Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 10/1 bl. 26-28
  • Beginsel of gewildheid—Deur watter een laat jy jou lei?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beginsel of gewildheid—Deur watter een laat jy jou lei?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die begeerte om aanvaar te word
  • Die druk om soos ander te wees
  • Die meerderheid kan verkeerd wees
  • Bybelbeginsels is beter
  • Wanneer almal sal doen wat reg is
  • Christenjongmense—Wees standvastig in die geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ’n Talryke groot menigte
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • “Kyk! ’n groot menigte”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Onthou Christelike beginsels
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 10/1 bl. 26-28

Beginsel of gewildheid—Deur watter een laat jy jou lei?

NORIHITO, ’n seuntjie in standerd vier, het aan ’n sportbyeenkoms deelgeneem. Skielik het hy voor ’n besluit te staan gekom. Al die leerlinge moes aan ’n patriotiese seremonie deelneem. Moes hy saam met sy skoolmaats aan hierdie skynbaar doodgewone seremonie deelneem?

Norihito het in die Bybel geleer dat dit verkeerd is om ’n daad van aanbidding teenoor enige god behalwe Jehovah te verrig (Exodus 20:4, 5; Mattheüs 4:10). Hy het ook geweet dat Christene neutraal moet bly teenoor alle wêreldse politieke aangeleenthede (Daniël 3:1-30; Johannes 17:16). Al het sy skoolmaats hom dus aangespoor om aan die seremonie deel te neem, het hy moedig maar eerbiedig geweier. Wat sou jy in ’n soortgelyke situasie gedoen het?

Die begeerte om aanvaar te word

Die Skrif toon dat God mense geskep het om gesellig te wees, om met mekaar oor die weg te kom en om dit te geniet om dinge saam te doen. Dit is ’n natuurlike begeerte om saam met jou portuurs te wil wees, om aanvaar te wil word, om by ’n groep te wil inpas. Sulke gevoelens maak die lewe aangenamer en dra by tot vrede en harmonie in ons handelinge met ander.—Genesis 2:18; Psalm 133:1; 1 Petrus 3:8.

Die ingeskape begeerte om by ’n groep te wil inpas, word weerspieël in die sterk klem wat party kulture selfs vandag op gelykvormigheid plaas. Japannese kinders word byvoorbeeld van kleins af geleer om van die meerderheid se neigings bewus te wees en dit te volg. Volgens hulle tradisie is een van hulle grootste verpligtinge om by die gemeenskap in te pas. “Die Japannese is baie meer geneig om dinge in groepe te doen as Westerlinge”, het Edwin Reischauer, ’n voormalige Amerikaanse ambassadeur in Japan en ’n geesdriftige waarnemer van Japannese gewoontes, gesê. Hy het bygevoeg: “Terwyl Westerlinge dalk nog die indruk van onafhanklikheid en individualiteit sal probeer skep, sal die meeste Japannese heeltemal tevrede wees om hulle aan te pas by hulle groep se standaarde ten opsigte van kleredrag, gedrag, lewenstyl en selfs denke.” Dit is egter nie net die Japannese wat graag by ’n groep wil inpas nie. Dit is iets wat universeel voorkom.

Die druk om soos ander te wees

Hoewel dit goed is as jy jou bes doen om met ander oor die weg te kom, is dit gevaarlik om blindweg te doen wat gewild is. Waarom? Omdat die dinge wat by die meerderheid gewild is dikwels in stryd is met wat vir God aanneemlik is. Die Bybel sê dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19). Satan gebruik op ’n geslepe wyse alles tot sy beskikking—materialisme, verdorwe sedes, rassevooroordeel, godsdienstige dweepsug, nasionalisme, ensovoorts—om die massas te beïnvloed en hulle van God te vervreem. As ons by sulke dinge betrokke raak, sal ons in werklikheid in verset teen Jehovah God en sy voorneme wees. Dit is waarom Christene vermaan word: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”—Romeine 12:2.

Omdat Christene in hierdie stelsel van dinge lewe, word daar voortdurend druk op hulle uitgeoefen om te doen wat gewild is. Dit is veral vir jongmense ’n gevaar. Die begeerte om soos hulle skoolmaats te lyk en op te tree, is besonder sterk. Dit verg ware moed om vir hulle portuurs te verduidelik waarom hulle nie aan sekere bedrywighede deelneem nie. Maar as hulle dit nie doen nie, kan dit vir hulle geestelik rampspoedig wees.—Spreuke 24:1, 19, 20.

Volwassenes het ook by die werk met sulke druk te kampe. Daar word dalk van hulle verwag om ná werksure of op sekere vakansiedae aan sekere sosiale bedrywighede deel te neem. Omdat hulle weier, dink mense dalk dat hulle afsydig en ontegemoetkomend is, en dit kan ’n gespanne atmosfeer by die werk skep. Party voel miskien genoodsaak om baie ure oortyd te werk bloot omdat ander dit doen en dit van hulle verwag word. As hulle in sulke sake toegee, sal dit hulle geestelik skade berokken en verhoed dat hulle hulle ander verpligtinge nakom.—1 Korinthiërs 15:33; 1 Timotheüs 6:6–8.

Die druk om soos ander te wees, kom selfs buite die skool en die werkplek voor. ’n Christenmoeder het vertel dat sy eenkeer versuim het om haar kind te dissiplineer, al het die kind dit bitter nodig gehad, net omdat sy gedink het dat die ander huisvrouens wat daar teenwoordig was dit nie sou goedkeur nie.—Spreuke 29:15, 17.

Die meerderheid kan verkeerd wees

Die Bybel gee ons heelwat reguit raad oor mense wat die stroom volg. Die nasie Israel is byvoorbeeld gemaan: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ’n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.” (Exodus 23:2; vergelyk Romeine 6:16.) Hierdie raad is nie altyd toegepas nie. By een geleentheid, kort ná die uittog uit Egipte en terwyl Moses nie daar was nie, het sekere mense Aäron en die volk beïnvloed om ’n goue kalf te maak en dit tydens ’n “fees tot eer van die HERE” te aanbid. Die mense het geëet en gedrink en plesierig gesing en gedans terwyl hulle offers aan die goue kalf gebring het. Ongeveer 3 000 belhamels is weens hierdie bandelose daad van afgodediens om die lewe gebring. Maar baie van die ander is ook deur Jehovah getref omdat hulle onbesonne die meerderheid gevolg het.—Exodus 32:1-35.

Nog ’n geval waar mense met kwade bedoelings die meerderheid gevolg het, het in die eerste eeu met betrekking tot die dood van Jesus Christus plaasgevind. Baie van die mense is deur die afgunstige godsdiensleiers oorgehaal om saam te skreeu dat Jesus tereggestel moet word (Markus 15:11). Toe Petrus hulle met Pinkster ná Jesus se opstanding en hemelvaart op hulle ernstige sonde gewys het, is baie “diep in die hart getref” en het hulle besef wat hulle gedoen het deur die meerderheid te volg.—Handelinge 2:36, 37.

Bybelbeginsels is beter

Soos hierdie verslae duidelik toon, kan dit ernstige gevolge hê as ’n mens blindweg doen wat gewild is. Hoeveel beter is dit tog nie om die Bybel te volg en toe te laat dat die beginsels daarin ons in ons lewe lei nie! “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes”, sê Jehovah (Jesaja 55:9). Wat sedes en menseverhoudinge betref—trouens, wat alle besluite in die lewe betref—is daar al keer op keer getoon dat dit baie beter is om Jehovah se weë te volg as die weg wat gewild is. Dit is die sleutel tot ’n gelukkiger en heilsamer lewenswyse.

Neem die ondervinding van Kazoeja as voorbeeld. Hoewel hy die Bybel ’n hele ruk bestudeer het, het hy steeds die gewilde weg gevolg—om rykdom en sukses na te jaag. Sy pogings om sy werkgewers te behaag en by sy medewerkers gewild te wees, het dikwels daartoe gelei dat hy tot in die vroeë oggendure by drinkpartye was. Hy het veeleisend, onverdraagsaam en prikkelbaar geword. Weens sy buitensporige lewenstyl het hy kort voor lank beroerte gehad, waarna hy gedeeltelik verlam was. Terwyl hy in ’n hospitaalbed gelê en herstel het, het hy tyd gehad om oor die dinge wat hy in die Bybel geleer het en oor sy lewenswyse na te dink. Hy het besluit dat dit tyd was om wat hy geleer het te begin toepas. Hy het uit sy bestuurderspos bedank en nie meer met sy ou vriende omgegaan nie. Hy het ook ernstige pogings aangewend om hom met die Christelike persoonlikheid te beklee en sy beskouing ten opsigte van materiële besittings te verander. Gevolglik het sy waardes verander en sy gesondheid verbeter. Hy het uiteindelik sy lewe aan Jehovah toegewy en is gedoop.

As ’n mens ’n ongewilde weg met welslae wil volg, moet jy weet watter beginsels daarby betrokke is en heeltemal oortuig wees dat hulle reg is. Masaroe se ondervinding toon hoe noodsaaklik dit is. Toe hy in die laerskool in standerd vier was, is hy deur sy klasmaats benoem om as voorsitter van die leerlingraad te dien. Hy vertel verleë dat hy nie aan sy klasmaats kon verduidelik waarom hy nie ’n kandidaat in ’n politieke verkiesing kon wees nie, want hy het die betrokke Bybelbeginsels nie heeltemal verstaan nie. Weens sy mensevrees het hy hulle nooit vertel dat hy ’n Christen is nie. Al wat hy kon doen, was om sy kop te laat sak en in trane oor en oor te sê: “Ek mag dit nie doen nie.”

Hierdie pynlike ondervinding het hom beweeg om uit te vind waarom ’n Christen nie by politieke bedrywighede betrokke moet raak nie. (Vergelyk Johannes 6:15.) Later, toe hy in die hoërskool was, het ’n soortgelyke situasie opgeduik. Hierdie keer kon hy egter met oortuiging sy standpunt aan sy onderwyser verduidelik. Sy onderwyser, sowel as etlike van sy klasmaats wat hom oor sy Bybelse oortuiging uitgevra het, het sy verduideliking aanvaar.

Wanneer almal sal doen wat reg is

In die komende nuwe wêreld onder Christus se heerskappy sal die gewilde ding die regte ding wees om te doen. Tot dan sal ons moet waak teen die drang om die dinge te doen wat gewild is. Ons word bemoedig deur Paulus se vermaning: “Terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.”—Hebreërs 12:1.

Wat gaan jy doen wanneer jy voor geskille en uitdagings te staan kom? Gaan jy voor mensevrees swig en doen wat gewild is? Of gaan jy jou tot God se Woord, die Bybel, wend en die beginsels daarin volg? As jy die laasgenoemde weg volg, sal dit jou nie alleen nou tot voordeel strek nie, maar jy sal ook die vooruitsig hê om onder diegene te wees wat “deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is”.—Hebreërs 6:12.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel