Koninkryksverkondigers berig
‘Die Naam van Jehovah is ’n sterk toring’
ONS lewe in onbestendige tye. Ons skynbaar bestendige lewe kan oornag verander, en sommige het al sonder waarskuwing in groot gevaar verkeer voor hulle dit besef het. Gevaar kan ontstaan as gevolg van politieke omwentelings, ’n gewelddadige aanvaller, ’n natuurramp of ’n ernstige siekte. Maar wat ook al die geval, tot wie moet ’n Christen hom wend wanneer sy lewe in gevaar is?
David, ’n sendeling wat by een van die Wagtoringgenootskap se takkantore woon, het tydens ’n angswekkende ondervinding die antwoord op daardie vraag gekry. Hy het vroeg een oggend gery om ’n paar dag-Betheliete (vrywilligers wat nie by die takkantoor woon nie) te gaan oplaai. Dit was nog donker. Hy het Rosalía opgelaai en by ’n polisiekantoor verbygery toe hy die eerste skoot gehoor het.
Daarna het dinge vinnig gebeur. Hy het iets soos die geluid van ’n groot klapper gehoor en besef dat een van die wiele besig is om af te blaas. Skielik het hy in die middel van die pad ’n soldaat sien staan wat met ’n geweer reguit na hom toe korrel. Drie dinge het byna gelyktydig gebeur: Die kant van die Jeep is deur ’n sarsie skote vol gate geskiet sodat die vensters aan skerwe gespat het; David en Rosalía het weggeduik; die soldaat het op ooghoogte deur die voorruit gevuur.
Terwyl die Jeep met koeëls bestook is, het David so goed as moontlik in sy gebukte posisie probeer rem. David en Rosalía het albei gedink hulle gaan sterf. Hulle het hardop tot Jehovah gebid en hom gevra om oor hulle te waak. Rosalía het later gesê dat sy op daardie tydstip gewonder het hoe haar familie sou reageer wanneer hulle van haar dood hoor!
Hulle lewe nog!
Die geluid van geweervuur en glas wat breek, het eindelik opgehou, en David het na Rosalía gekyk. Toe hy ’n klein, ronde bloedvlekkie op haar rug sien, het sy hart amper gaan staan. Maar dit was ’n stukkie glas, en nie ’n koeël nie, wat daar vasgesit het. Haar knieë het gebloei waar die vallende glas haar gesny het, maar dit het gelyk of sy verder niks makeer nie.
Mans in militêre uniforms met wit moubande het na die Jeep toe gekom en hulle beveel om met hulle hande in die lug uit te klim. Een van hulle, wat gelyk het of hy ’n hoër rang het, het na ’n soldaat toe gedraai en gesê: “Julle is gesê om nie op burgerlikes te skiet nie.” Die soldaat het dit probeer goedpraat en gesê dat hy skote gehoor het wat hy gedink het van die Jeep af kom.
Toe David hom en Rosalía as Getuies van Jehovah geïdentifiseer het, was die reaksie gunstig. Hy het verduidelik waarmee hy besig was, maar die soldate wou hulle nogtans in hegtenis neem. Blykbaar het ’n militêre faksie in die vroeë oggendure ’n staatsgreep uitgevoer, en hierdie soldate was besig om die polisiekantoor oor te neem toe David en Rosalía in die Jeep daar verbygery het.
Rosalía was baie ontsteld, maar sy het moedig kalm gebly terwyl David gesmeek het dat hulle vrygelaat word. Hulle is uiteindelik toegelaat om te gaan—sonder die Jeep. Hulle moes na ’n nabygeleë straat loop om ’n bus na die takkantoor toe te haal, waar die sieke-afdeling na Rosalía omgesien het.
Die krag van gebed
David het iets uit die ondervinding geleer—’n mens moet nooit die krag van opregte gebed onderskat nie, en jy moet nooit vergeet nie dat dit dikwels ’n beskerming is om jou moedig as ’n Getuie van Jehovah te identifiseer. Dit kan letterlik so wees dat ‘die Naam van Jehovah ’n sterk toring is; die regverdige hardloop daarin en word beskut’.—Spreuke 15:29; 18:10; Filippense 4:6.
[Foto-erkenning op bladsy 19]
Fotografía de Publicaciones Capriles, Caracas, Venezuela