings om kompromisse aan te gaan—argumente wat bedoel is om onrustige gewetes te sus . . . Van die tyd van Konstantyn het hierdie probleme verdwyn; wrywing tussen Christene en heidene het tot ’n einde gekom, en alle ampte in die Staat is oopgestel.”

Teen die einde van die vierde eeu G.J. het hierdie vervalste, ontroue vorm van die Christelike godsdiens die Staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk geword.

Deur sy hele geskiedenis heen het die Christendom—verteenwoordig deur die Katolieke, Ortodokse en Protestantse Kerke—voortgegaan om kompromisse met die Staat aan te gaan, en diep betrokke geraak in sy politiek en dit in sy oorloë ondersteun. Talle opregte kerklidmate wat hierdeur geskok is, sal ongetwyfeld bly wees om te weet dat daar vandag Christene is wat hou by die standpunt van die eerste-eeuse Christene wat hulle verhouding met die Staat betref. Die volgende twee artikels sal die saak in meer besonderhede bespreek.

[Prent op bladsy 5]

Keiser Nero, van wie Petrus geskryf het: “Eer die koning”

[Erkenning]

Musei Capitolini, Roma

[Prent op bladsy 6]

Polycarpus het eerder gekies om te sterf as om die keiser te aanbid

[Prent op bladsy 7]

Die vroeë Christene was vreedsame, eerlike, belastingbetalende burgers

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel