Goddelike onderrigting teenoor leringe van demone
‘Party sal van die geloof afval, deurdat hulle aandag skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone.’—1 TIMOTHEÜS 4:1, NW.
1. By watter stryd is Christene betrokke?
DINK net hoe dit moet wees om jou hele lewe lank in ’n oorlogsgebied te woon. Hoe moet dit wees om met die lawaai van geweervuur te gaan slaap en met die geraas van artillerie wakker te word? Dit is ongelukkig hoe mense in party wêrelddele werklik lewe. Maar in ’n geestelike sin lewe alle Christene so. Hulle is by ’n groot stryd betrokke wat al sowat 6 000 jaar woed en in ons dag vererger het. Wat is hierdie eeue-oue stryd? Die stryd tussen waarheid en leuens, tussen Goddelike onderrigting en die leringe van demone. Dit is nie ’n oordrywing om dit—ten minste wat een van die teenpartye betref—die mees genadelose en die dodelikste konflik in die mensegeskiedenis te noem nie.
2. (a) Watter twee partye is volgens Paulus in stryd met mekaar? (b) Wat het Paulus met “die geloof” bedoel?
2 Die apostel Paulus het die twee partye in hierdie konflik gemeld toe hy aan Timotheüs geskryf het: “Die geïnspireerde uiting sê egter uitdruklik dat party in latere tydperke van die geloof sal afval, deurdat hulle aandag skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” (1 Timotheüs 4:1, NW). Let daarop dat die leringe van demone veral in “latere tydperke” ’n groot invloed op mense sou uitoefen. Vanuit Paulus se dag beskou, lewe ons in so ’n tyd. Let ook op wat in stryd met die leringe van demone is, naamlik “die geloof”. Hier verteenwoordig “die geloof” Goddelike onderrigting, wat op die Goddelik geïnspireerde uitinge van God in die Bybel gegrond is. Sulke geloof is lewegewend. Dit leer ’n Christen om God se wil te doen. Dit is die waarheid wat tot die ewige lewe lei.—Johannes 3:16; 6:40.
3. (a) Wat gebeur met die slagoffers in die stryd tussen waarheid en leuens? (b) Wie sit agter die leringe van demone?
3 Diegene wat van die geloof afval, sal nie die ewige lewe kry nie. Hulle is slagoffers in die stryd. Watter tragiese gevolge het dit tog wanneer iemand hom deur die leringe van demone laat mislei! (Mattheüs 24:24). Hoe kan ons as individue verhoed dat ons slagoffers word? Deur hierdie leuenagtige leringe, wat alleenlik die planne van “die heerser van die demone”, Satan die Duiwel, bevorder, geheel en al te verwerp (Mattheüs 12:24, NW). Soos ’n mens kan verwag, is Satan se leringe leuens, want Satan is ‘die vader van die leuen’ (Johannes 8:44). Kom ons kyk hoe behendig hy leuens gebruik het om ons eerste ouers te mislei.
Leringe van demone word aan die kaak gestel
4, 5. Watter leuen het Satan vir Eva vertel, en waarom was dit so ’n bose daad?
4 Die gebeure is in die Bybel in Genesis 3:1-5 opgeteken. Satan het ’n slang gebruik om met die vrou Eva te praat en haar gevra: “Is dit ook [of, “werklik”, NW] so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Die vraag klink onskuldig, maar kyk weer daarna. ‘Is dit werklik so?’ Satan klink verbaas, so asof hy wil sê: ‘Waarom sou God so iets sê?’
5 Eva het in haar onskuld bevestig dat God so gesê het. Sy het geweet wat die Goddelike onderrigting in hierdie verband was—dat God vir Adam gesê het dat hulle sou sterf as hulle van die boom van die kennis van goed en kwaad sou eet (Genesis 2:16, 17). Satan se vraag het klaarblyklik haar belangstelling geprikkel, en daarom het sy geluister toe hy sy punt gestel het: “Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie.” Wat ’n bose stelling! Satan het Jehovah, die God van waarheid, die God van liefde, die Skepper, daarvan beskuldig dat hy vir Sy mensekinders ’n leuen vertel het!—Psalm 31:5, NW; 1 Johannes 4:16; Openbaring 4:11.
6. Hoe het Satan Jehovah se goedheid en soewereiniteit betwis?
6 Maar Satan het meer as dit gesê. Hy het voortgegaan: “Maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” Satan het beweer dat Jehovah God—wat alles op so ’n milddadige wyse aan ons eerste ouers voorsien het—hulle iets wonderliks wou ontsê. Hy wou keer dat hulle soos gode word. Satan het sodoende God se goedheid betwis. Hy het ook selfsug en die doelbewuste verontagsaming van God se wette aangemoedig en gesê dat sulke optrede voordelig sou wees. Satan het in werklikheid God se soewereiniteit oor Sy eie skepping betwis en beweer dat God geen reg het om beperkings te plaas op wat die mens doen nie.
7. Wanneer is die leringe van demone vir die eerste keer gehoor, en hoe is daardie leringe vandag nog dieselfde?
7 Met daardie woorde van Satan is die leringe van demone vir die eerste keer gehoor. Hierdie bose leringe bevorder steeds soortgelyke goddelose beginsels. Net soos in die tuin van Eden betwis Satan, by wie ander rebelse geeste hulle nou skaar, steeds God se reg om standaarde te stel waarvolgens ons moet optree. Hy betwis nog steeds Jehovah se soewereiniteit en probeer mense beïnvloed om aan hulle hemelse Vader ongehoorsaam te wees.—1 Johannes 3:8, 10.
8. Wat het Adam en Eva in Eden verloor, maar hoe is daar bewys dat Jehovah die waarheid gepraat het?
8 Tydens daardie eerste skermutseling in die stryd tussen Goddelike onderrigting en die leringe van demone het Adam en Eva ’n verkeerde besluit geneem en hulle vooruitsig op die ewige lewe verloor (Genesis 3:19). Namate die jare verbygegaan het en hulle liggame agteruit begin gaan het, is daar baie duidelik by hulle tuisgebring wie in Eden leuens vertel het en wie die waarheid gepraat het. Maar honderde jare voordat hulle in ’n fisiese sin gesterf het, het hulle die eerste slagoffers in die stryd tussen waarheid en leuens geword toe hulle Skepper, die Bron van lewe, beslis het dat hulle nie verdien om te lewe nie. Dit was toe dat hulle in ’n geestelike sin gesterf het.—Psalm 36:10, NAV; vergelyk Efesiërs 2:1.
Die leringe van demone vandag
9. Hoe geslaagd was die leringe van demone deur die eeue heen?
9 Soos in die boek Openbaring opgeteken is, is die apostel Johannes onder inspirasie weggevoer na “die dag van die Here”, wat in 1914 begin het (Openbaring 1:10). Satan en sy demone is toe uit die hemel na die omgewing van die aarde neergewerp—’n groot terugslag vir hierdie teenstander van ons Grootse Skepper. Sy stem is nie meer in die hemel gehoor waar hy Jehovah se knegte voortdurend aangekla het nie (Openbaring 12:10). Maar watter vooruitgang het die leringe van demone sedert Eden op aarde gemaak? Die verslag sê: “Die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). ’n Hele wêreld het voor Satan se leuens geswig! Geen wonder Satan word “die owerste van hierdie wêreld” genoem nie!—Johannes 12:31; 16:11.
10, 11. Op watter maniere is Satan en sy demone vandag bedrywig?
10 Het Satan die stryd gewonne gegee toe hy uit die hemel gewerp is? Hoegenaamd nie! Hy het hom voorgeneem om aan te hou stry teen Goddelike onderrigting en dié wat dit aankleef. Nadat Satan uit die hemel gewerp is, het hy sy stryd voortgesit: “Die draak [Satan] was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”—Openbaring 12:17.
11 Benewens Satan se stryd teen God se knegte, oorstroom hy die wêreld met sy propaganda in ’n poging om die mensdom in sy greep te hou. In Openbaring het die apostel Johannes in een van sy gesigte aangaande die dag van die Here drie wilde diere gesien wat Satan, sy aardse politieke organisasie en die heersende wêreldmoondheid van ons tyd afbeeld. Paddas het uit die monde van hierdie drie diere voortgekom. Wat het hierdie paddas afgebeeld? Johannes skryf: “Hulle is in werklikheid uitinge wat deur demone geïnspireer is en doen tekens, en hulle gaan uit na die konings van die hele bewoonde aarde, om hulle te versamel tot die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” (Openbaring 16:14, NW). Die leringe van demone oefen onteenseglik ’n groot invloed op mense hier op aarde uit. Satan en sy demone stry steeds teen Goddelike onderrigting en hulle sal daarmee voortgaan totdat Jesus Christus, die Messiaanse Koning, met geweld ’n einde aan hulle bedrywighede maak.—Openbaring 20:2.
Hoe om die leringe van demone te identifiseer
12. (a) Waarom is dit moontlik om die leringe van demone te weerstaan? (b) Hoe probeer Satan sy doel ten opsigte van God se knegte bereik?
12 Kan godvresende mense die leringe van demone weerstaan? Hulle kan beslis, en wel om twee redes. Eerstens omdat Goddelike onderrigting kragtiger is; en tweedens omdat Jehovah Satan se strategieë blootgelê het sodat ons hulle kan weerstaan. Soos die apostel Paulus gesê het, ‘is ons met sy planne nie onbekend nie’ (2 Korinthiërs 2:11). Ons weet dat vervolging een van die dinge is wat Satan gebruik om sy doel te bereik (2 Timotheüs 3:12). Maar iets wat baie subtieler is, is die feit dat hy die verstand en hart van diegene wat God dien, probeer beïnvloed. Hy het Eva mislei en verkeerde begeertes in haar hart geplaas. Hy probeer dit vandag ook doen. Paulus het aan die Korinthiërs geskryf: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Korinthiërs 11:3). Kom ons kyk hoe hy die denke van die mensdom in die algemeen bederf het.
13. Watter leuens het Satan die mensdom sedert Eden vertel?
13 Toe Satan met Eva gepraat het, het hy Jehovah van leuens beskuldig en gesê dat mense soos gode kan wees as hulle aan hulle Skepper ongehoorsaam is. Die sondige toestand waarin die mens hom vandag bevind, bewys dat Satan, en nie Jehovah nie, die leuenaar was. Mense is vandag alles behalwe gode! Maar Satan het ná daardie eerste leuen nog meer leuens vertel. Hy het die idee begin bevorder dat die mensesiel onsterflik, onverganklik, is. Hy het dus aan die mensdom ’n geleentheid voorgehou om op ’n ander manier soos gode te wees. Daarna het hy, op grond van daardie valse leerstelling, die leringe van die helse vuur, die vaevuur, spiritisme en vooroueraanbidding ingebring. Honderdmiljoene mense word steeds deur hierdie leuens in slawerny gehou.—Deuteronomium 18:9-13.
14, 15. Wat is die waarheid omtrent die dood en die mens se hoop op die toekoms?
14 Wat Jehovah vir Adam gesê het, was natuurlik die waarheid. Adam hét gesterf toe hy teen God gesondig het (Genesis 5:5). Toe Adam en sy afstammelinge gesterf het, het hulle dooie siele geword—hulle was in ’n toestand van onbewustheid en onaktiwiteit (Genesis 2:7; Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4). Aangesien alle mensesiele sonde van Adam geërf het, sterf hulle almal (Romeine 5:12). Maar Jehovah het destyds in Eden die koms van ’n saad belowe wat die werke van die Duiwel sou teëwerk (Genesis 3:15). Daardie Saad was Jesus Christus, God se eie eniggebore Seun. Jesus het sonder sonde gesterf, en sy opgeofferde lewe het ’n losprys geword waardeur die mensdom uit hulle sterwende toestand teruggekoop kon word. Dié wat in gehoorsaamheid geloof in Jesus beoefen, het die geleentheid om die ewige lewe te ontvang wat Adam verloor het.—Johannes 3:36; Romeine 6:23; 1 Timotheüs 2:5, 6.
15 Die losprys, en nie die een of ander vae idee dat ’n siel ná die dood voortleef nie, is die ware hoop vir die mensdom. Hierdie is Goddelike onderrigting. Dit is waarheid. Dit is ook ’n wonderlike blyk van Jehovah se liefde en wysheid (Johannes 3:16). Hoe dankbaar moet ons tog wees dat ons hierdie waarheid geleer het en ten opsigte van hierdie sake van die leringe van demone bevry is!—Johannes 8:32.
16. Wat is die langtermyngevolge wanneer mense hulle eie wysheid volg?
16 Deur sy leuens in die tuin van Eden het Satan Adam en Eva aangespoor om onafhanklik van God te probeer wees en op hulle eie wysheid te steun. Ons sien vandag die langtermyngevolge daarvan aan die misdaad, die ekonomiese probleme, die oorloë en die skreiende onregverdigheid wat tans in die wêreld voorkom. Dit is geen wonder nie dat die Bybel sê: “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God”! (1 Korinthiërs 3:19). Maar die meeste mense verkies dwaaslik om eerder te ly as om op Jehovah se onderrigting ag te slaan (Psalm 14:1-3; 107:17). Christene, wat Goddelike onderrigting aanvaar het, word nie in daardie strik gevang nie.
17. Watter “valslik sogenaamde kennis” het Satan bevorder, en wat is die vrugte daarvan?
17 Paulus het aan Timotheüs geskryf: “O Timotheüs, bewaar jou pand en vermy die onheilige, onsinnige praatjies en teëwerpinge van die valslik sogenaamde kennis, waarvan sommige belydenis gedoen het en, wat die geloof betref, op ’n dwaalweg geraak het” (1 Timotheüs 6:20, 21). Daardie “kennis” verwys ook na die leringe van demone. In Paulus se dag het dit waarskynlik verwys na die afvallige idees wat sommige in die gemeentes bevorder het (2 Timotheüs 2:16-18). Later het valslik sogenaamde kennis, soos Gnostisisme en Griekse filosofie, ’n verderflike invloed op die gemeente gehad. In die hedendaagse wêreld is ateïsme, agnostisisme, evolusieteorieë en hoër kritiek op die Bybel, asook die onskriftuurlike idees wat deur hedendaagse afvalliges bevorder word, voorbeelde van valslik sogenaamde kennis. Die vrugte van al hierdie valslik sogenaamde kennis kan gesien word aan die sedelike verdorwenheid, die algemene minagting vir gesag, die oneerlikheid en die selfsug wat Satan se stelsel van dinge kenmerk.
Kleef Goddelike onderrigting aan
18. Wie soek vandag na Goddelike onderrigting?
18 Hoewel Satan die aarde al sedert die tyd van Eden met leringe van demone oorstroom, was daar nog altyd ’n paar mense wat na Goddelike onderrigting gesoek het. Vandag is daar miljoene wat dit doen. Hulle sluit die oorblyfsel van gesalfde Christene in wat die vaste hoop het om saam met Jesus in sy hemelse Koninkryk te regeer, sowel as die toenemende groot menigte “ander skape” wat die hoop het om die aardse ryk van daardie Koninkryk te beërwe (Mattheüs 25:34; Johannes 10:16; Openbaring 7:3, 9). Vandag word hierdie persone in een wêreldwye organisasie versamel waarop die woorde van Jesaja van toepassing is: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.”—Jesaja 54:13.
19. Wat behels dit om deur Jehovah geleer te word?
19 Om deur Jehovah geleer te word, beteken meer as om net ware leerstellings te ken—hoewel dit belangrik is. Jehovah leer ons hoe om te lewe, hoe om Goddelike onderrigting in ons persoonlike lewe toe te pas. Ons weerstaan byvoorbeeld die selfsug, die onsedelikheid en die gees van onafhanklikheid wat in die wêreld rondom ons hoogty vier. Ons besef waartoe die meedoënlose najaging van rykdom in hierdie wêreld lei—tot die dood (Jakobus 5:1-3). Ons vergeet nooit die Goddelike onderrigting wat in die woorde van die apostel Johannes vervat is nie: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.”—1 Johannes 2:15.
20, 21. (a) Wat gebruik Satan in sy pogings om mense te verblind? (b) Watter seëninge geniet diegene wat Goddelike onderrigting aankleef?
20 Die uitwerking wat die leringe van demone op die slagoffers daarvan het, kan gesien word uit Paulus se woorde aan die Korinthiërs: “[Satan het] die sinne [van die ongelowiges] verblind . . . , sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:4). Satan sal ware Christene ook graag so wil verblind. Destyds in Eden het hy ’n slang gebruik om een van God se knegte te mislei. Vandag gebruik hy gewelddadige of onsedelike rolprente en televisieprogramme. Hy gebruik die radio, leesstof en musiek. ’n Kragtige wapen wat hy tot sy beskikking het, is verkeerde omgang (Spreuke 4:14; 28:7; 29:3). Ons moet altyd besef wat hierdie dinge werklik is—liste en leringe van demone.
21 Ons moet in gedagte hou dat Satan se woorde in Eden leuens was; Jehovah se woorde was die waarheid. Dit was sedertdien nog altyd die geval. Satan was nog altyd ’n leuenaar, en Goddelike onderrigting was nog altyd die waarheid (Romeine 3:4). As ons God se Woord aankleef, sal ons in die stryd tussen waarheid en leuens altyd aan die wenkant wees (2 Korinthiërs 10:4, 5). Laat ons dus vasbeslote wees om alle leringe van demone te verwerp. As ons dit doen, sal ons volhard totdat die stryd tussen waarheid en leuens verby is. Die waarheid sal dan geseëvier het. Satan sal nie meer daar wees nie, en slegs Goddelike onderrigting sal op aarde gehoor word.—Jesaja 11:9.
Kan jy verduidelik?
◻ Wanneer is demoniese leringe vir die eerste keer gehoor?
◻ Wat is party van die leuens wat deur Satan en sy demone bevorder word?
◻ Op watter maniere is Satan vandag besonder bedrywig?
◻ Wat gebruik Satan om leringe van demone te bevorder?
◻ Watter seëninge geniet diegene wat Goddelike onderrigting aankleef?
[Prent op bladsy 9]
Demoniese leringe is vir die eerste keer in die tuin van Eden gehoor
[Prent op bladsy 10]
Goddelike onderrigting oor die losprys en die Koninkryk bied die enigste hoop vir die mensdom