Tonele uit die Beloofde Land
Berseba—Waar ’n put lewe beteken het
“VAN Dan tot Berseba.” Dít is ’n uitdrukking waarmee Bybellesers bekend is. Dit beskryf die hele Israel, van Dan, digby die noordelike grens, tot Berseba, in die suide. Die vrede gedurende Salomo se bewind is soos volg geskilder: “Juda en Israel [het] veilig gewoon . . . elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo.”—1 Konings 4:25; Rigters 20:1.
Maar Dan en Berseba was nie net ver van mekaar geleë nie, hulle het ook in ander opsigte van mekaar verskil. Dan het byvoorbeeld volop reën ontvang; van die water het afgeloop om een van die bronne van die Jordaan te vorm, wat ons in die foto regs sien. Berseba was heeltemal anders, want hy was geleë in ’n droë streek, tussen die seekus en die suidelike punt van die Dooie See.
In die omgewing van Berseba was die jaarlikse reënval slegs 150 tot 200 millimeter. Kyk nou, met hierdie feite in gedagte, na die foto hierbo van die tel, of puinheuwel, van Berseba.a Die groen wat jy sien, toon dat die foto ná die skraal winterreëns geneem is, wanneer die gebied om Berseba ’n tydjie lank groen is. Die nabygeleë vlaktes was—en is nog—uitstekend vir graanverbouing.
Omdat dit ’n droë streek is, lê die Bybelverslae oor Berseba klem op putte en waterregte. Die stad het langs die paaie of karavaanroetes gelê wat deur die woestynwildernis verder suid geloop het. Soos jy kan begryp, het reisigers wat hier verbygegaan het of wat hier aangedoen het water vir hulle en hulle diere nodig gehad. Hierdie water het nie uit die grond uit opgeborrel soos by Dan nie, maar kon by putte gekry word. Trouens, die Hebreeuse woord beʼerʹ het verwys na ’n put of gat wat gegrawe is om ’n onderaardse watervoorraad te benut. Berseba beteken “Put van die eed” of “Put van die sewe”.
Abraham en sy huisgesin het lank in en om Berseba gewoon en hulle het geweet hoe belangrik putte is. Toe Sara se slavin Hagar in die woestyn in gevlug het, het sy miskien gedink sy kon water by putte kry of by die Bedoeïene wat die putte gebruik het—soos die Bedoeïenvrou wat op die volgende bladsy bo water optrek by ’n put in die Sinai-skiereiland. Toe Abraham later Hagar met haar onbeskofte seun moes wegstuur, het hy goedhartig vir haar ’n sak met water saamgegee. Wat het gebeur toe die water op was? “Daarop het God haar oë geopen, en sy sien ’n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink.”—Genesis 21:19.
Waar het Abraham die water gekry om Hagar se watersak vol te maak? Moontlik by die put wat hy gegrawe en ’n tamariskboom by geplant het (Genesis 21:25-33). Ons kan sê wetenskaplikes besef vandag hoe gepas Abraham se keuse van die tamarisk was, want dit is ’n boom met fyn blaartjies wat min vog verloor, gevolglik kan dit hier gedy al is dit so ’n dor streek.—Sien foto hier onder.
Die feit dat Abraham ’n put gegrawe het, is opgehaal tydens ’n geskil tussen hom en ’n Filistynse koning. ’n Put was ’n waardevolle bate omdat water oor die algemeen so skaars was en vanweë die arbeid wat daaraan verbonde was om ’n diep put te grawe. Trouens, destyds was dit ’n skending van eiendomsreg om ’n put sonder toestemming te gebruik.—Vergelyk Numeri 20:17, 19.
As jy Tel Berseba besoek, kan jy in ’n diep put teen die suid-oostelike hang in afkyk. Niemand weet wanneer dit oorspronklik deur die soliede rots gekap en die boonste gedeelte daarvan (wat ons hier onder sien) toe met klippe versterk is nie. Hedendaagse argeoloë het die put 30 meter diep oopgegrawe sonder om die bodem te bereik. Een van hulle het gesê: “’n Mens wil graag aanneem dat hierdie put . . . die ‘Put van die eed’ is waar Abraham en Abimeleg hulle verbond gesluit het.”—Biblical Archaeology Review.
Berseba het blykbaar later gedurende die Bybelse tydperk uitgebrei en ’n versterkte stad met ’n groot poort geword. Maar sy bestaan en voorspoed was grotendeels te danke aan die lewensbelangrike water van sy diep put.
[Voetnoot]
a Sien Jehovah se Getuies se kalender vir 1993 vir ’n groter foto van Tel Berseba.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.