Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 6/22 bl. 4-5
  • Waarom pleeg mense winkeldiefstal?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom pleeg mense winkeldiefstal?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Dis pret’
  • Ander redes
  • Winkeldiefstal—Wie betaal?
    Ontwaak!—2005
  • Steel—Waarom nie?
    Ontwaak!—1995
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • ’n Einde aan winkeldiefstal
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 6/22 bl. 4-5

Waarom pleeg mense winkeldiefstal?

“Ek beskou dit nie as diefstal nie, ek beskou dit as ’n broodnodige hertoewysing van ekonomiese middele.”—’N PRIESTER VAN DIE ANGLIKAANSE KERK.

AS DAAR enige waarheid in die legende steek, het Robin Hood geregverdig gevoel om te steel. Volgens Engelse volksoorleweringe het hy die rykes beroof en vir die armes gegee. Die geestelike wat hierbo aangehaal word, glo ook dat armoede ’n grondige rede is om te steel. Hy sê van winkeldiewe: “Ek het groot simpatie vir hulle, trouens, ek dink hulle optrede is ten volle geregverdig.” Hy stel voor dat groot winkels hulle deure een dag per jaar vir die armes oopmaak en hulle toelaat om enigiets van die rakke af te neem sonder om daarvoor te betaal.

Baie winkeldiewe steel egter nie omdat hulle arm is nie. In Japan het die polisie twee van hulle kollegas in hegtenis geneem vir winkeldiefstal. In die Verenigde State is ’n bestuurslid van ’n niewinsgewende voedselorganisasie betrap toe hy by die organisasie se winkel gesteel het. Tieners met geld in die sak steel dikwels goed wat hulle nie nodig het nie. Waarom pleeg mense winkeldiefstal?

‘Dis pret’

Opwinding. Angs. Mag. Soos die twee meisies in die vorige artikel, kry party winkeldiewe ’n groot dosis van hierdie sensasies, en die begeerte om daardie vloedgolf van emosies te ervaar, laat hulle weer en weer steel. Nadat sy die eerste keer gesteel het, het een vrou gesê: “Ek het opgewonde gevoel. Ek het daarmee weggekom en dit was opwindend!” Nadat sy ’n tyd lank gesteel het, het sy gesê hoe sy gevoel het: “Ek was skaam daaroor—maar ook in my skik. Dit het gevoel of ek werklik lewe. Om te steel en nie gevang te word nie, het my ’n oorweldigende gevoel van mag gegee.”

’n Jong man met die naam Hector sê dat hy maande nadat hy opgehou het om winkeldiefstal te pleeg, nog steeds die drang gehad het om te steel.a “Dit was soos ’n verslawing, waarvan ek nie kon losbreek nie. Ek sou in ’n winkelsentrum wees en ’n radio in ’n venster sien en dink: ‘Dit sal so maklik wees om dit te steel. Ek kan dit doen en nooit gevang word nie.’”

Party wat weens die emosionele opwinding winkeldiefstal pleeg, wil nie werklik die items hê wat hulle steel nie. Een Indiese koerant het gesê: “Sielkundiges sê dat die opwinding om iets te doen wat verbode is, hierdie mense motiveer. . . . Party neem selfs die gesteelde goedere terug.”

Ander redes

Depressie raak tienmiljoene mense. Soms gee mense uiting aan hulle depressie deur hulle skuldig te maak aan wangedrag—soos winkeldiefstal.

’n Meisie van 14 het uit ’n bestendige en welgestelde gesin gekom. Maar ten spyte hiervan het ’n gevoel van hopeloosheid “soos ’n wolk” oor hierdie tiener gehang. “Ek kon nie daarvan ontslae raak nie”, het sy gesê. Sy het alkohol en dwelms begin gebruik. Toe, op ’n dag, is sy betrap toe sy iets in ’n winkel steel. Daarna het sy twee keer selfmoord probeer pleeg.

As ’n goed gemanierde jong persoon skielik winkeldiefstal begin pleeg, kan ouers probeer uitvind of emosionele probleme dalk die oorsaak is. Dr. Richard MacKenzie, wat in die gesondheidsorg van adolessente spesialiseer, het gesê: “Ek glo dat enige vreemde gedrag by jou kind beskou moet word as ’n teken dat hy moontlik aan depressie ly totdat die teendeel bewys kan word.”

Party jongmense steel goed in winkels weens portuurdruk—sulke diefstal is moontlik die prys om toegang tot ’n vriendekring te verkry. Ander wend hulle dalk tot winkeldiefstal omdat hulle verveeld is. Professionele winkeldiewe maak ’n bestaan uit diefstal. Wat ook al die rede, diewe neem elke dag goedere ter waarde van miljoene rande uit winkels. Iemand moet daarvoor betaal.

[Voetnoot]

a Van die name in hierdie reeks is verander.

[Venster op bladsy 5]

KLEPTOMANIE

“Ek het al van my tienerjare af ’n probleem met winkeldiefstal gehad”, sê Maria. “Die drang het al hoe sterker geword, totdat ek elke dag goedere ter waarde van $500 [R3 000] gesteel het.

“Ek wil nie steel nie, maar die drang word baie sterk. Ek wil regtig graag verander.” Omdat haar begeerte om te steel so moeilik is om onder bedwang te hou, vermoed Maria dat haar probleem kleptomanie is.

Die woord “kleptomanie” beteken “’n aanhoudende neurotiese drang om te steel, veral sonder enige ekonomiese beweegrede”. Dit is nie ’n eenvoudige verslawing nie en spruit blykbaar voort uit diepgesetelde emosionele probleme.

Party noem enigiemand wat die gewoonte het om te steel, ’n kleptomaan, maar dokters meen dat ware kleptomanie skaars is. Volgens die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging ly minder as 5 persent van winkeldiewe aan hierdie steurnis. ’n Mens moet dus nie winkeldiefstal voor die voet aan kleptomanie toeskryf nie. Daar kan ook ander redes wees waarom iemand steel.

[Prent op bladsy 5]

Liefdevolle ouers probeer verstaan waarom ’n kind winkeldiefstal pleeg

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel