Jehovah hou die siekes en die bejaardes in gedagte
DIT kan baie moeilik wees om ’n “tyd van nood” die hoof te bied (Psalm 37:18, 19, NAV). So ’n tyd kan aanbreek in die vorm van bejaardheid en die gebreke wat daarmee gepaardgaan. Party gaan ’n tyd van nood binne wanneer hulle aan ernstige langtermynsiektes begin ly. Dit voel moontlik asof hulle siekte hulle lewe oorneem en alle gedagtes en dade oorheers.
Dit is egter gerusstellend om te onthou dat Jehovah se oë op al sy knegte gevestig is. Dit verbly sy hart wanneer sy toegewyde knegte lojaal en verstandig bly ten spyte van bejaardheid, siekte of ander beproewende omstandighede (2 Kronieke 16:9a; Spreuke 27:11). Koning Dawid verseker ons: “[Jehovah] is naby almal wat Hom aanroep . . . en Hy hoor hul hulpgeroep.” Ja, hy is bewus van hulle stryd; hy versterk hulle met sy gees. ‘En Hy sal hulle verlos.’ Hy hou hulle in gedagte en help hulle om te volhard (Psalm 145:18, 19). Maar wat van ons? Hou ons, soos Jehovah, die siekes en die bejaardes in gedagte?
Gebreke weens siekte of bejaardheid is werklikhede van die lewe in hierdie teenswoordige stelsel. Dit is feite waarmee ons ons moet versoen totdat Jehovah sy voorneme met betrekking tot die aarde en die mensdom verwesenlik. Vandag bereik al hoe meer mense ’n taamlik hoë ouderdom, en talle is dus bekend met die gebreke wat daarmee gepaardgaan. Baie mense word ook, terwyl hulle nog jonk is, deur lewensgevaarlike of verkruppelende ongelukke of siektes getref. Totdat hierdie ou wêreld verbygaan, sal siekte en bejaardheid steeds groot uitdagings bly.
Hoe waardeer ons tog nie ons siekes en bejaardes wat steeds voorbeelde ‘van lyding en geduld’ is nie! Ja, “ons reken hulle geluksalig wat verdra” (Jakobus 5:10, 11). Baie bejaardes wie se kragte nou afgeneem het, het dekades lank diegene wat nou die leiding in die gemeente neem, geleer, opgelei en gevorm. ’n Aantal bejaardes is ook verheug om te sien dat hulle kinders aan die voltydse bediening deelneem.—Psalm 71:17, 18; 3 Johannes 4.
Ons waardeer eweneens diegene onder ons wat ernstig siek is en dit tog, ondanks hulle lyding, regkry om ons deur hulle volharding te bemoedig. Wanneer hulle toon dat hulle hoop nie wankel nie, is dit baie bemoedigend en geloofversterkend. Hulle gemoedsrus en tevredenheid openbaar ’n geloof wat waarlik die moeite werd is om na te volg.
Dit is ’n skok as iemand skielik getref word deur kanker, ’n beroerteaanval of die een of ander toestand wat sy lewe heeltemal verander. Dit is ook vir ouers ’n moeilike toets om te sien hoe hulle kinders siek raak of as gevolg van ’n ongeluk ly. Wat kan ander doen om te help? Enige soortgelyke tyd van nood is ’n toets vir die hele Christenbroederskap. Dit is ’n geleentheid om te toon dat ‘’n ware metgesel ’n broer is wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is’ (Spreuke 17:17, NW). Nie alle siekes of bejaardes kan natuurlik verwag dat elke lid van die gemeente hulle persoonlik moet bystaan nie. Maar Jehovah sal toesien dat baie deur sy gees beweeg word om op verskillende maniere te help. En die ouere manne kan seker maak dat niemand oorgesien word nie.—Sien Exodus 18:17, 18.
Probeer verstaan
As jy iemand probeer help, is goeie kommunikasie belangrik, en dit vereis tyd, geduld en empatie. As ’n helper wil jy natuurlik ‘versterk met jou mond’; maar luister goed voordat jy praat of optree, anders word jy dalk ’n ‘treurige vertrooster’.—Job 16:2, 5.
Die siekes en bejaardes sal dit soms moeilik vind om hulle frustrasie te verberg. Baie het die hoop gekoester om die groot verdrukking te oorleef, en nou voel dit asof hulle in ’n wedloop met die tyd vasgevang is, ’n wedloop wat hulle nie seker is hulle sal wen nie. Hulle toestand maak hulle ook dikwels moeg en gespanne. Dit is ’n stryd om ’n mens se geloof lewend en sterk te hou, veral as jy nie meer jou hartsbegeerte kan vervul om ’n volle aandeel aan die Christelike bediening te hê nie. Een Christen- ouere man het ’n bejaarde suster besoek; toe hy saam met haar gebid het, het hy gevra dat Jehovah ons sondes vergewe. Ná die gebed het hy gesien dat die suster huil. Sy het verduidelik dat sy voel sy het Jehovah se spesiale vergifnis nodig omdat sy nie meer aan die predikingswerk van huis tot huis kan deelneem nie. Ja, hoewel daar dikwels nie ’n rede is vir die gevoel dat ’n mens onbevoeg is of te kort skiet nie, kan dit jou baie hartseer besorg.
Wees bewus van die feit dat spanning en uitputting jou verstandelike balans kan beïnvloed. Weens die gebreke van bejaardheid of die spanning van ’n aftakelende siekte kan ’n mens voel dat Jehovah jou verlaat het en kan jy miskien sê: “Wat het ek gedoen? Waarom ek?” Hou die woorde van Spreuke 12:25 in gedagte: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op.” Probeer vriendelike woorde vind wat vertroostend sal wees. Bejaardes wat pyn verduur, kan selfs, soos Job, die begeerte uitspreek om te sterf. Dit moet jou nie skok nie; probeer verstaan. Sulke klagtes is nie noodwendig ’n bewys van ’n gebrek aan geloof of vertroue nie. Job het gebid om ‘in die doderyk weggesteek te word’, en tog het sy woorde direk ná daardie uitdrukking sy vaste geloof geopenbaar dat Jehovah hom later sou opwek. Sterk geloof maak dit vir ’n mens moontlik om tydperke van bekommernis en depressie deur te maak en steeds na aan Jehovah te bly.—Job 14:13-15.
Eerbetoning aan die siekes en bejaardes
Dit is van die uiterste belang om die siekes en bejaardes met eer en waardigheid te behandel (Romeine 12:10). As hulle nie so vinnig soos voorheen kan reageer of soveel kan doen nie, moet jy nie ongeduldig raak nie. Moenie haastig wees om op te tree en oor te neem nie. Ongeag hoe goed ons bedoelings, die ander persoon sal gewoonlik van sy eiewaarde beroof word as ons op ’n dominerende of outoritêre manier optree. In ’n doktorale tesis wat in 1988 gepubliseer is, het ’n navorser, Jette Ingerslef, verduidelik wat ’n groep 85-jariges as die belangrikste vir ’n betekenisvolle lewe vir hulleself beskou het: “Hulle het drie dinge as baie belangrik beskou: om saam met familielede te wees; om goeie gesondheid te hê en, laaste maar nie die minste nie, om hulle eie besluite te kan neem.” Let daarop dat die patriarg Jakob nie deur sy seuns gedomineer is toe hy bejaard was nie; sy wense is gerespekteer.—Genesis 47:29, 30; 48:17-20.
Die siekes moet ook met waardigheid behandel word. ’n Ouere man het sy praat-, lees- en skryfvermoë verloor weens ’n fout wat gedurende ’n operasie begaan is. Dit was ’n geweldige slag, maar sy mede- ouere manne het besluit om alles in hulle vermoë te doen sodat hy nie nutteloos voel nie. Hulle lees nou alle gemeentelike korrespondensie aan hom voor en betrek hom in die reëling van ander gemeentelike sake. By die vergaderinge van ouere manne probeer hulle uitvind wat sy standpunt is. Hulle laat hom weet dat hulle hom steeds as ’n mede- ouere man beskou en sy teenwoordigheid waardeer. Ons almal in die Christengemeente kan ons inspan sodat geen sieke of bejaarde ‘verworpe’ of vergete voel nie.—Psalm 71:9.
Hulp om geestelik sterk te word
Ons het almal geestelike voedsel nodig om ons geloof lewend en sterk te hou. Daarom word ons aangemoedig om die Bybel en Bybelpublikasies daagliks te lees en ywerig aan Christelike vergaderinge en predikingsbedrywighede deel te neem. Siekes en bejaardes het dikwels hulp nodig om dit te doen, en dit is belangrik om te doen wat realisties in hulle bepaalde geval is. Gelukkig kan baie steeds vergaderinge bywoon as hulle vervoer het en ’n klein bietjie hulp by die Koninkryksaal kry. Hulle bywoning van sulke vergaderinge is vir die gemeente baie bemoedigend. Hulle volharding is bemoedigend en geloofversterkend.
In baie gevalle kan siekes en bejaardes ook ’n betekenisvolle deelname aan die Christelike bediening hê. Party kan ingesluit word in ’n motorgroep vir getuieniswerk, en hulle sal ongetwyfeld verkwik voel omdat hulle ’n paar besoeke kan doen. Indien dit nie meer moontlik is nie, kan hulle genot daaruit put om informeel te getuig vir diegene met wie hulle in aanraking kom. ’n Suster wat deur kanker getref is, het besluit om die tyd wat nog vir haar oor was te gebruik in ’n spesiale poging om die goeie nuus te bevorder. Haar vrymoedige predikingswerk was vir almal bemoedigend. Sy het selfs haar eie begrafnis gereël sodat ’n goeie getuienis aan ongelowige familielede, werkmaats en bure gegee kon word. Haar onaangename omstandighede het dus “op bevordering van die evangelie uitgeloop”, en haar vasbeslotenheid om geloof en vertroue te openbaar, het haar laaste dae spesiale betekenis gegee.—Filippense 1:12-14.
Dit is goed om siekes en bejaardes te help om geestelik versterk te word. Gesinne kan hulle uitnooi om ’n aand saam met hulle deur te bring, of ’n deel van hulle gesinstudie kan af en toe by die huis gehou word van iemand wat nie kan uitgaan nie. Een ma het haar twee jongste kinders na die huis van ’n ouer suster gebring sodat hulle My boek met Bybelverhale saam kon lees. Dit het die bejaarde suster vreugde verskaf, en die kinders het die aandag geniet wat sy hulle gegee het.
Daar is egter tye wanneer ’n siek persoon nie te veel gesteur moet word nie, en dan is dit moontlik die beste om net nou en dan iets aan hulle voor te lees. Hou ook in gedagte dat as iemand fisies te swak is om aan ’n gesprek deel te neem die persoon moontlik steeds ’n mate van geestelike omgang nodig het en wil hê. Ons kan saam met sulke mense bid, vir hulle lees of ondervindinge aan hulle vertel; maar ons moet versigtig wees om nie te lank te bly nie.
Daar is een soort heilige diens wat die meeste siekes en bejaardes steeds kan verrig: gebed ten behoewe van ander. Die vroeë dissipels het groot waarde aan hierdie bediening geheg. Hulle het eenkeer die werklas in die gemeente so verdeel dat die apostels hulle op gebed kon toespits. Die getroue Epafras word genoem as iemand wat ‘altyd in sy gebede vir ander gestry het’ (Kolossense 4:12; Handelinge 6:4). Sulke gebede is baie belangrik en voordelig.—Lukas 2:36-38; Jakobus 5:16.
Jehovah hou die siekes en die bejaardes in gedagte en sorg vir hulle in hulle tyd van nood. Hy verwag ook tereg dat ons sal dink aan wat ons kan doen om hulle te help en te ondersteun. Die besorgdheid wat ons openbaar, weerspieël ons vasbeslotenheid om ons eie onkreukbaarheid te handhaaf. En dit verheug ons om aan die woorde van koning Dawid te dink: “[Jehovah] ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.”—Psalm 37:18.
[Venster op bladsy 28, 29]
Voorsien praktiese hulp met begrip
VRIENDE en familielede moet ’n elementêre, maar juiste kennis opdoen van hoe om vir siekes en bejaardes te sorg. Hulle kan veral aangemoedig word om ’n positiewe gesindheid teenoor die lewe te behou, om te besef dat ander hulle nodig het en hulle waardeer en om ’n gevoel van eiewaarde te hê. Hulle lewensgehalte sal dus voldoende wees om hulle vreugde in Jehovah te behou, ten spyte van hulle pyne en probleme. Daar is al opgemerk dat baie van Jehovah se Getuies ’n baie hoë ouderdom bereik. Hulle lewendige belangstelling in die hoop vir die toekoms, hulle helder geesteshouding en hulle deelname aan Koninkryksbedrywighede sover moontlik dra sonder twyfel baie daartoe by. Die eertydse president van die Wagtoringgenootskap, Frederick W. Franz, wat vreedsaam in sy 100ste jaar gesterf het ná ’n vreugdevolle, produktiewe lewe, is ’n uitstekende voorbeeld hiervan.—Vergelyk 1 Kronieke 29:28.
Aandag aan die basiese sake van daaglikse sorg kan baie beteken: goeie higiëne, behoorlike voeding, voldoende vloeistowwe en sout, matige oefening, vars lug, ligte massering en stimulerende gesprekke. Behoorlike voeding kan bydra tot beter gehoor, gesigsvermoë, verstandelike vermoë en fisiese welsyn, asook ’n groter weerstand teen siektes. Vir ouer mense kan die eenvoudige saak van behoorlike voeding en genoeg vloeistowwe die verskil tussen ’n goeie toestand en seniliteit beteken. Dit sal moontlik ’n bietjie dinkwerk verg om ’n vorm van fisiese oefening te vind wat by die individu pas. Een suster wat elke week vir ’n bejaarde suster lees wat so te sê blind is, begin en eindig elke besoek deur ligte danse met die suster in die kamer uit te voer. Die bandopnemer is altyd gereed met gekose musiek, en albei geniet die “oefening”.
In baie lande voorsien bystandsorganisasies waardevolle praktiese hulp en bied inligting en raad oor spesifieke toestande en hoe om daarmee saam te leef. (’n Christen moet natuurlik altyd versigtig wees om nie te betrokke te raak by bedrywighede wat ons aandag van ons ware Christelike bediening kan aftrek nie.) Soms word bystand verleen deur die leen van ’n hospitaalbed, ’n loopapparaat, stutte, ’n rolstoel, ’n gehoorapparaat, ensovoorts. Aangesien talle bejaardes meen dat hulle niks nodig het nie of dat dit nie die moeite werd is om sulke nuwe dinge te hê nie, moet familielede dikwels goeie raad gee of selfs oorredingskrag gebruik. ’n Praktiese handvatsel vir die badkamerdeur kan meer ware vreugde as ’n ruiker blomme verskaf.
Dit kan groot verstandelike spanning veroorsaak om na bejaardes om te sien, veral as die persoon seniel word. Seniliteit is dikwels ’n sluipende siekte. ’n Mens kan dit probeer teëwerk deur te voorkom dat die pasiënt onnodig passief is. Iemand wat seniel is, kan skielik aanstoot neem aan iemand vir wie hulle voorheen baie lief was. Familielede moet besef dat ’n bejaarde selfs alles kan vergeet wat op die waarheid betrekking het—’n treurige gevolg van fisiese agteruitgang, nie ’n bewys van ’n gebrek aan geloof nie.
As die pasiënt in ’n hospitaal of verpleeginrigting is, is goeie kommunikasie met die personeellede belangrik sodat hulle weet wat om te doen wat verjaarsdae, Kersfees of ander wêreldse vakansiedae betref. As ’n operasie nodig is, kan familielede die lewenslange standpunt van die pasiënt ten opsigte van ’n bloedoortapping verduidelik en staaf.