‘Soek Jehovah, o alle ootmoediges’
“SOEK [Jehovah], o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van [Jehovah].”—Sefanja 2:3.
Die profeet Sefanja het daardie woorde tot die “ootmoediges van die land” gerig, en hy het hulle aangespoor om ‘ootmoedigheid te soek’ sodat hulle verborge kon bly op “die dag van die toorn van [Jehovah]”. Dit ly geen twyfel nie dat ootmoedigheid ’n voorvereiste vir oorlewing is. Maar waarom?
Waarom moet ons ootmoedigheid soek?
Ootmoedigheid is die eienskap wat ’n saggeaarde persoon besit, iemand wat nie aanmatigend of verwaand is nie. Dit is nou verwant aan ander deugde, soos nederigheid en sagmoedigheid. Ootmoedige mense is derhalwe bereid om onderrig te word en gewillig om tugtiging te aanvaar wat van God af kom, al lyk dit op die oomblik of dit ’n saak van droefheid is.—Psalm 25:9; Hebreërs 12:4-11.
Ootmoedigheid op sigself het niks te doen met ’n mens se opvoeding of status in die lewe nie. Diegene wat egter hoog geleerd is of wat sukses in die wêreld behaal het, is geneig om te dink dat hulle bevoeg is om altyd vir hulleself te besluit, selfs wat aanbidding betref. Dit kan voorkom dat hulle iemand anders toelaat om hulle iets te leer of dat hulle raad aanvaar en die nodige veranderinge in hulle lewe aanbring. Ander wat welgesteld is, dink dalk verkeerdelik dat hulle sekuriteit in hulle materiële besittings opgesluit lê. Hulle het dus geen behoefte aan die geestelike rykdom van God se Woord, die Bybel, nie.—Mattheüs 4:4; 5:3, NW; 1 Timotheüs 6:17.
Kyk byvoorbeeld na die skrifgeleerdes, die Fariseërs en die owerpriesters van Jesus se dag. By een geleentheid, toe die dienaars wat die Fariseërs gestuur het om Jesus in hegtenis te neem sonder hom teruggekeer het, het die Fariseërs gevra: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!” (Johannes 7:45-49). Met ander woorde, volgens hulle sou net die oningeligtes en ongeletterdes naïef genoeg wees om in Jesus te glo.
Party Fariseërs is nogtans deur die waarheid aangetrek, en hulle het selfs vir Jesus en die Christene opgekom. Onder hulle was Nikodemus en Gamaliël (Johannes 7:50-52; Handelinge 5:34-40). Ná Jesus se dood ‘het ’n groot menigte van priesters gehoorsaam geword aan die geloof’ (Handelinge 6:7). Die beste voorbeeld is ongetwyfeld dié van die apostel Paulus. Hy is aan die voete van Gamaliël opgevoed en het ’n hoogs bekwame en gerespekteerde voorstander van die Judaïsme geword. Later het hy egter nederig gehoor gegee toe Christus Jesus hom geroep het en het hy ’n ywerige volgeling van hom geword.—Handelinge 22:3; 26:4, 5; Galasiërs 1:14-24; 1 Timotheüs 1:12-16.
Dit alles toon dat Sefanja se woorde steeds van toepassing is, ongeag wat iemand se agtergrond dalk is of hoe hy dalk die Bybel se boodskap beskou. As ’n mens God se guns wil geniet en deur sy Woord gelei wil word, is ootmoedigheid onontbeerlik.
Diegene wat vandag ‘ootmoedigheid soek’
Miljoene mense oor die hele wêreld gee vandag gehoor aan die goeie nuus van die Koninkryk. Jehovah se Getuies hou weekliks meer as viermiljoen Bybelstudies in hierdie mense se huise. Hulle kom uit talle verskillende agtergronde en hulle ekonomiese en sosiale omstandighede is verskillend. Tog is die een ding wat hulle in gemeen het die feit dat hulle nederig genoeg is om die Bybelboodskap aan te neem wat iemand by hulle eie huis of elders aan hulle oorgedra het. Baie van hulle maak goeie vordering omdat hulle bereid is om hulle in te span sodat hulle die struikelblokke in hulle weg kan oorkom. Ja, hulle is vandag onder die “ootmoediges van die land”.
Kyk byvoorbeeld na Maria wat in Mexiko woon. Sy het op universiteit in die regte gestudeer en het danksy ’n erfporsie finansiële sekuriteit geniet. Sy het gevolglik ’n paar baie liberale idees ontwikkel wat haar, soos sy dit gestel het, in ’n “rebelse, onbeskofte, baasspelerige en ateïstiese” persoon laat verander het. “Ek het begin dink dat geld die antwoord op alles is en dat God nie belangrik is nie. Ek het eintlik geglo dat hy nie eers bestaan nie”, het Maria gesê. “Ek het gedink die kerk is iets belagliks en net ’n sosiale vereiste”, het sy bygevoeg.
Later het Maria opgemerk dat haar neef verander het nadat hy een van Jehovah se Getuies geword het. “Hy was voorheen so ’n verskriklike mens, en nou is hy baie vredeliewend en opreg”, het Maria verduidelik. “Die familie het gesê dat hy ’n prediker is en die Bybel lees en dat dit die rede is waarom hy nie meer drink en ’n vrouejagter is nie. Ek wou dus hê dat hy vir my die Bybel moes kom lees, want ek het gedink dat ek sodoende die vrede en gemoedsrus sou vind wat ek so graag wou hê.” Maria het gevolglik ingestem om die Bybel saam met ’n Getuie-egpaar te begin studeer.
Sy moes baie dinge te bowe kom en het dit ook baie moeilik gevind om die Bybelbeginsel van hoofskap te aanvaar en aan haar man onderdanig te wees. Maar sy het ingrypende veranderinge in haar lewe en gesindheid aangebring. Sy het erken: “Ek dink dat daar sedert die broers na my huis toe gekom het en Jehovah se hulp saam met hulle gebring het nog altyd geluk, gemoedsrus en God se seën in my huis was.” Vandag is Maria ’n toegewyde, gedoopte Getuie van Jehovah.
In die strewe na ware aanbidding is daar nog ’n gebied waarop ootmoedigheid, of die gebrek daaraan, ’n belangrike rol speel. Heel dikwels is dit die vrou in ’n gesin wat die waarheid aanneem en God wil dien, terwyl die man huiwerig is. Miskien is dit vir party mans moeilik om te aanvaar dat daar iemand anders is—Jehovah God—aan wie hulle vrou haar nou moet onderwerp (1 Korinthiërs 11:3). ’n Vrou in Chihuahua, Mexiko, het om ’n Bybelstudie gevra, en mettertyd het sy en haar sewe kinders in die waarheid gekom. Haar man het haar aanvanklik teëgestaan. Waarom? Omdat hy nie wou hê dat sy gesin van huis tot huis moes preek en Bybellektuur aanbied nie. Hy het blykbaar gedink dat so iets benede sy waardigheid is. Sy gesin het egter by hulle besluit gebly om God te dien. Mettertyd het die man die waarde daarvan begin besef om God se reëling te aanvaar. Maar 15 jaar het verbygegaan voor hy hom aan Jehovah toegewy het.
In Mexiko is daar nog talle afgesonderde gemeenskappe waar die plaaslike inwoners hulle Indiaanse moedertaal en gebruike het. Hierdie mense word tans met die boodskap van die Bybel bereik en dit help hulle om hulle kulturele stand te verbeter, aangesien party leer lees en skryf terwyl hulle die waarheid leer. Maar die feit dat mense min geleerdheid of materiële besittings het, beteken nie noodwendig dat hulle ontvankliker vir die waarheid sal wees nie. Soms maak rassetrots en ’n verknogtheid aan voorouerlike tradisies dit vir party moeilik om die waarheid aan te neem. Dit verduidelik ook waarom diegene wat in party Indiaanse dorpies die waarheid aanneem dikwels deur die ander inwoners geïntimideer word. Ootmoedigheid neem dus baie vorme aan.
Gee gehoor met ootmoedigheid
Wat van jou? Gee jy gehoor aan die waarheid van God se Woord? Of vind jy dit moeilik om party Bybelwaarhede te aanvaar? Miskien moet jy selfondersoek doen om vas te stel wat jou laat huiwer. Hinder dit jou dat die meeste mense wat deur die waarheid aangetrek word ’n eenvoudige agtergrond het? Kan dit wees dat eietrots jou denkwyse beïnvloed? Dit is goed om oor die apostel Paulus se woorde na te dink: “Wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.”—1 Korinthiërs 1:27-29.
Sal jy ’n skat weggooi net omdat jy dit in ’n eenvoudige erdehouer ontdek het? Natuurlik nie! Tog is dit hoe God verkies dat sy lewensreddende Woord van waarheid aan ons bekend gemaak word, soos die apostel Paulus verduidelik: “Ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie” (2 Korinthiërs 4:7). Ootmoedigheid en nederigheid sal ons help om die werklike waarde van die skat raak te sien en nie net die “erdekruike”, of mense, wat dit vir ons bring nie. As ons dít doen, sal ons kanse ook beter wees om ‘verborge te bly op die dag van die toorn van Jehovah’ en om onder die ootmoediges te wees wat ‘die aarde sal beërwe’.—Sefanja 2:3; Mattheüs 5:5, vgl. NW.