Koninkryksverkondigers berig
Standvastigheid bring ryk seëninge mee
JESUS het voorspel dat sy volgelinge vervolg sou word, en die apostel Paulus het dit ook in 2 Timotheüs 3:12 voorspel: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” Maar as ons standvastig in ons diens aan Jehovah God is, bring dit ryk seëninge mee.
◻ Dit was die geval in ’n dorp aan die noordoostelike kus van Maleisië. Hoewel ’n vader van drie dogters en drie seuns ’n stoere Boeddhis was wat sy kinders streng grootgemaak het, kon hy hulle nie keer om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer nie. Selfs sy vrou het belangstelling in die waarheid getoon. Toe het ’n buurman hom eendag spottend gevra: “Hoe kan jy so oor jou kinders beheer verloor en hulle toelaat om Getuies van Jehovah te word? Al my kinders ondersteun my en die Boeddhistiese godsdiens van ons voorvaders. Jy is regtig pateties!”
Die vader het hom huis toe gehaas en gedreig om die suster wat die studies met sy kinders gehou het te lyf te gaan. Die kinders het hom egter tot bedaring gebring en het met hulle moeder se ondersteuning voortgegaan om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer en die vergaderinge by te woon.
Maar uiteindelik het die vader die hele gesin byeengeroep. “Kies”, het hy gesê, “of julle my wil hê en tuis gaan bly en of julle Christene wil word en die huis wil verlaat.” Die oudste seun, wat ’n baie sagte persoon is, het dadelik begin inpak. “Nee!” het die vader geskreeu. “Aangesien julle almal opstandige kinders is, is dit beter dat ek sterf.” Toe het hy by die huis uitgestorm met die gesin agterna, en hulle het hom gesmeek om nie sy lewe te neem nie. Hy was beïndruk deur hulle gesoebat en het teruggegaan huis toe.
Die tyd het verbygegaan. Die vader het begin opmerk watter goeie uitwerking Bybelwaarheid op sy kinders se gedrag het. Eendag het hy die vriend teëgekom wat hom bespot het. Hy was nou ’n hartseer man en het gesê: “Ek is baie teleurgesteld in my kinders. Hulle verkul en besteel my.” Maar die vader wie se kinders saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het gesê: “O, my kinders is anders! Hulle is baie liefdevol teenoor my en het my selfs gehelp om my motor af te betaal toe ek werkloos was.”
Vandag is die drie dogters en die moeder gedoop. Een van die seuns is ’n spesiale pionier. En die vader wat voorheen so onversetlik en grimmig was? Hy is nou vriendelik en het die Gedenkmaal bygewoon.
Jehovah het die seun en sy drie susters sowel as hulle moeder vir hulle standvastigheid teenoor Hom beloon. Hulle is nou ywerige Koninkryksverkondigers, wat Jehovah se hart verbly.—Spreuke 27:11.