Laat jy ander hulle waardigheid behou wanneer jy raad gee?
HOE goed en hoe voordelig is dit tog om met waardigheid raad gegee te word! “Vriendelike, bedagsame, liefdevolle raad dra tot goeie verhoudings by”, sê Edward. “Wanneer jy voel dat die raadgewer jou eer en respekteer deur bereidwillig na jou kant van die saak te luister, is dit baie makliker om die raad aan te neem”, sê Warren. “Wanneer ’n raadgewer my met respek behandel, het ek die vrymoedigheid om hom te nader en om raad te vra”, merk Norman op.
Die mens se natuurlike reg op waardigheid
Hartlike, vriendelike en liefdevolle raad is beslis welkom. Dit is voordelig om ander raad te gee soos jy raad gegee wil word (Mattheüs 7:12). ’n Goeie raadgewer ruim die tyd in om te luister en streef daarna om die een wat raad gegee word te verstaan—sy denke, sy situasie en sy gevoelens—pleks van hom te kritiseer en te veroordeel.—Spreuke 18:13.
Hedendaagse raadgewers, onder andere Christen- ouere manne, moet seker maak dat hulle ander met waardigheid behandel wanneer hulle raad gee. Waarom? Bloot omdat dit die heersende gesindheid in die gemeenskap is om ander op ’n onwaardige manier te behandel. En dit is aansteeklik. Dit is dikwels diegene van wie jy dit sou verwag om jou met waardigheid te behandel wat dit nie doen nie, of hulle nou beroepsmense, godsdiensleiers of ander is. Ter toeligting, by die werkplek is ’n afdanking vir die werkgewer asook die werknemer ’n traumatiese en spanningsvolle ondervinding. Dit gee ’n mens se selfrespek ’n knou, veral as die een wat ontslaan word nie met waardigheid behandel word nie. Opsieners in so ’n situasie moet leer hoe om die “moeilike boodskap op ’n duidelike, besliste en professionele wyse oor te dra sodat die persoon nie sy waardigheid verloor nie”, berig The Vancouver Sun. Ja, alle mense verdien dit om met waardigheid behandel te word.
Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies sê: “Alle mense word vry gebore en het gelyke waardigheid en regte. Hulle het verstand en ’n gewete en moet in ’n gees van broederskap teenoor mekaar optree.” Aangesien die mens se waardigheid aangeval word, is dit met goeie rede dat die Handves van die Verenigde Nasies en die aanhef tot die Universele Verklaring insake Menseregte hierdie eienskap erken. Hulle verklaar “geloof in grondliggende menseregte, in die waardigheid en verdienstelikheid van die mens”.
Jehovah het die mens met inherente waardigheid geskep
Jehovah is ’n God van waardigheid. Sy geïnspireerde Woord sê tereg: “Waardigheid en prag is voor hom” en “[Sy] waardigheid [word] bo die hemele vertel.”—1 Kronieke 16:27, NW; Psalm 8:1, NW.
As ’n God van waardigheid en die Universele Soewerein verleen hy waardigheid aan sy hele skepping—in die hemele en op die aarde. ’n Voortreflike voorbeeld van iemand wat so vereer word, is sy verheerlikte en heersende Seun, die Koning, Christus Jesus. “Waardigheid en prag lê u op hom”, het Dawid profeties geskryf.—Psalm 21:5, NW; Daniël 7:14, vgl. NW.
Ongelukkig is hierdie basiese mensereg deur die geskiedenis heen baie geskend. ’n Magtige engel, wat deur sy dade Satan die Duiwel geword het, het die regmatigheid en regverdigheid van God se soewereiniteit betwis, asook die feit dat hy dit verdien. Daardeur het hy oneerbiedigheid teenoor Jehovah getoon en Sy waardige naam oneer aangedoen, terwyl hy Sy reg om te regeer, betwis het. Hy het hom oormatige waardigheid toegeëien. Soos die Duiwel het magtige mensekonings, soos Nebukadnesar van Bybeltye, oor die ‘sterkte van hulle vermoë en majesteit’ gespog. Hulle het Jehovah se waardigheid aangeval en hulle buitensporige waardigheid aangematig (Daniël 4:30). Satan se onderdrukkende heerskappy, wat aan die mensdom opgedwing word, het die mens se waardigheid aangeval en doen dit steeds.
Is jou waardigheid al ooit ondermyn? Is jy al, toe jy raad gegee is, uiters skuldig, skaam, verleë of vernederd laat voel? “Dit het nie vir my gevoel of daar besorgdheid, medelye en waardigheid was nie. Ek is nutteloos laat voel”, sê André, en hy voeg by: “Dit het tot gevoelens van frustrasie en angs, selfs depressie, aanleiding gegee.” “Dit is moeilik om raad aan te neem van iemand wat jy dink nie jou belange op die hart dra nie”, sê Laura.
Daarom word Christenopsieners vermaan om God se kudde met respek en eer te behandel (1 Petrus 5:2, 3). Hoe kan jy, indien situasies ontstaan waar dit nodig en voordelig is om ander raad te gee, versigtig wees dat jy nie dink en optree soos wêreldse mense wat sonder aarseling ander se waardigheid aanval nie? Wat kan help dat jy jou mede-Christene hulle waardigheid laat behou, en hoe kan jy jou eie waardigheid behou?—Spreuke 27:6; Galasiërs 6:1.
Beginsels wat gevolg moet word
God se Woord praat oor hierdie onderwerp. ’n Bekwame raadgewer sal onvoorwaardelik op die raad in God se Woord vertrou en nie op die wysheid van hierdie wêreld staatmaak nie. Die Heilige Geskrifte bevat nuttige raad. Wanneer dit gevolg word, behou die raadgewer asook die een wat raad gegee word sy waardigheid. Daarom het Paulus die Christenopsiener Timotheüs die volgende riglyne gegee: “’n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ’n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid” (1 Timotheüs 5:1, 2). Hoeveel hartseer, gekrenkte gevoelens en verleentheid kan tog nie voorkom word as daar aan hierdie standaarde voldoen word nie!
Let op dat die sleutel tot suksesvolle raadgewing behoorlike respek vir die ander persoon is en vir sy reg om met waardigheid en liefde behandel te word. Christen- ouere manne, reisende opsieners inkluis, moet daarna streef om hierdie raad te volg en probeer vasstel wat die rede vir die een wat reggehelp moet word se denke en optrede is. Hulle moet wil hoor wat hy dink en alles moontlik doen om te vermy dat die een wat gehelp word skaam, vernederd of verleë voel.
As ’n ouere man moet jy jou broer laat voel dat jy omgee en hom met sy probleme wil help. Dit is wat ’n goeie dokter doen wanneer jy vir ’n fisiese ondersoek na sy spreekkamer toe gaan. Die gedagte daaraan om jou in ’n koue, steriele kamer te ontklee, laat jou dalk verleë en vernederd voel. Hoe waardeer jy tog nie ’n dokter wat jou selfrespek en waardigheid in ag neem en jou iets gee waarmee jy jou kan bedek terwyl hy die nodige ondersoek doen om die oorsaak van jou siekte vas te stel nie! ’n Christenraadgewer wat behoorlike respek vir die individu toon, is eweneens vriendelik en ferm, maar beklee die ontvanger met waardigheid (Openbaring 2:13, 14, 19, 20). Daarteenoor is streng, koue en gevoellose raad soos iemand wat hom figuurlik gesproke ontklee sodat hy skaam, verleë en onwaardig voel.
Opsieners van die Teokratiese Bedieningskool let veral daarop dat hulle ander met waardigheid raad gee. Wanneer hulle die bejaardes raad gee, weerspieël hulle dieselfde liefde wat hulle teenoor hulle eie ouers sal betoon. Hulle is bedagsaam, vriendelik en hartlik. Sulke sensitiwiteit is noodsaaklik. Dit dra by tot ’n atmosfeer wat bevorderlik is wanneer raad gegee en ontvang word.
Ouere manne, hou in gedagte dat praktiese raad verheffend, aanmoedigend, opbouend en positief is. Efesiërs 4:29 sê: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.”
Dit is nie nodig om streng woorde, taal of redenasie te gebruik nie. Respek vir die ander persoon en ’n begeerte om hom sy gevoel van eiewaarde en sy eergevoel te laat behou, spoor jou eerder aan om sake op ’n positiewe, opbouende manier te hanteer. Enige opmerkings moet voorafgegaan word deur eerlike, opregte lof vir sy goeie hoedanighede of eienskappe pleks dat beskouings beklemtoon word wat hom gefrustreerd en nutteloos laat voel. As jy ’n ouere man is, moet jy jou ‘gesag gebruik om op te bou en nie neer te werp nie’.—2 Korinthiërs 10:8.
Ja, enige raad van Christenopsieners moet die nodige aanmoediging gee en moet meedeel wat gunstig is. Dit moenie ontmoedig of “bang” maak nie (2 Korinthiërs 10:9). Selfs iemand wat ernstig gesondig het, moet ’n mate van selfrespek en waardigheid gegun word. Raad moet gebalanseerd wees en met vriendelike, maar ferm berisping gepaardgaan sodat dit hom sal beweeg om berou te toon.—Psalm 44:16; 1 Korinthiërs 15:34.
Dit is betekenisvol dat God se Wet aan Israel hierdie selfde beginsels bevat het. Dit het raad en selfs lyfstraf veroorloof, maar het tegelykertyd die individu se reg op ’n mate van persoonlike waardigheid beskerm. ’n Aantal slae “ooreenkomstig sy skuld” is toegelaat, maar dit mag nie buitensporig gewees het nie. Die aantal slae is beperk sodat die sondaar nie “veragtelik” gemaak is nie.—Deuteronomium 25:2, 3.
Besorgdheid oor berouvolle sondaars se gevoelens was ook kenmerkend van Jesus. Jesaja het oor hom voorspel: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.”—Jesaja 42:3; Mattheüs 12:17, 20; Lukas 7:37, 38, 44-50.
Jesus se woorde in die Bergpredikasie beklemtoon verder hoe nodig dit is om empatie te toon: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Mattheüs 7:12). Hierdie beginsel is só deurslaggewend vir die bevordering van goeie verhoudings dat dit algemeen as die Gulde Reël bekend staan. Hoe kan dit jou, as Christen- ouere man, help om ander vriendelik en met waardigheid te behandel wanneer jy raad gee?
Jy moet in gedagte hou dat jy ook foute maak. Soos Jakobus gesê het: “Almal struikel dikwels” (Jakobus 3:2). As jy dit onthou, sal dit jou help om jou opmerkings te versag en jou gevoelens te beheers wanneer dit nodig is om met ander oor hulle tekortkominge te praat. Jy moet weet waarvoor hulle gevoelig is. Dit sal jou help om nie te krities te wees en die aandag op onbeduidende foute of swakhede te vestig nie. Jesus het dit beklemtoon toe hy gesê het: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”—Mattheüs 7:1, 2.
Behandel ander met waardigheid—Weerstaan die Duiwel
Satan se taktiek is daarop gemik om jou van jou waardigheid te beroof, om jou vernederd, waardeloos en wanhopig te laat voel. Let op hoe hy ’n méns gebruik het om negatiewe gevoelens in die getroue Job aan te wakker. Die skynheilige Elifas het gesê: “In sy dienaars stel Hy [Jehovah] geen vertroue nie, en by sy [heilige] engele ontdek Hy dwaling. Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon [sondige mense], van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ’n mot” (Job 4:18, 19). Volgens hom was Job vir God dus niks meer werd as ’n mot nie. Ja, Elifas en sy metgeselle se raad, wat alles behalwe opbouend was, het Job waarskynlik selfs van sy herinneringe aan gunstiger tye beroof. Volgens hulle was sy vroeëre getrouheid, gesinsopleiding, verhouding met God en aalmoese niks werd nie.
Vandag kan veral berouvolle sondaars ook sulke gevoelens koester, en die gevaar bestaan dat hulle ‘deur alte groot droefheid verteer kan word’. Ouere manne, wanneer julle sulke mense raad gee, moet julle julle ‘liefde aan hulle bevestig’ deur hulle ’n mate van waardigheid te laat behou (2 Korinthiërs 2:7, 8). “As ’n mens nie met waardigheid behandel word nie, is dit moeilik om raad aan te neem”, erken William. Dit is noodsaaklik om hulle gevoel dat hulle kosbaar in God se oë is te versterk. Herinner hulle daaraan dat Jehovah ‘nie onregverdig is om hulle werk te vergeet en die liefdearbeid wat hulle betoon het vir sy Naam’ gedurende jare van getroue diens in die verlede nie.—Hebreërs 6:10.
Watter bykomende faktore kan jou help om ander hulle waardigheid te laat behou wanneer jy raad gee? Jy moet besef dat alle mense ’n natuurlike reg op waardigheid het, aangesien hulle na God se beeld gemaak is. Hulle is kosbaar in Jehovah God en Jesus Christus se oë; die tweeledige voorsiening van die losprys en die opstanding lewer bewys daarvan. Jehovah verleen verdere waardigheid aan Christene deur ‘hulle in die bediening te stel’ en hulle te gebruik om ’n goddelose geslag te smeek om vrede met God te maak.—1 Timotheüs 1:12.
Ouere manne, julle moet onthou dat die oorgrote meerderheid van julle Christenbroers toekomstige grondleggers van die nuwe mensegemeenskap op die gereinigde aarde is. As sulke gewaardeerde en kosbare individue verdien hulle dit om eervol behandel te word. Wanneer jy iemand raad gee, moet jy in gedagte hou hoe Jehovah en Jesus hulle in ag neem en jou plig aanhou doen om jou broers te help om ondanks Satan se aantygings ’n gevoel van waardigheid en eiewaarde te behou.—2 Petrus 3:13; vergelyk 1 Petrus 3:7.
[Venster op bladsy 29]
Raad wat ander hulle waardigheid laat behou
(1) Wanneer jy iemand prys, moet dit opreg en eerlik wees (Openbaring 2:2, 3).
(2) Luister goed. Identifiseer die probleem en die rede vir die raad duidelik en vriendelik (2 Samuel 12:1-14; Spreuke 18:13; Openbaring 2:4).
(3) Baseer jou raad op die Skrif. Wees positief, redelik en bemoedigend en toon empatie. Laat die ontvanger sy waardigheid en eiewaarde behou (2 Timotheüs 3:16; Titus 3:2; Openbaring 2:5, 6).
(4) Gee die ontvanger die versekering dat dit seëninge inhou om raad aan te neem en toe te pas (Hebreërs 12:7, 11; Openbaring 2:7).
[Prent op bladsy 26]
Christen- ouere manne moet ander hulle waardigheid laat behou wanneer hulle raad gee