Tonele uit die Beloofde Land
Gilead—’n streek vir moedige mense
KORT voor Israel deur die Jordaanrivier getrek en die Beloofde Land binnegegaan het, het Moses hulle aangespoor: “Hou moed en wees dapper! . . . die Here julle God gaan saam met julle.”—Deuteronomium 31:6, NAV.
Moses het sy vermaning ook aan die stamme van Ruben en Gad en die helfte van die stam van Manasse gerig. Hulle het gesien ‘dat die land Gilead ’n plek vir vee was’, en daarom het hulle gevra of hulle in die Gileadstreek kon gaan woon.—Numeri 32:1-40.
Gilead was aan die oorkant, die oostekant, van die Jordaan. Dit het so te sê die hele oostekant beslaan, van die noordelike punt van die Dooie See tot by die See van Galilea. Hierdie streek het van die Jordaanvallei af opgerys na waterryke plato’s en geronde heuwels. Gilead was derhalwe ’n goeie streek vir graanverbouing en weiding. Die foto hierbo gee ’n mens ’n idee van hoe ’n deel van Gilead gelyk het. Maar hoe hou moed met so ’n betreklik aangename gebied verband?
Die stamme wat in Gilead gaan woon het, het dit definitief nie uit vrees gedoen nie. Onthou dat hulle ingestem het om die Jordaan oor te steek om teen vyande in die Beloofde Land te veg. En wanneer hulle na Gilead teruggekeer het, het hulle meer moed nodig gehad. Waarom? Wel, hulle was op die grens, waar hulle ’n maklike teiken vir aanvalle deur Ammoniete in die suidooste en Arameërs in die noorde was. En hulle ís aangeval.—Josua 22:9; Rigters 10:7, 8; 1 Samuel 11:1; 2 Konings 8:28; 9:14; 10:32, 33.
Daardie aanvalle was spesifieke geleenthede waartydens moed nodig was. Nadat Jehovah byvoorbeeld toegelaat het dat die Ammoniete Gilead verdruk, het God se volk hulle bekeer en “’n dapper held”, wie se vader ook Gilead genoem was, as hulle leier gekies. Hierdie dapper, of moedige, man was Jefta. Hy is welbekend vir ’n gelofte wat weerspieël het dat hy, hoewel hy moedig was, op God se leiding en ondersteuning staatgemaak het. Jefta het belowe dat as God hom sou help om die onderdrukkende Ammoniete te verslaan hy die eerste een wat hom uit sy huis tegemoet sou kom ‘as ’n brandoffer sou bring’, of aan God sou offer.a Daardie een was toe Jefta se enigste kind, sy dogter, wat later by God se heiligdom gaan dien het. Ja, Jefta sowel as sy dogter het, hoewel op verskillende wyses, moed aan die dag gelê.—Rigters 11:1, 4-40.
In Saul se tyd was daar ook ’n geval, dalk ’n minder bekende geval, waar moed aan die dag gelê is. Om die omstandighede te kan visualiseer, moet jy onthou dat toe Saul koning geword het die Ammoniete gedreig het om die regteroog uit te steek van die manne van Jabes in Gilead, ’n dorp wat waarskynlik langs ’n droë rivierbedding geleë was wat deur die heuwels tot by die Jordaan geloop het. Saul het vinnig ’n leër versamel om Jabes te versterk (1 Samuel 11:1-11). Laat ons, met hierdie agtergrond in gedagte, na die einde van Saul se heerskappy gaan en kyk hoe daar moed aan die dag gelê is.
Jy sal dalk onthou dat Saul en drie van sy seuns in ’n oorlog met die Filistyne gesneuwel het. Daardie vyande het Saul se kop afgekap en die lyke van Saul en sy seuns triomfantlik teen die muur van Bet-San vasgeslaan. (1 Samuel 31:1-10; regs kan jy die uitgegrawe puinheuwel van Bet-San sien.) Hierdie tyding het Jabes, in die heuwels van Gilead oorkant die Jordaan, bereik. Wat kon die Gileadiete teen ’n vyand doen wat magtig genoeg was om die koning van Israel te verslaan?
Volg gerus saam op die kaart. “Al die dapper manne [het] hulle gereedgemaak en die hele nag deur getrek; en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand” (1 Samuel 31:12). Ja, hulle het die vyand se vesting gedurende die nag binnegeval. ’n Mens kan verstaan waarom die Bybel hulle dapper, of moedig, noem.
Mettertyd het tien stamme weggebreek en die noordelike koninkryk van Israel gevorm, en dit het Gilead ingesluit. Van die omliggende nasies, eers die Arameërs en toe die Assiriërs, het dele van daardie gebied aan die oostekant van die Jordaan begin verower. Die mense van Gilead het dus, ten spyte van gevalle in die verlede waar hulle moed aan die dag gelê het, betaal vir die feit dat hulle op die grens gewoon het.—1 Konings 22:1-3; 2 Konings 15:29.
[Voetnoot]
a ’n Noukeurige ondersoek van die verslag weerlê die aantyging dat Jefta ’n menseoffer van sy kind gemaak het. Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 27-8, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.
[Kaart op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SEE VAN GALILEA
DOOIE SEE
Jordaanrivier
Bet-San
Ramot
Jabes
GILEAD
[Erkenning]
Based on a map copyrighted by Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel.
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Foto-erkenning op bladsy 9]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.