Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 7/15 bl. 3-5
  • Wie is Jehovah?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie is Jehovah?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verhewe bo Egiptiese gode
  • Die behouer van sy volk
  • Lesse wat deur ondervinding geleer is
  • ‘Jah kom tot my redding’
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Die eerste drie plae
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Moses en Aäron by Farao
    My boek met Bybelverhale
  • Moses en Aäron—moedige verkondigers van God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 7/15 bl. 3-5

Wie is Jehovah?

“WIE is Jehovah?” Daardie vraag is 3 500 jaar gelede deur die trotse Farao, die koning van Egipte, gevra. Trots het hom klaarblyklik beweeg om by te voeg: “Ek ken Jehovah glad nie.” Twee mans wat toe voor Farao gestaan het, het geweet wie Jehovah is. Hulle was die vleeslike broers Moses en Aäron, van Israel se stam van Levi. Jehovah het hulle gestuur om te beveel dat Egipte se heerser die Israeliete na die woestyn laat gaan om ’n godsdiensfees te hou.—Exodus 5:1, 2, NW.

Farao wou nie ’n antwoord op sy vraag hê nie. Onder sy gesag het priesters die aanbidding van honderde valse godhede bevorder. Trouens, Farao self is as ’n god beskou! Volgens Egiptiese mitologie was hy die seun van die songod Ra en ’n beliggaming van die godheid Horus, wat die kop van ’n valk gehad het. Farao is met titels soos “die magtige god” en “die ewige” aangespreek. Dit was dus nie verbasend nie dat hy minagtend gevra het: “Wie is Jehovah, sodat ek sy stem moet gehoorsaam?”

Dit was nie nodig dat Moses en Aäron daardie vraag beantwoord nie. Farao het geweet dat Jehovah die God is wat deur die Israeliete, wat toe onder Egiptiese slawerny gely het, aanbid is. Maar Farao en die hele Egiptiese nasie sou binnekort leer dat Jehovah die ware God is. Jehovah sal vandag ook op soortgelyke wyse sy naam en godheid aan almal op die aarde bekend maak (Esegiël 36:23). Ons kan dus daarby baat vind as ons kyk na hoe Jehovah God sy naam in eertydse Egipte verheerlik het.

Verhewe bo Egiptiese gode

Toe Farao uittartend gevra het wie Jehovah is, het hy nie die gevolge verwag wat hy ondervind het nie. Jehovah het self daardie vraag beantwoord en tien plae oor Egipte gebring. Daardie plae was nie net ’n slag vir die nasie nie. Dit was ’n slag vir die gode van Egipte.

Die plae het Jehovah se verhewenheid bo die Egiptiese godhede gedemonstreer (Exodus 12:12; Numeri 33:4). Stel jou die chaos voor toe Jehovah die Nylrivier en al die water van Egipte in bloed verander het! Deur hierdie wonderwerk het Farao en sy volk geleer dat Jehovah verhewe is bo die Nylgod, Hapi. Die visse wat in die Nyl doodgegaan het, was ook ’n slag vir die Egiptiese godsdiens omdat sekere soorte visse aanbid is.—Exodus 7:19-21.

Daarna het Jehovah ’n paddaplaag oor Egipte gebring. Dit het die Egiptiese paddagodin, Heqt, tot oneer gestrek (Exodus 8:5-14). Die derde plaag het die towerpriesters verbyster, aangesien hulle Jehovah se wonderwerk nie kon nadoen deur stof in muskiete te verander nie. “Dit is die vinger van God!” het hulle uitgeroep (Exodus 8:16-19). Die Egiptiese god Thoth, wat beskou is as die uitvinder van die towerkuns, kon daardie kwaksalwers nie help nie.

Farao het begin leer wie Jehovah is. Jehovah is die God wat sy voorneme deur Moses kon bekend maak en dit dan kon volbring deur wonderbaarlike plae oor die Egiptenaars te bring. Jehovah kon ook die plae volgens sy wil laat begin en eindig. Maar hierdie kennis het Farao nie beweeg om hom aan Jehovah te onderwerp nie. Egipte se hoogmoedige heerser het hardnekkig voortgegaan om Jehovah teë te staan.

Gedurende die vierde plaag het steekvlieë die land verwoes, huise binnegedring en waarskynlik in swerms deur die lug gevlieg, wat self ’n voorwerp van aanbidding was en deur die god Sjoe of deur die godin Isis, koningin van die hemel, beliggaam is. Die Hebreeuse woord vir hierdie insek is al vertaal as “steekvlieg”, “hondevlieg” en “kewer” (New World Translation; Septuagint; Young). As die miskruier hierby betrokke was, is die Egiptenaars geteister deur insekte wat hulle as heilig beskou het, en mense kon nie rondbeweeg sonder om hulle dood te trap nie. Hierdie plaag het Farao in elk geval iets nuuts oor Jehovah geleer. Hoewel Egipte se godhede nie hulle aanbidders teen die steekvlieë kon beskerm nie, kon Jehovah sy volk beskerm. Hierdie en al die daaropvolgende plae het die Egiptenaars geteister, maar nie die Israeliete nie.—Exodus 8:20-24.

Die vyfde plaag was ’n pes onder die Egiptenaars se vee. Hierdie plaag het Hathor, Apis en die hemelgodin Nut, wat as ’n koei uitgebeeld is, verneder (Exodus 9:1-7). Die sesde plaag het swere op mens en dier laat uitbreek en die godhede Thoth, Isis en Ptah verneder, aan wie geneesvermoëns verkeerdelik toegeskryf is.—Exodus 9:8-11.

Die sewende plaag was swaar hael, met vuur wat tussen die haelkorrels deur voorgekom het. Hierdie plaag het die god Resjpoe, die veronderstelde heer van weerlig, en Thoth, wat glo reën en donder beheer, in die skande gesteek (Exodus 9:22-26). Die agtste slag, ’n sprinkaanplaag, het getoon hoe verhewe Jehovah bo die vrugbaarheidsgod Min is, wat veronderstel was om die beskermer van die oes te wees (Exodus 10:12-15). Die negende slag, ’n drie dae lange duisternis oor Egipte, het Egiptiese godhede soos die songode Ra en Horus ’n slegte naam gegee.—Exodus 10:21-23.

Ten spyte van nege verwoestende plae het Farao steeds geweier om die Israeliete te laat trek. Sy hardvogtigheid het Egipte duur te staan gekom toe God die tiende en finale plaag gebring het—die dood van die eersgeborenes onder mens en dier. Selfs die eersgebore seun van Farao het gesterf, hoewel hy as ’n god beskou is. Jehovah het dus ‘strafgerigte geoefen aan al die gode van Egipte’.—Exodus 12:12, 29.

Farao het toe vir Moses en Aäron laat roep en gesê: “Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien [Jehovah] soos julle gespreek het. Neem ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gespreek het, en gaan weg en seën my ook.”—Exodus 12:31, 32.

Die behouer van sy volk

Die Israeliete het weggetrek, maar kort voor lank het dit vir Farao gelyk asof hulle doelloos in die woestyn swerf. Hy en sy dienaars het toe gevra: “Wat het ons nou gedoen dat ons Israel laat trek het, sodat hulle ons nie meer dien nie?” (Exodus 14:3-5). Die verlies van hierdie slawenasie sou vir Egipte ekonomies ’n groot slag wees.

Farao het sy leër versamel en Israel tot by Pi-Hagirot agtervolg (Exodus 14:6-9). Uit ’n militêre oogpunt het die situasie vir die Egiptenaars goed gelyk omdat die Israeliete tussen die see en die berge vasgekeer was. Maar Jehovah het die Israeliete beskerm deur ’n wolk tussen hulle en die Egiptenaars te plaas. Aan die Egiptenaars se kant ‘was die wolk daar met die duisternis’, wat ’n aanval onmoontlik gemaak het. Aan die ander se kant was die wolk helder en ‘het dit die nag verlig’ vir Israel.—Exodus 14:10-20.

Die Egiptenaars wou plunder en verwoes, maar is deur die wolk verhinder (Exodus 15:9). Toe die wolk optrek, was daar ’n wonderwerk aan die gebeur! Die water van die Rooi See is gekloof, en die Israeliete was besig om op droë grond na die anderkant toe oor te trek! Farao en sy magte het die seebedding ingestorm, vasbeslote om hulle gewese slawe te vang en te beroof. Maar Egipte se hoogmoedige heerser het nie rekening gehou met die God van die Hebreërs nie. Jehovah het die Egiptenaars in verwarring begin bring en die wiele van hulle strydwaens laat insak.—Exodus 14:21-25a.

“Laat ons van Israel af wegvlug”, het Egipte se sterk manne uitgeroep, “want [Jehovah] stry vir hulle teen die Egiptenaars.” Farao en sy manskappe het dit te laat besef. Veilig op die oorkantse wal het Moses sy hand oor die see uitgestrek, en die water het teruggevloei en Farao en sy manskappe uitgewis.—Exodus 14:25b-28.

Lesse wat deur ondervinding geleer is

Wie is Jehovah dus? Die trotse Farao het ’n antwoord op daardie vraag ontvang. Die gebeure in Egipte het getoon dat Jehovah die enigste ware God is en heeltemal verskil van die “afgode” van die nasies (Psalm 96:4, 5). Jehovah het deur sy ontsagwekkende krag “die hemel en die aarde gemaak”. Hy is ook die Groot Verlosser, die Een wat sy “volk Israel uitgelei het uit Egipteland deur tekens en wonders en deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur ’n groot verskrikking” (Jeremia 32:17-21). Hoe goed het dit tog nie bewys dat Jehovah sy volk kan beskerm nie!

Farao het daardie lesse deur dure ondervinding geleer. Trouens, die laaste les het hom sy lewe gekos (Psalm 136:1, 15). Hy sou baie verstandiger gewees het as hy nederigheid getoon het toe hy gevra het: “Wie is Jehovah?” Dan kon daardie heerser opgetree het in ooreenstemming met die antwoord wat hy ontvang het. Gelukkig leer talle nederige mense nou wie Jehovah is. En watter soort persoonlikheid het Hy? Wat vra hy van ons? Mag die volgende artikel jou waardering verdiep vir die enigste Een wie se naam Jehovah is.—Psalm 83:18, NW.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel