Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 3/15 bl. 28-31
  • Die fassinerende kronieke van Josephus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die fassinerende kronieke van Josephus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sy vroeë lewe
  • Na Rome en terug
  • Die werke van Flavius Josephus
  • Insig in God se Woord
  • Die groot opstand teen Rome
  • Ná die oorlog
  • Het Josefus dit werklik geskryf?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • ’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 6
    Ontwaak!—2011
  • Het Johannes die Doper regtig bestaan?
    Nog onderwerpe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 3/15 bl. 28-31

Die fassinerende kronieke van Josephus

GESKIEDKUNDIGES bestudeer al lank die fassinerende geskrifte van Josephus. Hy is net vier jaar ná die dood van Christus gebore en was ’n ooggetuie van die skrikwekkende vervulling van Jesus se profesie oor die eerste-eeuse Joodse nasie. Josephus was ’n militêre bevelvoerder, ’n diplomaat, ’n Fariseër en ’n geleerde.

Josephus se geskrifte bevat ’n oorvloed van interessante besonderhede. Hulle werp lig op die Bybelkanon en verskaf terselfdertyd ’n vakkundige gids tot die topografie en geografie van Palestina. Dit is geen wonder dat baie sy werke as ’n waardevolle toevoegsel tot hulle biblioteek beskou nie!

Sy vroeë lewe

Joseph ben Matthias, oftewel Josephus, is in 37 G.J., die eerste jaar van die heerskappy van die Romeinse keiser Caligula, gebore. Josephus se vader het uit ’n priesterlike familie gestam. Sy moeder was, volgens hom, ’n afstammeling van Jonatan, ’n hoëpriester van die Hasmoneërs.

Toe Josephus in sy tienderjare was, was hy ’n ywerige student van die Mosaïese Wet. Hy het drie sektes van Judaïsme—die Fariseërs, die Sadduseërs en die Essene—noukeurig bestudeer. Aangesien die derde een by hom byval gevind het, het hy besluit om drie jaar saam met ’n woestynkluisenaar met die naam Bannus, wat waarskynlik ’n Esseen was, te gaan woon. Toe Josephus 19 was, het hy dit laat vaar, na Jerusalem teruggekeer en by die Fariseërs aangesluit.

Na Rome en terug

Josephus het in 64 G.J. na Rome gereis om as bemiddelaar op te tree vir Joodse priesters wat deur die Judese prokurator Felix vir verhoor na keiser Nero gestuur is. Josephus het nouliks aan die dood ontkom toe hulle op pad daarheen skipbreuk gely het. Slegs 80 van die skip se 600 passasiers is gered.

Gedurende Josephus se besoek aan Rome het ’n Joodse akteur hom aan Nero se vrou, die keiserin Poppea, voorgestel. Sy het ’n sleutelrol in die sukses van sy sending gespeel. Die luisterrykheid van die stad het ’n blywende indruk op Josephus gemaak.

Toe Josephus na Judea terugkeer, was opstand teen Rome al waaraan die Jode kon dink. Hy het vir sy landgenote probeer toon hoe sinneloos ’n oorlog teen Rome sou wees. Aangesien hy hulle nie daarvan kon laat afsien nie en hy waarskynlik bang was dat hy as ’n verraaier beskou sou word, het hy die aanstelling as bevelvoerder van Joodse troepe in Galilea aanvaar. Josephus het sy manskappe versamel en opgelei en voorrade bymekaargemaak ter voorbereiding vir die oorlog teen die Romeinse magte—maar alles tevergeefs. Galilea is deur Vespasianus se leër verower. Josephus se vesting by Iotapata is ná ’n beleg van 47 dae ingeneem.

Toe Josephus oorgegee het, het hy skerpsinnig opgetree en voorspel dat Vespasianus kort voor lank keiser sou word. Vanweë hierdie voorspelling is Josephus in die tronk gesit maar nie gestraf nie, en toe dit bewaarheid is, is hy vrygelaat. Dit was ’n keerpunt in sy lewe. Hy was die res van die oorlog ’n tolk en ’n bemiddelaar vir die Romeine. Om sy ondersteuning vir Vespasianus en sy seuns Titus en Domitianus te betuig, het Josephus die familienaam Flavius by sy eie gevoeg.

Die werke van Flavius Josephus

Die oudste van Josephus se geskrifte is The Jewish War. Hy het vermoedelik hierdie verslag van sewe boekdele geskryf om vir die Jode ’n aanskoulike beskrywing van Rome se groter mag te gee en hulle van toekomstige opstand af te skrik. Hierdie geskrifte verskaf besonderhede oor die Joodse geskiedenis vanaf Antiochus Epiphanes se verowering van Jerusalem (in die tweede eeu v.G.J.) tot die beroeringe van 67 G.J. As ooggetuie bespreek Josephus daarna die oorlog wat in 73 G.J. ’n klimaks bereik het.

Nog een van Josephus se werke was The Jewish Antiquities, ’n verslag van die Joodse geskiedenis wat uit 20 boekdele bestaan. Dit strek van Genesis en die skepping af tot by die uitbreek van die oorlog met Rome. Josephus bly noukeurig by die volgorde van die Bybelverslag en voeg tradisionele interpretasies en eksterne waarnemings daarby.

Josephus het ’n verhaal oor sy eie lewe geskryf wat eenvoudig Life genoem is. Daarin probeer hy sy standpunt gedurende die oorlog regverdig en die aantygings wat deur Justus van Tiberias teen hom gemaak is, weerlê. ’n Vierde werk—’n apologie van twee boekdele met die titel Against Apion—verdedig die Jode teen wanvoorstellings.

Insig in God se Woord

Dit ly geen twyfel nie dat Josephus se geskiedenis oor die algemeen akkuraat is. In sy werk Against Apion toon hy dat die Jode nooit die Apokriewe boeke by die geïnspireerde Skrif ingesluit het nie. Hy bevestig die akkuraatheid en interne harmonie van die Goddelike geskrifte. Josephus sê: “Ons het nie ’n ontelbare hoeveelheid boeke onder ons wat met mekaar verskil en mekaar weerspreek nie, . . . maar net twee-en-twintig boeke [die ekwivalent van ons hedendaagse verdeling van die Skrif in 39 boeke], wat die verslae van al die vorige eeue bevat; wat ons tereg glo van God af kom.”

In The Jewish Antiquities vul Josephus die Bybelverslag met interessante besonderhede aan. Hy sê dat “Isak vyf-en-twintig was” toe Abraham sy hande en voete vasgebind het om hom te offer. Volgens Josephus het Isak, nadat hy met die oprigting van die altaar gehelp het, gesê dat “‘hy in die eerste plek nie waardig was om gebore te word as hy die beslissing van God en van sy vader sou verwerp nie’ . . . Hy het toe onmiddellik na die altaar gegaan om geoffer te word.”

Josephus voeg die volgende besonderhede by die skriftuurlike verslag van Israel se vertrek uit eertydse Egipte: “Die getal wat hulle agternagesit het, was seshonderd strydwaens, met vyftigduisend perderuiters en tweehonderdduisend voetsoldate, wat almal gewapen was.” Josephus sê ook dat “Samuel twaalf jaar oud was toe hy begin profeteer het: en eenkeer terwyl hy geslaap het, het God hom by sy naam geroep”.—Vergelyk 1 Samuel 3:2-21.

Ander geskrifte van Josephus werp lig op belasting, wette en gebeure. Hy identifiseer Salome as die vrou wat by Herodus se partytjie gedans en om die hoof van Johannes die Doper gevra het (Markus 6:17-26). Die meeste van die dinge wat ons oor die Herodusse weet, is deur Josephus opgeteken. Hy sê selfs dat Herodus “sy hare swart gekleur het om sy hoë ouderdom te verbloem”.

Die groot opstand teen Rome

Slegs 33 jaar nadat Jesus sy profesie aangaande Jerusalem en sy tempel geuiter het, het die profesie in vervulling begin gaan. Radikale Joodse faksies in Jerusalem was vasbeslote om die Romeinse juk af te gooi. In 66 G.J. het tyding van hierdie opstand daartoe gelei dat Romeinse krygsmagte onder die Siriese goewerneur Cestius Gallus slaggereed gemaak en uitgestuur is. Hulle opdrag was om die opstand te smoor en die skuldiges te straf. Nadat Cestius se manskappe verwoesting in die buitewyke van Jerusalem gesaai het, het hulle rondom die ommuurde stad kamp opgeslaan. Deur middel van ’n metode wat testudo genoem word, het die Romeine hulleself met welslae teen die vyand beskerm deur hulle skilde teen mekaar bo hulle koppe te hou sodat dit soos die rug van ’n skilpad was. Josephus getuig van die sukses van hierdie metode deur te sê: “Die spiese wat gegooi is, het geval en afgegly sonder om hulle te beseer; die soldate het gevolglik onder die muur ingegrawe, sonder om self seer te kry, en het alles gereed gekry om die tempelhek aan die brand te steek.”

Josephus sê: “Toe het Cestius . . . sy soldate aan die plek onttrek . . . Hy het hom geheel en al sonder rede aan die stad onttrek.” Josephus het blykbaar, sonder dat hy bedoel het om God se Seun te verheerlik, die presiese gebeurtenis opgeteken waarop Christene in Jerusalem gewag het. Dit was die vervulling van Jesus Christus se profesie! Die Seun van God het jare tevore gewaarsku: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word” (Lukas 21:20-22). Soos Jesus beveel het, het sy getroue volgelinge vinnig uit die stad gevlug, weggebly en is hulle die ellende gespaar wat later oor die stad gekom het.

Toe die Romeinse leërs in 70 G.J. teruggekeer het, is die gevolge in aanskoulike besonderhede deur Josephus beskryf. Vespasianus se oudste seun, generaal Titus, het Jerusalem, met sy pragtige tempel, kom verower. Die strydende faksies binne die stad het beheer probeer verkry. Hulle het buitensporige metodes gebruik en baie bloed is vergiet. Party “het weens die ellende in hulle midde in sulke angs verkeer dat hulle gewens het die Romeine moes kom” in die hoop dat “dit hulle van die smarte rondom hulle sou verlos”, sê Josephus. Hy praat van die oproermakers as “rowers” wat die eiendom van die rykes vernietig het en manne van aansien—dié wat daarvan verdink is dat hulle bereid was om ’n skikking met die Romeine te tref—vermoor het.

Te midde van ’n burgeroorlog het die lewenstoestande in Jerusalem ’n ondenkbare laagtepunt bereik en die dooies is onbegrawe gelaat. Die oproermakers self “het teen mekaar geveg en op die dooie liggame getrap wat opmekaar gestapel gelê het”. Hulle het die bevolking besteel en vir voedsel en besittings gemoor. Die geteisterdes se wanhoopskrete het net nie opgehou nie.

Titus het die Jode aangespoor om die stad oor te gee en sodoende hulle lewe te spaar. Hy “het Josephus gestuur om met hulle in hulle eie taal te praat, want hy het gedink dat hulle deur een van hulle eie landgenote oorreed sou word”. Maar hulle het Josephus met veragting behandel. Titus het toe ’n muur van spits pale om die hele stad gebou (Lukas 19:43, NW). Noudat daar geen hoop was om te ontsnap nie en niemand buite die stad kon gaan nie, het hongersnood “hele huishoudings en gesinne verteer”. Die volgehoue stryd het tot die lewensverlies bygedra. Titus het, sonder om te besef dat dit Bybelprofesieë vervul, Jerusalem verower. Toe hy daarna na die ontsaglike mure en versterkte torings gekyk het, het hy verbaas gesê: “Dit was net God wat die Jode uit hierdie vesting uitgebring het.” Meer as ’n miljoen Jode het omgekom.—Lukas 21:5, 6, 23, 24.

Ná die oorlog

Ná die oorlog het Josephus na Rome gegaan. Aangesien hy die ondersteuning van die Flaviese huis geniet het, het hy as ’n Romeinse burger in Vespasianus se vorige herehuis gewoon en ’n pensioen van die keiser tesame met geskenke van Titus ontvang. Josephus het toe ’n loopbaan as skrywer gevolg.

Dit is interessant dat die term “Teokrasie” blykbaar sy oorsprong by Josephus gehad het. Hy het aangaande die Joodse nasie geskryf: “Ons regering . . . kan ’n Teokrasie genoem word, aangesien die gesag en die mag God toekom.”

Josephus het nooit gesê dat hy ’n Christen was nie. Hy het nie onder Goddelike inspirasie geskryf nie. Tog is daar insiggewende geskiedkundige waarde in die fassinerende kronieke van Josephus.

[Prent op bladsy 31]

Josephus by die mure van Jerusalem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel