Die Ammoniete—’n Volk wat goedhartigheid met vyandigheid vergeld het
DIE hedendaagse stad Amman, hoofstad van die Hasjimitiese Koninkryk van Jordanië, hou ’n volk in herinnering wat van die wêreldtoneel verdwyn het. Hulle is die Ammoniete genoem. Wie was hulle, en watter lesse kan ons uit hulle val leer?
Die Ammoniete was afstammelinge van die regverdige man Lot (Genesis 19:35-38). Aangesien Lot ’n broerskind van Abraham was, kan ’n mens sê dat die Ammoniete neefs van die Israeliete was. Lot se nageslag het hulle egter tot die aanbidding van valse gode gewend. Jehovah God het nietemin steeds in hulle belanggestel. Toe die nasie Israel nader aan die Beloofde Land gekom het, het God hulle gewaarsku: “Behandel [die Ammoniete] nie as vyande en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van die kinders van Ammon se land as besitting gee nie, omdat Ek dit aan die kinders van Lot as besitting gegee het.”—Deuteronomium 2:19.
Het die Ammoniete hierdie goedhartigheid waardeer? Nee, hulle het geweier om te erken dat Jehovah hulle enigiets gegee het. Hulle het God se goedhartige belangstelling in hulle vergeld met meedoënlose vyandigheid teenoor God se volk, die Israeliete. Hoewel die Israeliete Jehovah se bevel gehoorsaam het en geensins aggressief teenoor hulle opgetree het nie, het die Ammoniete en hulle Moabitiese broers bedreig gevoel. Die Ammoniete het hulle weliswaar nie aangeval nie, maar hulle het ’n profeet met die naam Bileam gehuur en hom gevra om Israel te vervloek!—Numeri 22:1-6; Deuteronomium 23:3-6.
Iets vreemds het toe gebeur. Die Bybel sê dat Bileam nie sy vloek kon uitspreek nie. Hy kon hulle net seën en het gesê: “Geseënd is hulle wat jou seën, en vervloek is hulle wat jou vervloek!” (Numeri 24:9). Diegene wat hierby betrokke was, onder andere die Ammoniete, moes ’n kragtige les hieruit geleer het: Wanneer God se volk in die gedrang gekom het, was hy bereid om ten behoewe van hulle op te tree!
Maar die Ammoniete het na maniere bly soek om Israel teë te staan. Gedurende die tyd van die Rigters het Ammon met Moab en Amalek saamgespan en die Beloofde Land ingeval en tot by Jerigo gevorder. Die oorwinning was egter kort van duur, aangesien die Israelitiese rigter Ehud die invallers teruggedryf het (Rigters 3:12-15, 27-30). ’n Gespanne wapenstilstand het tot die dae van rigter Jefta geduur. Teen daardie tyd het die nasie Israel al in afgodediens verstrik geraak, met die gevolg dat Jehovah sy beskerming onttrek het. God het hulle dus 18 jaar lank ‘in die hand van die kinders van Ammon verkoop’ (Rigters 10:6-9). Die Ammoniete het weer eens ’n verpletterende nederlaag gely toe die Israeliete afgodediens laat vaar het en hulle onder die leierskap van Jefta geskaar het.—Rigters 10:16–11:33.
Die era wat Israel deur rigters geregeer is, is met die kroning van sy eerste koning, Saul, beëindig. Saul het skaars begin regeer toe Ammon se vyandigheid weer opgevlam het. Koning Nahas het ’n verrassingsaanval op die Israelitiese stad Jabes in Gilead gedoen. Toe die manne van daardie stad vrede gevra het, het Nahas die Ammoniet hierdie verregaande eis aan hulle gestel: “Op hierdie voorwaarde sal ek die verbond met julle sluit, dat ek julle almal die regteroog uitsteek.” Die geskiedskrywer Flavius Josefus beweer dat dit gedeeltelik as ’n verdedigingsmaatreël gedoen is sodat “wanneer hulle linkeroog deur hulle skilde bedek is hulle heeltemal nutteloos in die oorlog sou wees”. Maar die eintlike doel van hierdie hartelose ultimatum was om ’n vernederende voorbeeld van hierdie Israeliete te maak.—1 Samuel 11:1, 2.
Die Ammoniete het weer eens Jehovah se goedhartigheid met vyandigheid vergeld. Jehovah het nie hierdie wrede dreigement geïgnoreer nie. “Die Gees van God het oor Saul vaardig geword terwyl hy dié woorde [van Nahas] hoor, en hy het baie kwaad geword.” Onder die leiding van God se gees het Saul ’n mag van 330 000 manskappe versamel wat die Ammoniete so deeglik verslaan het dat “nie twee onder hulle bymekaar gebly het nie”.—1 Samuel 11:6, 11.
Die Ammoniete se selfsugtige besorgdheid oor hulle eie belange, hulle hardvogtigheid en hulle gierigheid het uiteindelik daartoe gelei dat hulle heeltemal uitgewis is. Soos Jehovah se profeet Sefanja voorspel het, het hulle geword “soos Gomorra . . . ’n verwoesting vir ewig . . . , want hulle het geskimp op en hulle groot gehou teen die volk van die HERE van die leërskare”.—Sefanja 2:9, 10.
Hedendaagse wêreldleiers moet kennis neem van wat met Ammon gebeur het. God het ook ’n mate van goedhartigheid teenoor die nasies betoon deur hulle toe te laat om op sy voetbank, die aarde, te woon. Maar in plaas van na die aarde om te sien, verderf selfsugtige nasies dit en het hulle die planeet selfs met kernvernietiging bedreig. Pleks van goedhartigheid teenoor die aanbidders van Jehovah op die aarde te betoon, is die nasies hulle dikwels vyandiggesind en word hulle wreed vervolg. Die les wat ons dus van die Ammoniete leer, is dat Jehovah die vergelding van goedhartigheid met vyandigheid nie ligtelik opneem nie. En op sy bestemde tyd sal hy optree, net soos hy in die verlede gedoen het.—Vergelyk Psalm 2:6-12.
[Prent op bladsy 9]
Romeinse ruïnes in Amman, die ligging van Rabba, die Ammoniete se hoofstad
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 10]
Die Ammoniete het in hierdie gebied gewoon
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.