Hulle het Jehovah se wil Gedoen
Moses en Aäron—moedige verkondigers van God se Woord
STEL jou die toneel voor: Die 80-jarige Moses en sy broer, Aäron, staan voor die magtigste man op aarde—Farao van Egipte. Vir die Egiptenaars is hierdie man nie net ’n verteenwoordiger van die gode nie. Hulle glo dat hy self ’n god is. Hy word beskou as die inkarnasie van Horus, ’n godheid met ’n valkkop. Tesame met Isis en Osiris het Horus die vernaamste drie-eenheid onder Egiptiese gode en godinne gevorm.
Enigiemand wat Farao genader het, kon nie anders as om die dreigende voorstelling van ’n kobrakop te sien wat in die middel van sy kroon uitgesteek het nie. Hierdie slang kon glo vuur en vernietiging op enige vyand van Farao uitspoeg. Moses en Aäron het nou voor hierdie god-koning verskyn met ’n ongehoorde versoek—dat hy die Israeliete wat in slawerny is, moet laat trek sodat hulle ’n fees vir hulle God, Jehovah, kan hou.—Exodus 5:1.
Jehovah het reeds voorspel dat Farao se hart verhard sou wees. Daarom was Moses en Aäron nie verbaas oor sy uittartende antwoord nie: “Wie is Jehovah, sodat ek sy stem moet gehoorsaam om Israel weg te stuur? Ek ken Jehovah glad nie en, wat meer is, ek gaan Israel nie wegstuur nie” (Exodus 4:21; 5:2, NW). Die weg is dus berei vir ’n dramatiese konfrontasie. Gedurende die volgende ontmoeting het Moses en Aäron aan Farao verbasingwekkende bewys gelewer dat hulle die ware en almagtige God verteenwoordig.
’n Wonderwerk vind plaas
Soos Jehovah beveel het, het Aäron ’n wonderwerk verrig wat Jehovah se oppergesag bo die gode van Egipte bewys het. Hy het sy staf voor Farao neergegooi en onmiddellik het dit ’n groot slang geword! Verbysterd deur hierdie wonderwerk het Farao sy towerpriesters ontbied.a Met behulp van demoonkrag kon hierdie manne iets soortgelyks met hulle stawwe doen.
As Farao en sy priesters hulle daarin verlustig het, was dit van korte duur. Stel jou hulle gesigte voor toe Aäron se slang hulle slange, een vir een, verslind het! Al die aanwesiges kon sien dat die Egiptiese godhede nie teen die ware God, Jehovah, opgewasse is nie.—Exodus 7:8-13.
Maar selfs hierná was Farao se hart steeds verhard. Slegs nadat God tien verwoestende rampe, of plae, oor Egipte gebring het, het Farao uiteindelik vir Moses en Aäron gesê: “Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien [Jehovah, NW] soos julle gespreek het.”—Exodus 12:31.
Lesse vir ons
Wat het Moses en Aäron in staat gestel om na die magtige Farao van Egipte te gaan? Moses het aanvanklik ’n gebrek aan vertroue in sy vermoë uitgespreek en beweer dat hy “swaar van mond en swaar van tong” is. Selfs nadat hy van Jehovah se ondersteuning verseker is, het hy gesmeek: “Stuur tog deur wie U wil stuur.” Moses het, met ander woorde, gepleit dat God iemand anders moet stuur (Exodus 4:10, 13). Jehovah het nogtans die sagmoedige Moses gebruik en hom die nodige wysheid en krag gegee om sy toewysing uit te voer.—Numeri 12:3.
Knegte van Jehovah God en Jesus Christus voer vandag die bevel uit om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak’ (Matteus 28:19, 20). Ten einde ons deel in die vervulling van hierdie opdrag by te dra, moet ons skriftuurlike kennis en enige vermoëns wat ons dalk besit ten volle gebruik (1 Timoteus 4:13-16). In plaas van ons blind te staar op ons tekortkominge, laat ons met geloof enige toewysing aanvaar wat God ons gegee het. Hy kan ons bekwaam maak en ons versterk om sy wil te doen.—2 Korintiërs 3:5, 6; Filippense 4:13.
Aangesien Moses met teenstand van mense en demone te kampe gehad het, het hy beslis bomenslike hulp nodig gehad. Jehovah het hom gevolglik verseker: “Kyk, Ek stel jou as ’n god vir Farao” (Exodus 7:1). Ja, Moses het Goddelike ondersteuning en gesag gehad. Met Jehovah se gees op hom het Moses geen rede gehad om Farao of daardie trotse heerser se trawante te vrees nie.
Ons moet ook op Jehovah se heilige gees, of werkende krag, staatmaak om ons bediening te vervul (Johannes 14:26; 15:26, 27). Met Goddelike ondersteuning kan ons die woorde van Dawid herhaal, wat gesing het: “Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ’n mens my doen?”—Psalm 56:12.
Weens Jehovah se barmhartigheid het hy Moses nie alleen gelaat in sy toewysing nie. God het eerder gesê: “Jou broer Aäron sal jou profeet wees. Jý moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek” (Exodus 7:1, 2). Hoe liefdevol van Jehovah om binne die perke te handel van wat Moses redelikerwys kon hanteer!
God voorsien ons van ’n gemeenskap van mede-Christene wat die uitdaging aanvaar om Getuies van Jehovah, die Allerhoogste, te wees (1 Petrus 5:9). Ten spyte van die struikelblokke wat ons dalk teëkom, moet ons dus soos Moses en Aäron wees—moedige verkondigers van God se woord.
[Voetnoot]
a Die Hebreeuse woord wat met “towerpriesters” weergegee word, verwys na ’n groep towenaars wat beweer het dat hulle bonatuurlike kragte besit wat bo dié van die demone verhewe is. Daar is geglo dat hierdie manne die demone kon oproep om hulle te gehoorsaam en dat die demone geen mag oor hierdie towenaars gehad het nie.
[Prent op bladsy 25]
Moses en Aäron het Jehovah moedig voor Farao verteenwoordig