Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 7/15 bl. 23-26
  • Christenjongmense—Wees standvastig in die geloof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christenjongmense—Wees standvastig in die geloof
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom sterk geloof nodig is
  • ‘Wees gereed om jou te verdedig’
  • Verdedig jou voor elkeen
  • Hulp is beskikbaar
  • Getrouheid bring seëninge mee
  • Hoe kan ek bespotting die hoof bied?
    Ontwaak!—1999
  • Wat sal jy vanjaar op skool doen?
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • Jongmense—Jehovah sal nie julle werk vergeet nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Hoe kan ek vir my skoolmaats getuig?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 7/15 bl. 23-26

Christenjongmense—Wees standvastig in die geloof

“ALMAL moet teenwoordig wees.” Dit was die aankondiging. Al die leerlinge in ’n sekere Japannese skool moes in die saal bymekaarkom. ’n Jong Christenleerling het nie met party van die gedagtes saamgestem wat in die skoollied uitgedruk word nie. “Wel”, het hy gedink, “ek weet dat die skoollied gespeel gaan word. Maar ek sal nie enige probleme hê nie. Ek sal net soos gewoonlik agter gaan sit.”

Toe die jong Getuie van Jehovah die saal binnegaan, het hy egter ontdek dat al die personeellede in die agterste ry sit. Gevolglik moes hy voor hulle gaan sit. Toe die ander leerlinge vir die skoollied opstaan, het hy eerbiedig bly sit. Maar dit het die onderwysers woedend gemaak. Hulle het hom fisies probeer dwing om op te staan. Kan jy jou in só ’n situasie voorstel? Wat sou jy gedoen het?

Waarom sterk geloof nodig is

Dit sou goed wees as mense Christene met rus laat en hulle toelaat om volgens hulle Bybelopgeleide gewete te lewe. Christene kom egter dikwels voor spanningsvolle situasies te staan. Dit moet ons nie verbaas nie, want God se eie Seun, Jesus Christus, het gesê: “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20). Benewens direkte vervolging moet knegte van Jehovah verskeie ander toetse van hulle geloof die hoof bied.

Jong Christene het dikwels sterk geloof nodig om toetse by die skool te deurstaan. Hulle kom dalk in aanraking met klasmaats wat onsedelike taal gebruik of godonterende gesindhede het. Jong Christene kan te staan kom voor toenemende klem op nasionalisme en die druk om by klubs, skoolpolitiek of ander bedrywighede betrokke te raak wat geestelik nadelig kan wees. Onderwysers of medeleerlinge kan druk op jong Christene uitoefen om toe te gee. Godvresende jongmense moet gevolglik op Jehovah se gees steun vir die nodige geloof om hulle hoop goed te verdedig.—Mattheüs 10:19, 20; Galasiërs 5:22.

‘Wees gereed om jou te verdedig’

Die apostel Petrus se raad is gepas vir jong sowel as volwasse Christene. Hy het gesê: “[Wees] altyd gereed om jou te verdedig voor elkeen wat ’n rede verlang vir die hoop wat in jou is, maar doen dit met sagmoedigheid en diepe agting” (1 Petrus 3:15, NW). Wat is nodig om jou so te kan verdedig? Ten eerste moet jy verstaan wat die Skrif leer. Om jou standpunt by die skool in te neem oor aangeleenthede soos nasionalisme, politiek, dwelmmisbruik of sedes moet jy eers die rede vir die Christelike standpunt verstaan en opreg daarin glo.

Die apostel Paulus het byvoorbeeld vir mede-Christene gesê: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Korinthiërs 15:33). Stem jy daarmee saam? Soos Paulus getoon het, is dit maklik om in die kwessie van geselskap mislei te word. Iemand lyk miskien vriendelik en is ’n aangename mens. Maar as hy nie jou belangstelling in Jehovah se diens deel of nie eens in die Bybel se beloftes glo nie, is hy slegte geselskap. Waarom? Omdat sy lewe op ander beginsels gegrond is, en dinge wat vir ’n Christen baie belangrik is, is miskien vir hom van weinig belang.

Dit is nie verbasend nie, want Jesus het van sy volgelinge gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Dit is onmoontlik dat iemand ’n ware Christen kan wees en terselfdertyd ’n deel kan wees van die wêreld, waarvan Satan die god is (2 Korinthiërs 4:4). Kan jy sien hoe so ’n afskeiding van die wêreld ’n Christen beskerm teen die korrupsie en onmin wat soveel mense vandag teister? Indien wel, sal jy kan verstaan waarom jy jou afgeskeie moet hou, selfs al beteken dit dat jy nie aan party skoolbedrywighede sal kan deelneem nie.a

Die belangrikheid daarvan om standvastig in die geloof te wees en Koninkryksbelange eerste in jou lewe te stel, is in die geval van ’n sekere jong Christenmeisie getoon (Mattheüs 6:33). ’n Aankondiging is gedoen dat daar ’n oefensessie sou wees vir die plegtigheid waartydens skoliere hulle diplomas sou ontvang. Maar hierdie oefensessie het op dieselfde dag geval as die kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies wat sy sou bywoon. Sy het ’n beleefde brief geskryf en verduidelk waarom sy nie by die oefensessie sou wees nie en dit voor die periode begin het vir haar onderwyser gegee. Ná die periode het hy haar eenkant toe geroep en haar gevra om weer te verduidelik waarom sy nie by die oefensessie sou wees nie. Die meisie sê: “Hy wou sien of ek dieselfde sou sê. Was dit hoe ek oor die saak gevoel het, of het die brief maar net my moeder se woorde bevat? Toe hy sien dat dit my persoonlike oortuiging is, het hy my nie teengestaan nie.”

Verdedig jou voor elkeen

Jong Christene wat hulle posisie aan personeellede en leerlinge verduidelik vóór ’n geskil ontstaan, vind dikwels dat die druk nie naastenby so groot is wanneer hulle dan wel voor probleme te staan kom nie. Een jong Japannese Christin vertel hoe haar skool, toe sy 11 was, wou hê dat al die leerlinge ’n Kersparty moes bywoon. Leerlinge in die hoër standerds het druk op haar uitgeoefen om te gaan, maar sy het nie die Kersparty bygewoon nie, en haar onderwyser het haar standpunt verstaan. Waarom? Omdat die Getuie en haar ouers aan die begin van die skooljaar met die onderwyser gaan praat het en verskillende aspekte van hulle Christelike standpunt verduidelik het.

Sommige jong Christene is bang dat hulle van hulle klasmaats of onderwysers in die veldbediening sal raakloop. Voel jy ook so? As dit die geval is, kan jy gerus die inisiatief neem en vir jou klasmaats vertel dat jy van huis-tot-huis preek en waarom jy dit doen. Een 14-jarige Getuie van Jehovah het gesê: “Almal by die skool weet wat my standpunt as Christen is. Trouens, hulle is so goed daarmee bekend dat ek nie verleë voel wanneer ek ’n klasmaat raakloop terwyl ek aan die bediening deelneem nie. Medeleerlinge luister gewoonlik en baiekeer neem hulle Bybellektuur.” ’n Jong seun van 12 sê dat hy hom daarop voorberei dat hy klasmaats gaan ontmoet wanneer hy aan die bediening deelneem. Pleks dat hy deur hierdie gedagte ontmoedig word, oefen hy gereeld wat hy gaan sê indien dit sou gebeur. Sodoende is hy gereed om grondige redes vir sy geloof te gee.

In baie skole word dit gesê dat naskoolse aktiwiteite nie verpligtend is nie. Maar in werklikheid oefen onderwysers en leerlinge baie druk op individue uit om aan sulke bedrywighede deel te neem. ’n Twintigjarige Christin het ’n goeie manier uitgevind waarop sy hierdie druk kon weerstaan. Sy sê: “Ek het dwarsdeur my hoërskoolloopbaan as ’n hulppionier gedien. Almal het geweet dat ek té besig was met my godsdiensbedrywighede om aan ander dinge deel te neem.” Hierdie Getuie se jonger suster het dieselfde gedoen. Party jong Christene wat gedurende hulle skooljare hulppionierdiens doen, tree in die gewone pionierdiens as voltydse Koninkryksverkondigers sodra hulle hul skoolopleiding voltooi.

Jy moet nooit die goeie uitwerking wat jou goeie gedrag en jou moedige getuienis het uit die oog verloor nie. Pleks dat jy stilbly, kan jy gerus toon dat jy standvastig in die geloof is deur eerbiedig maar moedig te praat. Dit is wat ’n Israelitiese meisie gedoen het wat gevange geneem is en in die huishouding van die Siriese generaal Naäman gewerk het (2 Konings 5:2-4). Jehovah se naam is geloof as gevolg van die inisiatief wat daardie jong meisie aan die dag gelê het. Soortgelyke geloof op jou beurt kan God ook tot eer strek en ander help om hulle standpunt as lowers van sy naam in te neem.

Feit is dat ons nie ons geloofsbeginsels kan prysgee en nogtans Christene kan wees nie. Jesus het gesê: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is” (Mattheüs 10:32, 33). Om as ’n navolger van Jesus standvastig in die geloof te wees, is ’n ernstige verantwoordelikheid, nie waar nie?

Hulp is beskikbaar

Jy het sterk geloof nodig om as een van Jehovah se Getuies standvastig te bly. Om só ’n sterk geloof te verkry, moet jy die Bybel getrou bestudeer, Christenvergaderinge bywoon en aan die veldbediening deelneem. Wat kan jy doen as jy voel dat jy nog iets kortkom? Die dissipel Jakobus het gesê: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5). Praat met Jehovah in gebed oor jou probleem; hy sal jou versterk om beproewinge of toetse van jou geloof te deurstaan.

Wat kan ’n jong Christen nóg doen? Die boek Spreuke sê vir ons: “Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie” (Spreuke 23:22). Die apostel Paulus het hierdie raad onderskryf, want hy het gesê: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik” (Kolossense 3:20). Christenouers kan jou help om standvastig in die geloof te wees. Luister na hulle wenke. Deursoek met hulle hulp die Skrif en Bybelgebaseerde publikasies vir idees, raad en ondervindinge. Jy, sowel as jou ouers, sal dit geniet, en dit sal jou help om skugterheid of vrees te bowe te kom.—2 Timotheüs 1:7.

Maak ten volle gebruik van al die voorsieninge wat Jehovah God deur die Christengemeente gemaak het. Berei goed voor vir vergaderinge. Praat met aangestelde ouere manne en ander wat al soortgelyke ondervindinge deurgemaak het as dié wat jy nou die hoof moet bied. Salomo het gesê: “Laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry” (Spreuke 1:5). Leer dus van hierdie ouer Christene. Jy kan ook van jong Christene leer wat probleme soortgelyk aan joune suksesvol die hoof bied.

Getrouheid bring seëninge mee

As jy standvastig in die geloof bly, sal jy Paulus se raad toepas om “standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here” te wees (1 Korinthiërs 15:58). Jehovah ken en verstaan die probleme waarmee jy te kampe het. Hy het talle versterk wat voor soortgelyke moeilikhede te staan gekom het, en hy sal jou versterk. As jy op God vertrou, sal hy jou ondersteun, want die psalmis het gesê: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:23.

Petrus het geskryf: “Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus laster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het” (1 Petrus 3:16, NAV). As jy weier om God se regverdige wette en beginsels te verbreek, sal jy ’n goeie gewete hê, wat ’n ware seëning van Jehovah is. Daarbenewens sal jy ’n goeie voorbeeld stel vir jong Christene wie se geloof dalk swak is (1 Timotheüs 4:15, 16). Jou gedrag kan hulle aanmoedig om pogings aan te wend om standvastig in die geloof te word en sodoende toetse te deurstaan.

Jy kan selfs diegene help wat aanvanklik teen jou Christelike standpunt gekant is. Onthou hierdie hoopinboesemende woorde: “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie” (Prediker 11:6). Wie weet watter goeie resultate hierdie goeie saad sal oplewer wat jy deur jou getroue dade saai?

Onder die grootste seëninge wat jy sal maai, is om Jehovah se goedkeuring te hê. Uiteindelik sal ’n standvastige geloof die ewige lewe tot gevolg hê. (Johannes 17:3; vergelyk Jakobus 1:12.) Geen tydelike verligting van beproewing wat jy ondervind omdat jy jou beginsels prysgegee het, is die verlies van daardie gawe werd nie.

Wat het met die jong seun gebeur wat aan die begin van hierdie artikel genoem is? Wel, hy het sy beproewing verduur. Nadat die byeenkoms in die skoolsaal verby was, het hy sy standpunt op taktvolle wyse aan die onderwysers probeer verduidelik. Hoewel hulle nie na sy verduideliking wou luister nie, het hy die tevredenheid gehad om te weet dat hy Jehovah se hart verbly het (Spreuke 27:11). Hy het aangehou om sy geloof te verdedig totdat hy sy skoolopleiding voltooi het. Toe het hy ’n pionier geword. Mag jou getroue volharding ook so ’n gelukkige resultaat hê. Dit sal mits jy standvastig in die geloof bly.

[Voetnoot]

a Sien die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word vir ’n bespreking oor hierdie en ander Bybelbeginsels.

[Venster op bladsy 25]

HULP WAT BESKIKBAAR IS

◻ Luister na die wysheid van jou godvresende ouers.

◻ Maak gebruik van die geestelike voorsieninge in die Christengemeente.

◻ Praat met aangestelde ouere manne en ander wat dalk probleme soortgelyk aan joune gehad het.

◻ Praat met ander jong Christene wat soortgelyke hindernisse suksesvol te bowe kom.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel