Jehovah het ons nooit verlaat nie
SOOS VERTEL DEUR NASHO DORI
Mbreshtan is ’n klein dorpie in die berge van suidelike Albanië, naby Griekeland. Ek is in 1907 daar gebore. Toe ek vyf was, het ek na ’n Griekse skool begin gaan, maar my skoolopleiding is gedurende die Eerste Wêreldoorlog onderbreek toe Italiaanse magte Albanië ingeval het. Ná die oorlog het ek my skoolopleiding voortgesit, maar in Albanees.
HOEWEL my ouers nie baie godsdienstig was nie, het hulle die tradisies van die Albaans-Ortodokse Kerk gevolg. My grootoom was ’n priester in Mbreshtan, gevolglik het ek in die kerk gewerk en het dit my ’n kykie gegee van wat daar plaasgevind het. Die rituele het so leeg gelyk, en die skynheiligheid het my gepla.
Volgens die plaaslike gebruik het my ouers vir my ’n jong vrou gekies om mee te trou. Argjiro was van die nabygeleë dorpie Grabova, en ons is in 1928 getroud toe sy 18 was.
Ek leer Bybelwaarheid
Dit was omstreeks daardie tyd dat ek by my neef wat ons van die Verenigde State besoek het oor die Ortodokse Kerk gekla het. “Naby my huis, in Amerika,” het hy geantwoord, “is daar ’n groep mense wat nie ’n kerk het nie, maar hulle bestudeer die Bybel.” Ek het gehou van die idee om die Bybel te bestudeer sonder om ’n kerk te hê. Ek het hom dus gevra om van hulle Bybellektuur aan my te stuur.
Ek het heeltemal van ons gesprek vergeet totdat ek omtrent ’n jaar later ’n pakkie van Milwaukee, Wisconsin, gekry het. Binne-in was die boek Die harp van God in Albanees en Die Wagtoring in Grieks. Ek het vlugtig deur die boek gekyk en ’n verwysing na die ware kerk gesien. Dit het my ontstel. ‘Ek wil niks met ’n kerk te doen hê nie’, het ek vir myself gesê. Ek het gevolglik nie die boek goed deurgelees nie.
In 1929 het ek by die leër aangesluit en is ek na die stad Tirana, die hoofstad van Albanië, gestuur. Daar het ek Stathi Muçi ontmoet, wat besig was om ’n Griekse Bybel te lees. “Gaan jy kerk toe?” het ek gevra. “Nee”, het hy geantwoord. “Ek het die kerk verlaat. Ek is ’n Internasionale Bybelstudent.” Die Sondag het ek en ’n ander soldaat saam met Stathi na ’n vergadering gegaan. Daar het ek geleer dat die ware kerk nie ’n gebou of ’n godsdiens is nie, maar dat dit uit gesalfde knegte van Christus bestaan. Nou het ek verstaan wat Die harp van God bedoel het.
Nasho Idrizi en Spiro Vruho het in die middel-twintigerjare van die Verenigde State af na Albanië teruggekeer en die Bybelwaarhede bekend gemaak wat hulle daar geleer het. Ek het die vergaderinge saam met die handjievol Bybelstudente in Tirana begin bywoon. Dit het gou vir my duidelik geword dat ek Jehovah se organisasie gevind het. Ek is dus op 4 Augustus 1930 in ’n nabygeleë rivier gedoop.
Hierna het ek na Mbreshtan teruggekeer om as skoenmaker te gaan werk. Maar nog belangriker, ek het ook die Bybelwaarhede wat ek geleer het aan ander begin vertel. Ek het vir hulle gesê: “Jesus Christus is nie soos die beelde in die kerk nie. Hy lewe!”
Ons getuig ondanks teenstand
Ahmed Bey Zogu het die bewind in 1925 oorgeneem, hom in 1928 koning Zog I gemaak en tot 1939 geregeer. Sy Minister van Menseregte het ons Christelike werk goedgekeur. Ons het nietemin probleme gehad. Dit was omdat Musa Juka, die Minister van Binnelandse Sake, noue bande met die pous in Rome gehad het. Juka het beveel dat net drie godsdienste erken word—die Mohammedaanse, die Ortodokse en die Rooms-Katolieke godsdiens. Die polisie het probeer om ons boeke weg te neem en ons predikingswerk te verhinder, maar hulle was onsuksesvol.
Gedurende die dertigerjare het ek dikwels besoek afgelê in Berat, ’n groter stad in Albanië van waar Mihal Sveci die leiding in ons predikingswerk gegee het. Ons het predikingsreise na verskillende dele van die land onderneem. Ek is eenkeer vir twee weke na die dorp Shkodër gestuur en ek het baie lektuur versprei. In 1935 het ons as ’n groep ’n bus gehuur om die predikingswerk in die dorp Këlcyrë te gaan doen. Toe is ’n groter predikingsreis deur Albanië beplan om die dorpe Përmet, Leskovik, Ersekë, Korçë, Pogradec en Elbasan te besoek. Ons het die reis in Tirana net betyds voltooi om die herdenking van Christus se dood te vier.
’n Voorraad geestelike voedsel het ons gehelp om geestelik sterk te bly, en daarom het ons nooit gevoel dat ons verlaat is nie. Van 1930 tot 1939 het ek die Griekse Wagtoring gereeld ontvang. Dit was ook my doelwit om die Bybel elke dag ten minste ’n uur lank te lees, wat ek sowat 60 jaar lank reggekry het voor my oë ingegee het. Ek is bly dat ek as kind Grieks geleer het, want die volledige Bybel het eers onlangs in Albanees beskikbaar geword. Ander Albanese Getuies het destyds ook Grieks leer lees sodat hulle ook die volledige Bybel kon lees.
Argjiro is in 1938 gedoop. Teen 1939 was sewe van ons tien kinders reeds gebore. Drie van ons eerste sewe kinders het ongelukkig gesterf toe hulle nog klein was.
Ontberinge gedurende die Tweede Wêreldoorlog
In April 1939, net voor die begin van die Tweede Wêreldoorlog, het Italiaanse Fascistiese troepe Albanië aangeval. Kort daarna is ’n verbod op die werk van Jehovah se Getuies geplaas, maar ons klein groepie van omtrent 50 Koninkryksverkondigers het met die predikingswerk voortgegaan. Sowat 15 000 van ons boeke en boekies is gedurende die Tweede Wêreldoorlog gekonfiskeer en vernietig.
Jani Komino het ’n groot lektuurpakkamer by sy huis gehad. Toe die Italiaanse magte uitgevind het dat die boeke in die Verenigde State gedruk is, was hulle woedend. “Julle is propagandiste! Die Verenigde State is teen Italië!”, het hulle gesê. Die ywerige jong broers Thomai en Vasili Cama is in hegtenis geneem, en toe dit bekend geword het dat die boeke wat hulle versprei het van Komino gekom het, is hy ook in hegtenis geneem. Nie lank daarna nie is ek deur die polisie ingeroep om ondervra te word.
“Ken jy hierdie manne?” het hulle gevra.
“Ja”, het ek geantwoord.
“Werk jy saam met hulle?”
“Ja”, het ek geantwoord. “Ons is Jehovah se Getuies. Ons is nie teen die regerings nie. Ons is neutraal.”
“Het jy hierdie lektuur versprei?”
Toe ek ja geantwoord het, het hulle my geboei, en ek is op 6 Julie 1940 in die tronk gesit. Daar was ek saam met vyf ander van ons dorp—Josef Kaci, Llukan Barko, Jani Komino en die Cama-broers. Terwyl ons in die tronk was, het ons drie ander Getuies ontmoet—Gori Naçi, Nikodhim Shyti en Leonidas Pope. Al nege van ons is saam in ’n sel geprop wat 1,8 by 3,7 meter groot was!
Ná ’n paar dae is ons aan mekaar vasgeketting en na die stad Përmet geneem. Drie maande later is ons na die gevangenis in Tirana oorgeplaas en nog agt maande sonder ’n verhoor aangehou.
Uiteindelik het ons voor ’n militêre hof verskyn. Ek en broer Shyti is tot 27 maande tronkstraf gevonnis, broer Komino tot 24 maande en die ander is ná 10 maande vrygelaat. Ons is na die Gjirokastër-gevangenis oorgeplaas, waar broer Gole Flloko gehelp het om ons vrylating in 1943 te bewerkstellig. Ons gesin het ons daarna in die stad Përmet gevestig, waar ek die opsiener van die klein gemeente geword het.
Al was daar nog ’n verbod op ons werk en het die Tweede Wêreldoorlog in die lande om ons gewoed, het ons steeds ons bes gedoen om die Koninkryksboodskap te verkondig (Matteus 24:14). In 1944 was daar altesaam 15 Getuies in die tronk. Tog het ons nooit gedurende hierdie moeilike tye gevoel dat Jehovah ons verlaat het nie.
Ons neutraliteit word beproef
Hoewel die oorlog in 1945 geëindig het, het ons steeds probleme ondervind, en dit het selfs vererger. Gedurende die verkiesing van 2 Desember 1946 is mense gedwing om te stem. Enigiemand wat dit gewaag het om nie te stem nie, is as ’n vyand van die staat beskou. Diegene in ons gemeente in Përmet het begin vra: “Wat moet ons doen?”
“As julle op Jehovah vertrou”, het ek geantwoord, “hoef julle my nie te vra wat julle moet doen nie. Julle weet mos dat Jehovah se volk neutraal is. Hulle is geen deel van die wêreld nie.”—Johannes 17:16.
Die stemdag het aangebreek, en regeringsverteenwoordigers het na ons huis gekom. Hulle het kalm begin: “Ag, kom ons drink ’n koppie koffie en gesels. Weet jy wat vandag is?”
“Ja, vandag word daar ’n verkiesing gehou”, het ek geantwoord.
“Jy moet gou maak of jy gaan laat wees”, het een beampte gesê.
“Nee, ek is nie van plan om te gaan nie. Ons stem vir Jehovah”, het ek geantwoord.
“Goed dan, kom stem dan vir die opposisie.”
Ek het verduidelik dat Jehovah se Getuies heeltemal neutraal is. Toe ons standpunt algemeen bekend geword het, is groter druk op ons uitgeoefen. Ons is beveel om nie meer vergaderinge te hou nie, en gevolglik het ons in die geheim begin vergader.
Ons keer terug na ons tuisdorp
In 1947 het ek en my gesin na Mbreshtan teruggekeer. Kort daarna, op ’n yskoue Desembermiddag, is ek gevra om na die kantoor van die Sigurimi (geheime polisie) te gaan. “Weet jy waarom ek jou laat roep het?” het die polisiebeampte gevra.
“Ek veronderstel dit is omdat jy aantygings teen my ontvang het”, het ek geantwoord. “Maar die Bybel sê dat die wêreld ons sal haat, en daarom is ek nie verbaas oor die aantygings nie.”—Johannes 15:18, 19.
“Moenie met my oor die Bybel praat nie”, het hy my toegesnou. “Ek sal jou kop van jou lyf afslaan.”
Die beampte en sy manne het uitgegaan, maar ek is aangesê om buite in die koue te gaan staan. Ná ’n rukkie het hy my in sy kantoor teruggeroep en my beveel om nie meer vergaderinge in ons huis te hou nie. “Hoeveel mense woon in julle dorpie?” het hy gevra.
“Honderd-en-twintig”, het ek gesê.
“Aan watter kerk behoort hulle?”
“Die Albaans-Ortodokse Kerk.”
“En jy?”
“Ek is ’n Getuie van Jehovah.”
“Honderd-en-twintig mense volg een weg en jy ’n ander?” Toe het hy my beveel om kerse in die kerk aan te steek. Toe ek sê dat ek dit nie sal doen nie, het hy my met ’n stok begin slaan. Ek is omtrent eenuur die oggend uiteindelik vrygelaat.
Die lektuurtoevoer word afgesny
Ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het ons weer Die Wagtoring deur die pos begin ontvang, maar uiteindelik is die tydskrifte nie meer afgelewer nie. Toe, een aand om tienuur, is ek deur die geheime polisie ingeroep. “Ons het ’n Griekse tydskrif gekry”, het hulle vir my gesê, “en ons wil hê jy moet vir ons verduidelik waaroor dit gaan.”
“My Grieks is nie baie goed nie”, het ek gesê. “My buurman ken dit beter. Miskien kan hy julle help.”
“Nee, ons wil hê jy moet dit verduidelik”, het ’n beampte gesê terwyl hy ’n klomp Griekse eksemplare van Die Wagtoring uitgehaal het.
“O, dis myne!” het ek uitgeroep. “Natuurlik kan ek dit verduidelik. Julle sien, hierdie tydskrifte kom van Brooklyn, New York. Dit is waar die hoofkwartier van Jehovah se Getuies geleë is. Ek is ’n Getuie van Jehovah. Maar dit wil voorkom asof hulle ’n fout gemaak het met die adres. Ek moes hierdie tydskrifte gekry het, nie julle nie.”
Hulle wou nie vir my die tydskrifte gee nie en van toe af tot in 1991, goed 40 jaar later, het ons geen Bybellektuur in Albanië ontvang nie. Gedurende al daardie jare het ons met die predikingswerk voortgegaan deur net ons Bybels te gebruik. In 1949 was daar ongeveer 20 Getuies in die tronk; party is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.
Probleme neem toe
In die vyftigerjare is mense beveel om dokumente te dra as bewys dat hulle die weermag ondersteun. Maar Jehovah se Getuies het geweier om sulke dokumente te dra. As gevolg hiervan het ek en broer Komino nog twee maande in die tronk deurgebring.
Gedurende die tyd wat die staat sekere godsdienste toegelaat het, het ons ’n mate van vryheid gehad. Maar in 1967 is alle godsdienste verbied en het Albanië amptelik geheel en al ’n ateïstiese land geword. Die Getuies het probeer voortgaan om vergaderinge te hou, maar dit het baie moeilik geword. Van ons het ’n spesiale sak in die voering van ons baadjie vasgewerk sodat ons ’n klein Bybeltjie daarin kon wegsteek. Ons het dit dan in die veld gaan lees.
Getuies in Tirana is as gevolg daarvan in hegtenis geneem, en drie is tot vyf jaar in afgeleë strafkampe gevonnis. Hulle gesinne het gevolglik swaargekry. Dié van ons in klein, afgesonderde dorpies is nie weggestuur nie omdat ons nie as ’n ernstige bedreiging beskou is nie. Maar ons neutraliteit het daartoe gelei dat ons name van voedsellyste geskrap is. Die lewe was gevolglik baie moeilik. Daarbenewens het nog twee van ons kinders gesterf. Ons het nietemin nooit gevoel dat Jehovah ons verlaat het nie.
Vrees was iets algemeens in Albanië. Almal is dopgehou, en die geheime polisie het verslae opgestel oor enigiemand wat dit gewaag het om ’n mening uit te spreek wat met dié van die regerende party verskil het. Ons was dus baie versigtig om geskrewe verslae van ons bedrywighede te maak. Ons kon nie in groepe groter as twee of drie vergader om geestelik aangemoedig te word nie. Ons het nogtans nooit opgehou om die predikingswerk te doen nie.
Om verwarring onder die broers te probeer veroorsaak, het die geheime polisie die gerug versprei dat ’n bekende Getuie in Tirana ’n spioen is. Dit het daartoe gelei dat party hulle vertroue verloor het en dat ons eenheid ietwat versteur is. Omdat hulle sonder die jongste Bybellektuur was en nie met Jehovah se sigbare organisasie in aanraking was nie, het ’n paar voor vrees geswig.
Daarbenewens het die owerheid die gerug versprei dat Spiro Vruho, ’n hoogs gerespekteerde Christen- ouer man in Albanië, selfmoord gepleeg het. “Sien julle,” het hulle gesê, “selfs Vruho het opgegee.” Dit het later aan die lig gekom dat broer Vruho in werklikheid vermoor is.
In 1975 het ek en Argjiro ’n paar maande by ons seun in Tirana gebly. Gedurende die verkiesingstyd het die owerheid in die stad druk op ons uitgeoefen deur ons te dreig: “As julle nie stem nie, sal ons julle seun se werk van hom wegneem.”
“My seun werk al 25 jaar lank”, het ek geantwoord. “Julle het volledige persoonlike verslae van hom en sy gesin. Ek het meer as 40 jaar laas gestem. Hierdie inligting is gewoonlik in personeelverslae. As dit nie is nie, is daar iets verkeerd met julle verslae. As dit in julle verslae is, was julle ontrou aan die party deur hom soveel jare toe te laat om te werk.” Toe hulle dit hoor, het die owerheid gesê dat hulle die saak sal laat vaar as ons na Mbreshtan terugkeer.
Dramatiese veranderinge
Ons het in 1983 van Mbreshtan na die stad Laç verhuis. Die diktator het kort daarna, in 1985, gesterf. Hy het sedert daardie eerste verpligte verkiesing in 1946 geregeer. Mettertyd is sy standbeeld, wat op die groot plein in Tirana gestaan het, en dié van Stalin weggeneem.
Gedurende die dekades wat daar ’n verbod op ons bedrywighede was, is baie Getuies wreed behandel en party is doodgemaak. Een man het vir ’n klompie Getuies op straat gesê: “Gedurende die Kommunistiese era het ons almal God versaak. Net Jehovah se Getuies het ondanks beproewinge en ontberinge aan hom getrou gebly.”
Namate groter vryheid toegestaan is, het nege in Junie 1991 aan die Christelike bediening deelgeneem. In Junie 1992, ’n maand ná die verbod opgehef is, het 56 ’n aandeel aan die predikingswerk gehad. Vroeër daardie jaar was ons verheug om 325 by die herdenking van Christus se dood te hê. Sedertdien het die aantal verkondigers tot meer as 600 gegroei, en altesaam 3 491 het die Gedenkmaal op 14 April 1995 bygewoon! In onlangse jare het dit my groot vreugde verskaf om soveel jongmense te sien wat met ons gemeentes begin assosieer.
Argjiro is steeds getrou aan Jehovah en was al hierdie baie jare lojaal aan my. Terwyl ek in die tronk was of op reis was as gevolg van die predikingswerk het sy geduldig en sonder om te kla na ons gesin se behoeftes omgesien. Een van ons seuns en sy vrou is in 1993 gedoop. Dit het ons so gelukkig gemaak.
Net vir God se Koninkryk
Ek is verheug om die eenheid en geestelike voorspoed te sien wat Jehovah se organisasie in Albanië geniet. Ek voel soos die bejaarde Simeon in Jerusalem wat voor sy dood die voorreg gegun is om die langverwagte Messias te sien (Lukas 2:30, 31). Wanneer iemand my vandag vra watter regeringsvorm ek verkies, sê ek: “Ek verkies nie Kommunisme of kapitalisme nie. Hetsy die land deur die mense of deur die staat besit word, is nie belangrik nie. Regerings bou paaie, voorsien elektrisiteit aan afgeleë dorpies en verskaf ’n mate van orde. Maar Jehovah se regering, sy hemelse Koninkryk, is die enigste oplossing vir die moeilike probleme waarvoor Albanië sowel as die res van die wêreld te staan kom.”
Die werk wat God se knegte wêreldwyd doen deur God se Koninkryk te verkondig, is nie die werk van enige mens nie. Dit is God se werk. Ons is sy knegte. Hoewel ons baie probleme in Albanië gehad het en lank van Jehovah se sigbare organisasie afgesny was, het hy ons nooit verlaat nie. Sy gees was altyd hier. Hy het ons altyd gelei. Ek het dit my hele lewe lank gesien.