Respekteer jy hulle waardigheid?
AFRIKANE is soos diere gevang en onder ongelooflike vuil en stinkende toestande soos vraggoed na die Amerikas verskeep. Daar is verwag dat ten minste die helfte van hulle sou sterf selfs voordat hulle hulle bestemming bereik. Gesinslede is op wrede wyse geskei en sou mekaar nooit weer sien nie. Die slawehandel was een van die donkerste episodes in die mens se onmenslike behandeling van sy medemens. Soortgelyke episodes het plaasgevind toe magtige veroweraars weerlose inboorlingvolke wreed onderwerp het.
Trouens, om iemand van sy waardigheid te stroop, kan wreder wees as om hom fisies te slaan. Dit is verwoestend vir ’n mens se gees. Hoewel slawerny in die meeste lande afgeskaf is, word mense se waardigheid nog steeds ondermyn, dalk op subtieler maniere.
In teenstelling hiermee streef ware Christene daarna om gehoor te gee aan die vermaning van Jesus Christus om ‘hulle naaste soos hulleself lief te hê’. Hulle vra hulle derhalwe af: ‘Respekteer ek die persoonlike waardigheid van ander?’—Lukas 10:27.
Die toonbeeld van waardigheid
Waardigheid is volgens ’n woordeboek die hoedanigheid of toestand van waardig, geëer of hooggeag te wees. Wat ’n gepaste beskrywing van die posisie van die Universele Soewerein, Jehovah God! Trouens, die Skrif bring Jehovah en sy soewereiniteit herhaaldelik met waardigheid in verband. Moses, Jesaja, Esegiël, Daniël, die apostel Johannes en ander was bevoorreg om geïnspireerde visioene van die Allerhoogste en sy hemelse hof te sien, en hulle beskrywings het deurgaans ontsagwekkende majesteit en waardigheid weergegee (Exodus 24:9-11; Jesaja 6:1; Esegiël 1:26-28; Daniël 7:9; Openbaring 4:1-3). Koning Dawid het in ’n lofgebed gesê: “Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die [waardigheid, NW], ja, alles in hemel en op aarde” (1 Kronieke 29:11). Daar is waarlik niemand anders wat meer eer en agting waardig is as Jehovah God self nie.
Toe Jehovah die mens na sy beeld en gelykenis geskep het, het hy hom ’n mate van selfrespek en waardigheid gegee (Genesis 1:26). In ons handelinge met ander moet ons derhalwe aan elkeen die eer en respek gee wat hom toekom. Wanneer ons dit doen, gee ons as ’t ware erkenning aan die Bron van menslike waardigheid, Jehovah God.—Psalm 8:5-10.
Waardigheid in gesinsverhoudinge
Die apostel Petrus, wat ’n getroude man was, het Christenmans onder inspirasie vermaan om hulle vrouens “eer toe te ken as ’n swakker vat” (1 Petrus 3:7; Matteus 8:14). “Andersyds”, het die apostel Paulus gemaan, “moet die vrou diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Die Bybel vereis dus dat ’n mens jou huweliksmaat se persoonlike waardigheid moet eer en respekteer. Op watter maniere kan dit gedoen word?
Net soos water ’n groeiende plant lewe gee, kan minsame woorde en goedhartige gebare tussen man en vrou, in die openbaar en privaat, hulle intieme verhouding versterk. Daarteenoor is hardvogtige, beledigende skeltaal of onverskillige, sarkastiese afjakke, soos dikwels in situasiekomedies oor TV gehoor word, afbrekend. Dit kan aanleiding gee tot skadelike gevoelens van waardeloosheid, terneergedruktheid en gegriefdheid; dit kan selfs emosionele wonde veroorsaak wat nie maklik genees nie.
As ons ander se persoonlike waardigheid respekteer, sal dit ook beteken dat ons hulle aanvaar soos hulle is en hulle nie in die een of ander vooropgesette ideaal probeer inpas of op onregverdige wyse met ander vergelyk nie. Dit is veral belangrik tussen man en vrou. Wanneer mense vryelik en gemaklik kan kommunikeer en hulle gevoelens kan uitdruk en niemand hoef te vrees dat hy gekritiseer of uitgeskel sal word nie, sal intimiteit floreer. Wanneer iemand homself of haarself in ’n huwelik kan wees, word die huis werklik ’n toevlug weg van die wrede, harde wêreld daarbuite.
Die Skrif beveel kinders om hulle ouers te respekteer en te gehoorsaam. En dit sal goed wees as verstandige en liefdevolle ouers die waardigheid van hulle kinders erken. Hartlike lofbetuigings vir goeie gedrag, tesame met geduldige dissipline wanneer nodig, is baie doeltreffend om die “verstandsregulering van Jehovah” in te skerp. Voortdurende kritiek, geskreeu en vernederende skelname soos “domkop” of “idioot” sal hulle net irriteer.—Efesiërs 6:4.
’n Christen- ouer man en vader, wat drie seuns en drie dogters grootmaak, sê: “By die Koninkryksaal het ons die nodige dissipline so onopsigtelik moontlik gegee. Gewoonlik was ’n stampie of ’n kwaai, waarskuwende blik genoeg. As strenger dissipline nodig was, het ons dit in die privaatheid van ons huis en weg van die ander kinders gegee. Noudat die kinders ouer is, behels dissipline dat ons die liefdevolle, wyse raad uit God se Woord aan elkeen gee volgens sy individuele behoeftes. Ons probeer sulke persoonlike sake vertroulik hou en toon sodoende respek vir elke kind se reg op privaatheid en waardigheid.”
Iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die belangrikheid van goeie maniere in woord en daad binne die gesin. Gemeensaamheid moet nie woorde soos “asseblief”, “dankie”, “verskoon my” en “ek is jammer” laat verdwyn nie. Goeie maniere is van die grootste belang om jou eie waardigheid te behou en dié van ander te respekteer.
In die Christengemeente
“Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik”, het Jesus gesê (Matteus 11:28). Die verdruktes, die neerslagtiges, selfs die klein kindertjies, kon nie anders as om almal tot Jesus aangetrokke te voel nie. Hulle is deur die hooghartige en selfvoldane geestelikes en leiers van daardie tyd verag. Maar in Jesus het hulle iemand gevind wat hulle die waardigheid toegeken het wat hulle verdien het.
Ons wil Jesus navolg en ook ’n bron van verkwikking vir ons medegelowiges wees. Dit beteken dat ons geleenthede moet soek om hulle deur ons spraak en dade op te bou. Dit is altyd gepas om opreg vrygewig te wees met vriendelike en positiewe opmerkings in ons gesprekke (Romeine 1:11, 12; 1 Tessalonisense 5:11). Ons toon dat ons ander se gevoelens in ag neem deur te let op wat ons sê sowel as hoe ons dit sê (Kolossense 4:6). Behoorlike kleredrag en goeie maniere by Christelike vergaderinge toon ook dat ons diepe eerbied het vir die waardigheid van ons God, sy aanbidding en ons medeaanbidders.
Selfs wanneer Jesus mense ’n diens bewys het, het hy hulle waardigheid gerespekteer. Hy het hom nooit verhoog ten koste van ander of deur hulle te verneder nie. Toe ’n melaatse na hom gekom het om genees te word, het Jesus nie die man as onrein en onwaardig weggestuur nie, en hy het ook nie ’n skouspel van die geleentheid gemaak en die aandag op homself gevestig nie. Inteendeel, toe die melaatse Jesus gesmeek het: “Here, as u net wil, kan u my rein maak”, het hy waardigheid aan die melaatse verleen deur te sê: “Ek wil” (Lukas 5:12, 13). Hoe wonderlik is dit tog as ons diegene wat in nood verkeer nie net help nie, maar hulle ook verseker dat hulle nie ’n las is nie maar welkom en geliefd is! In die wêreld word mense wat skaam, terneergedruk en gestremd is gewoonlik oor die hoof gesien, vermy of verneder. Maar hulle behoort ware vriendskap en aanvaarding te vind wanneer hulle onder hulle Christenbroers en -susters is. Ons moet ons deel doen om tot hierdie gees by te dra.
Jesus het sy dissipels liefgehad asof hulle “syne” was en het “hulle tot die einde toe liefgehad”, ten spyte van hulle tekortkominge en eienaardighede (Johannes 13:1). Hy het opregte harte en heelhartige toegewydheid aan sy Vader in hulle gesien. Ons moet eweneens nooit slegte beweegredes aan ons medeaanbidders toeskryf net omdat hulle dinge miskien nie op ons manier doen of omdat hulle gewoontes of persoonlikheid ons dalk irriteer nie. Respek vir die waardigheid van ons broers sal ons beweeg om hulle lief te hê en te aanvaar soos hulle is, vol vertroue dat hulle Jehovah ook liefhet en hom met opregte beweegredes dien.—1 Petrus 4:8-10.
Ouer manne moet veral versigtig wees dat hulle nie onnodige angs veroorsaak vir dié wat aan hulle sorg toevertrou is nie (1 Petrus 5:2, 3). Wanneer ouer manne met ’n lid van die gemeente vergader wat in sonde verval het, sal dit goed wees as hulle hulle woorde met goedhartigheid en bedagsaamheid versag en nie onnodig vrae vra wat verleentheid veroorsaak nie (Galasiërs 6:1). Selfs wanneer streng teregwysing of dissipline gepas is, moet hulle voortgaan om die oortreder se regmatige waardigheid en selfrespek te respekteer.—1 Timoteus 5:1, 2.
Behou persoonlike waardigheid
Aangesien ons na God se beeld en gelykenis geskep is, moet ons sover moontlik God se luisterryke eienskappe—met inbegrip van sy waardigheid—in ons daaglikse lewe weerspieël (Genesis 1:26). Die gebod om ‘jou naaste lief te hê soos jouself’ sluit eweneens in dat jy ’n gebalanseerde mate van persoonlike waardigheid en selfrespek moet hê (Matteus 22:39). Trouens, as ons wil hê dat ander ons moet respekteer en met waardigheid moet behandel, moet ons toon dat ons dit verdien.
As ons ons selfrespek en persoonlike waardigheid wil behou, is dit belangrik dat ons ’n skoon gewete behou. ’n Verontreinigde gewete en skuldgevoelens kan maklik aanleiding gee tot gevoelens van onwaardigheid, frustrasie en terneergedruktheid. As iemand derhalwe ’n ernstige sonde gepleeg het, moet hy onmiddellik stappe doen om berou te toon en die geestelike bystand van die ouer manne te verkry sodat hy “tye van verkwikking van die persoon van Jehovah” kan geniet. Die verkwikking sluit in dat ’n mens jou persoonlike waardigheid en selfrespek sal herwin.—Handelinge 3:19.
Dit is nog beter om voortdurend daarop te let dat niks ons Bybelopgeleide gewete bevlek of verswak nie. As ons op alle gebiede van ons daaglikse lewe—etery, drinkery, sakeaangeleenthede, vermaak, handelinge met diegene van die ander geslag—selfbeheersing aan die dag lê, sal dit ons help om ’n skoon gewete te behou en ons in staat stel om God se heerlikheid en waardigheid in ons lewe te weerspieël.—1 Korintiërs 10:31.
Maar sê nou ons kan nie van skuldgevoelens oor ons foute ontslae raak nie? Of gestel ons was die slagoffer van misbruike en het steeds pynlike herinneringe daaraan. Dít kan ons persoonlike waardigheid verpletter en intense neerslagtigheid veroorsaak. Hoe vertroostend is die woorde van koning Dawid in Psalm 34:19 tog nie: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees”! Jehovah is gereed en gewillig om sy knegte te onderskraag wanneer hulle neerslagtigheid en gevoelens van onwaardigheid die hoof moet bied. Smeekbedes tot hom tesame met die hulp van diegene wat geestelik bekwaam is, soos Christenouers, ouer manne en ander ryp persone in die gemeente, is onontbeerlik om ’n mens se selfrespek en persoonlike waardigheid te herwin.—Jakobus 5:13-15.
Aan die ander kant moet ons versigtig wees om nie persoonlike waardigheid met verwaandheid te verwar nie. Die skriftuurlike raad is “om nie meer van [jouself] te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat [jy] ’n gesonde verstand het, elkeen na die maat van geloof wat God hom toebedeel het” (Romeine 12:3). Hoewel dit gepas is om selfrespek aan te kweek, wil ons nie ons eie waarde oordryf of menslike waardigheid verwar met die selfsugtige en uiterste pogings wat sommige aanwend om hulle aansien voor ander te red nie.
Ja, respek vir ander se waardigheid is ’n Christelike vereiste. Ons gesinslede en ons mede-Christene is almal ons respek, eer en agting waardig en verdien dit. Jehovah het aan elkeen van ons ’n mate van waardigheid en eer verleen wat ons moet erken en behou. Maar ons moet bowenal diepe eerbied vir die weergalose waardigheid en majesteit van ons hemelse Vader, Jehovah God, aankweek.
[Prent op bladsy 31]
Jongmense kan respek vir gestremdes toon