Die stadslewe teen die heuwels van Caracas
Deur Ontwaak!-medewerker in Venezuela
CARACAS, Venezuela. Hoë, moderne kantoorgeboue troon oor lawaaierige verkeer, besige winkels en stampvol restaurante. Toeriste loop op die pleine rond in hulle kortbroeke, met ’n sonhoed op die kop en ’n kamera om die nek. Die sypaadjies wemel van die mense.
Maar Caracas het ’n ander sy. Agter die chroom, staal en glas lê los cerros (die heuwels), wat ongewone gemeenskappe teen die heuwelhange is. Hulle lê teen die steil hange wat die stad aan die ooste, weste en suide begrens. Byna tweemiljoen mense woon daar, in die honderde gemeenskappe wat barrios genoem word.
Hoe het hierdie gemeenskappe ontstaan? In 1958 het die regering ’n plan opgestel wat geld aan werklose stedelinge voorsien het. Mense het dus na die hoofstad toe gestroom om van hierdie voorsiening gebruik te maak. Baie het die provinsies verlaat om die stad se voordele—hospitale, skole, universiteite—te benut.
Politieke geweld en ekonomiese depressie in buurlande het ook immigrasie tot gevolg gehad namate mense in Caracas werk kom soek het. Die plat gedeelte van die Caracas-vallei is spoedig heeltemal bewoon, wat mense gedwing het om hoër op na ’n blyplek te soek. So het die gemeenskappe teen die hange van die heuwels ontstaan.
Die rit opwaarts
Ons begin ons reis waar ons by ’n lang ry mense aansluit. Hulle wag vir ’n jeep en nie vir ’n bus nie, aangesien ’n jeep beter is vir die steil klim wat voorlê. ’n Jeep met ’n lang onderstel hou stil, en ’n stuk of tien mense klim in. Vyf sit op elk van die twee bankies wat agterin langs die kante in die lengte af loop; twee sit op die gesogte voorste sitplek. Kort voor lank vou ons ons dubbel om by die agterste deur in te kom. Ons wurm ons in ’n spasie op die bankie in, trek ons knieë hoog op en probeer om nie op een van die dames se sak groente te trap nie.
Ons begin steil te klim. Die strate is nou en dikwels kronkelend. Soms lyk hulle byna vertikaal. Die bestuurder steek sy gunstelingmusiekkasset in die kassetspeler, en kort voor lank tik die voete op die Latynse maatslag. Skielik roep iemand na die bestuurder uit: “¡Donde pueda!” (Waar jy ook al kan!) Dit klink na ’n vreemde manier om hom te vra om stil te hou. Maar dit is die beste om op sy oordeel staat te maak. As die jeep op een van die steiler dele van die pad moes stilhou, sou dit miskien nie weer kon wegtrek nie—ten minste nie vorentoe nie! ’n Paar passasiers met verkreukelde klere klim by die agterste deur uit nadat hulle op pad uit op ’n paar tone getrap het.
Nie lank nie of ons bevind ons agter ’n stadige voertuig waaruit water oral drup. Dit is die watervoertuig, wat sy kosbare vrag vervoer na huise waar lopende water feitlik ’n ongekende luukse is. Die mense berg dit gewoonlik in tenks of gebruikte oliedromme.
Die jeep kom rukkerig by een van sy talle ander stilhouplekke tot stilstand, en ons besef dat ons moet uitklim. Die vaste grond voel byna vreemd onder ons voete, en ons bly eers staan om te kyk waar ons is.
Die huise teen die heuwels
Die huise is op enige plek en op enige manier gebou. Dit lyk asof ekstra kamers of selfs ekstra verdiepings eenvoudig aangebou word namate die gesin groter word. Party is stewige huisies wat van terracottabakstene gebou is. Maar ander is van planke, platgemaakte blikke of selfs verpakkingskratte gemaak waarop die woorde “Hierdie kant bo” steeds gestempel is.
Dit is nou redelik stil nadat die jeep al grommende uit ons sig verdwyn het. Die uitsig is asemrowend. Dáár, ver onder, is die middestad van Caracas. Skielik word die stilte verbreek deur ’n stem wat krapperig oor ’n luidspreker gehoor word: “Ja, daar is uie. Ja, daar is aartappels, jukka’s en meelpiesangs.” Wanneer ons omdraai, sien ons hoe ’n vragmotor wat naby ons geparkeer was skielik lewe kry. ’n Seun bedien die klante vanuit die bak van die vragmotor.
Daar is ongeveer 500 barrios in Caracas. Party is na “heiliges” vernoem, ander na bekende datums of politieke figure. Ander name weerspieël weer die strewes van die bewoners eerder as die werklikheid. Voorbeelde: El Progreso (Vooruitgang), Nuevo Mundo (Nuwe Wêreld) en El Encanto (Genot).
Die lewe in die barrio
’n Gemeenskapsgees floreer hier. Gesamentlike pogings word dikwels aangewend om ’n barrio van dwelmmisbruik of misdaad te bevry. Die meeste barrios het bodegas—negosiewinkels wat ’n verskeidenheid artikels verkoop—asook ’n skool en ’n apteek, waar die apteker altyd gereed is om met ’n diagnose te help en behandeling vir minder ernstige kwale aan te beveel.
Tog is die lewe hier moeilik. Die probleme word deur die kriminoloog dr. Elio Gómez Grillo soos volg beskryf: “Daar woon op die oomblik tweemiljoen mense in hierdie randgebiede wat skaars die lewensbenodigdhede kan bekostig. Die misdaadsyfer styg drasties . . . Selfmoord, straatroof, bankroof en gewapende roof wat tot manslag lei, is kommerwekkend.” Watertekorte en elektrisiteitsonderbrekings is iets algemeens.
In die reënseisoen verander los cerros heeltemal. Die grond verander in modder, trappe verander in miniatuurwatervalle en vullis word deur die riviere meegesleur wat in die straatvore ontstaan. Die gekletter van die reën op die sinkdakke is oorverdowend; die geselsery kom tot ’n einde wanneer die huisbewoners bakke en emmers gaan soek om onder die lekplekke te sit. Maar die son skyn kort voor lank weer en die nat dakke en paaie word droog. Die onbedwingbare Venezolaanse gees verrys ook net so vinnig. Die lewe gaan voort.
Ons sit die opwaartse reis te voet voort
Ons reis is nog glad nie verby nie. Ons moet nog ons vriende se huis bereik. Tussen twee huise is daar ’n steil, ongelyke betontrap wat teen die heuwel opgaan. Op die beknopte huisies wat lyk of hulle om spasie meeding, is daar oral kennisgewings wat bedoel is om ons aandag te trek: Pego Cierres (Ek sit ritssluiers in); Cortes de Pelo (Haarsnye); Se Venden Helados (Roomys te koop). Die bewoners bedink allerhande planne om ’n bestaan te maak. Party spuitverf motors, vervang die olie en doen herstelwerk—sommer net daar in die straat.
Nadat ons boaan die trap asem geskep het, draai ons in ’n doolhof van nou deurgange tussen huise in. Ons kom uit hierdie doolhof te voorskyn en knip ons oë vanweë die helder sonlig. Ons vriend se huis is langs hierdie voetpaadjie. Daar is geen huisnommers hier nie—en ook geen posafleweringsdiens nie. Die reuk van pasgemaakte koffie vul die lug. Ons gasheer en -vrou sal ons waarskynlik verwelkom met koffie wat in piepklein koppies bedien word, asook met ’n arepa (’n eenvoudige mieliebrood wat met verskillende vulsels smaaklik gemaak word).
Ons word verwelkom
Soos ons verwag het, verwelkom die gesin ons met die gebruiklike gasvryheid in hulle eenvoudige maar skoon ranchito, soos hierdie huisies genoem word. “Están en su casa” (Maak julle tuis) is een van die eerste dinge wat hulle sê.
Terwyl die son op die sinkdak bak, is ons dankbaar vir die briesie wat deur die glaslose vensters waai. Daar is egter tralies voor die vensters, aangesien huisroof taamlik gereeld voorkom. Ons gasheer en -vrou sien dat die hitte ons ongemaklik laat voel en bring ’n elektriese waaier te voorskyn wat, soos ’n yskas en ’n televisie, standaardtoerusting hier is. Die vloer is van sement. Baie van die bure het net ’n grondvloer.
Die man, pa van vyf kindertjies, het as ’n tiener van die platteland na Caracas verhuis om beter vooruitsigte in die groot stad te soek. Hy het by sy ouer, getroude broer gaan bly wat, soos so baie voor hom, hom eenvoudig op ’n onbewoonde stuk grond hoog teen die heuwel gaan vestig het. Toe ons vriend later sy toekomstige vrou ontmoet het, het sy broer vrygewig gesê dat hulle ’n plakkershuisie op die beskikbare stuk grond net langs sy huis kon oprig. Met die hulp van bure en familielede het hierdie paartjie hulle baksteenhuis stuk vir stuk, op presies dieselfde plek, gebou.
Die gesin voel dat dit nie juis die ideale ligging is nie, maar hulle het hulle daarin berus. Hulle is tevrede met wat hulle het. ‘Miskien sal ons eendag laer af teen die heuwel kan gaan woon’, sê hulle, “si Dios quiere” (as God wil).
Ons geniet ’n aangename middag saam met hierdie arm maar vriendelike gesin. Die geselskap word af en toe onderbreek deur kindertjies wat lekkergoed by die voorste venster kom koop. Dit is hoe die vrou help om haar man se inkomste aan te vul.
Die pad ondertoe
Ons wil vertrek voordat dit donker word. Vandag is Vrydag, en die barrio kry lewe wanneer die mans met hulle loon huis toe kom. Die bodegas verkoop baie bier, en die geluide van salsa- en merengue-ritmes dra by tot ’n ontspanne naweekatmosfeer.
Wanneer ons onder kom, stap ons na die naaste stasie. Daar sal ’n moltrein wat deel uitmaak van ’n betroubare vervoerdiens ons na die middestad neem. Ons is effe verlig dat ons na ’n bekender gebied kon terugkeer. Maar terwyl ons terugkyk na los cerros, wat nou ’n massa ligte is wat in die donkerte skitter, is ons bly dat ons hierdie ander sy van Caracas beter kon leer ken.