Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 8/15 bl. 27-30
  • Hoe Christene die bejaardes kan help

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe Christene die bejaardes kan help
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Toegewyde helper
  • Beplanning is noodsaaklik
  • Wanneer die dood onvermydelik is
  • ’n Verantwoordelikheid waaraan ons ’n deel het
  • Die Christengesin help die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Sien om na die belange van die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Jehovah hou die siekes en die bejaardes in gedagte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Liefde teenoor bejaardes—’n Christelike verantwoordelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 8/15 bl. 27-30

Hoe Christene die bejaardes kan help

‘ONS gee nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Ons let nie op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare is ewig.’ Dit is wat die apostel Paulus in sy tweede brief aan die Korinthiërs gesê het.—2 Korinthiërs 4:16-18.

In die ou tyd het manne en vroue van geloof op die onsigbare dinge gelet, wat al die dinge ingesluit het wat hulle God, Jehovah, beloof het om op sy vasgestelde tyd te doen. In die boek Hebreërs praat Paulus met agting van sulke mense wat hulle geloof tot die dood behou het—en party van hulle het ’n baie hoë ouderdom bereik. Hy beskou hulle as ’n voorbeeld vir ons en sê: “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet.”—Hebreërs 11:13.

Ons is vandag na aan die vervulling van hierdie beloftes. Maar ons het siekes en bejaardes onder ons wat nie seker is of hulle persoonlik sal lewe om die einde van hierdie goddelose stelsel te sien nie. Party van hulle sal ook moontlik in geloof sterf sonder om gedurende hulle teenswoordige leeftyd die vervulling van al die beloftes te sien. Paulus se woorde in 2 Korinthiërs 4:16-18 kan vir diegene baie bemoedigend wees.

Jehovah onthou al sy lojale knegte, onder andere die siekes en die bejaardes (Hebreërs 6:10). Getroue bejaardes kry op verskeie plekke in die Bybel ’n eervolle vermelding, en in die Wet van Moses word daar spesiaal melding gemaak van die eer wat aan die bejaardes betoon moet word (Levitikus 19:32; Psalm 92:13-16; Spreuke 16:31). Onder die vroeë Christene is bejaardes met agting behandel (1 Timotheüs 5:1-3; 1 Petrus 5:5). Een Bybelboek bevat ’n pragtige beskrywing van die liefdevolle sorg en roerende selfopoffering wat ’n jong vrou vir haar bejaarde skoonmoeder getoon het. Daardie boek het gepas die naam van daardie jong vrou, Rut.

’n Toegewyde helper

Die lewe was bitter vir die bejaarde Naomi. ’n Hongersnood het haar en haar gesinnetjie genoodsaak om hulle vriende en erfenis in Juda agter te laat en oos van die Jordaanrivier in die land Moab te gaan woon. Hier het Naomi se man gesterf en haar met hulle twee seuns agtergelaat. Dié twee het mettertyd grootgeword en getrou, maar toe het hulle ook gesterf. Naomi was toe sonder erfgename om vir haar te sorg.

Sy was te oud om weer met ’n gesin te begin, en dit het gelyk asof die lewe haar baie min bied. Sy wou op onselfsugtige wyse vir Rut en Orpa, die weduwees van haar twee seuns, na hulle moeder se huis terugstuur sodat hulle ’n huweliksmaat kon vind. Sy sou alleen na haar geboorteland terugkeer. Party bejaardes voel vandag ook terneergedruk, veral as hulle ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Soos met Naomi die geval was, het hulle moontlik iemand nodig om vir hulle te sorg, maar hulle wil nie ’n las wees nie.

Rut het egter nie haar skoonmoeder verlaat nie. Sy het hierdie bejaarde vrou liefgehad, en sy het Jehovah liefgehad, die God wat deur Naomi aanbid is (Rut 1:16). Hulle het dus saam na Juda teruggereis. In daardie land was daar ’n liefdevolle voorsiening onder Jehovah se Wet dat arm mense kon optel, of versamel, wat ook al in die lande oorgebly het nadat die oes ingebring is. Rut, wat jonger was, het vrywillig aangebied om hierdie werk te doen en het gesê: “Laat ek tog die land ingaan.” Sy het onvermoeid tot albei se voordeel gewerk.—Rut 2:2, 17, 18.

Rut se getrouheid en liefde vir Jehovah het Naomi baie bemoedig, en haar denke het positief en opbouend geword. Haar kennis van die Wet en die gebruike van die land was nou nuttig. Sy het verstandige raad aan haar toegewyde helper gegee sodat die jonger vrou, deur ’n swaershuwelik, die erfenis van die gesin kon terugwin en ’n seun kon hê om die familielyn voort te sit (Rut, hoofstuk 3). Rut is ’n pragtige voorbeeld vir diegene wat opofferinge maak om na siekes of bejaardes om te sien (Rut 2:10-12). Vandag kan daar baie in die gemeente gedoen word om die siekes en die bejaardes op ’n soortgelyke wyse te help. Hoe?

Beplanning is noodsaaklik

In die vroeë Christengemeente is daar ’n lys gehou van weduwees wat materiële ondersteuning nodig gehad het (1 Timotheüs 5:9, 10). Ouere manne kan vandag ook in sommige gevalle ’n lys opstel van siekes en bejaardes wat spesiale aandag nodig het. In party gemeentes is ’n ouere man gevra om hierna as sy spesiale verantwoordelikheid om te sien. Aangesien baie bejaardes, soos Naomi, nie geneig is om hulp te vra nie, sal hierdie broer vaardig daarin moet wees om ’n situasie te kan ontleed en—op ’n taktvolle en oordeelkundige wyse—seker te maak dat die nodige gedoen word. Hy kan byvoorbeeld vasstel of die Koninkryksaal genoeg voorsienings vir siekes en bejaardes het. Hy kan aan praktiese dinge dink, soos ’n skuins oprit vir rystoele, gepaste ruskamerfasiliteite, oorfone vir die hardhorendes en ’n plek vir spesiale stoele. Hierdie broer kan ook seker maak dat almal wat nie na die Koninkryksaal toe kan kom nie ’n bandopname van vergaderinge kan leen of deur middel van ’n telefoonverbinding daarna kan luister.

Dalk moet daar vervoer na vergaderinge en byeenkomste gereël word. Een bejaarde suster het ’n probleem ondervind omdat die persoon wat haar gereeld na die vergaderinge geneem het nie beskikbaar was nie. Sy moes baie mense bel voordat sy uiteindelik ’n geleentheid kon kry, en gevolglik het sy gevoel sy is ’n las. ’n Reëling met ’n ouere man wat na al hierdie sake kan omsien, sou haar verleentheid verminder het.

Hierdie ouere man kan ook verskeie gesinne vra of hulle beurte sal maak om die bejaardes te besoek. So kan kinders leer dat die versorging van die bejaardes deel uitmaak van ’n Christen se lewe. Dit is goed dat kinders leer om hierdie verantwoordelikheid op hulle te neem (1 Timotheüs 5:4). Een kringopsiener sê: “Dit is my ondervinding dat baie min kinders of jongmense bejaardes of siekes uit hulle eie besoek.” Miskien dink hulle net nie daaraan nie, of dalk weet hulle nie wat om te doen of te sê nie; ouers kan hulle dit leer.

Maar onthou dat die meeste bejaardes dit waardeer as hulle voor die tyd weet dat ’n vriend kom kuier. Dit verskaf hulle die bykomende vreugde om ’n besoeker te verwag. As die besoekers verversings, soos koffie of koek, saambring en ná die tyd gou skoonmaak, word ’n bykomende las op die bejaarde vermy. Een bejaarde egpaar, wat nog lewenskragtig is, het elke week ’n dag waarop hulle ’n klein piekniekmandjie pak en ’n reeks besoeke doen op bejaardes in die gemeente. Hulle besoeke word hoogs waardeer.

Baie gemeentes het tot voordeel van die bejaardes ’n Gemeentelike Boekstudie wat bedags gehou word. Op een plek is ’n paar gesinne en ongetroude verkondigers gevra of hulle bereid en in staat sou wees om so ’n groep te ondersteun, en die gevolg was ’n boekstudiegroep waar bejaardes en jonger mense na mekaar kon omsien.

Dit moenie aan die ouere manne alleen oorgelaat word om hier die voortou te neem nie. Ons moet almal bewus wees van die behoeftes van siekes en bejaardes. Ons kan hulle in die Koninkryksaal groet en tyd spandeer om met hulle te gesels. ’n Uitnodiging vir informele omgang sal welkom wees. Of ons kan hulle uitnooi om ’n piekniek of selfs ’n vakansie saam met ons te geniet. Een Getuie het dikwels bejaarde verkondigers in sy motor saamgeneem wanneer hy op sakebesoeke die stad moes verlaat. Dit is belangrik om die bejaardes voortdurend te laat voel hulle is onmisbaar. Moenie toelaat dat hulle hulle afsonder soos Naomi geneig was om te doen nie, want dit kan die verouderingsproses of seniliteit bespoedig.

Jongmense wat gestrem of siek is, het ook aandag nodig. ’n Getuie wat drie seuns gehad het wat ongeneeslik siek was, waarvan twee sedertdien gesterf het, sê: “Dit kan vir ’n gemeente moeilik wees om voortdurend besorgdheid te toon wanneer iemand ’n langdurige siekte het. Vra gerus ’n paar betroubare jong verkondigers om elke dag die daaglikse teks met hulle bedlêende vriend te bespreek en ’n hoofstuk uit die Bybel vir hom te lees. Jongmense, onder andere pioniers, kan beurte maak.”

Wanneer die dood onvermydelik is

Diensknegte van Jehovah het die dood nog altyd met vrymoedigheid onder die oë gesien, óf dit nou weens siekte óf vervolging is. Wanneer geteisterdes begin voel dat die dood naby is, is dit vir hulle natuurlik om verskillende emosies te ondervind. Ná hulle dood sal hulle familielede ook ’n tydperk van aanpassing, verdriet en aanvaarding deurmaak. Dit is dus dikwels goed as die sieke openlik oor die dood praat, soos Jakob, Dawid en Paulus gedoen het.—Genesis, hoofstukke 48 en 49; 1 Konings 2:1-10; 2 Timotheüs 4:6-8.

’n Getuie wat ’n geneesheer is, skryf: “Ons moet baie openhartig oor hierdie onderwerp wees. Ek het nog nooit in my beroep gevind dat dit vir ’n pasiënt enigiets goeds ingehou het om die feit dat hy of sy sterwend was weg te steek nie.” Ons moet nietemin verstaan wat die pasiënt self wil weet, en wanneer hy dit wil weet. Party pasiënte toon duidelik dat hulle weet hulle is na aan die dood, en hulle het ’n behoefte daaraan om hulle gedagtes en gevoelens hieroor te bespreek. Ander hou skynbaar aan met hoop, en hulle vriende doen goed deur saam met hulle te hoop.—Vergelyk Romeine 12:12-15.

Iemand wat na aan die dood is, is moontlik so moeg of verward dat dit vir hom moeilik is om te bid. So ’n pasiënt sal moontlik vertroos word deur in Romeine 8:26, 27 te leer dat God “onuitspreeklike sugtinge” verstaan. Jehovah weet dat ’n mens dit onder sulke druk moeilik kan vind om woorde vir ’n gebed te vind.

Dit is belangrik om, wanneer moontlik, saam met ’n pasiënt te bid. ’n Broer vertel: “Toe my ma sterwend was en nie meer die krag gehad het om te praat nie, het sy met gevoude hande aangedui dat sy wil hê ons moet saam met haar bid. Ná ons gebed het ons een van die Koninkryksliedere gesing, want my ma was altyd baie lief vir musiek. Ons het eers die wysie geneurie en dan saggies die woorde gesing. Dit was duidelik dat sy dit geniet het. Hierdie liedere wat ons met ons lewe as Getuies van Jehovah verbind, druk beslis gevoelens uit wat andersyds moeilik kan wees om uit te druk.”

Dit vereis liefde, takt en begrip om met ’n sterwende persoon te gesels. ’n Besoeker kan opbouende en geloofversterkende dinge voorberei om oor te gesels, en hy moet bedag wees daarop om negatiewe praatjies oor ander mense en hulle probleme te vermy. Die duur van die besoek moet ook aangepas word by wat redelik en gepas is. As die pasiënt bewusteloos is, is dit goed om te onthou dat hy moontlik steeds kan hoor wat gesê word. Wees dus versigtig wat jy sê.

’n Verantwoordelikheid waaraan ons ’n deel het

Dit is ’n groot verantwoordelikheid om vir siekes en bejaardes te sorg. Vir diegene wat die naaste aan die pasiënt is, is dit fisies en emosioneel veeleisend. Hulle het die res van die gemeente se begrip en hulp nodig, en hulle verdien dit. Diegene wat vir siek gesinslede of medegelowiges sorg, doen wat reg is, selfs al beteken dit dat hulle party vergaderinge mis of dat hulle deelname aan die veldbediening ’n ruk lank afneem. (Vergelyk 1 Timotheüs 5:8.) Hulle sal deur die gemeente se begrip versterk word. Partykeer sal ’n broer of ’n suster moontlik tydelik by die versorger kan oorneem sodat hy of sy ’n vergadering kan bywoon of ’n paar verfrissende ure in die predikingswerk kan deurbring.

Jy kan natuurlik ook iets doen as jy die sieke is. Wanhoop en magteloosheid ten opsigte van jou siekte kan jou verbitterd maak, maar bitterheid sonder ’n mens af en stoot ander af. Pleks daarvan kan jy probeer om waardering te betoon en jou samewerking te gee (1 Thessalonicense 5:18). Bid vir ander wat pyn verduur (Kolossense 4:12). Peins oor die wonderlike waarhede van die Bybel en bespreek dit met besoekers (Psalm 71:17, 18). Bly gretig op hoogte van die geloofversterkende vooruitgang van God se volk (Psalm 48:13-15). Dank Jehovah vir hierdie vreugdevolle ontwikkelings. As ons oor sulke sake peins, kan dit, soos ’n sonsondergang ’n selfs dieper en warmer lig as die middagson werp, aan die laaste dae van ons lewe ’n prag van hulle eie gee.

Ons moet almal stry om die hoop te behou wat ons verstand, veral in moeilike tye, soos ’n helm beskerm (1 Thessalonicense 5:8). Dit is goed om oor die opstandingshoop en sy vaste grondslag te peins. Ons kan met sekerheid en gretige afwagting uitsien na wanneer daar nie meer siekte of gebreke weens bejaardheid sal wees nie. Dan sal almal gesond voel. Selfs die dooies sal terugkeer (Johannes 5:28, 29). Hierdie ‘onsigbare dinge’ sien ons met die oë van ons geloof en ons hart. Moenie hulle ooit uit die oog verloor nie.—Jesaja 25:8; 33:24; Openbaring 21:3, 4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel