Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 1/1 bl. 4-9
  • Jehovah versterk sy volk in die Ooste en in die Weste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah versterk sy volk in die Ooste en in die Weste
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorspoed ondanks verbooie
  • Wat van die Amerikas?
  • In die oorloggeteisterde Afrika
  • In “die land van die arend”
  • “Maak langer die tentlyne”
  • Deel 5—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Jehovah het ons nooit verlaat nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 1/1 bl. 4-9

Jehovah versterk sy volk in die Ooste en in die Weste

IN GEBIEDE waar die predikingswerk verbode is, in lande wat deur geweld uiteengeskeur word en in lande waar verbooie onlangs opgehef is—trouens, die hele wêreld deur—gee Jehovah sy Getuies voortdurend “die krag wat die normale te bowe gaan”.—2 Korinthiërs 4:7, NW.

Voorspoed ondanks verbooie

Op ’n eilandgroep in die Verre-Ooste is daar nou al die afgelope 17 jaar ’n verbod op die predikingswerk. Is die Getuies mismoedig? Glad nie! Hulle het hierdie afgelope Mei ’n nuwe hoogtepunt van 10 756 verkondigers bereik, waarvan 1 297 voltydse bedienaars is. Namate wêreldtoestande versleg, is die eilandbewoners al hoe meer bereid om na die waarheid te luister. Gevolglik rapporteer die broers dat hulle 15 654 tuisbybelstudies met belangstellendes hou. Kort tevore het 25 397 die vergaderinge bygewoon wat onopsigtelik gehou is om Jesus se dood te herdenk.

Toe die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkomste gehou is—weer eens onopsigtelik volgens die plaaslike omstandighede—was die broers verheug om hulle eksemplare van dieselfde publikasies wat in die Verenigde State vrygestel is in hulle eie taal te ontvang. Die vertalers, proeflesers en ander het aangebied om oortyd te werk sodat hulle die hoofvrystelling, met sy honderde bladsye, betyds kon klaarkry. En ’n kommersiële drukker het sy samewerking gegee en die druk- en bindwerk pragtig gedoen. Die byeenkomsgangers was verheug om die publikasie met sy kleurvolle versameling van meer as duisend prente te ontvang. Baie van die regeringsamptenare respekteer Jehovah se Getuies, en die teëstand kom hoofsaaklik van die Christendom se geestelikes af. Hopelik sal die verbod binnekort opgehef word.

Wat van die Amerikas?

Jehovah se Getuies in hierdie Westerse lande is met hulle broers in die Ooste verenig in dié opsig dat hulle hulle probleme moedig aanpak, en Jehovah se heilige gees help hulle om moeilike situasies die hoof te bied. Beskou byvoorbeeld die volgende verslag uit ’n Latyns-Amerikaanse land waar dwelmkartelle gereeld deur die oerwoude beweeg.

’n Groep Getuies het per bus na ’n afgeleë gebied gery. Toe hulle van die bus afklim, het hulle ’n uitdraaipaadjie gesien wat uit die dorpie lei. Die vyf broers het toe gaan kyk waarheen die grondpaadjie lei en het die susters en kinders in die dorpie laat werk. Een van die broers vertel:

“Gedurende die twee uur wat ons gestap het, het ons maar min huise langs die pad teëgekom. Toe het agt gewapende mans met bedekte gesigte skielik tussen die bosse uitgekom. Party het masjiengewere gehad en party kapmesse. Waarin het ons nou beland? Ons wou nog vra wat hulle wou hê, maar hulle het gesê ons moet stilbly en dat hulle nie ’n woord wil hoor nie—ons moes net voor hulle uitstap. Ons het! Ons het nog twee uur deur die ruie oerwoud gestap en uiteindelik by ’n oopte gekom wat ongetwyfeld ’n soldatekamp was. Daar was oral wagte met gewere. In die middel was ’n netjies geboude huis, en ons is daarheen geneem.

“Nadat ons gaan sit het, is ons deur ’n man aangespreek wat blykbaar die kampleier was. Hy was netjies geklee, goed geleerd en het heel waardig opgetree. Hy het na een van die broers in ons groep gewys en gesê hy moet opstaan. Toe het hy hom gevra: ‘Wat dink jy van [ons] groep?’ Omdat die broer alte goed besef het waar ons was, het hy geantwoord: ‘Wel, ons weet van julle groep, maar ons het geen belang daarby of by enige ander politieke groep nie. Die enigste rede waarom ons hier is, is om Jehovah God se Koninkryk onder leiding van Christus Jesus te verkondig. Dit gaan binnekort al die politieke regerings van hierdie stelsel van dinge vernietig en onder Paradystoestande wonderlike seëninge vir mense op hierdie aarde meebring—iets wat geen mens of groep mense kan doen nie.’

“Die man se gesindheid het verander. Hy het vrae begin vra. ‘Waar het julle al hierdie dinge geleer? Waar het julle geleer om so te praat?’ Ons het ’n uur en ’n half lank ’n goeie getuienis omtrent wêreldtoestande gegee en getoon dat die Bybel sê wat die mensdom se enigste hoop is. Ons het ook Romeine hoofstuk 13 verduidelik—dat ons die owerhede wat aan bewind is, gehoorsaam, maar dat ons gehoorsaamheid aan ons God, Jehovah, eerste kom wanneer daar ’n botsing tussen Jehovah se Woord en hulle s’n is. Toe ons klaar was, het ons hom die boeke aangebied wat ons by ons gehad het. Hy het drie boeke en ’n Bybel geneem en ons, tot ons verbasing, ’n bydrae daarvoor gegee. Hy het gesê hy sal hulle lees.

“Daarna het die leier vir een van die manne gewys dat hy ons uit die kamp moet neem. Spoedig was ons op pad terug en het ons Jehovah gedank vir die oorwinning wat ons in ’n ander aspek van die getuieniswerk behaal het.”

In die oorloggeteisterde Afrika

Halfpad tussen die Verre-Ooste en die verre Weste lê die vasteland van Afrika. Stamoorloë het party lande daar in ’n maalstroom van geweld omskep. In Liberië is Jehovah se volk weer eens ernstig geraak deur die burgeroorlog wat skielik weer opgevlam het. Eers was daar gedurende Oktober en November 1992 gevegte in en om die hoofstad. Toe, namate die oorlog na die binneland uitgebrei het, het hele gemeentes uiteengegaan toe die broers saam met die res van die bevolking die bosse ingevlug het. Maar hulle ywer is nie geblus nie. Terwyl hulle op die vlug was, het hulle gepreek, en dit het daartoe gelei dat ’n groot getuienis in die mees afgeleë dele van die binneland gegee is.

Een gemeente ontwortelde broers het ’n tydelike Koninkryksaal in die middel van ’n rubberplantasie opgerig. In ’n dorp naby die gevegsfront het die burgerlikes gedurende die dag in die omliggende rubberplantasies gaan skuil om die lugaanvalle te ontvlug. Die plaaslike broers (waaronder baie ontwortelde verkondigers van die hoofstad, Monrovia) het reëlings getref om aan die veldbediening deel te neem en kon gereeld gesien word waar hulle vir die duisende preek wat onder die rubberbome skuil! Wanneer ’n vliegtuig nader gekom het, het die broers en susters in ’n sloot daar naby ingespring en dan met hulle getuieniswerk voortgegaan wanneer die gevaar verby was.

Verbasend genoeg bestee die meer as eenduisend gemeentelike verkondigers wat daarin slaag om rapporte aan die Genootskap te stuur maandeliks gemiddeld 18,1 uur aan die veldbediening en hou hulle 3 111 Bybelstudies ten spyte van hierdie oorlogstoestande.

In Afrika is beperkings op die werk van Jehovah se Getuies gedurende die afgelope vier jaar in 18 lande opgehef. En wat ’n vreugde was dit tog om te verneem dat die verbod op die Getuies in Malawi, wat in Oktober 1967 ingestel is, op 12 Augustus opgehef is! Die ondergrondse verkondiging van die goeie nuus het deurentyd goeie resultate gelewer, maar nou kan die Getuies in vryheid voortgaan, hoewel hulle vir die opstanding sal moet wag om hulle talle dierbare metgeselle weer te sien wat deur die verdrukkers vermoor is.

In Mosambiek het ’n vredesverdrag op 4 Oktober 1992 in werking getree. Gebiede wat voorheen weens die verwoestende oorlog van die afgelope 16 jaar ontoeganklik was, kan nou bereik word. In die Carioco-gebied is daar byvoorbeeld nou weer kontak bewerkstellig met 375 broers en susters wat die afgelope sewe jaar geheel en al van die organisasie afgesny was. ’n Spesiale byeenkomsdag is in Milange gehou, die hoofstad van die gebied waar daar voorheen ’n konsentrasiekamp en sentrum vir die “heropvoeding” van Jehovah se Getuies was, onder wie daar baie vlugtelinge uit Malawi was. ’n Verbasende totaal van 2 915 mense het die byeenkoms bygewoon, waaronder die dorpsadministrateur, wat Jehovah se Getuies verwelkom het. Die voormalige sentrum vir “heropvoeding” het toe vir daardie dag ’n sentrum vir Goddelike onderrigting geword.

’n Sendeling skryf: “’n Verteenwoordiger van die UNHCR (die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge) het ’n interessante opmerking gemaak omtrent ons broers wat in die vlugtelingkampe in die Tete-provinsie was. Hy het gesê dat Jehovah se Getuies hulle eie kampe, apart van die ander groepe, opgerig het. ‘Hulle kamp’, het hy gesê, ‘was die enigste kamp wat behoorlik georganiseer was’, en hy het bygevoeg: ‘Jehovah se Getuies is skoon, georganiseerde en opgevoede mense.’ Hy het toe aangebied om my met ’n vliegtuig oor die bosgebied te neem sodat ek dit self kon sien. Vanuit die lug het die vlieënier twee kampe uitgewys. Een was slordig en vuil, met modderhuise wat sonder enige beplanning opmekaar gebou is. Die ander kamp was goed uitgelê en die huise was in rye gebou met paaie tussenin. Die huise was netjies en die erwe gevee. Party was selfs met tuisgemaakte verf geverf. ‘Raai in watter kamp woon jou mense’, het die vlieënier gesê. Dit was vir my ’n groot vreugde om die broers in hierdie kamp te ontmoet. Daar is nou agt gemeentes in hierdie Getuiedorpie.”

In “die land van die arend”

Nee, dit is nie die arend van Amerika nie! Tussen die Ooste en die Weste lê die Europese land Albanië—en Shqipëria, sy naam in die amptelike taal, beteken “Die land van die arend”. ’n Wrede, 50 jaar lange verbod op Jehovah se Getuies in hierdie land is onlangs opgehef en hulle kan nou saam met hulle broers van die Ooste en van die Weste godsdiensvryheid geniet. Hulle “koop” werklik “die tyd uit” (Efesiërs 5:16). Die eerste byeenkoms in die geskiedenis van Albanië, ’n eendagbyeenkoms, is op Sondag, 21 Maart, by die Nasionale Teater in die hoofstad, Tirana, gehou. Die Saterdagmiddag het ’n span van 75 Getuievrywilligers ’n verwaarloosde vergaderplek in ’n silwerskoon byeenkomssaal omskep. Die bestuur was verstom. En dit is interessant dat net omtrent 20 van die 75 vrywilligers gedoop was!

Die weer was ideaal. Toe die buitelandse afgevaardigdes daar begin aankom het, het die groetery—hoofsaaklik deur gebare en omhelsings—daardie spesiale byeenkomsdag baie spesiaal gemaak. Broer Nasho Dori het met sy palms na die hemele uitgestrek die openingsgebed gedoen. Hy is in 1930 gedoop en is nou feitlik blind. Die program is in Albanees aangebied, waarvan die grootste deel deur die buitelandse spesiale pioniers behartig is. Terwyl 41 nuwe broers en susters na ’n doopbad gestap het wat liefdevol deur besoekende Griekse broers in die plaaslike Koninkryksaal opgerig is, het die 585 wat teenwoordig was die lied “Christelike toewyding” gesing—een van ses liedere wat vir die geleentheid in Albanees vertaal is. Wat ’n verandering! Vroeër is enigiemand wat ’n Bybel in sy besit gehad het na ’n strafkamp gestuur, en vergaderinge is tot groepies van twee of drie persone beperk.

Die dag ná die byeenkoms het die Wagtoringkantoor ’n oproep van die teaterbestuurder ontvang. Gewoonlik stel hy nie juis daarin belang om te weet wie die teater gebruik nie. Dit is die onderbestuurder se verantwoordelikheid. Maar hy het gesê: “Ek móés julle net eenvoudig skakel om julle te bedank. Ek het die plek nog nooit so skoon gesien nie. As ek dit moes beskryf, sou ek sê dat ’n briesie uit die hemel gister op ons teater neergedaal het. As julle ons fasiliteite ooit weer wil gebruik, moet julle asseblief terugkom, en ons sal julle voorkeur gee. Jy weet, ons moet julle eintlik elke drie maande gratis laat kom.”

Die Getuies het met nuwe moed en dankbaarheid na hulle dorpe teruggekeer en voorbereidsels vir die herdenking van Jesus se dood begin tref. Net 15 dae later, op Dinsdag, 6 April, is die eerste openlike Gedenkmaal op sewe plekke gehou.

In die dorp Berat het vergaderingbywoning tot ongeveer 170 gestyg, en die plaaslike priester is woedend. By die byeenkoms is 21 van die 33 Koninkryksverkondigers in Berat gedoop. Die Gedenkmaal in Berat is deur 472 bygewoon. Die Gedenkmaalopkoms op ander plekke was ook uitstekend, en dit was grootliks aan die goeie leiding van die spesiale pioniers te danke.

In die dorp Shkodër, in Albanië, waar die Katolieke Kerk se invloed die duidelikste te sien is en waar hulle ’n basilika het, het die kerk ’n maandelikse nuusbrief begin druk, en in elke nommer was daar ’n bespreking oor: “Hoe om Jehovah se Getuies te vermy.” Die laaste nommer het gesê: “Jehovah se Getuies het Shkodër ingeneem”! Die groot leërskare van twee Getuies in daardie dorp het 74 goed gemanierde en stemmige mense by die Gedenkmaal byeengebring. Nadat hulle na die Gedenkmaaltoespraak geluister het, het 15 gesinne om ’n tuisbybelstudie gevra. In ’n ander dorp, Durrës, waar daar ’n leërskare van vier Getuies is, was daar ’n uitstekende opkoms van 79.

Vanweë teëstand deur Katolieke jeugdiges, wat gedreig het om die Getuies met klippe te verdryf, is die Gedenkmaalvergadering in die dorpie Kalmeti i Vogel, wat in die berge geleë is, na ’n plaaslike broer se huis verskuif, waar 22 vreedsaam vergader het. Daar is vyf verkondigers in hierdie groepie, waarvan drie by die byeenkoms in Tirana gedoop is.

In Vlorë het twee jong mans ’n eksemplaar van Die Wagtoring ontvang, dit gelees en aan die Genootskap geskryf: “Ons noem onsself nou Jehovah se Getuies as gevolg van die waarheid wat ons in Die Wagtoring geleer het. Stuur asseblief vir ons hulp.” Twee spesiale pioniers is daarheen gestuur, en een van hierdie jong mans het kort voor lank ’n verkondiger geword. Hy was verheug om onder die 64 te wees wat die Gedenkmaal in Vlorë bygewoon het.

’n Albaanse broer wat die waarheid in die Verenigde State geleer het, het in die vyftigerjare na sy tuisdorp Gjirokastër teruggekeer, waar hy tot sy dood na die beste van sy vermoë gedien het. Hy het saadjies van waarheid in sy seun se hart gesaai. Toe die verbod opgehef is, het hierdie seun die Wagtoringgenootskap om hulp gevra. Nog ’n belangstellende wat in ’n dorpie net noord daarvan woon, het ook geskryf om hulp te vra en vier spesiale pioniers is dus daarheen gestuur. Die Woensdagoggend ná die Gedenkmaal het een van hulle die Genootskap se kantoor in Tirana geskakel: “Ek móét julle net vertel hoeveel Jehovah se gees vermag het. Ons is so verheug. Die Gedenkmaal was ’n sukses.” Die opkoms, wat hulle groepie van sewe Koninkryksverkondigers ingesluit het, was 106.

Wat van die totale Gedenkmaalopkoms? In 1992, toe daar net 30 Koninkryksverkondigers was, was die opkoms 325. In 1993 het 131 verkondigers 1 318 mense byeengebring. Die opkoms was albei jare tien keer soveel as die aantal verkondigers. Hoe opwindend is dit tog om te sien hoe “die kleinste” in so ’n kort tydjie “’n geslag” geword het!—Jesaja 60:22.

“Maak langer die tentlyne”

Namate die predikingswerk van Jehovah se Getuies tot in alle uithoeke van die aarde uitbrei, gaan die oproep uit: “Maak groter die plek vir jou tent, maak breër jou tentdoeke [“die tentdoeke van jou grootse tabernakel”, NW], moenie suinig daarmee werk nie. Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in, want jy sal na alle kante toe uitbrei” (Jesaja 54:2, 3, NAV). Hierdie uitbreiding in God se “grootse tabernakel”—wat die wêreldwye gemeente van sy aanbidders afbeeld—is inderdaad in Oos-Europa, en veral in die lande van die voormalige Sowjetunie, duidelik waarneembaar. Nadat Jehovah sy knegte gedurende dekades van onderdrukking onderskraag het, voorsien hy sy Getuies nou van die dinamiese energie wat hulle nodig het om die organisasie uit te brei en te versterk.

By die Lokomotief-stadion in Moskou, Rusland, het 23 743 op 22-25 Julie ’n epogmakende internasionale byeenkoms van verlede jaar se “Goddelike Onderrigting”-reeks bygewoon. Wie sou selfs twee jaar gelede gedink het dit sou moontlik wees? Maar daar was hulle! Meer as 1 000 het van Japan en Korea gekom, byna 4 000 van die Verenigde State en Kanada, en duisende ander het van meer as 30 lande van die Stille Suidsee, Afrika, Europa en ander gebiede gekom—werklik ’n ontmoeting van die Ooste en die Weste. Hoe bemoedigend was dit tog vir al hierdie broers om vryelik met meer as 15 000 van hulle Russiese broers en susters om te gaan! Hulle vreugde het geen perke geken nie.

’n Verstommende 1 489 nuwe Getuies is gedoop. Die doopplegtigheid het groot publisiteit in die media reg rondom die wêreld ontvang, onder andere ’n pragtige foto op die voorblad van The New York Times. Hoewel daar ’n dawerende applous tydens die doopplegtigheid was, was die applous gedurende die slottoespraak selfs groter toe die spreker, nadat hy die 4 752 vrywilligers en beamptes bedank het wat gehelp het om die byeenkoms so suksesvol te maak, gesê het: “Bowenal dank ons Jehovah!” Ja, Jehovah se gees het die sterk teëstand van die Ortodokse dwepers gestuit en die nodige krag voorsien wat die byeenkoms ’n opwindende werklikheid gemaak het.

Maar groter opwinding het nog vir 5-8 Augustus vir die Oekraïnse stad Kiëf voorgelê. Weer eens het gewillige werkers die stadion heeltemal opgeknap, en in hierdie reuse-Koninkryksaal was die opkomshoogtepunt 64 714. Weer eens het Getuies van die Ooste en die Weste en van alle plekke tussenin gekom. Die vernaamste toesprake is in 12 tale vertaal. Ongeveer 53 000 byeenkomsgangers, wat in groot groepe daar aangekom het, moes by stasies en lughawens ontmoet word en na hulle verblyfplekke in hotelle, skole en privaat huise, sowel as op bote, geneem word. Dit is alles teen ’n minimale onkoste gedoen en die reëlings het so glad verloop en was so georganiseerd dat van die stad se polisiemanne hulle verbasing en lof uitgespreek het.

Die hoogtepunt van die opwindende byeenkomsprogram was die doopplegtigheid, wat twee en ’n half uur geduur het. Altesaam 7 402 nuwe broers en susters het hulle toewyding aan Jehovah gesimboliseer, terwyl die applous oor en oor deur die groot stadion weergalm het. Dit was meer as die vorige hoogtepunt van 7 136 dopelinge toe 253 922 byeenkomsgangers in 1958 in New York-stad vergader het.

Namate hierdie oordeelstydperk nou sy einde nader, word skaapgeaardes van die Ooste, die Weste en selfs van “die uiterste van die aarde” in ’n eenheid saamgesnoer wat nog nooit in die hele mensegeskiedenis geëwenaar is nie. Ja, ’n “groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale” sluit hulle by geestelike Israel aan om hulle geloof in Jesus se kosbare losprysoffer bekend te maak, wat die grondslag van alles is wat ter regverdiging van Jehovah se soewereine heerskappy gedoen word.—Handelinge 1:8; Openbaring 7:4, 9, 10.

[Prente op bladsy 8, 9]

Die Ooste en die Weste ontmoet in Moskou en Kiëf

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel