Waarom neem diefstal toe?
RIO DE JANEIRO—Sondag, 18 Oktober 1992. Die beroemde strande Copacabana en Ipanema is vol mense. Skielik maak bendes jongmense hulle opwagting op die strande en begin om onder mekaar te baklei en alles wat waardevol is van mense op die strand te steel. Die polisie is in die minderheid en kan net toekyk—hulpeloos. Vir die Cariocas en die toeriste is dit ’n nagmerrie wat helder oordag plaasvind.
Misdaad waarby eiendom betrokke is, het inderdaad iets algemeens geword. In groot stede het diewe jongmense al beroof—en hulle soms selfs doodgemaak—om hulle seilskoene in die hande te kry. Diewe breek in of mense nou tuis is of nie. Nadat oneerlike huisbediendes uitgevind het waar alles in die huis is, steel hulle juweliersware en geld en verdwyn dan. Skares plunder winkels. Goed georganiseerde groepe steel selfs mense, soos die toename van ontvoerings in Brasilië toon. En jy kan waarskynlik ander voorbeelde noem uit jou eie ondervinding of uit wat in jou gemeenskap plaasgevind het. Maar waarom word daar so baie gesteel?
Waarom steel mense?
Hoewel toenemende armoede en dwelmmisbruik twee vername redes is, is die antwoord nie heeltemal so eenvoudig nie. The New Encyclopædia Britannica sê: “Die soeke na ’n enkele oorsaak vir misdaad is grotendeels as ’n vergeefse saak laat vaar.” Maar dieselfde naslaanwerk doen aan die hand dat probleme soos diefstal “regstreeks toegeskryf kan word aan jongmense se gevoelens van waardeloosheid en gekrenktheid omdat hulle uitgesluit word van die materiële sukses en belonings van die gewone lewe”. Ja, as gevolg van die ontsaglike druk van die verbruikerswese sien baie geen ander uitweg as om te steel om die dinge te bekom wat hulle begeer nie.
Maar dit is interessant dat The World Book Encyclopedia die volgende sê: “Die misdaadsyfer bly relatief stabiel in tradisionele gemeenskappe waar mense meen dat hulle lewenswyse nie sal verander nie. Die misdaadsyfer is geneig om te styg in gemeenskappe waar vinnige veranderinge plaasvind met betrekking tot waar mense woon en wat hulle doen om ’n bestaan te maak—en ten opsigte van die verwagtinge wat hulle vir hulle toekomstige welsyn koester.” Die ensiklopedie voeg by: “Jongmense het minder werksgeleenthede. Die ongeskoolde werk wat beskikbaar is, lyk vervelig in vergelyking met die vinnige en opwindende voordele wat diefstal inhou. Jongmense is ook gewilliger om die risiko te loop om gearresteer te word omdat hulle in elk geval nie veel het om te verloor nie.”
Tog is daar baie wat werkloos is of vir ’n klein salaris werk wat nie steel nie, terwyl groot getalle mense wat kantoorwerk en handearbeid doen by die werk steel asof dit ’n deel van hulle salaris is. Trouens, vir sommige oneerlike gebruike is ’n sekere sosiale status nodig. Het jy nie al gehoor van skandale waarby ontsaglike bedrae geld betrokke was en waar die skuldiges politici, staatsamptenare en sakemanne was nie? Daar bestaan geen twyfel nie, diefstal is nie net tot die armes beperk nie.
Onthou ook dat rolprente en TV-programme diefstal dikwels op ’n amusante wyse voorstel (die held is dalk selfs ’n dief), wat daartoe bydra dat diefstal aanvaarbaarder lyk. Om daarna te kyk, word weliswaar as vermaak beskou, maar die gehoor word terselfdertyd gewys hoe om te steel. Word die idee dat diefstal dalk die moeite werd is nie subtiel oorgedra nie? Hebsug, luiheid en die idee dat almal dit doen sonder dat hulle gestraf word, dra ongetwyfeld alles daartoe by dat diefstal toeneem. Ons lewe onteenseglik in die voorspelde “swaar tye” waar selfsug en geldgierigheid seëvier.—2 Timotheüs 3:1-5.
Jy mag nie steel nie
Ten spyte van die wêreld se verdraaide waardes is dit noodsaaklik om die gebod te gehoorsaam: “Laat die een wat steel, nie meer steel nie” (Efesiërs 4:28). Iemand wat te veel waarde aan besittings of genot heg, lei homself om die bos as hy dink dat diefstal die risiko werd is. Maar in God se oë is diefstal iets ernstigs, en dit toon ’n gebrek aan liefde vir jou medemens. Daarbenewens kan selfs geringe diefstal ’n mens se hart laat verhard. En hoe sal jy voel as mense jou as oneerlik beskou? Wie sal ’n dief vertrou? God se Woord sê wyslik: “Niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener” nie.—1 Petrus 4:15.
Jy betreur gewis die feit dat diefstal toeneem, maar hoe bied mense in misdaadgeteisterde gebiede hierdie probleem die hoof? Hoe het sommige voormalige diewe hulle lewenswyse verander? Sal diefstal ooit wêreldwyd ophou? Ons nooi jou om die volgende artikel te lees: “’n Wêreld sonder diewe.”